Kleindoom en die Wonderwerk

Kleindoom sit op sy stoep en loer tersluiks na Koekie, wat besig is om die potplante nat te maak. Hy vergeet skoon van die preek wat hy besig is om in sy kop te rangskik as hy opmerk hoe die son deur haar rok skyn om die nuwe, slanke Koekie-se-figuur teen die materiaal te ets. Die roering in sy binneste word ‘n storm en hy gaan staan agter haar, vat haar heupe vas en druk haar lyf teen syne.

“Aag, komaan, Doompie,” (sy het nog steeds ‘n respek vir sy roeping, kom hy agter), “ek is besig, man. Moenie nou ‘n ding begin waaroor die hele dorp gaan praat nie.” Haar stem is sag maar die boodskap is duidelik.

“Ek het maar net gespeel met jou, Koeks. En anyway, die dorp praat al lankal oor ons twee.”

Ja, dink sy, hulle praat. Maar nie oor ons twee nie, oor jou! Hemel, soveel opgekropte manlikheid het g’n mens nog van gehoor nie! Gryp hier, vat daar, vroetel die heeltyd. Tydens Biduur gly sy hand altoos oor haar bobeen en nou-die-dag, sommer tydens kooroefening – sal sy nie so wragtag sy hande voel opkruip teen haar sye nie! Gelukkig het sy ‘n los jas aangehad, maar nogtans het Ta’ Hybie haar so ‘n kyk gegee as of dit haar skuld is!

Koekie vat die emmertjie en ontsnap uit Kleindoom se greep. Partykeer wonder sy of hy regtig uit liefde met haar getrou het. Sy moet toegee: vandat sy gewig verloor het, pas sy darem baie beter in klere in en sien sy hoe die dorp se ou omies onderslanges loer as sy by  Sammy se winkeltjie kruideniersware gaan koop.

Dis nie dat Kleindoom so vol hormone is nie, maar eerder die ding van die Bybel. ‘n Vrou, so sê die Boek, sal haar man onderdanig wees. Kleindoom se definisie van onderdanigheid het meer te doen met totale oorgawe aan sy drange – iets wat Koekie (wat uit ‘n erg gereformeerde huis kom waar die ‘s’-woord nooit gebruik is nie) dwars teen haar besondere borsmaat stuit. O, sy gee maar toe, want sê nou hy raak gefrustreerd en soek groener weivelde op; maar steeds kan sy nie dink dat mense dit vir hul plesier doen nie.

Kleindoom gaan sit in sy studeerkamer en kontempleer sy preek, maar sy gedagtes koers elke keer terug na Koekie toe. Vandat hulle getroud is, het daar ‘n eienaardige afsydigheid na vore gekom, iets wat hy gladnie verwag het nie. Waar sy voorheen vol laggies en pret was, het sy in die laaste tyd al hoe meer teruggetrokke geword – as of iets haar pla. Wanneer hy uitvra daarna, sê sy altyd daar is niks verkeerd nie, maar haar oë vertel ‘n ander storie. Wat hom veral pla, is die onnatuurlike preutsheid wat skielik verskyn het na die huwelikseremonie. Sy kan, vir watter rede ook al, nie opgewonde raak oor sy pogings tot toenadering nie; en as hulle so ver kom om oor te gaan tot die spreekwoordelike daad, verdra sy maar sy gehyg en gesteun tot hy uiteindelik ‘opvaar ten hemele’ (soos hy dit stel), waarna sy altyd gaan stort. Kleindoom het vir haar probeer vertel dis ‘n edel daad, ‘n mooi eenheid tussen man en vrou, maar Koekie dink blykbaar dis iets wat grens aan die dierlike en dat sy dadelik gereinig moet word na die tyd.

Sondag se preek gaan juis oor verhoudings, en hy wil graag iets sê om haar gerus te stel oor gemeenskap. As sy dit van die kansel af hoor, dra dit miskien meer gewig. Daar is darem in die Bybel tog baie verwysings na die eenheid tussen man en vrou en as hy nou uit Hooglied stukkies aanhaal, kan dit dalk vir haar ‘n besondere boodskap word. En siende dat sy soveel respek vir sy amp het, hak dit dalk net die knoop deur.

Daardie aand het Koekie ‘n hoofpyn en die volgende aand is sy sò moeg dat sy sommer vroeg-vroeg inkruip. Kleindoom kluister hom in sy studeerkamertjie op en werk deurentyd aan sy preek. Hierdie vrou van hom sal hom met ‘n ander houding inwag as hy van daardie kansel afkom! Miskien, dink hy, hoop hy, droom hy, met ope arms en baie min klere?

Daar is natuurlik min dinge wat die gemeente so opgewonde maak, as wanneer hulle weet die preek op Sondag gaan nie weer oor rasseverhoudings (al die boere bly dan weg) of oor die sondeval van die mens nie (wanneer al die besigheidsmense wegbly). Politiek van die kansel af is taboe en die poging om te preek oor Sport en die Christen het veroorsaak dat die gholfspelers en die dorp se rugbyspan handgemeen geraak het reg voor die kerk – die aantygings van drankmisbruik, kru taal en oneerlikheid het sulke afmetings aangeneem dat die ouderlinge summier ‘n dag van vas en oordenking uitgeroep het.

Kleindoom het die vorige Sondag ietsie gesê oor sy volgende preek en van vroeg af het die voertuie opgedaag. Die boere was eerste daar en het onder die ou doringboom komberse oopgegooi, waar die families saam-saam ontbyt gemaak het. Daar was konsensus: niemand het nog ooit ‘n preek oor seks gehoor nie en almal het gewonder oor wat Kleindoom gaan sê. Die Dameskring het al tydens die week gereel dat al die skoolkinders in die skoolsaal sal bymekaar kom, sodat hulle nie vuil gedagtes vanaf die kansel sal optel nie. Suster Debora het ‘n videomasjien geleen by haar niggie op Upington en toe gaan soek vir ‘n toepaslike fliek om vir die kinders te wys. Omdat hulle in die skool vergader, het sy besluit om ‘n fliek oor ‘n opvoedkundige onderwerp te vertoon en na ‘n lang gesukkel, het sy die ideale video opgespoor. Dit gaan oor die meganika, het sy verduidelik. Die naam van die fliek is Grease, en dit sal mos die kinders help om die trekkers op die plase te diens. Die Dameskring het onder mekaar gereel dat – uit waardering vir haar pogings – ‘n ruikertjie by haar huis afgelewer sou word.

Van die mans het gewonder of Kleindoom praktiese raad gaan gee oor toenadering en die vrouens het gehoop daar sal iets gesê word oor matigheid. Almal, kan mens maar sê, het ‘n verwagting gehad.

 

As Kleindoom die trappe teen die kansel opklim, gaan sy oog oor die gemeente. Die kerk is volgepak met stoele wat selfs van die konsistorie af ingedra is. Van die boere het hul kampstoele voor die kansel kom neergesit en as Kleindoom die openingsgebed doen, sluip die laatslapers nog in om agter die orrel te gaan staan. Al kan hulle niks sien nie, sal hulle darem kan hoor. Dit lyk selfs as of daar mense van Upington is.

Koekie,wat ook die orrelis is, raak in vervoering as sy Prys die Heer speel. Sy en Kleindoom het nou wel hul verskille, maar op Sondae, as sy musiek uit die ou orrel optower, is dit lekker om ‘n gesiene mens in die distrik te wees. Mevrou Dominee, en op die koop toe: Orreliste. Die ouens wat agter die orrel staan, voel hoe die volle mag van die orrelnote in hul ore vibreer en meeste van hulle probeer hul gehoororgane beskerm deur hul growwe hande langs hul koppe te hou.

Behalwe natuurlik ou Dowefrans, wat oor die laaste twee jaar progressief minder en minder gehoor het. Sy pa was ook so. Op vyf-en-vyftig het die oukêrel begin doof word en op sestig was hy stokdoof. Dowefrans het erens gehoor (toe hy nog kon) sy oupa het dieselfde kwaal gehad. Hy staan nou maar en kyk na die ander. As hulle sing, maak hy sy mond meganies oop en toe, net om te wys hy deel darem in die verrigtinge. En as almal sit, sit hy ook maar. Hy sê altyd (skree is die beter woord) dat hy nog steeds die enigste man indie gemeente is wat geen Sondagdiens gemis het sedert Dr Verwoerd se moord nie. Servaas het gereken Dowefrans is ietwat dof in die boonste verdieping maar nooit dit voor die gemeente bely nie. Nogtans, wat Verwoerd met die saak te doen het, weet nugter.

Toe Koekie kom by: …en Hom wat Sy guns my bied/ altyd grootmaak in my lied…, kry sy dit reg om van die basnote – wat al jare weier om te speel – so hard te slaan dat daar ‘n klank soos ‘n ramshoring saam met die gemeente se gesang opstyg. (Ten hemele, het sy later besluit). Hierdie basklank is sò deurdringend en so intens dat dit een van die boere se kampstoel laat omval het.

Met Dowefrans het iets baie meer dramaties gebeur. Die wasproppe in sy oorkanale – droog van die dorre omgewing en die feit dat sy Brylcreme lankal opgeraak het – begin vibreer alreeds met Hom wat Sy guns my bied, en fragmenteer in ‘n duisend stukkies met grootmaak in my lied. As hy sy kop in verwondering skud, val die wasbrokkies op sy kraag en vee hy dit af soos hy altyd met sy skilfers doen. Maar dis nie die geel-wit vlokkies op sy swart kraag wat hy sal onthou nie, maar die grootmaak in my lied.

“Magtag!” Sy stem is abnormaal hard na die laaste orrelnote wegsterf. “Ek kan hoor! Hallelluja! Magtag, dis wonderlik!!!”

Kleindoom, wat geen idee het wat aangaan nie, probeer orde skep. “Vandag wil ek met julle praat oor…”

“Bliksem!” Dowefrans se verwondering het geen einde nie. “Hallelluja!”

Die gemeente kyk nou almal vir Dowefrans, waar hy langs Koekie staan soos ‘n profeet van ouds. “Dis ‘n wonderwerk!” Dit weergalm deur die kerk.

Dit vat ‘n hele ruk om die diens weer op koers te kry. Suster Debora het uiteindelik ‘n ferm hand op Dowefrans se skouer laat rus en hom beveel om die kerk te verlaat.”Magtag! Dissie noorig om op my te skree nie, Debora. Dis die grootmaak in my lied wat my genees het. Ek moet Hom grootmaak met my sang. Los my uit, mens. Ek het ‘n opdrag: laat ons sing, gemeente!”

Koekie besef toe dat daar net een manier is om Dowefrans onder beheer te kry en val toe weg met Op Berge en in Daaaaale, met Dowefrans as voorsanger en die gemeente al trensend agterna. Daarna volg Jesus min my en ‘n hele rits gesange en psalms, tot dit tyd is om kollekte op te neem.

Kleindoom het toe nooit sy sekspreek gegee nie. Op ‘n manier het hy besef dat hy nie die kansel vir eie gewin mag gebruik nie en hy het lank hieroor gewroeg. Dowefrans het darem salf op die wond gesit toe hy die volgende dag met ‘n allemintige tjek opdaag. “Jimmel Dominee. Ek het so bliksems lelik gepraat in die kerk, en dit nadat ek my gehoor teruggekry het. Hier is my tiende vir die laaste vyf jaar, ek moet nou my  saak met die Here regmaak, sien?”

Koekie is vandag nog verbaas oor die wonderlike gebeure van daardie Sondag. Nie net het Dowefrans weer gehoor nie, maar Kleindoom se vatterigheid het net daar gestop. Ouderling Pieterse het miskien iets daarmee te doen gehad toe hy na die diens met Kleindoomgesels het.

“Wys jou net, Dominee. Die mens wik… Wat jy ook al wou sê vanoggend, die Here het ‘n belangriker boodskap gehad.”

Daar is nooit weer oor seks gepreek in die kerk nie. Ook nie in die pastorie nie. En toe Kleindoom se eerste kind gebore word, was Dowefrans eerste in die hospitaal met ‘n teddiebeertjie:

“Magtag, Dominee, dis ‘n wonderwerk!” En Kleindoom, as hy opgelet het, sou gesien het hoe Koekie vir Dowefrans knipoog en haar vinger voor haar mooi mond hou.

Die sondes van die vaders – dit bly ‘n eindelose sirkel. Kleindoom het wel ‘n kind grootgemaak, maar dis Dowefrans wat uiteindelik ‘n testament sou los waarin hy sy oortrdeing erken het.

Koekie, ‘n sagte mens wat ook soms drange ervaar het, het nooit – tot die dag van haar dood – ooit teenoor Kleindoom laat blyk dat hy nie die pa is nie. Al het sy ma en pa in aparte kamers geslaap, het die kleine Jakob nooit kon dink dat hy nie in die pastorie hoort nie.

 

 

 

10 thoughts on “Kleindoom en die Wonderwerk

  1. thehappyhugger

    Dit vat my baie langer om te lees, het ook a Afrikaanse woordeboek wat op my lessenaar sit…
    Dit is a “sad” storie, maar die lewe is soms so.
    *drukkie*
    I apologise for any “Rooinek” mistakes in the above comment)🙂

    Reply
  2. Thomas

    Amos, uitstekend geskryf. Die “klimaks” (as ek dit so mag stel) van die verhaal is uitstekend geplaas, op so ‘n wyse dat ek glad nie kon voorspel waarheen dit lei nie.

    Reply
    1. Amos van der Merwe Post author

      Die lewe is nooit regverdig nie, nè? En agter die geslote deure van duisende huishoudings is daar ‘n miljoen geraamtes weggesteek in duistere kaste. ‘n Druppel gal in die soetste wyn…en dan is daar nog die ou wat laaste lag. Dankie vir die lees en die kommentaar.🙂

      Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s