Swart Taxi

Die drie mans wat by Boggel se Plek instrompel lyk maar bra gehawend en stowwerig, ten spyte van hul swart pakke en miskien as gevolg van hul sombere gesigte.

“Waar’s die mechanic in hierdie dorp?” Boggel kan sien die ou is omgekrap en stuurs. Dis ‘n groterige man, met digte wenkbroue en ‘n neus wat al ‘n paar keer gebreek was. Die ligblou oë herinner aan die Noorweër wat so in die koerante pryk deesdae. Selfs Vetfaan, wat bekend is vir sy durf en moed, skuif effens eenkant toe. “Ons lykswa het gebreek buite die dorp.” Skynbaar dink hy dis genoeg verklaring  – en miskien is dit, want mens vra nie sommer vrae aan sò ‘n karakter nie. Sy hele voorkoms verbied dit.

“Ons het nie sulke goed hier nie.” Kleinpiet klink huiwerig.”Ons maak eintlik ons eie goed reg. Die naaste is Upington…”

“Nou verwag jy ek moet die lykswa al die pad Upington toe stoot? Wat van die ou in die kis?” Dis nou Nommer Twee se beurt om kwaai te klink.Ook hy was nie ‘n finalis in die Meneer Suid-Afrika kompetisie nie. Die litteken dwars oor sy linker wang het regtig nie mooi genees nie – die opgehewe rooi vlek trek dadelik mens se aandag. Boggel besef die ou moes al in die tronk gewees het: hy praat sonder dat sy lippe beweeg.

“Um,” sê Vetfaan, “wat is verkeerd met julle….voertuig?”

“Seker die distributer. Die ou op De Aar het daaraan gewerk voor ons daar weg is. Gesê dis nou reg. Wys jou net…”

Wat dit gewys het, ontgaan Boggel heeltemal. Wat hom pla, is dat iemand van De Aar af vervoer word om op Upington begrawe te word. Hy loer oor na Gertruida, maar diè skud ook haar kop. Sy weet ook duidelik nie van hierdie begrafnis nie.

“Jy bedoel die vonkverdeler?” Gertruida kan so puntenerig wees oor taal. “Watse kar het julle?”

Nommer Een is sommer weer ongeskik. “Dis nie ‘n kar nie, mevrou, dis ‘n lykswa. Eintlik is dit ‘n taxi wat ons omskep het in ‘n lykswa. Mense wat in daardie goed rondry, is anyway wasted.” Dit lyk as of hy aspris is met sy taalgebruik; hy kyk uitdagend of iemand iets gaan sê.

“So, dis ‘n Toyota. Daardie goed se onderdele kan mos uitruil met enigiets.En ek het toevallig ‘n Toyota.” Vetfaan wil die ouens daar uitkry.

“Nou kom help. Kry jou kar en laat ons ry.” Nommer Een is duidelik haastig.

 Ongeveer tien kilo’s buite die dorp staan die swart taxi. (Dis nie ‘n rasgebonde stelling nie – die voertuig is regtig swart) Daar is pikante gordyntjies in die vensters en langs die kant is in goue letters geskryf: “Kalahari Begrafnisd” ; die woord was tè lank om  die “ienste” in te pas. Vetfaan dink dis darem baie onprofessioneel om so vervoer te word na jou laaste rusplek, maar hy sê niks. Mens sukkel nie met hierdie manne nie. “Netjiese letterwerk,” is al wat hy mompel.

“Nog ‘n stupid opmerking en ek vat jou saam Upington toe – saam met daai ou in die kis.” Nommer Een se stem is skerp. “Die verfman was dronk.” So half verskonend. “Kyk of jou distributer pas.”

Dis met die rondkrap in die enjin dat Vetfaan onraad merk. Hy is darem ‘n man wat sy Massey Fergusson al twaalf jaar aan die gang hou en hy verstaan die basiese konsep van enjins. Die vonkverdeler se bokant is met isoleerband vasgemaak en twee klein draadjies lei daarvandaan om tussen die ander bedrading te verdwyn. Hy kom moeisaam orent en strek sy rug.

“Wie was die ou wat op De Aar aan die voertuig gewerk het?”

“’n Pêl van ons. Hy’t gesê ons kan maar ry, ons sal daar uitkom.”

 Sondagmiddae, as Boggel toe is en Rolbos stil word, is daar min om te doen as almal na die skaapboud en aartappels gaan lê. Vetfaan is nie ‘n lê-mens nie. Om die tyd om te kry voor almal op Boggel se stoep gaan sit om die preek te bespreek, kyk hy sy twee flieks om die beurt. The Great Escape en Diehard 4 het hom al baie geleer oor wapens, plofstof en  skelms.

Hierdie drie manne, met hul swart pakke en die snaakse draadjies in die enjin herinner hom darem tè veel aan onderduimse aktiwiteite. Sê nou net…? En wat sou Steve McQeeun of Bruce Willis nou gedoen het?

 “Ons sal die kis moet uithaal,” brom Vetfaan, “daar is fout met die bedrading.”

Die drie manne staan eenkant toe, praat in gedempte stemme en kom tot ‘n besluit. Kreunend en steunend word die kis uitgegly en in die pad neergesit. Vetfaan hou die spulletjie dop en besluit dat daar òf ‘n geweldige swaar lyk in die kis is, òf…

“Groot ou?” Hy loer oor sy skouer terwyl hy die draadjies uitvolg in die laairuim in. Nommer Een lyk vir die eerste keer onseker, knik dan en beduie hy moet aangaan met sy werk.

“Snaakse pad wat julle Upington toe vat. Gewoonlik ry die ouens sommer reg deur Grootdrink met die teerpad. Of het julle verdwaal?”

Geen antwoord.

 Die drade loop onder die mat deur na ‘n toestel wat onder ‘n sitplek versteek is. Dis ‘n plat, vierkantige metaalhouer en ‘n groen liggie flits aan en af aan die een kant.

“Wat’s diè?” Vetfaan beduie na die apparaat. Die drie swart pakke staan nader, loer, en gaan konfereer weer eenkant. Die gedempte stemme is nou duideliker en die manne is opvallend omgekrap.

“Haal uit.” Nommer Een beduie ongeduldig na die metaal kissie. “Vat die ding weg.” Sy stemtoon laat geen vrae toe nie, maar Vetfaan huiwer.

“Sê nou dis ‘n bom? Iemand wou julle gesaboteer het, dink ek.” Hy staan met die drade in sy hand. “Dis nou een van daardie situasies: as jy die verkeerde draad knip, ontplof die hele spul. Nee wat: vat die tang en knip dit self los. Ek gaan eenkant toe staan.” Vetfaan sit die tang neer en loop veld se kant toe.

 

Die gebeure van die volgende paar minute sal ‘n gesprekspunt word wat baie aande se vermaak in Boggel se Plek sal verskaf.

 Die drie manne storm tegelyk na Vetfaan se bakkie, klouter in, klouter weer uit na ‘n argument, sukkel-dra die kis en laai dit agter op die bakkie. Omdat Vetfaan nie dom is nie, loop hy verder en verder veld-in.

Die manne klap weer die deure toe maar selfs die toe vensters kan nie die geskree op mekaar demp nie. Dan klim hulle uit en skreeu op Vetfaan. Hy moet vir hulle sy sleutels gee. Nou!!

Bo die geraas van die geskree, word Vetfaan bewus van die doef-doef-doef van ‘n enjin wat nader kom. ‘n Helikopter!

 

Lank nadat die drie mans in boeie weggeneem is, sit Vetfaan en Sersant Dreyer en gesels in die skaduwee van die taxi.

“Die polisie soek daardie ouens al lankal, maar hulle werk altyd alleen. Elkeen van hulle is ‘n sindikaatleier, wat onafhanklik van mekaar werk. So ses maande gelede het hulle besluit om kragte saam te span en so het hulle die een ATM na die ander opgeblaas. Ons wou kyk waarheen hulle gaan, en hulle daar vastrek – maar elke keer het hulle ons ontglip. Ons man in De Aar het die radio-sender gekoppel, en ons het in Upington gewag om hul medewerkers daar ook in hegtenis te neem. Toe hulle nie opdaag nie, het ons gedink dis neusie verby.” Hy glimlag ingenome. “Maar hoe’t jy geweet dis nie ‘n bom nie? En was jy nie bang nie?”

Vetfaan lag saggies. “Wel, daar hèt Motorola op gestaan, en ek het nie gedink hulle sal ‘n bom in ‘n radio-omhulsel wegsteek nie. Toe het ek gewonder of dit nie een van daardie opspoorapparate is wat mens in flieks sien nie. Twee en twee maak vier, sien? Ek is net dankbaar dat julle opgedaag het toe julle het. Dit kon aardig geraak het…”

Sersant Dreyer loop weer na die kis waar twee konstabels besig is om die bondels note en vier goudstawe oor te pak in ‘n krat waarop ‘Evidence’ staan.

“Dit was slim van jou om pad te gee. Hulle sou jou doodgemaak het vir die sleutels.”

Vetfaan skud van die lag. “Hulle kon maar. Dit sou ook nie gehelp het nie. Daai bakkie se sleutels is al lankal weg. Ek kry die motor aan die gang met die klein skakelaartjie onder die sitplek – daai ouens kon dit maklik gekry het as hulle nie so kwaad was vir mekaar nie.”  Hy bly stil vir ‘n rukkie. “Daardie derde ou wat nooit gepraat het nie: wie’s hy. Is hy stom of iets?”

Dreyer kry ‘n ver-af kyk in sy oë, huiwer ‘n oomblik em sug dan.”Kommisaris van Polisie. Dis hoekom ons so angstig was om hulle vas te trek. As jy daardie radio gediskonnekteer het, kon hy weer wggekom het. Iedergeval: moenie dink hierdie storie sal in die koerante kom nie. Ons moet dit maar stil hou.”

 

Bokant die toonbank in Boggel se plek – tussen die Drie Wyse Manne en die Bell’s – staan ‘n klein swart apparaatjie met Motorola op die een kant. Vetfaan het ‘n nuwe gewoonte: na sy derde bier (klokslag) sal hy ‘n ordentlike wind opbreek en Motorola brul. Selfs Gertruida lag hiervoor – sy sal dit nooit erken nie, maar van radio’s weet sy maar min.

Rolbos het ook nou die enigste swart taxi in die Kalahari; met komplimente van die Minister. Eintlik was dit ‘n omkoopgeskenk om hul stilte te verseker, wat eintlik dom is. Wie – op aarde – sal nou so ‘n storie glo wat uit Rolbos kom, iedergeval?

12 thoughts on “Swart Taxi

    1. Amos van der Merwe Post author

      Nee, Lidia, nou praat jy van ‘n regte, egte, ordentlike skrywer wat sy Afrikaans so mooi kan plooi. Ek waardeer jou opmerking en is eindeloos gevly…maar ek het nog vêêêr om te gaan. Tog, dit moedig aan en help – ek waardeer dit baie!

      Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s