Frikkie-die-vrek

Frikke-die-Vrek Venter was loshande die suinigste man wat ooit op Rolbos gebly het. Sy suinigheid het geen perke geken nie en daar was absoluut niks wat hy nie na geldwaarde geskat, gesnipper en goedkoper probeer maak nie.

Mens kan by sy sokkies begin: die kerkbasaar se oorskiet wolletjies is ingespan vir die stopwerk. Sy skoene het Dunlop sole. Onderklere dra hy nie en die gelapte kakiebroek word op die plaas en na die kerk gedra. Dan kan mens natuurlik ook na die 1964 Taunus kyk – diè motor moes lankal as skroot uitgevoer gewees het, maar steeds word daar genoeg lewe uit die gemartelde metaal geworstel om sy weeklikse aankope op die dorp te doen. Mense sê hy was nie altyd so nie, maar dit kan maar ook net kleindorp skinder wees.

Dis Woensdag en soos gewoonlik staan en stry Frikke met Sammie oor die prys van mieliemeel. Soms is dit suiker, ander kere lampolie (Eskom se aansluiting is te duur, en dan moet hy sy rondawel ook nog bedraad), maar vandag is dit meel. O, en natuurlik die twee rolletjies toiletpapier. (Enkellaag, natuurlik… )

“Maar jy koop dan nooit meel nie, Frikkie,”  probeer Sammie walgooi teen die stortvloed van woorde, “en dis wat mieliemeel kos. Dis die prys wat almal betaal. Hoe kan jy verwag ek moet dit nou vir jou teen afslag gee, en dit terwyl jy op die boek koop.” Sammie sê dit nie, maar dis die ander probleem. Aan die einde van die maand, so weet hy, gaan Frikkie opdaag met ‘n raps te min geld vir sy aankope en dan voorstel dat Sammie dit maar moet aanvaar as volle betaling, hy is mos nou daar met geld in die hand.

Frikkie vertel van die droogte. Hy kla oor rentekoerse. Sy jeremiade oor peste, plae, skaapvrektes en die windpomp se stukkende meganisme is ‘n meesterstuk van kermkuns wat gewone winkeleienaars na ‘n sakdoek sou laat soek het. Sammie, wat al die toespraak soveel keer moes verduur, wag vir die hoogtepunt. Frikkie gaan vertel van die hoenders wat ophou lê het omdat hy hulle nie meer kan voer nie. Diè stukkie word gewoonlik oorgedra met die nodige smekende stemtoon wat pleit dat iemand – enigiemand – tog net moet probeer verstaan dat sy lewe eintlik tot niet is en dat sy enigste hoop daarop rus dat Sammie hom vandag, hier, vir oulaas, tegemoed sal kom. Terwyl Frikkie homself opwerk na sy oratoriese klimaks, maak Sammie solank sy bril skoon. Teepraat help nie.

En dis toe dit gebeur. Frikkie het net begin vertel hoe hy agtergekom het dat sy hoenders darem meer gewig begin verloor as gewoonlik, toe sy instap.

Miskien is instap die verkeerde woord. Ingly pas nie en sweef is ook nie heeltemal goed genoeg om haar beweging te beskryf nie. Verskyn  bevat genoeg mistiek en verwondering vir die teenwoordigheid van daardie vrou op daardie oomblik. Soos Engele verskyn het aan Maria, miskien. Of Jesus aan die Apostels. Die verskil is dat hierdie verskynsel ‘n wit bloes, stywe jeans en ‘n vrolike serp gedra het – sonder die vlerke en sulke goed wat mens kon laat dink dis ‘n hemelse wese of so iets.

“’n Pakkie Dunhill, asseblief.” Soos haar aankoms, is haar stem. Dis  sag, maar selfs Frikkie voel hy moet sy pleidooi staak sodat sy gehoor kan word. Sy is loshande die mooiste vrou wat hy nog ooit gesien het. Terwyl sy betaal, gly sy oog van Dan af tot by Berseba – daar waar die beskawing eindig en die onheil begin – voor hy besluit dat sy ‘n duur item moet wees.

Sy’s haastig en in haar omdraaislag stamp sy per ongeluk die twee rolletjies toiletpapier van die toonbank af.  Sy vra so half-outomaties omverskoning, buk af en tell die rolletjies op. Met die opkomslag ontmoet hul oë vir die eerste keer.

Nou, daar is mense wat reken sulke dinge gebeur nie. Hulle sê liefde is wanneer twee mense gewoond raak aan mekaar. Of dat iemand jou behoeftes vervul en daarom raak jy lief vir dardie persoon. Liefde-met-eerste-oogopslag, so sê diegene, is ‘n Mill’s en Boon ding. Dit bestaan net in die verbeelding.

Sammie sal later vertel hy het dit sien gebeur. Die verslonsde, onnet man met sy hand steeds styf op sy beursie – en die ongelooflik-mooi wese met die sagte stem en ‘n lyf wat selfs aan Oudoom se gewete sou kom sit het.

 Hy is saam met haar daar uit, Taunus toe. Sy het haar kop geskud en hom na haar Defender gewink. Die stofstreep plaas toe het nog in die lug gehang toe Sammie die storie vir Boggel gaan vertel.

 Die Taunus het voor Sammie se Winkel bly staan. Frikkie-die-Vrek het hom nie eens kom haal nie. Mense het geskinder en gewonder, bespiegel en gepraat. Wie is sy? Waar kom sy vandaan? Wat het, op die keper beskou, nou eintlik tussen die twee gebeur en wat maak hulle nou? Gaan Frikkie weer volgende Woensdag sy dorpsbesoek aflê?

So het dit gekom dat die hele Rolbos die volgende Woensdag iets het om by Sammie te koop. Hulle maak beurte, met die belofte om die ander te roep die oomblik as Frikkie daar aankom. Diè se Taunus het al ‘n ekstra laag stof op – nie dat dit die ou voertuig laat vuiler lyk nie – en staan steeds net daar waar hy ‘n week gelede gelaat is.

Presies om tien-voor-elf kom die boodksap: sy is in die winkel. Die Rolbossers wat nie in die winkeltjie inpas nie, gaan sit anderkant die straat op Boggel se stoep om die petalje dop te hou.

Sy koop.

Dis gordynmateriaal, handdoeke, lakens, vatdoeke, skoonmaakmiddels, ‘n besem…en alles word agter in die Defender gelaai. Sy soek twee kakiebroeke, drie hemde en ses onderbroeke uit, vergeet amper van die sokkies, en koop ‘n paar stewels wat vir Frikkie sal pas. Dan volg die kruideniersware, ‘n klompie groente en die twee avokadopere wat in die yskas was. Nee, Sammie hoef dit nie te boek nie, sy sal betaal. En sy doen – met nuwe R 200 note, varses, luiperd en al. Sammie word oorbluf gelaat agter sy toonbank. Dis loshande die meeste wat enigiemand in die laaste jaar daar kom spandeer het en ook die enigste keer dat so ‘n transaksie sommer afgehandel word in kontant – en dit sonder ‘n gekibbel?

Nou kyk, sulke dinge gebeur in elke dag in ‘n plek soos Rolbos nie. Nuuskierigheid is mos maar die duiwel se oorkussing en hoe sal hulle nou weet wat daar by Frikkie aangaan as iemand nie gaan kyk nie? In hul onbeperkte wysheid, na etlike Cactus Jacks, word besluit om ‘n afvaardiging na Oudoom te stuur. Dis tog duidelik dat daardie twee in onherroeplike sonde verval het en dis sekerlik die Eerwaarde Kerkraad se heilige plig om ‘n kommissie van ondersoek in te stel. Anders, sò word besluit, kan die hele dorp gestraf word omdat hulle willens en wetens toegelaat het dat wellus in hul geledere bestaan en hulle het niks gedoen daaroor nie. Kyk nou wat het met Sodom gebeur? Dit word aan Sevaas – hoofouderling en faktotum – opgedra om met die Herder van die kudde te gaan praat.

Oudoom is nie onder ‘n uilskuiken uitgebroei nie: hy besef die gemeente se aandrang op ‘n besoek aan Frikkie het niks met sonde te doen nie – hulle is net plein nuuskierig. Of jaloers; dit hang af hoe mens daarna kyk.

Na sy besoek kon Oudoom net mooi dinge sê. Die rondawel lyk skoon anders; daar is gordyne, die plek is netjies reggepak en afgestof. Die werf is skoongevee en die onkruid is weg. Sy het selfs van die veldblomme op Bokkop gaan uithaal en het ‘n blombeddinkie aafgelê. Frikkie het die rol van ‘n waardige gasheer gespeel en selfs vir Oudoom ‘n tweede koppie koffie aangebied. Soos sy huis, lyk Frikkie nou netjies en skoon. Oudoom sê dis ‘n wonderwerk, mens moenie daarmee torring nie.

“Ja, maar die duiwel werk mos sò,” sê Gertruida. “Kom in by die agterdeur met mooi praatjies en ‘n oulike lyf. As jy weer sien, lê ons beendere versprei oor die dorre vlaktes van die Karoo. Ek sê julle daardie vrou is uit die bose. Kyk hoe koop sy elke Woensdag by Sammie? En waar, Dominee, dink jy sy kry daardie nuwe banknote? R 200 hier en R200 daar? Sy’t sweerlik die goed gesteel en nou kom gee sy dit by Sammie uit terwyl sy op die plaas wegkruip. Daar maak sy haarself onmisbaar sodat sy lank daar kan bly. Oor ses maande, ‘n jaar op die uiterste, sal sy net vort en vir Frikkie net so los. Hy maak ‘n fout, sê ek julle, ‘n fout.”

Op Gertruida se aandrang het sersant Dreyer navraag gedoen by hoofkantoor. ‘n Blanke, vroulike individu betrokke by ‘n bankroof? Nee, hulle weet nie van sò iets nie. Miskien moet hy liewers agter veediewe aan wees as om hul tyd te mors? Nie eens totsiens nie.

Diè Sondag sit die dorpsmense verdeeld in die kerkie. Die klomp wat glo die vrou is daar met kwade bedoelings, sit aan die een kant van die gangetjie. Die klomp wat Oudoom se siening huldig dat sy die beste ding is wat met Frikkie kon gebeur, sit aan die anderkant. Gesoute diplomaat soos hy is, preek hy die saak so in die middel deur. Sonder Delilla sou Simson seker nie in die Bybel gewees het nie, weet hy te vertelle. En wat van Martha en Maria? Eva het wel met die slang gekonkel, maar Abraham se vrou het ook maar ‘n paar draaie geloop. Vergeet tog nie, gemeente, van Ester nie; en moenie die wonderdaad met die siek vrou met bloedvloeiing vergeet nie. Oudoom sluit af met die waarskuwing dat die oordeel ons nie toekom nie, dat ons moet vergewe en, liewe Gemeente, dat ons moet onthou dat niemand sonder sonde is nie. Laat hom wat sondeloos is, hier uitstap en die eerste klip gooi – na enigiemand, selfs sy Broer of Suster met wie hy nie saamstem nie. Maar as die sonde in elkeen skuil, kom ons reik uit na mekaar en lewe in liefde saam...

“Het ek reg gehoor?” Servaas sit op Boggel se stoep en spreek sy misnoë uit. “Oudoom sê dus as ons almal sondaars is, moet ons lief wees vir mekaar. En liefde beteken mos ons moet mekaar ondersteun – so ons moet vir Frikkie aanmoedig om saam met daardie flerrie te bly en onbybels te leef. Volgens hom, beteken liefde en vergifnis dat ons mekaar se sonde moet dra. Dit kan mos nie reg wees nie.”

Boggel onthou van die kere wat hy vir Servaas huistoe moes help na toesluittyd. Gertruida dink terug aan daardie skooltoer in matriek. In Kleinpiet se gemoed spook die rugbytoer op landboukollege weer, soos so dikwels in die verlede.

“Gun elke diertjie sy plesiertjie.” Precilla, wat ook nie ‘n skoon gewete het nie, probeer paai. “As diè vrou nou so goed is vir Frikkie, laat hulle tog maar begaan. Hulle doen mos nie skade nie.”

Servaas het opgestaan en weggeloop terwyl hy brom oor wat met Sodom gebeur het.

 Dit was, presies soos Getruida gesê het, presies ses maande. Sammie het begin om huisgoed aan te hou: blakers en koperketels en waskomme – sulke goed. Die Wese het elke Woensdag gekom, gekoop, vriendelik geglimlag en betaal.

En toe kom die Woensdag, ses maande later, dat Frikkie weer sy eie goed kom koop. Die meisie het hom reg langs die winkel afgelaai, gewuif en straataf gery. Grootdrink toe. Frikkie, uitgedos in sy nuwe klere, het tot by die ou Taunus geloop, die deur sukkel-sukkel oopgesluit, sy kop geskud en die deur weer toegemaak.

Hy stap oor die straat. In Boggel se Plek gaan sit hy met ‘n sug.

“Jy lyk goed,” sê Boggel as hy die bier oor die toonbank skuif. “Dit gaan goed met jou.” Dis ‘n stelling, ‘n vraag en ‘n opmerking ineengerol en aangebied om reaksie uit te lok.

Frikkie grinnik net, knik en sluk die bier weg. Bestel nog een terwyl hy dak se kant toe kyk, as of sy hulp daarvandaan sal kom. Boggel merk sy nuwe klere op maar sê niks. ‘n Kroegman weet van wag.

Na die derde bier is die kroegie vol. Die hele Rolbos het skielik dors geword en Boggel moet bontstaan om almal te bedien. Precilla glip naderhand agter die toonbank in om te help.

“Nou toe,” dis Vetfaan wat die stilte breek, “vertel ons van die meisie, Frikkie.”

Hy kry ‘n sug vir ‘n antwoord.

“Dis Ella Pretorius. Sy was op die Huisgenoor se voorblad, sê sy. Met ‘n beroemde rugbyspeler deurmekaar geraak, toe wou diè se vrou haar bykom. Toe vlug sy.”

“Daai Ella?” Gertruida, wat alles (behoort te) weet, se oë helder skielik op. “Dis mos die een wat toe die rugbyman gedagvaar het vir troubreuk, of so iets. Ek onthou die geval.”

“Kom sy terug?” Precilla vra die vraag waaroor almal wonder.

Vir die eerste keer lag Frikkie saggies terwyl hy wink vir nog ‘n bier. Hoe kan hy vir hulle vertel dat sy eers besigheid het om te doen? Sy gaan nou eers vir ons voorste golfspeler ogies maak en hom ook kaal uittrek, nes die rugbyspeler – en daardie krieket kaptein drie jaar gelede. Dan kom sy terug, het sy gesê. Dis net besigheid, Frikkels, het sy gesê, en hier is so baie te doen op jou plaas. Met nog ‘n honderduisend Rand kan ons dit omskep in ‘n lushof.

 “Volgende jaar, sê sy. Volgende jaar.”

“Maar sy’s ‘n ryk meisie, nè! Betaal alles so lekker kontant en koop dat hoor en sien vergaan. Jy’s darem gelukkig.”

 Soos gewoonlik, het hy sy goedjies by Sammie aangeskaf, vir Vetfaan gekry om weer lewe in die Taunus se battery te kry, en al skommelend op die ou, amper pap, bande huistoe gery. Die dorp het gepraat, gewonder, bespreek. Besluit Frikkie weet seker wat hy doen. Met sy liefde vir geld en die meisie se oorvloed, kan dit seker ook nie anders dat die twee op ‘n manier pas by mekaar nie.

“Maar wat sal sy nou in Frikkie sien?” Dinge maak nog nie sin vir Gertruida nie. “Ek kan verstaan dat hy mal is oor haar, maar wat maak dat hy juis haar propellertjie draai?’

Niemand kon haar antwoord nie.

Op Rolbos verstaan die mense nie sulke goed nie.

Maar Ella doen.Sy weet goed elke boeregemeenskappie het ‘n geldvraat wat versigtig, oor die jare, ‘n stewige bankbalans opbou omdat hy elke sent omdraai. Hulle is maklik om op te spoor – dis die minder flambojante karakter met die ou kar, die groot grond; die man wat elke jaar op die ramveiling die hoogste prys behaal vir sy skape. Daar is natuurlik ook wildsveilings en veeveilings; en hierdie inligting is maklik beskikbaar as jy met die afslaer ‘n drankie gaan drink en met hom oor sy interessante werk gesels. Mans val tog elke keer daarvoor….

Haar weggaan is ook versigtig beplan vir die 5e van die maand. Teen die tyd dat hy agterkom dat sy tjekboek weg is – betalings word mos eers op maandeinde gedoen – het sy lankal by haar volgende teiken ingetrek. Sy weet ook sulke manne sal nie maklik erken dat hulle ingedoen is nie – hulle sal maar bloot weer van voor af begin met die paar duisend rand wat sy in die rekening sal los.

 

Frikkie het sy Taunus gery tot die enjin finaal ingegee het. Sy nuwe klere het lappe opgekry – sommer van die gordynmateriaal se oorskiet – en sy sokkies is maar weer herstel met basaargare. Hy kon darem later ‘n twedehandse bakkie koop en na die volgende veiling kon hy weer, sonder dat Rolbos dit weet, sy lewe begin bymekaarsit. Dis nou al vyftien jaar later, maar as jy hom vra, sal hy sê hy wag nog vir haar. Daar is ‘n veraf kyk in sy oë as y van haar praat. Precilla sê dis hoe hunkering lyk.

Sammie is miskien al een wat voordeel getrek het uit hierdie gebeure. Frikkie koop nou kontant.Frikkie sê die bankkoste op tjeks is te hoog – hy wil nooit weer ‘n tjekboek hê nie. Hy steek nou sy geldjies erens op die plaas weg – maar hy sweer niemand sal uitvind waar dit is nie.

Nie eens Ella nie, al is hy so lief vir haar.

14 thoughts on “Frikkie-die-vrek

  1. lidiatheron

    Kyk hier, nou het ek darem lekker gelag. Ek het dit vreeslik geniet, Amos. En ja, jy is heeltemal reg, ons ken almal vir kleindorp – dis hoekom ons so daarmee kan identifiseer. Vir Taunus ken ek, al is dit jarre gelede, ek het mense geken met ‘n witte.

    Reply
  2. Johan keet

    Lekkerlees storie. Kon nie ophou tot die einde toe nie. Moet se die deinm sit mooi, en mens se verbeelding darem!

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s