Oudok se Flater

Hospitale is moeilike plekke, veral as jy siek is. Die hele beginsel is verkeerd, dink Servaas, terwyl hy die bedpan met afsku dophou. Die netjiese, blink kom met die omgebuigde rante lê langs hom waar verpleegster Kromhout dit sopas neergesit het met: “Lui net die klokkie as oom klaar is”, voor sy die gordyne toegetrek het.

Dis nie dat Servaas uitermate preuts is oor liggaamsfunksies nie; dis bloot ‘n kwessie dat hierdie, er, um, ontvangstoestel waarlik te klinies en veels te akademies is vir ‘n man van sy jare. En koud…  Aan die ander kant besef Servaas dat sekere dinge geen keer het nie en dat hy sy bejaarde lyf oor die ding moet skuif, of….

Twintig minute later lui hy die klokkie met sy regterhand terwyl die linkerhand se wysvinger en duim sy neus delikaat toehou. Vader ons, is daar nie in hierdie moderne eeu ‘n beter manier nie?

Die hele hospitaal-saga is ‘n marteling. Rolbos se Oudok is nie ‘n man van baie woorde nie. Dis die nalatenskap van sy eerste huwelik en die klein onderonsie met Lola, die langbeen meisiekind wat op Rolbos agtergebly het. Haar foto was op die plakkate wat ‘n week lank op die twee telefoonpale langs Voortrekker Weg gepryk het. Van der Vijver Produksies bied aan: ‘n Aand se Vermaak vir die Hele Gesin. Net dit. En dan natuurlik die foto van Lola wat met rooi lippe en min klere ‘n winkende hand uitgesteek het na almal wat na die foto gestaar het. En almal hèt. Veral Oudok.

Mens moet verstaan dat Rolbos nie ‘n dorp van jongmense is nie. Die klompie vasbyters wat hier bly, het lank reeds doelbewus besluit dat die moderne wetenskap eintlik die Teken van die Dier is – Oudoom het mos destyds gereeld hieroor gepreek. Kredietkaarte is die nommer 666; Televisie die twee klein horinkies van Daniël; en uitspattigheid is ‘n teken van Trots. Hierdie dinge kom van die Bose, Broeders en Susters, en hoe lank waarsku die Boek ons nie hierteen nie? Wees dan op julle hoede, sodat julle nie soos die maagde van ouds aan die slaap gevang word nie. Die Bruidegom is op pad, wees nou waaksaam en hou Rolbos suiwer! Laat ons ‘n baken van lig wees sodat ons ‘n pêrel in die kroon kan wees met Sy wederkoms.

Rolbos se mense het nie baie gehad om oor te bekommer nie. Die enigste inwoner wat destyds ‘n kredietkaart gehad het, was Oudok – die ander was òf te arm, òf het geen nut daarvoor gehad nie. En as jy nou op die boek gaan koop by Sammie se winkeltjie, was daar iedergeval geen sin daarin om met ‘n stukkie plastiek in jou beursie rond te loop nie.

 

Servaas druk weer die knoppie om die verpleegster te roep. Hy voel hoe die skaamte op hom neerdaal: sy is nog so jonk, en effens mooi ook. Nou moet sy hierdie eienaardige skotteltjie (met die inhoud) kom haal. Ag, Vader, berge val op my…

 

Oudok het lank voor die plakkaat gestaan nadat Platnees dit teen die paal vasgemaak het.

“Nou waar kom jy hieraan?” 

“Nei, Maase, dis doei Menee wa gasê het ek moet. Hy’t my even vyf Rand gagie.” Platnees het die blou noot uit sy hempsak gehaal en dit amper ootmoedigend tussen sy growwe vingers gevryf, geluister na die kraak van die nuwe noot. “Vyf Rand,” het hy ongelowig geprewel en dit weer gebêre. Die ‘Menee’ na wie hy gewys het, het in ‘n blink, plat kar langs die pad gesit.

Oudoom het later gesê hy het die Duiwel dadelik herken. Die man was net tè netjies om mens te wees. Dit was hoogsomer en hier sit hy, swart pak met keil en manel en al. En, die absolute teken van dekadensie: ‘n strikdas en mansjetknopies. Nee wat, het Oudoom later gepreek, as jy nie ‘n onderskeidingsgees het nie, moet jy maar weet jou sonde is naby.

Oudok se onderskeidingsgees het waarskynlik geswig voor die wellus wat in hom opgeborrel het terwyl hy na die plakkaat staar. Sy was die mooiste, mooiste vrou wat hy nog ooit gesien het. Die lang hare wat langs die fyn besnede gesiggie afhang; die delikate neusie; die hoë wangbene; die vol lippe wat granaat-rooi glimlag – op ‘n manier het sy hom herinner aan een van Tretchikoff se skilderye, iets wat Mevrou natuurlik nooit in hul huis sou toelaat nie.

Die man-met-die-netjiese-pak-en-keil het self die kaartjies vir die vertoning verkoop – van deur tot deur. Hy was baie goed. Vir die ou dames was hy die sjarmante heer en met die manne kon hy gesels oor die droogte en oor die nadele van vooruitgang. Almal – nodeloos om te sê – het kaartjies gekoop. Net Oudoom, wat die Duiwel herken het, het in die tuin weggekruip toe die man aan sy voordeur geklop het: ‘n Adamsgebaar, terwyl die Duiwel deur sy Eden gewandel het met ‘n appel van listigheid ter hand.

Oudok, natuurlik, het die man vriendelik by sy spreekkamertjie ingenooi en was baie gevly met die opmerkings oor sy ‘moderne praktyk – iets wat mens in ‘n stad sou verwag, nie waar nie?’. Soos gewoonlik, was die wagkamer leeg en Oudok was maar te bly vir geselskap. Meneer van der Vijver – die-man-met-die-pak – het homself voorgestel en sommer ook melding gemaak van sy jig. Ht het in kontant betaal vir die paar pille wat Oudok in ‘n koevertjie gesit het en ‘sommer ‘n bietjie ekstra vir die konsultasie’. Oudok is nie sulke eerlike vrygewigheid gewoond nie en het koffie aangebied.

“Nou wie, as ek mag vra, is die vrou op julle plakkaat?” Oudok het gewag tot meneer Van der Vijver sy koffie klaar gedrink het voor hy die belangrike vraag vra.

“Dis Lola Tretchikoff, die ster van my vertoning. Sy sing.”

“Dis ‘n eienaardige van…” Oudok kan dit nie glo nie – Tretchikoff! Visioene van halfnaakte, eksotiese meisies wriemel deur sy gedagtes. ‘n Bevestiging van sy eerste indruk?

“Dis wat sy sê, dokter. Maar ek dink dis net ‘n verhoogvan – jy weet? Haar regte van is seker iets anders, maar die Tretchikoff-van werk goed. Mense hou daarvan.”

“Nou, um, is daar nog kaartjies vir die vertoning?” Oudok sukkel om sy stem te beheer: hy wil nie tè angstig klink nie.

“Nee, alles uitverkoop. Jammer, ek moes miskien vroeër hier ‘n draai gemaak het.” Die man lyk regtig jammer en rol sy oë: “Die mense op Rolbos is waarlik gesofistikeerd. Die skoolsaal op Grootdrink kan ‘n honderd-en-vyftig mense vat en al die kaartjies is sommer tjoef-tjaf verkoop.” Met ‘n teatrale gebaar beduie Van der Vijfer hoe vinnig die kaartjies verkoop is. Dan huiwer hy ‘n oomblik. “Miskien…,” maar dan skud hy sy kop. “Onmoontlik.”

Oudok skuif vorentoe in sy stoel. “Miskien wat?”

“Nee, ek het gedink ons kan miskien nog ‘n ry stoele inpas, reg voor die verhoog, maar ek dink die spasie is te min.”

Oudok laat hom nie afsit nie: “Ag doen dit, man. Ek sal die hele ry se kaartjies koop.”

 

Servaas kan dit nie meer hou nie en neem die bedpan versigtig in albei hande. As hy dit op die grond kan neersit, sal hy darem gemakliker wees. Of selfs op die stoel langs die bed – dit sal ook help. Hy steun en beur sy ou lyf en wonder wat sal gebeur as hy die skotteltjie sou laat val.

 

Die aand met die vertoning sit Oudok en Mevrou heel voor in die saal as die ligte verdoof. Mevrou het seker nie die leë stoele langs hulle opgemerk nie – ook nie die onbesettes agter in die saal nie – want sy’t niks gesê daaroor nie. Oudok kan sien sy’s in ‘n slegte bui want haar lippe maak ‘n dun, reguit lyn, as of iemand met ‘n tekenpotlood ‘n streep onder haar neus getrek het. Dis gewoonlik ‘n baie, baie slegte teken. Maar Oudok wil vir Lola sien en hy sit soos ‘n kat voor ‘n yskas en wag dat die vertoning begin. Hy het nie vir Mevrou gesê haar van is Tretchikoff nie.

Toe Lola verskyn, sing sy O Boereplaas met ‘n eienaardige aksent, maar met soveel oorgawe dat Oudok sy sakdoek uithaal en die trane afdroog. Toe volg Boereseun en  Al lê die berge nog so blou. Oudok huil onbeskaamd en ignoreer Mevrou se “Skaam jou!” wat sy tussen haar los valstande uitsis. Die toppunt van haar vertoning is haar laaste lied en dis ook toe dat Mevrou haar handsakkie vat en uitstap. Kom dans, Klaradyn word vergesel deur ‘n paar danspassies en Lola sorg dat haar rok so wip-wip as sy draai en swaai op die verhoog. Oudok se wange is vuurrooi en sy oë vasgenael op haar figuur. Vanuit sy plekkie hier onder die verhoog het hy die voordeel van ‘n besondere beoordelingshoek. Die mooi gevormde bene – en selfs die suggestie van satyn of sy – trek en roep sy volle aandag. As geneesheer mag hy mos maar die wonders van God se natuur bewonder en sy uiters professionele oog neem elke stukkie detail waar met ongewone waardering. Mevrou is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie en as Oudok haar steeds ignoreer na die vierde stamp in sy ribbes (“Gedra jou, magtag!”) het sy genoeg gehad. Die klik-klak van haar hoëhakskoene verdwyn in die gangetjie af terwyl die res van Rolbos in vervoering is oor die skone klanke van die verhoog af.

Wat hierna gebeur het, praat mense nie oor nie. Oudok, so weet almal, het na die vertoning opgestaan en ‘n lang bedanking namens die inwoners van Rolbos gelewer. Hy vra toe of Lola nie asseblief ‘n encore wil doen nie. Min mense het geweet watse ding dit is, maar almal wou graag hoor hoe sy nog sing.

Sy het mooi geglimlag en weggetrek met Hoor my Lied. Dit was ‘n mesterlike vertolking wat Oudok weer na sy sakdoek laat gryp het.

 

Servaas kry oplaas die pan sò geposisioneer dat dit op die stoel balanseer en sit gemaklik terug. Hy druk die klokkie weer.

 

Oudok het, na die applous finaal bedaar het, gewag tot almal loop en toe agter die gordyn ingeglip.

Twee dae later het Mevrou verskeie tasse en kartondose in Oudok se motor gelaai en ‘vir die familie’ gaan kuier. Sy doen dit soms, het mense gesê, as Rolbos te groot word vir haar. En ‘n week later het Oudok ‘n nuwe, fatsoenlike, ontvangsdame gehad. Van toe af was sy spreekkamer nooit weer ‘n stil plek nie. Elke man op die dorp het besluit Oudoom is reg – hulle moet hul gesondheid op pas vir die Wederkoms, want die tyd is min. Selfs Oudoom het na geweldige gewetenswroeging, besluit om sy Tempel te laat diens. En almal – almal – het eers ‘n lang gesprek met die mooie Lola gehad voor hulle deurgestap het om Oudok te sien. Sy het die manier om so mooi verentoe te leun en diep in jou oë te kyk. Dit voel, sê die manne, as of sy jou hele wese inneem as sy so gesels, lae hals en al.

En saens, as Oudok se gordyne styf toegetrek is, kan mens Lola hoor sing terwyl Oudok kos maak.

 

Die verpleegster met die mooi gesiggie skuif die gordyne skrefie-groot oop en loer vir Servaas.

“Klaar?”

Hy beuide na die stoel en draai sy kop weg. Die arme kind…

“En hoe voel oom vandag?”

Hy dink ‘n bietjie heroor. “Nie tè sleg nie, my kind. Soos ‘n sterwende man maar voel, dink ek. Op my laaste bene…”

Sy glimlag bemoedigend. “Daar is mos altyd hoop, oom. Dokter sal nou-nou hier wees. Hy het net gewag vir die, er, sampeltjie.” Sy beduie na die pan.

Servaas voel hoe die aarde hom insluk. Selfs dit moet nou ondersoek word. Waar is my waardigheid nou daarmee heen? Selfs my mees private besigheid word oopgegooi vir die wêreld om te aanskou…

 

Dis nou al hoe lank dat hy hier lê en wag om te sterf. Oudok het mos lankal die diagnose gemaak. Hy en Lola.  Bloed getrek en gesê dis seker kanker. Hy het maer geword oor die laaste ses maande, sy klere pas hom glad nie meer nie en hy het wasbleek geword van die siekte. Selfs die paar haartjies bokant sy ore het uitgeval. Al wat oorbly, is die einde. Nou wil hulle nog blêrrie sampeltjies ondersoek. Net ‘n geldmakery, dis al wat dit is.

Dokter Welman is jonk, dink hy weet alles, en is sekerlik ‘n haan onder die henne van Upington. Servaas hou sommer nie van hom nie: hy’s tè voortvarend. Oudoom sou iets gesê het van Trots.

“Oom Servaas?” Die aanplakglimlag gaan nie tot by die oë nie, sien Servaas. Daar is iets in daardie oë wat hy nie kan plaas nie. Simpatie? Miskien.

“Oom moet seblief hierdie ses pille nou drink. Dan kan oom môre huistoe gaan.”

Tipies van sulke jongetjies, dink Servaas. Wil nie met ‘n lyk in die hospitaal sit nie: seker te veel papierwerk. Lui drommel! Nou moet hy op Rolbos sy laaste asem uitblaas en wie gaan hom dan uitlê?

“Ek weier. Ek gaan hier doodgaan. Ek bly.”

Dokter Welman gaan sit met ‘n sug op die bed se rant. “Dan sal ons maar oom se goedjies hiernatoe moet trek,” sê hy met ‘n gemaak-moeë stem, “dit kan nog ‘n paar jaar wees.”

Nou spot die mannetjie ook met my, dink Servaas. G’n respek vir die sterwendes nie. Watse dokter dink hy nou is hy, iedergeval?

“Ek het kanker, dokter, soos jy weet. Oudok het so gesê. Kyk net hoe lyk ek. Ek voel die Poorte des Dodens hier neffens my.” Hy sien die glimlag breër word, die oë bereik.

“Nee, oom. Nie kanker nie. Die bloedtoetse was wel abnormaal, maar dis die gevolg van jare se lintwurms. Maer word, bloedarmoede, abnormale toetse: dit alles pas mooi in; en nou, vanoggend, bring die nursie die finale antwoord. Lintwurms. Oom moet eintlik vir haar dankie sê: die sampeltjie het alles bewys.”

En Servaas kon net  ‘ag jirre, net nie dit nie…’ uitkry. Die skandvlek van lintwurms oortref die respektabele diagnose van kanker met myle. As die dorp dit moet weet…

 

Die mense op Rolbos praat nie van sulke goed nie. Wat agter die gordyn gebeur het, bly agter die gordyn. Dokter Welman het vir Oudoom gebel en gevra dat hy vir oom Servaas (vir oulaas) die hande oplê in gebed. Oudoom was dieselfde middag daar en het lank en roerend gebid dat die Here genadig moet wees met Servaas, en as dit Sy wil is, dat hy tog maar sal gesond word. Oudoom is huistoe met ‘n swaar gevoel in sy hart – hoe kan die mense verwag dat hy sterwendes moet red? Veral as hulle so vêr heen is soos Servaas?

Maar, wonder bo wonder, Servaas is die volgende dag terug op Rolbos. Steeds maer en uitgeteer, maar hy verkondig aan almal dat Oudoom sy kanker weggebid het. Hy glo dit vas.

En oor die weke wat volg, het Rolbos met verbasing dopgehou hoe Servaas weer kleur in sy ou wange kry. Die klossies hare bokant sy ore kan al gekam word en die skamerige boepens wil-wil al keer dat die broeke nie meer so afgly nie.

Party mense sê dis die slim jong dokterjie op Upington, maar Oudoom se kerk is Sondae vol en hy is die laaste een wat daaroor kla.

En oom Servaas stuur elke Kersfees twee krismispoedings Upington toe. Een is vir die nursie van wie hy so baie gehou het. Die ander een is vir sy dierbare nuwe vriend, Dokter Welman, wat ingesien het dat kanker ‘n meer aanvaarbare diagnose is as lintwurms.

Oudok en Lola gaan ook deesdae kerk toe. Sy sing nou in die koor en Oudok vis-vis steeds agter ‘n sakdoek aan as hy na haar luister. Hy het net laasweek ‘n poskaart van Engeland af gekry. (Die hele dorp het dit gelees) Mevrou het met die mannetjie-met-die-pak op ‘n wêreld toer gegaan en sy kom nie terug nie. Sy is vir die eerste keer in haar lewe regtig gelukkig, sê sy.

Mense wonder waaroor hy eintlik huil as Lola so mooi sing, maar as hulle iets daaroor sê, dan stem almal saam dat sy heimwee hom ingehaal het. Miskien is dit haar stem. Miskien verlang hy na die dunstrepiemond. Miskien word hy net oud. Maar almal weet nou dat Oudok ook op die Wederkoms wag. Nadat hy en Lola Kaap toe was vir ‘n naweek, het hy sy kredietkaart opgesnipper. Dit, sê mense, is die daad van ‘n ware gelowige: as jy die Dier herken, moet jy versigtig wees.

Oudok praat nie baie nie. Van daardie aand in die skoolsaal het hy maar ‘n stil ou mens geword. Hy sê eintlik meer met sy trane as met sy woorde.

Servaas sê soms dat die stilte van ‘n vriend meer werd is as die geklets van ‘n duisend vreemde stemme. Almal stem natuurlik hiermee saam – al weet nie een waaroor hy regtig besig is om te praat nie. Dis net met krismispoeding-tyd dat hy en die dokter en die verpleegster ‘n bietjie met hierdie wysheid spot.

 

 

 

10 thoughts on “Oudok se Flater

  1. lidiatheron

    Dis swaar om so op draende van jou laste ontslae te raak. Dis wanneer mens verby alles kyk en verlang na wat was.

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s