Oorlog en Vrede

ImageOorlog Scholtz.

Die naam is genoeg om die hele kontrei te ontstig: van Rolbos af tot by Grootdrink. Almal ken vir Oorlog as ‘n aggressiewe en hardkoppige man met wie jy nie swaarde kruis nie.

As Oorlog so onder die ruie wenkbroue uitloer, sy neus minagtend snork en sy pruimpie doer in die hoek inspoeg, dan gee jy bes of jy land in die hof. En tensy jy ‘n bankbalans het wat ten minste ‘n Kaapse advokaat se reis en verblyf, sy professionele fooi en die seëls en skryfbehoeftes (wat altyd ‘n handige manier is om ‘n regsrekening mee te laai), te kan betaal, het jy geen kans om ‘n argument met Oorlog te wen nie.

Toe Oorlog dus sy voorneme aankondig om as kandidaat te staan in die tussenverkiesing, het een en almal op ‘n verskeidenheid van heilighede gesweer hulle sal hom ondersteun.

“Nou sê my, Gertruida, en sê my reguit sonder omhaal van doekies, kan ek op jou stem staatmaak?” Ooorlog is ‘n direkte mens en het geen tyd verspil met praatjies oor families en droogtes en skuld nie. Hy wil nie weet of jy siek of swanger is nie. Geen baba (dis nou as daar so iets op Rolbos sou wees) is ooit deur sy growwe hande opgetel en (hemel help ons!) genadiglik het hy nooit so ‘n ongelukkige telg gesoen nie. Oudok het tersluiks opgemerk dat die lae geboortesyfer hiermee iets te doen mag hê: geen selfrespekterende baba sou die daglig wou sien as hulle geweet het Ooorlog is aan die ander kant nie. ‘n Miskraam is ‘n veel beter opsie.

Hilda bars in trane uit as sy vir Oorlog sien aanstap met sy vasberade stewels en die frons net-net sigbaar tussen die wenkbroue. “Ek kan nie – kan nie – met diè man praat nie. Dis sy skuld dat Pappa sy grond verloor het, na daardie storie oor die grensdrade. En na die hofgeding en die swak oes, het Oorlog bloot die plaas op die veiling gekoop vir ‘n appel en ‘n ei, omdat niemand teen hom wou bie nie.”

Gertruida het ‘n paaiende hand op haar snikkende vriendin se skouer gelê en kloekgeluidjies gemaak. Sy het gelukkig (?) klaar haar stem belowe in Grootdrink se klein drankwinkeltjie, waar sy onkant betrap is toe sy ‘n bietjie muskadel gekoop het vir die koue winteraande. Ten minste, het sy gereken, is haar lyding oor – Hilda moet nog vir Oorlog antwoord..

Oorlog se swaar stewels laat die trap na die rooi stoep kraak as hy met sy swaar en afgemete treë nader stap. Skielik verlang Hilda na Snottie. Hy sou al snuiwende die situasie beredder as hy nog hier was. Dis nie dat hy skelm was nie – hy kon net so goed lieg. Hilda probeer onthou hoe Snottie dit gedoen het, maar Oorlog kom staan voor haar soos ‘n laksman wat iemand se nek kom meet.

“Hilda Vermaak!” Hy klink ook soos die bevelvoerder van ‘n vuurpeloton. Sy wag vir ‘het jy enige laaste versoeke’, maar wat sy hoor is: “Jy gaan natuurlik vir my stem.”

Dis nie ‘n vraag nie.

Hilda is, soos gesê is, nie lid van Mensa nie. Sy sou waarskynlik nie eens ‘n skoonmaker in hul takkantoor kon wees nie – dis nou as hulle takkantore gehad het, En wie, tussen ons almal, was al in so ‘n kantoor? Dit kan net een van twee dinge beteken: òf daar is nie takkantore nie, òf almal is te dom om toegang tot daardie organisasie te hê. En as niemand kwalifiseer vir lidmaatskap nie, kan die organisasie nie bestaan nie. Miskien is dit soos die Illuminati. Of die Imam van Rolbos.

Werk dit self uit.

Al hierdie redenasies help Hilda niks terwyl sy probeer om deur daardie wenkbroue te kyk. Gertruida het gesê Oorlog het rooi oë, soos ‘n muskeljaatkat; en omdat sy altyd alles weet, het Hilda dit gelate laat verbygaan. Maar daai katte het nie rooi oë nie, soos Hilda wel weet nadat sy een grootgemaak het. Dis nou voor die bytstorie en die veearts wat die katjie na die universiteit toe geneem het omdat dit so ‘n mooi diertjie was. Hulle wou, so is paaiend vir haar gesê, die katjie se brein ondersoek omdat hy so slim was. En ja, het die veearts vertel, sulke diertjies word versorg tot in lente van dae. Net die beste verblyf en omstandighede. Niemand het iets van formalien gesê nie – en al het hulle, sou Hilda gedink het dis iets soos ‘n vitamien of ‘n proteien.

Grys! Sy is seker daardie oë is grys. Sy loer onderlangs vir Gertruida, maar diè kyk anderpad.

“Wat’s so natuurlik, meneer Scholtz?” Niemand noem hom Oorlog as hy naby is nie. Hilda onthou die plaas en iets in haar gee haar moed om sò met Oorlog te praat.

Vir ‘n oomblik is Oorlog uit die veld geslaan. “Want dis wat dit is. Jy kan nie vir iemand anders gaan staan en stem nie.”

“O.” ‘n Lig gaan vir Gertruida op. “Is daar ander mense wat ook staan?”

“Net daai skelm Jopie Mynhardt.” Jopie is die prokureur met die plaas op Grootdrink. Almal ken sy storie, natuurlik. Hy’s die een wat Oorlog se enigste hofsaak ooit laat verloor het, toe Oorlog geweier het om ‘n spoedkaartjie te betaal.

Hilda se gedagtes loop ‘n wye draai en steek vas by daardie aand. Daardie aand. Sy was die dirigent (destyds was rasieleiers nog nie ontdek nie – dit sou eers later saam met skootrekenaars kom) van Die Rolbos Plaasskool en tydens die interhoër op Upington het Jopie die jukskei gewen. Hierdie besondere prestasie het gewaarborg dat – Jopie Mynhardt – Juksei – op die ererol voor in die skoolsaaltjie aangebring was, vir opkomende geslagte om te bewonder. Die grootste voordeel van sy prestasie was dat hy, dis nou Jopie, kon kies waar hy op die bus sit, en met wie. Die ‘waar’ was natuurlik geen verassing nie.

Die ou Bedford-bus was ‘n geskenk van Ougrootpiet, na Grootpiet ‘n ietwat geweldadige woordewisseling met Platnees Makanja gehad het oor die hoeveelheid dorings op die stowwerige rugbyveld. Alhoewel Rolbos nie intens betrokke was by die regse politiek nie, het sommiges tog gevoel dis hoogtyd dat die doringbos op die halflyn verwyder moes word. Aan die anderkant van die spektrum was daar heelwat steun vanuit die gemeenskap om Platnees se hospitaalrekening te betaal, veral nadat Oudoom so mooi oor die Parmantige Samaritaan gepreek het. Ougrootpiet het gemoedere probeer paai en sy ou beeslorrie aangepas om aan die skool se behoeftes te voorsien. Die bus van Kalahari Vervoer(Veiligheid is ons Leuse) wat twee jaar voorheen teen die  Sishen trein vasgery het, was aangekoop en die bakwerk (dis nou van die gedeelte agter die stuurkajuit) is met besondere vaardigheid op die ou Bedford se onderstel oorgeplant. In die winter was dit ‘n bietjie koud as die wind so deur die laste fluit, maar die skoolbus het gespog met die uitstekende lugreeling in die  somermaande.

Dis juis hierdie lugreeling wat tot baie leerlinge se opvoeding bygedra het. Saam met die lugreëling, was daar ‘n oorweldigende stofaanslag deur die gapings in die sweiswerk. Ougrootpiet was ruimhartig genoeg om ook ‘n stel ou komberse te skenk, waaronder die kinders dan vir die stof kon wegkruip terwyl hulle so na en van die skool reis.

Werk dit self uit.

Hilda, wat in tradisionele dirigent-drag uitgevat was, kon haar ore nie glo toe Jopie vir haar kies om langs hom te kom sit nie. Die ander twee meisies was teleurgesteld maar het die situasie gelate aanvaar. Hulle het gemaak-glimlaggend vorentoe gaan sit, maar nie sonder om afkeuernde kykies na Hilda se pikante dirigent-uniform te gee nie. (Nota: die uniform is jaarliks van die een dirigent na die volgende oorgegee. Die vorige jaar was dit Grietjie Smal se beurt en haar ma het regtig moeite gedoen om die klere te laat pas om diè klein lyfie. Die gevolglike effek op die lengte en grootte van Hilda se drag daardie dag, was opmerklik. Die volgende jaar het die Skoolraad in die belang van openbare sedelikheid wel ‘n bedrag bewillig om ‘n nuwe uniform aan te skaf).

Hilda se kennis oor gevorderde fisiologie het daardie aand ‘n hupstoot gekry. As ‘n vrou eers uitwerk hoe die meganika van ‘n man inmekaar steek, het sy eintlik die sleutels tot haar eie toekoms ontdek. Sy het ook uitgevind dat stof, donkerte, ‘n skuddende bus en koue aandlug nie die vuur kan blus wat begin smeul as man en vrou eers mekaar in die donkerte vind nie.

Alhoewel sy en Snottie later getrou het, was sy geblokte sinusse altyd ‘n probleem as hy, wel, opgewek raak. Terwyl die jong dames in Engeland oor die geslagte heen na die plafon staar en dink aan die bydrae wat hulle tot die Empire maak, moes Hilda haar bes probeer om nie oor ‘n trop allergiese buffels te visualiseer tydens Snottie se ongereelde pogings om ‘n bietjie kleur in hul huwelik te sit nie. Nee, daardie een enklele aand op die skoolbus…

Daarom: daardie busrit het ‘n lojaliteit by haar ontwek wat oor die jare versigtig gekoester is. Oorlog, sy humeur en sy hele reputasie gaan nie keer dat sy vir Jopie stem nie.

“Jopie issie skelm nie. Net vinnig,” verdedig Hilda haar mooiste herinnering van totale oorgawe.

Oorlog is oorbluf. Van al die stemme waarop hy kon reken, was Hilda s’n sekerlik nie een waaroor hy kon twyfel nie. En kyk nou diè opmerking?  Oorlog se wenkbroue beweeg onheilspellend nader aan mekaar.

“So, jy weier om vir my te stem!” Hilda vou haar hande krampagtig inmekaar as sy die stemtoon hoor. Die sakdoekie wat sy altyd saamdra (‘n gewoonte van Snottie se dae) word in ‘n klein balletjie opgefrommel, as of sy skaam is vir iets.

“Ek kan mos maar stem vir wie ek wil, meneer Scholtz?” Sy sê/vra huiwerig, verwonderd oor die skielike bravado wat sy in haar voel opwel. Dis miskien ‘n tikseltjie moedersinstink (onbevredig), ‘n knippie vroulikheid (amper verlore) en ‘n halwe emmertjie lojaliteit (gekoester) teenoor die een seun wat nie die heeltyd met haar gespot het oor haar domheid nie. Jopie het self daardie aand gesê sy’t ‘n  beautifully innocent mind. Sy het daardie woorde gememoriseer – oor en oor, deur al die jare – en dit onder die opskrif van Hooglied in haar Bybel geskryf, ingeval sy sou vergeet.

Hy’t ook gesê haar pa het seker met chillies geboer, sy’s so hot; maar dit het sy nie in haar Bybel aangeteken nie. Almal weet mos haar pa het ‘n klompie hoendertjies aangehou en vir Sammie se winkel van eiers voorsien. Almal het hom geken as die man met die eiers; vir wat sal mens dit nou met chillies verwar?

“Jy kan. Dis wat dom mense doen. En dis dom mense wat sorg daarvoor dat julle dorp sò lyk.” Hy beduie met sy groot hande na die straat agter hom.

Selfs Gertruida is ‘n bietjie oorbluf. Waaroor raak hy nou so persoonlik met Hilda? En wat is verkeerd met Rolbos?

Hilda dink hy praat miskien die rondloperhond wat besig is om die dooie hoender in Voortrekkerweg te vreet. Almal ken vir Vrede, die niemand-se-hond was altyd voor Boggel se Plek lê. Kalahar Vervoer se wa is laas Vrydag (leeg soos gewoonlik) hier deur op pad Upington toe en nie gerem vir arme Kloekkie nie. Kloekkie het al jare in daardie spesifieke slaggat geskrop omdat dit die plek is waar die riool ‘n bietjie uitsyfer. Almal het vir Kloekkie geken en was geskok oor die hoendertjie se ontydige heengaan.

“Daardie lorriedrywers sit almal op Upington, meneer Scholtz. Dit help nie jy probeer vir hulle leer bestuur hier van Rolbos af nie. Dan moet jy miskien maar liewer op Upington staan vir die parlement.” Selfs Gertruida is beïndruk met Hilda se redenasie.

Oorlog gooi sy hande in die lug. “Jopie Mynhardt het laasjaar vir Platnees Makanja verdedig toe Sersant  Dreyer hom opgesluit het vir openbare dronkenskap. Dit was ‘n growwe mistasting aan sy kant. Makanja kon nie op sy voete staan nie – en toe moet die Staat toegee dat hulle nie sy dronkenskap kon bewys nie.”

“Wag so ‘n bietjie.” Gertruida val hom skielik in die rede, want sy ken mos die storie. “Wat was die getuienis dat dit sy suikersiekte is wat hom so swak gemaak het en sleeptong laat praat het?”

Oorlog se grys oë word skielik bloedbelope, nes ‘n kwaai muskeljaatkat s’n. “Wat weet julle? Sê julle ek lieg? Ek sal opdrag gee om te prosedeer!” Niemand – niemand – sal hòm sò in die openbaar verneder nie.

Gertruida – wat alles weet – kom toe vorendag met die stelling dat alle mense onskuldig is tot dat hul skuld bewys is.

“Maar julle is skuldig,” bulder hy, “julle het my nounet tot leuenaar verklaar!”

“Nee” sê Gertruida ewe met ‘n kalmte wat nie tot haar hart strek nie, “jy het van leuenaars gepraat, meneer Scholtz, nie èk nie. Nou moet jy jouself prosedeer en ek dink daar is ‘n wet daarteen. Openbare Sedelikheid.”

Toe Aggressie uitgedeel is, het Oorlog heel voor in die ry gestaan, wat veroorsaak het dat hy ‘n bietjie agterlanges was by Insig en Logika. Gewoonlik kon hy met sy oordonderende houding herdie tekortkoming oorbrug, maar vandag gaan staan die wysers op sy emosionele meters op Rooi en hy sploeter soos hy probeer praat, dink en aanval ter selfde tyd. Hilda, steeds diep onder die indruk van daardie aand in die Bedford, giggel nou agter die sakdoekie wat weer netjies uitgeplooi is en tussen haar hande gestrek word sodat Oorlog nie kan sien sy lag vir hom nie.

Die Voorsienigheid het ‘n sin van humor. Dis ‘n feit. Hoe anders verklaar jy dan dat Jopie Mynhardt juis op daardie oomblik aan die ander kant van die straat ook van deur tot deur beweeg om stemme te werf. Jopie het nooit sy atletiese bou verloor nie en kan, ten spyte van die jare wat intussen verbygegaan het, steeds ‘n akkurate skei gooi. As prokureur het dit hom goed te staan gekom. Voor sy kantoor hang die bord wat verklaar: Jopie Mynhardt, B. Prok. Prokureur. Notaris. Skei-kampioen. Mense van oor die hele provinsie kom hom dikwels spreek oor sy skei-tegniek. Dis blykbaar baie suksesvol, het Gertruida vertel, want sy weet mos alles.

Oorlog volg die dames se blik en vir ‘n oomblik oorweeg hy om sy bosserige wenkbroue te laat sny. Dit kan mos nie wees nie!  Daardie skelm prokureurtjie kan mos, in hemel’s naam, nie staan en stemme werf terwyl hyself daarmee besig is nie?

Oorlog snork ‘n snork waarop Snottie trots sou gewees het en draai net daar om. Hy sal nou, vir eens en vir altyd hierdie skelm mannetjie regsien! En sommer vir die spoedkaartjie ook. Verbeel jou? Dis hy wat as aanklaer ingestaan het die dag toe Oorlog met al die kwitansies by die hof opdaag het om te bewys dis nie hy wat die voertuig teen daardie spoed bestuur het nie. Hy was – volgens die kwitansies – in Kaapstad, waar hy gaan besigheid doen het.

En daar, in die hof, vra die verdomde Mynhardt hy moet verduidelik wat hy in die Kaap gedoen het en wie hy daar gesien het.

Oorlog het vinnig gedink en gesê hy was by sy broer – wat waar was, maar nie op daardie dag nie. Ook Kleinoorlog het gehelp met die kwitansies wat hy aangestuur het nadat hy met die oulike ontvangsdame in die Kaap ‘n transaksietjie beklink het. Sy was maar tè gewillig en het dadelik ‘n dokumentjie gedruk van haar rekenaar wat bevestig dat Mnr Scholtz vir 2 dae daar gebly het.

En sou die verdomde Jopie Mynhardt nie so waarimpel die meisietjie gebel het om te hoor of dit eg is nie! Die magistraat het in stilte geluister hoe Prokureur Mynhardt vertel hoe die meisie sommer begin huil het, want Kleinoorlog het toe nooit opgedaag vir die aandete soos hy belowe het nie. Haar hartseer verhaal is aan die Hof voorgespeel deur die klein bandopnemertjie wat die Skeikoning van die Noorde altyd byderhand hou. Omdat daar dus ook myneed ter sprake was, moes Oorlog ‘n ordentlike boete betaal; iets waarvoor hy nog nooit vir Jopie Mynhardt vergewe het nie. Kleinoorlog was blykbaar vir twee dae in ‘n koma.

Oorlog is so vasberade om vir Mynhardt by te kom, dat hy nie vir ‘n oomblik die toestand van Voortrekkerweg in ag neem nie. Net links van Kloekkie (die arme Vrede  gee pad toe hy die uitdrukking op Oorlog se gesig sien), sink die een swaar stewel in die slaggat en modderwatertjies spat pikant teen sy netjiese kerkbroek – die khaki een wat hy vir Nagmaal dra.

Dis waar die argument inkom dat die Skepper ook soms glimlag vir ons doen en late.

Die stewel, nou so sooldiep in die riool, is met soveel krag neergesit op die grond (Oorlog was op pad oorlog toe, onthou) dat dit die kraak in die sementpyp, wat nog tydens die Sappe se tyd deur die dorpsraad gelê is voor die depressie, onder geweldige druk plaas. Gertruida (wat alles weet) sê dis toe hy sy ander voet optel, dat die gewig van sy volle swaar lyf op die slaggat-stewel afgekom het.

Dis toe die ou pyp finaal besluit het genoeg is genoeg: ‘n pyp kan ook net soveel uithou en nie mèèr nie.

Met ‘n slag wat selfs Oudoom uit sy studeerkamer laat storm terwyl hy sy preek oor die Wegraping voorberei, verdwyn Oorlog in die hoofstraat tot net sy kop en nek bo die padoppervlakte uitsteek. Hilda het later gesê mens moes hom maar so gelos het, want die pad het sommer beter gelyk en mens sou nie soveel pap wiele kry van die gestamp as jy deur die gat ry nie, maar niemand (soos gewoonlik) het haar ernstig opgeneem nie.

Vir ‘n wyle was Rolbos die enigste dorp in die wêreld met ‘n pratende kop in die hoofstraat. Met ‘n stem wat as gevolg van histerie al hoe hoër teen die toonleer uitklouter terwyl die stewels stadig dieper in jare se, wel, afval sink, gil Oorlog dat dit die einde is. Hy gaan hierdie munisipaliteit tot in die Hoofgeregshof laat betaal. Hulle wil nie eens weet watse moeilikheid hulle nou gaan hê nie; hulle gaan die ganse Romeins-Hollandse regsgeskiedenis in hierdie einste klein mishoop van ‘n dorpie herskryf.

Platnees het ook die petalje waargeneem van waar hy by Precilla gestaan en gesels het nadat hy sy maandelikse medisyne vir sy suiker gaan koop het, en koponderstebo straataf verdwyn. Hier is dit dalkies net te gevaarlik om vir meneer Oorlog te staan en lag…

Jopie staan nader maar kan homself net nie oortuig om vir Oorlog te help nie. Die ongedefinieerde materiaal wat tot op borshoogte teen  Oorlog opkruip maak enige hulp ‘n daad van uiterste dapperheid – met die gevolg dat Oorlog teen die blink gepoleerde Dr Watsons vaskyk terwyl hy besef die aangepakte lae riool onder in die pyp stadig meegee onder sy eie gewig.

Genadiglik (of nie) kom die skoolbus juis in Voortrekkerweg af om die juksiespan op te laai vir die toernooi in Grootdrink. Soos almal in Rolbos, weet Sareltjie (ook bekend as Alonso) Barendse van die slaggat. Met ‘n behendigheid wat by sy bynaam pas, steek hy die slaggat verby met millimeters om te spaar. Dis eers toe hy bo die gerammel van die los bakwek die mense hoor skreeu, dat hy onraad bemerk en stilhou – met die agterwiel reg langs die gillende Oorlog se oor. As of dit nie genoeg is nie, draf Vrede wat so flussies aan Kloekkie geknaag het, nader met die vasberade kyk van ‘n hond wat ‘n ongemerkte wiel herken. Om sy eie eer te bevestig, stel hy ook daar en dan die sakie reg, sodat Oorlog beide van bo en van onder die effek van mens en dier ervaar.

Teen die tyd dat Alonso – uiters teen sy aard – die Bedford stadig weggetrek het sodat die son weer, by wyse van spreke, op Oorlog kan skyn, was Oorlog sprakeloos. Sersant Dreyer kom aangedraf met ‘n tou wat hy in die gapende skeur in Voortrekkerweg laat afsak en die ander punt aan die Bedford se bakwerk vasmaak.

Die Opraping van Oorlog (soos dit later bekend gestaan het) is vasgelê op Gertruida se klein Instamatic. Dit het later op die voorblad van die Upington Post gepryk, onder die opskrif: Kandidaat Sprakeloos na Rioolpyp meegee. Oudok sê in die artikel dis van skok en dat sulke pasieënte dikwels hul stem verloor. Post Tamatiese Stress, staan in die koerant, wat aan die term tamatiestraat ‘n nuwe betekenis gee. Stomgelsaan deur sy mistasting, was Servaas se slim opmerking.

Daar is ook ‘n kleiner foto van Platnees wat met sy hand beduie na die bordjie wat waarsku teen gevaarlike slaggate. Wat die koerant nie weet nie – en daarom ook nie sê nie – is dat Platnees daardie bordjie inderhaas self geverf en geplant het. Toe Oorlog soos ‘n feniks van ouds uit die spreekwoordelike moeras opstyg, was hy reeds besig om die bordjie in te hamer. Die munisipaliteit, (eintlik Vetfaan en Kleinpiet) het eenparig besluit om aan Platnees ‘n klein bonussie te betaal. Hy het, volgens hul oorwoë opinie, die dorpie duisende rande aan regskoste bespaar want Oorlog sou wel ‘n saak wou maak.

Maar soos dit is, kan die saak dalk verjaar voor Oorlog weer sy gesig in die dorp wys. Of sy stem terugkry. Dit was immers die enigste tussenverkiesing waar die kandidaat nie daar was om vir homself te stem nie – en die Romeins-Hollandse reg het in suiwere demokrasie geseëvier.

Werk dit maar self uit…

11 thoughts on “Oorlog en Vrede

  1. Sonel

    hehehehe, en toe sien Oorlog sy alie! Weereens uitstekend geskryf en ek het baie geniet om te lees. Dankie!🙂

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s