Die Kalender

Image“Die kerbasaar was ‘n flop.” Gertruida vat sulke klein slukkies van haar koffie terwyl sy praat. Dis nie dat die brousel so warm is nie, sy wil eintlik sien wat die res van haar voorstel dink. As sy vir hulle genoeg tyd gee om die nuus te verteer, sal hulle dalk beter saamwerk.

“Ja, maar jy het gehoor wat Oudoom gesê het. Almal het mooi saamgewerk en die koektafel was binne minute uitverkoop.” Kleinpiet voel darem dis nie reg om die kerk so te kritiseer nie.

“Ja, altwee van hulle.” Boggel giggel agter sy hand. “Vetfaan het self sy twee koeke opgekoop vir sy plaaswerkers – hy was bang Lola of Precilla koop dit en kom agter hoe rou die deeg nog is. Jy ken vir Vetfaan: hy’s nie ‘n ou vir naam weggooi nie.”

“Wel, julle weet wat nou kom. Met die kerk se rekening in die rooi, gaan Oudoom begin preek uit Maleagi. Daai stukkie van as jy nie jou tiende gee nie, gaan daar pes onder die vee uitbreek. Dis al wat Rolbos nog nodig het: ‘n kudde dooie skape.” Die metafoor tref nie sy teikenmark nie, maar Vetfaan sien hoe die veld bespikkeld is met sy Swartkop-persies vol aaklige seerplekke. Hy ril.

“Daai preek is mos vyftien jaar gelede geskryf. Oudoom bêre dit vir droogtes en wanneer die pastorie geverf moet word. Ons sal maar net deur dit moet sit, dis al.”

“Jip” Boggel loer na sy voete, “daar is niks wat ons kan doen nie.”

“O, maar daar is, weet jy Boggel? Al wat ons nodig het, is ‘n plan.”

 

Oudoom luister oopmond na die pleidooi. Gertruida het gevoel Vetfaan moet maar die woord voer – hy is immers ‘n man en ‘n ouderling, en sy is bloot sekretaresse van die RVV (Die Rolbos Vlytige Vingers; Mevrou is natuurlik die voorsitster), en assulks dra haar stem minder gewig.

“Julle wil wat?” Oudoom besef hy moet versigtig wees. Hierdie voorstel is nie net vreemd nie, maar dit klink darem te veel na geldmakery. ‘n Basaar is mos aanvaarbaar, want mense gee van hulself; maar wat hier voorgestel word, is suiwer besigheid en almal weet kerke werk nie sò nie.

“Kyk, Dominee,” Vetfaan se geduld verbaas almal, “as ons dit gebruik om Rolbos op ‘n nasionale vlak te bemark, is dit mos nie sonde nie? Ons kan agter op elke bladsy ‘n aftrekorder laat druk en sò die Koninkryk bou. En gestel net een uit ‘n honderd Suid-Afrikaners koop een teen R20, dan maak ons maklik drie miljoen Rand. Dis nog voor die aftrekorders, sien?”

Oudoom soek-soek met sy linkerhand in sy baadjie se sak vir die pilletjies. As sy bors sò beklemd voel, help dit altyd. “Maar is dit nie sonde nie?”

“Nee, wat Dominee. Dis woeker met talente. Ons het daardie talente ontvang en as ons niks met dit doen nie, sal ons moet rekenskap gee tydens die Wederkoms.”

Oudoom sien dit. Die Groot Regter op Sy troon wat afloer na hom, Oudoom, en ‘n verklaring eis. En toe dit finansieël sleg gegaan het, Broer Oudoom, het jy verkies om jul talente onder ‘n maatemmer te bêre? Jy sou liewer dat My gemeente bankrot speel as om in geloof te waag? Nee, wat. Hou links verby en gaan met die trap af na die deur in die kelder. Moenie klop nie, loop maar net in. O, en onthou die sonbrandolie. Hy sluk die pilletjie sommer so droog en kug. Dis tyd vir slim voetwerk vir die gemeente.

“Kyk,” Oudoom besef hy moet versigtig wees, “gestel nou daar is gemeentelede in ‘n gemeente wat so-iets wil aanpak. Gestel hulle bespreek dit nie met hul dominee nie en hy hoef nie dit goed- of af te keur nie.  Gestel hulle maak ‘n wins en gee dit vir die gemeente. Dan sal geen haan mos daarna kraai nie, of hoe?”

Gertruida probeer om nie te glimlag nie. “Kom kêrels, daar is werk om te doen. Dankie Dominee. Dag, Dominee.”

 

“Maar ek is nie seker dat ek op daardie kalender wil wees nie.” Vetfaan vee met sy groot hand oor sy maag en wonder wat mense van hom gaan dink.

“Nee, man, ons neem die foto’s sodat jy net ‘n arm of ‘n been sien. Geen gesigte nie. Niemand sal weet wie se arm is Januarie of wie se rug is Februarie nie. Ons noem die kalender die Ledemate van Christus, jy sien, en bemark dit tussen al die gemeentes in die land. Precilla het mos internet – dit gaan maklik wees om ‘n e-pos aan ander gemeentes te stuur en so hul bestellings te kry.” Soos altyd, het Gertruida aan alles gedink.

Vetfaan sug verlig maar Boggel brom onderlangs dat niemand – niemand – sy rug gaan afneem nie.

“Dis juis die mooi daarvan, Boggel. Almal het ‘n reguit rugstring. Joune moet sommer Januarie wees, dit sal mos die oog vang. Die kerk werk mos juis omdat ons almal maar sukkel. Jou rug sal ‘n teken wees dat ons juis deur ons onvolmaaktheid kan help om die Koninkryk te bou.”

Boggel giggel gelate. Gertruida maak wel sin, dink hy. “En wat van julle inperfeksies? Gaan almal iets laat afneem wat krom of stukkend is? Miskien ‘n bles hier en ‘n hangende stukkie vel daar?”

“Ek het juis so gedink, Boggel.” Gertuida lyk darem ‘n bietjie ongemaklik as sy dit sê. “Maar niks…eksplisiet nie, verstaan? Alles in goeie smaak.”

“Soos jou histerektomie litteken, miskien?” Kleinpiet se oë glinster van die lag terwyl hy veg om nie te glimlag nie.

“Nee, jou stommerik! Ek het gedink aan die moesie agter my blad. Oudok het gesê hy moet uit, so as hy dit afgesny het, kan mens mos ‘n mooi foto van dit neem.”

Boggel en Vetfaan spring gelyk op. “Nee!” Boggel is nog halfpad op sy voete as Vetfaan voor Gertruida kom staan. “Die nie ‘n moesiekalender nie en moesies is nie ledemate nie. Die reël moet wees dat wat ook al afgeneem word, nog vas aan jou lyf moet wees.”

 Die enigste een met ‘n ordentlike kamera op Rolbos is Precilla en dis dan juis sy wat die volgende middag haar gordyne toetrek en wag vir haar ‘modelle’. Elkeen het ‘n tydgleuf en uit waardering vir mekaar se privaatheid, word hulle een-een afgeneem.

Sy’s nogal goed. Deur die loop van die middag neem sy by die vyftig foto’s van arms, bene, vingers, ore, oë, en Boggel se rug.

 

Dis kort voor sluitingstyd in Boggel se Plek as Precilla instap. Almal word skielik stil.

“Kom, kom kyk wat ek uitgesoek het. Ek dink dit sal werk.”

Almal slenter oor na die Apteek en neem stelling in voor die rekenaarskerm.

Dis duidelik dat Precilla baie moeite gedoen het. Oor die skerm flits ‘n reeks van twaalf foto’s wat kniekoppe, elmboë, enkels, voete en hande uitbeeld. Boggel se rug is ‘n meesterstuk.

“Nou,” sê Gertruida wat alles mooi uitgedink het, “moet ons dit laat druk en bemark. Wie gaan Upington toe in die volgende week?’

Vetfaan sug. Hy gaan alweer al die harde werk moet doen.

 

Gordonia Drukkers, wat die Upington Post uitgee, is geleë in die industrieële gebied buite Upington. Vetfaan parkeer sy bakkie voor die gebou en sit met die skyf in sy hand. Hy gee nie om dat Gertruida so ‘n idee gehad het nie, maar hierdie kalender-gedagte is darem ‘n bietjie laf. Wie sal nou ‘n kalender wil koop met ‘n klomp oumens foto’s op? Aan die ander kant: keer hy terug na Rolbos sonder ‘n almanak, sal Gertruida woedend wees. Met ‘n swaar hart loop hy in en glimlag weemoedig vir die meisietjie agter die toonbank.

Tot haar eer moet mens sê dat sy nie hardop gelag het toe sy Vetfaan se versoek hoor nie. Net daardie oggend het hulle ‘n personeelvergadering gehou en is die benarde posisie van Gordonia Drukkers uitgestippel: as hulle nie ekstra werk inkry nie, sal daar van die personeel afgedank moet word: iets wat haar trouplanne met die nuwe onderwyser by Upinton Pre-Primêr in die wiele sal ry.

“Nee, dis reg Oom. Gewoonlik druk ons ‘n proef en dan keur die kliënt dit goed. Dan druk ons ‘n oplaag volgens julle behoefte. As Oom oor so drie ure terugkom, kan Oom die proef kry om Rolbos toe te vat.”

Vetfaan is haastig, maar sien ook nie kans om weer ‘n slag Upington toe te ry om die proef op te tel nie. Hy sal maar wag.

“Gaan eet iets, Oom, dan spring ons klomp solank aan die werk?”

 

Vetfaan ry doelloos deur Upington. Hy ken nie die kafee’s en restaurante so goed nie. ‘n Bier en ‘n fillet sal darem welkom wees, maar hy sien nie kans vir die mixed grill wat by die Griekse kafee adverteer word nie. Hy is al amper deur die dorp as hy die kennisgewing sien.

Kalahari Casino – ‘n Oase in die Woestyn. Vyfster Restaurant en Oornagkamers.

Hy het al gehoor van die dobbelplek, maar ouderlinge gaan nie na sulke plekke toe nie. Tog…ouderlinge laat neem ook nie hul liggaamsdele af ter wille van die kerk nie.  En ‘n vyfster eetplek? Hoekom nie!

Die vleis is dik, sag en net reg gaar gemaak. Die bier word yskoud bedien en Vetfaan bestel nog een. Dan kyk hy na sy horlosie, sug en vra die rekening.

“Vier-honderd-en-vyftig Rand? Magtag, mens, ek het nie ‘n stoetbul opgevreet nie, net ‘n stukkie koei. Wat gaan hier aan?”

Die hotelbestuurder kom verduidelik dat dit ‘n vyfster eetplek is, en dat mens op so ‘n plek uitnemende diens en fantastiese kos kry. Daarvoor betaal jy. Dis wat die SQ agter elke dis beteken. Superior Quality…

“Dis Sommer Quak!” Vetfaan gooi die vyfhonderd Rand wat hy saamgebring het op die tafel neer en wag vir die kleingeld. Miskien sal die drukkers die proef gee en kan hy met die vaste bestelling alles gelyk betaal. Soos dit is, het hy nou net die kleingeld oor om weer by Rolbos uit te kom.

Die kelner kom sit sy kleingeld neer. Vyf-en-twintig R2 stukke. Vetfaan ignoreer die jong man se teenwoordigheoid en maak die geld in sy groot hand bymekaar. Daar is geen manier dat hy nog ‘n fooitjie ook gaan uithaal nie.

 

Op pad deur toe loop hy verby die rye dobbelmasjiene. Liggies flikker en af en toe klingel ‘n muntstuk of twee in die bakkies as iemand iets gewen het. Ouderlinge dobbel nie.

Dan vang sy oog die groot masjien met die neonligte.Progressive Jackpot….Three million waiting for you…

Die tweerandstukke in sy sak weeg skielik baie swaar.

 

Niemand glo vir Vetfaan nie. As hy terugkom van Upington af, vertel hy dat die drukkers nie sullke kalenders kan maak nie. Miskien in die Kaap, maar nie in Upington nie, jammer.

“En iedergeval, ek voel nie dis reg dat ons so met die Liggaam-Begrip omgaan nie. Dis die gemeente se taak om self in te spring en ons eie sake uit te sorteer. Daarom het ek besluit om liewers self R 300,000 vir die kerk te skenk, dan hoef ons glad nie verder te bekommer oor die hele storie van die kalender nie.”

Boggel kyk onderlangs na Vetfaan en gee ‘n bier aan.

“Dis darem baie jare se tiendes wat jy nou uithaal, Vetfaan. Jy betaal nou vêr vooruit?’

“Nee, wat Boggel, ek bring net my rekening op datum. Gaan lees weer wat Maleagi sê. ‘n Tiende is ‘n tiende. My skaap lyk juis deesdae maar siekerig.”

En Gertruida wat alles weet, kyk vêr by die venster uit terwyl ‘n Mona Lisa glimlag om haar mondhoeke speel. Sy sal niks sê nie. Niks.

Veral nie van die oproep wat sy van haar klein neef se peetkind ontvang het vanmiddag nie. Dis nou die outjie wat soggens by die Pre-primêr werk en smiddae ‘n kassier is by die nuwe casino. Hy’t gesê hy mag niks sê nie, veral nie na die Oom so ‘n lekker fooitjie oor die toonbank gestoot het nie, maar dis darem nie elke dag dat die Progressive gewen word nie.

En buite die dorp, in die sinkhuisie agter Vetfaan se opstal, hang daar vandag nog ‘n kalender wat niemand anders nog gesien het nie. Die Januarie-foto van iemand se krom rug is besonders treffend.

16 thoughts on “Die Kalender

  1. lidiatheron

    Ek het al te lekker gelag, weet nie waarvoor die meeste nie. Die dubbele standaarde of die manlike onderwyser by die Pre-primêr nie. Nietemin, die hele stuk is vir my snaaks verby, dankie.

    Reply
  2. colonialist

    Pragtig, soos gewoonlik. Waardevol kleingeld, inderdaad!
    Net tweekeer in my lewe Upington besoek het, maar ek onthou dit nog goed met plesier, en ek hoop dit nie te veel verander het.

    Reply
  3. Julia Mukuddem

    kyk hier – hierdie een was by verre die beste een ooit vir my. ek het nou so lekker gelag amos. elke keer dink ek dat ek “dit” gaan uitlig en dan weer “dit”, o nee wag – “dit” – daar is net te veel om te noem. maar kom ek kies maar een: daar met oudoom wat af met die trappe in die kelder kan gaan, moenie klop nie, gaan maar net in – ha-ha. vrek goed amos!!

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s