Hybie

As Hybie eers huil, stop niks op aarde haar uiting van smart nie. Sy het ‘n manier om ‘n snik te laat groei soos wat Kleinpiet hanslammers grootmaat met ‘n bottel: geduldig en met groot deernis. Agter haar aansenlike borsmaat sal so ‘n snik ontstaan, binne sekondes gekoester word tot ‘n monstersnik en dan vrygelaat word om vir almal binne hoorafstand (klank in die Kalahari trek ver) in kennis te stel van haar sombere gemoedstoestand. Sò ‘n snik sal dan gevolg word deur ‘n uitgerekte en ewe-indrukwekkende remskoen-ratel (iets soos ‘n orrel in trurat) as sy weer asem intrek om die volgende snik te gaan haal, daar diep binne haar, waar die seer lê.

Volgens haar aansienlike ondervinding, is dit ook ongeskik om ‘droog’ te huil: daar moet voldoende trane, ‘n ordentlike nat neus en verkiesilik ‘n klammigheid op die ken ook wees. Dis natuurlik hoekom ‘n professionele huiler soos sy, altyd ‘n spaar sakdoekies erens versteek. Dieselfde borsmaat wat oorsprong gee aan haar rou snikke, voorsien dan ook heelwat skuilplek vir ‘n voorraad snesies (minder ernstige huil) en sakdoeke (vir die meer formele geleentheid) wat geredelik beskikbaar moet wees ingeval haar dienste op kort kennisgewing benodig word.

Die derde vereiste, glo sy, is houding (sy praat altyd van snot, snesies en stamina). Mens huil nie regop nie. Dit sou te trots wees en pas glad nie by iets soos hartseer en verlies nie. Nee, mens se skouers hang vorentoe, die rug ietwat gebuig net bo die middel, en die kop rus op die bors (in haar geval makliker as in gewone mense s’n); terwyl jou hand hulpeloos langs die sye geskud word (tensy die sakdoek gebruik word, natuurlik).

Hulle ken haar sò. Sy was op elke begrafnis van Van Zylsrus af tot by Prieska oor die afgelope dekade. Geen moeite word ontsien om sulke geleenthede by te woon nie. By intieme seremonies, waar ‘n geliefde begrawe word, sal sy diskreet-eenkant staan en met toepaslike selfbeheer probeer om nie die verrigtinge te steur nie.

Maar by ‘n geleentheid soos vandag, kan sy maar die lugweë vry teuels gee. En dit, soos mense in hierdie kontrei kan bevestig, is iets om te beleef. Dis eintlik ‘n meesterlike verwerking van smart, amper soos ‘n musiekstuk, as jy so daaraan dink. Sy begin met ‘n adante of ‘n adagio, heel stemmig en gepas. Stadig word die intensiteit en die tempo opgewerk na ‘n mini-crecendo, waarna sy die volume weer ietwat inperk voor die volgende fortissimo losgelaat word.

Gertruida het al gewonder of Hybie klas geloop het in smartkunde, maar weens die vrees dat dit van die oorskietsnikke wat by  die laaste begrafnis dalk oorgebly het kan ontketen, het die vraag ongevra gebly.

Boggel sê weer sy’s die wêreld se eerste orkaanskenker.

Die man wat vandag begrawe word, is Karelknyp, veraf familie van Frikkie-die-vrek. Karelknyp, wat destyds volgens oorlewering sy pennies so styf vasgehou het dat die koningin se oë begin traan het, was ‘n hardvogtige, eensame man wat naby Grootdrink met druiwe geboer het. Sy opstal was ‘n eenvoudige rondawel en sy voertuig het uit die vyftigs gedateer. Skatryk, en nou plankdood.

En alleen. Vetfaan sê mens kry boere wat so suinig is dat hulle niks wil plant nie – dis te duur om saad so in die ploegvoortjie te plaas  – en dan is daar onkruidgif en bemesting ook nog.  Karelknyp was sò: ‘n saadspaarder wat gehou het wat hy het.

Karelknyp se skatte het nie net uit sy boerdery gekom nie – hy was ook ‘n geldskieter. As jy vinnig geld nodig gehad het, was hy maar tè bereid om te help. Wanneer dit by die terugbetaalslag kom, was die skok dikwels groot: rente, kostes en diverse uitgawes is bygevoeg om Karelknyp ‘m stewige wins te gee.

En nou, langs die graf, staan die mense van Rolbos en Grootdrink en Bitterbrak, en kyk hoe die eenvoudige kis na benede daal . Uitdrukkingloos, staan die gemeenskap in ‘n amper-afkeurende en gedwonge stilte; as of hulle deur hul stilswye juis mèèr wil sê as wat hulle in woorde kan. As of die dood vir hulle die reg gegee het om hul misnoë te projekteer teenoor ‘n kis vol wrewel en die laaste eerbetoon eintlik ‘n verligte vaarwel geword het.

Behalwe natuurlik vir Hybie, wat met oorgawe en geweldige entoesiasme snikke  uit haar aansienlike smartfontein laat opwel het; daar van diep binne die indrukwekkende bors. Veral omdat die res van die teenwoordiges nie eintlik  die behoefte voel om emosie te toon as laaste eerbewys nie, kan Hybie nou met ‘n oop visier aanlê en na willekeur haar trane laat oorborrel voor die versameling mense op die grafrand.

Daar is n natuurlik ‘n goeie verklaring vir haar optrede (die regte woord onder omstandighede).

Dokter Welman, die slim geneesheer wat vir Servaas se dikderm genees het, verstaan Hybie se gedrag. Hy het aandagtig geluister na haar verhaal van swaarkry en teleurstelling. Dronk pa, rondloper ma, vier broers. Broodsgebrek  en mishandeling. Vroeg uit die skool uit om in PEP-Stores te gaan werk, sodat een van die boeties kan gaan studeer.  Toe maar getrou met Dronkdawie de Villiers, die bywoner op die vrugteplaas naby Kakamas.

Almal ken diè storie: na sy ongeluk het sy hom nog drie jaar opgepas – alleen, want waarmee sou sy enige hulp betaal? En kerk en gemeenskap het hul gewetens gesus deur vir mekaar te sê Dronkdawie was darem gelukkig om vir haar te hê – en dat dit ‘n genade is dat hy so goed versorg word.

Hybie het geglo sy het haar eie bed gekies en self opgemaak. Van kleins af het sy geweet mens se hulp kom nie van ander nie: as jy nie self inspring nie, help dit nie jy bid vir verlossing nie. So het sy met verdrag die meubeltjies, haar moeder se oorbelletjies en die Voortrekkermonument-suikerpot – een na die ander – oorgedra na die pandjieswinkel toe. Dronkdawie se klere (hy sou tog nooit weer loop nie) het gevolg. So ook die karige gereedskappies waarmee hy beloof het om ‘n huis te bou.

In al hierdie tyd, het Hybie nie ‘n enkele traan gestort nie. Ook nie by sy begrafnis nie. ‘n Vrou huil nie oor haar skande nie, het sy vir Dok Welman vertel; dit help nie. Jy tel jou kruis op en jy loop met hom – niemand anders sal dit tog vir jou doen nie.

Dis toe dat sy besef het dat begrafnisse die uitlaatklep vir haar harsteer, haar frustrasie, haar opstand en haar woede verskaf. Woede, want mense het haar in haar eensaamhied en swaarkry bloot laat begaan, en geen hand is na haar uitgesteek in haar oomblik van nood nie. Begrafnisse was ‘n uitlaatklep – ‘n aanvaarbare sosiale omstandigheid – waar mens mag huil sonder om skaam te wees oor jou verlede. Huil, het sy vir Dok Welman vertel, is die Groot Gelykmaker. Arm mens en adelike, boemelaar en baas: dit maak nie saak wie jy is nie, jou huil weeg net soveel soos die een wat langs jou staan s’n. Smart kom nie in skakerings van belangrikheid nie.

Koos Kadawer het natuurlik agtergekom dat sy begrafnisse nou ‘n gereelde volgeling bygekry het. Die weduwee De Villiers en haar oorvloed van trane, was natuurlik ‘n welkome byvoegsel by sy onderneming se aktiwiteite en het ‘n nuwe dimensie aan sy besigheid verskaf. Roubeklaers het later gevra of hy nie maar sal seker maak dat daai vrou wat so mooi huil, teenwoordig sal wees as hulle vir oupa inspit nie. Of: niemand is tog hartseer dat die ou hardvogtige vrek uiteindelik die gees gegee het nie. Die testament is egter nog nie gelees nie – kry tog maar iemand wat kan huil?

En so, of iemand nou in liefde of verligting begrawe word, het Koos Kadawer maar begin of vir Hybie op te laai – want waarvoor sal daar nou tweemaal op vervoer uitgegee word as hulle kan saamry? Koos het besef Hybie is ‘n aanwins vir sy besigheid, en dat meer en meer mense sy dienste verkies het bo die groot ondernemer van Upington.  Hybie het weer elke huil-geleentheid aangegryp met oorgawe – Dok Welman het gesê dis al manier hoe sy die harsteer uit haar kop kan kry.

En nou, by die oop graf van Karelknyp, staan Koos Kadawer en loer hoe Hybie so ‘n groot en positiewe bydrae maak tot vandag se seremonie.

Oudoom is besig om die begrafnisrede af te handel.

“…Nou, Broers en Susters, dis dan die laaste vaarwel aan ons broer en gemeentelid, Karel Kotze. Wie sal weet hoeveel eensaam aande hy met sy syfers geworstel het? Wie van ons het genoeg omgegee om te gaan uitvind hoe dit met hom gaan in hierdie laaste weke? En wie van ons was daar om sy hand vas te hou toe die einde gekom het?

“Eenling by geboorte. Eenling by afsterwe – dis ons lot. Maar tussenin, Broers en Susters, kan ons leef as bevrydes in ons Liefde; of ons kan swaarky as gevangenes van ons eie Hebsug en Eiewaan.

“Laat ons ‘n blaadjie neem uit Broer Kotze se lewe…hy is nou oorlede en dit maak tog nie meer saak nie. Maar laat ons by hierdie begrafnis, die lewendes onthou, nie die dooies nie. …

“Julle,” en Oudoom se vinger wys na elkeen om die graf (maar het hy langer getalm by Hybie?), “is geskape om mekaar lief te hê. Mag dit so wees, dat wanneer julle tyd kom, jul geliefdes met opregte hartseer afskeid neem van julle.”

En daarmee gooi Oudoom die eerste handvol grond op die kis, draai om en stap weg. Getruida sê sy sweer daar was ‘n glimlag om sy mondhoeke.

Koos en Hybie het lank na mekaar gestaan en kyk – ens gemaak-skaam, maar later openlik-uitdagend. Haar huil-optrede het minder geword, opgedroog, en in die afwagtende stilte om die graf weggesypel. Ou Koos Kadawer het, met al die waardigheid wat sy manelpak, hoë keil en die los grond om die graf dit toelaat, oorgestap na Hybie toe.

“Oudoom is reg,” het hy in sy beste begrafnis-stem gesê.

En Hybie het vir die eerste keer in jare haar mooi lippe in ‘n glimlag geplooi.

 

Boggel sê die twee kom loer af en toe in, daar by Boggel se Plek. Hulle praat van trou, maar is nog versigtig om gebooie op te gee. Dok Welman het vir Koos Kadawer gesê mens moenie sommer weer volmaak as jy die hartseer uitgetap het nie. Oudoom sê ook jy sit nie nuwe wyn in ou sakke nie. Diè twee moet eers die engte van hartseer verruil vir die ruimte van liefwees.

Servaas, wat waarskynlik volgende in die ry is, beween natuurlik die verloop van omstandighede. Noudat Hybie leeg gehuil is, huil sy nie meer op begrafnisse nie. Servaas sê dit  help hom bôggerôl as die hoofhuiler met ‘n verliefde glimlag staan en kyk vir die man met die swart manelpak.

Gertruida sê weer dit wys jou net. Toe Precilla vra wat dit wys, het Gertruida met ‘n hartseer glimlag weggeloop  – so as of sy nie wou sê nie. Boggel het gesien wat gebeur het, en ‘n bier na Precilla oorgestoot.

“Hartseer, huil, en eensaamheid, Precilla. Hierdie drie, maar die grootste hiervan is die eensaamheid.” En Precilla het skeef geglimlag, want sy’t geweet dis nie ‘n grap nie.

Miskien, reken sy, moet sy ook begin begrafnisse bywoon. Kyk nou hoe goed het dit vir Hybie gewerk. En nou dat Hybie nie meer huil nie, sal Koos Kadawer seker darem vir haar ‘n kans gee?

“Ag vergeet dit, Precilla.” Boggel vryf ‘n glas blink en loer so half oor sy skouer.  “Jy’s veels te vrolik daarvoor. Kry nog ‘n Cactus Jack.”

Precilla haat dit as Boggel so haar gedagtes lees. So as of hy vir haar geen privaatheid gun nie. En tog…

“Jy gee eintlik regtig om, nè Boggel?”

En as Gertruida daar was (omdat sy alles weet), sou sy die glimlag om Precilla se mondhoeke herken het – dieselfde glimlag wat Hybie gehad het daar langs die graf, toe sy vir oulaas geheuil het..

©

10 thoughts on “Hybie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s