Nagmaalwyn

Dit was op een van daardie snikhete Woensdae dat Oudoom vir Servaas bel. Die twee is, veral na Servaas se wonderbaarlike herstel, nogal goeie vriende en Oudoom gebruik gereeld die voorbeeld van hierdie genesing as hy oor die jaarlikse dankoffer praat. As Servaas se dankbaarheid so groot is, dan moet ons mos iets leer daaruit, nie waar nie? Kyk hoe gesond is hy dan nou?

Maar Servaas se genesing het ook ‘n probleem veroorsaak met ‘Op Berge en in Dale’, waartydens die jongklomp gewoonlik ‘Albertus dra sanda-a-ale’ gesing het. Nou, as die gemeente kom by  ‘die kleinste wurmpie vo-o-e-e-d Hy’,  is daar altyd ‘n onderlangse gegiggel van die gemeente se kant af.

“Dis vanaand weer kerkraadvergadering, oom Servaas. Jy sal seker kan bywoon?” Oudoom weet Servaas is getrou in sy bywoning, maar hy wil seker maak dat hy vanaand daar is. Hy het immers die saak klaar met die res van die raad uitgeklaar.

Stiptelik om drie minute voor sewe stap Servaas by die konsistorie in. Die ander is reeds daar en sit op die plastiese stoele  wat uitkring van Oudoom se lessenaar af. Soos die res, is hy uitgevat in sy Sondagpak met die wit das as bevestiging van sy amp as ouderling.

Oudoom maak keel skoon en vra dat almal sal onthou dat hulle besig is met kerksake – dis nie ‘n geleentheid om oor onbelangrike dinge te gesels nie. Kleinpiet bedank die dominee, en vra toe of iemand ‘n idee het wanneer die volgende vendusie plaasvind. Hy het gehoor dis miskien op die eerste Saterdag van die volgende maand, maar niemand kon met sekerheid sê nie. Vetfaan verskoon homself van die vergadering om sy Upington Post te gaan haal. “Ek is seker daar was ‘n datum in,” sê hy oor sy skouer.

Terwyl die Raad wag dat die koerant gebring word, bespreek hulle gou die toestand van Voortrekker Weg wat na die weermag se oefening weer erge tekens van verval toon. Maar, besluit hulle eenparig, die slaggate is nog nie so groot dat die kommer wek nie: as mens weerskante die teerstrook ry, is die pad heel gangbaar.

“Broers, julle is besig om van die ware weg af te wyk. Al wat julle in belangstel, is om die Godgegewe Weg, ons eie geestelike Voortrekkerweg, te omseil en na jul eie belange om te sien.”

Natuurlik kon die Raad dit nie daar laat nie en die punt is hewig debatteer. Kleinpiet reken slaggate is daar om vermy te word maar Servaas merk tereg op dat trekkers gemaak is om oor slote te loop, en dat hy nie die punt onder bespreking eintlik verstaan nie. En as hulle almal op hul voete aangewys is vir vervoer, kan mens mos maar net om die slaggate loop, nie waar nie?

Oudoom het teen hierdie tyd sy kop tussen sy hande laat sak terwyl hy wonder of hy onthou het om ‘n sakdoek saam te bring.

Vetfaan kom al drillend ingedraf, die koerant triomfanklik in die lug.

“Dis volgende Saterdag, broers!”

‘n Stilte daal oor die konsistorie neer as almal vir Oudoom sit en kyk. Diè het nog nie ‘n woord gesê nie, en hy het intussen met sy kop op sy hande gaan lê soos wat mens destyds in ‘n Volkekunde klas gedoen het.

Almal wag.

Die stilte rek uit…

Vetfaan loer oor na Kleinpiet se stewels wat onder die kerkpak uitsteek. Daar sit so wragtag beesmis onder sy sole vas, dink hy. Beesmis? Wil hy van sy beeste op die vendusie sit? Hoekom? Weet hy iets van die vleisprys wat gaan daal?

Die res van die Raad sit en kyk na die plafon. Die spinnerak in die hoek is ‘n bekende fokuspunt onder sulke omstandighede, en menige Raadsvergadering het al die opeenvolgende geslagte spinnekoppe dopgehou terwyl hulle spin en werk. Oudoom het al vòòr die ’83 verkiesing gesê daardie klompie spinnekoppe is meer ywerig as destydse Raad. Ten minste doen hulle darem iets.

Oudoom lig sy kop. “Broeders, Broeders, Broeders….” Hy kom nie verder nie en laat sak sy kop weer. Servaas weet dat hy, as Hoofouderling, iets moet sê en hy maak keel skoon, staan op en trek sy das mooi reguit.

“Nademaal en desnieteenondanks enige teenstemme, verklaar ek hierdie vergadering ofisieël oop.” Hy gaan sit. Oudoom se kop beweeg heen en weer soos ‘n verkleurmannetjie wat bedreig word. Had hy maar vissermanne gehad as volgelinge, dink hy.

“Dankie Broer Srvaas,” Kleinpiet staan ook op. “As behoorlik gekose sekretaris van die Raad, kondig ek amptelik aan dat ons nie ‘n notule het om aan die Raad voor te hou nie.” Hy gaan sit weer.

“En. Hoekom. In. Vadersanaam. Nie?” Oudoom se stem is hol waar dit tussen sy arms deurkom.

Kleinpiet is dadelik weer op die been: “Want ons het niks besluit nie, Voordsitter.” Oudoom, as Voorsitter van die Raad, moet darem besef dis nie sy skuld dat daar nie ‘n notule is nie. Dis mos die Voorsitter wat bepaal wat gesê en besluit word. As daar nie ‘n notule is nie, is dit ‘n refleksie op die Voorsitter en nie die Sekretaris nie.

Die gesig van Oudoom kom agter sy arms uit soos ‘n Kalahari Boesman wat kom hoenders steel. Sy wange is rooi en sy voorkop gerimpel. As hy praat, besef die Raad hulle moet nou konsentreer op die onderwerp onder bespreking – hulle kan net nie besluit wat presies die onderwerp is nie.

“Eerwaarde Broeders van die Gemeente van Rolbos,” as Oudoom sò begin, bly jy stil en lyk geïnteresseerd. “Dit het onder my aandag gekom dat die Nagmaalwyn op is. Julle sal onthou dat ek aan die begin van die jaar gevra het dat die Saakgelastidge moet aandag gee aan die saak, maar tot dusver het niks gebeur nie. Ek vra dus dat die genoemde Saakgelastigde die situasie aan die Eerwaarde Raad moet verduidelik.”

Die spinnekop is besig om ‘n dooie vlieg toe te spin en die Raad gee hul volle aandag aan die verrigtinge.

Servaas, as Hoofouderling, kom weer op die been. “Ek wil graag die Eerwaarde Raad daaraan herinner dat ons vir Boggel gekies het as diaken en aangewese Saakgelastigde. U sal onthou dat ons, weens sy werksomstandighede, besluit het dat hy die goeie naam van ons gemeente sal skaad en daarom is beide die diaken-pos en die saakgelasdigde-posisie vakant. Ek sou veronderstel dat dit die mees belangrike redes is hoekom daar nie tans ‘n geordende Saakgelastigde is om te antwoord oor die tekort aan Nagmaalwyn nie, soos deur die Voorsitter onder bespreking gebring.”

Die Boesman het oënskynlik nie enige hoenders op die werf raakgesien nie, en verdwyn weer agter die arms. Die spinnekop het intussen die toegespinde vlieg mooi netjies aan die plafon geheg en staan gemoedelik terug om die toegewikkelde pakkie met genoegdoening gade te slaan.

“Dus het ons nie wyn vir Sondag nie?” Oudoom se skor stem klouter moeg oor sy arms na die gehoor.

Die antwoord is ‘n eenparige “Nee”, die eerste keer in jare dat die hele Raad eens is oor ‘n antwoord.

“Dan sal die Raad, in sy kapassiteit as behoeder van die gemeente se belange, nou hierdie saak bespreek en met ‘n oplossing vorendag kom. Voorsitter gaan homself verskoon sodat julle die saak in diepte kan bespreek.  Voorsitter sal oor vyf inute terugkom.” Oudoom staan op en klap die deur agter hom toe.

Waar is die vendusie?” Kleinpiet fluister as hy oorleun na Vetfaan om die koerant te kry. Servaas sug: as Hoofouderling moet hy seker maar die saak oplos.

“As genomineerde en algemeen aanvaarde Hoofouderling, stel ek myself beskikbaar om wyn op Upington te gaan haal. Die res van julle sal sekerlik nie jul boerderybelange lank genoeg kan laat om dit te doen nie.”

Kleinpiet luister nie eens nie. As dit volgende week vendusie is, moet hy wikkel om alles reg te kry daarvoor.

Die spinnekop, na ‘n vol dag, maak haar agt oë toe vir ‘n welverdiende rus.

In die pastorie, toegsluit in die spens, haal Oudoom die weggesteekte Oude Meester agter die meelblik uit. Vlees en bloed kan ook net sòveel verdra.

Oom Servaas se bakkie skud sleg op die grondpad Upington toe. Hy weet hy sal moet laat kyk na die skokbrekers – die voertuig se myllesing het al vierkeer omgelsaan – maar die onkoste van nuwes pla maar net te veel. Hy wat Servaas is, het darem ook nie sy bankbalans opgebou deur spandabelrig te wees nie! Nuwe skokbrekers sal ook net sò lank hou op Voortrekkerweg en dan moet hulle ook weer vervang word. En elke keer as hy nog ‘n paar duisend kilometers gery het, wens hy homself geluk dat hy teen hierdie tyd, iedergeval, nog ‘n stel skokbrekers gespaar het. In sy geestesoog sien hy die stapels en stapels onderdele wat hy in sy lewe nie gekoop het nie, met ‘n desperate skokbrekerverkoopsman langs dit. Ja-nee, dis ‘n netjiese hopie geld!

Upington is in rep en roer. Die rondgaande afslaer is vandag besig om beeste, skape en ou implimente te verkoop terwyl die vrouens vetkoek en tuisgebak verkwansel. Servaas hou nie van vendusies nie: mens koop altyd iemand anders se oorbodige goed en dan sit jy vir maande daarmee voor jy dit weer, op jou beurt, op ‘n vendusie sit.

Die drankwinkel is net langs die skougrond waar die vendusie gehou word, en verskeie boere staan in die ry om gehelp te word. Dis ‘n warm dag en die stof pak dik in die keel aan as mens so staan en bie. Servaas val ewe geduldig in die ry in en wag sy beurt af.

“En wat kan ek vir Oom verkoop vandag?” Die jong man agter die toonbank glimlag breed. Besigheid is goed vandag…

“Nagmaalwyn. Ek soek nagmaalwyn.” Oom Servaas is omgekrap. Dink die mannetjie hy wil brandewyn koop? Hier staan hy dan in amptelike hoedanigheid, afgevaardig deur die Kerk self; en boonop met sy ouderlingspak en wit das aan. Oom Servaas tik op die Bybel wat hy onder sy arm het om die gewigtigheid van die saak te beklemtoon.

Die jong man rol sy oë: “Muskadel? Sjerrie? Hanepoot?” Hy rammel die vraag vinniger af as die afslaer.

“Nagmaalwyn.” Oom Servaas raak ongeduldig. Van wanneer af is ‘n heiligheid soos nagmaalwyn sommer gewone wyn? Nagmaalwyn moet mos spesiaal verpak wees in ‘n ondeurskynende bottel, en die etiket lees seker maar Nagmaalwyn, Israel of iets? “Sinodale Nagmaalwyn.” Wat verstaan die mannetjie nie?

“Sorry, oom, ons hou dit nie aan nie. Volgende?”

En daarmee word die volgende man in die ry gehelp en Oom Servaas staan verdwaasd eenkant toe. Wat nou gemaak?

Iemand trek aan sy mou – dis ‘n kort mannetjie wat hom ‘n bietjie aan Boggel herinner; hy’s net nie so krom nie. “Soek oom regte nagmaalwyn?”

Servaas besef dat mense nie altyd Hoër Weë verstaan nie. Is hierdie man gestuur juis om die Gemeente se probleem opgelos? Hy kyk mooi, maar dis net ‘n gewone mens wat voor hom staan. Tog…

“Ja. Die regte goed. Nie hierdie ander onheilighede wat hulle hier wil verkoop nie. Iets wat die Sinode goedgekeur het.”

“Kom saam.” Dis ‘n bevel. Oom Servaas is gehoorsaam.

Agter die winkels is ‘n skeepshouer. Heavenly Containers staan teen die roesplekke uit en die mannetjie vis in sy sak vir ‘n bos sleutels.

Dis amper soos ‘n kamer, dink Servaas as hulle instap. Teen die een kant van die houer staan ‘n stapel tydskrifte. As die mannetjie sien Oom Servaas staar na die boonste tydskrifte se buiteblaaie, spring hy haastig voor hom in. “Dis gekonfiskeer, my oom. Ons kon nie toelaat dat sulke leestof op straat verskyn nie. Die Sinodale Kommissie het beveel dat ek dit Kaap toe vat om vernietig te word. Dit moet ander toesig geskied, sien?”

Servaas is nogal verlig. Laas toe hy sulke vroue gesien het, was toe die sirkus op Rolbos kom optree het – maar daardie meisies het darem klere aangehad, al was dit hoe skraps. Hy voel trots dat die Sinode so paraat is. Wie sou nou kon dink dat hulle selfs op Upington werksaam is? Die Kerkvaders dra sekerlik swaar aan al die euwels in Kaapstad, maar dit weerhou hulle nie daarvan om selfs aan Upington te dink nie. Dit, besluit Servaas, is die toewyding wat ons land nodig het.

“Die Nagmaalwyn?” Oom Servaas is haastig.

“Daar is drie soorte, Oom. Kyk, hier is die vaatjies in hierdie hoek. Daar is wit, rooi – en een wat gefortifiseerd is.” Oom Servaas skud sy kop. Wat is gefortifiseerde wyn? “As oom nie seker is nie, sal ek vir oom ‘n sampeltjie gee, dan kan oom besluit. Sit sommer op daardie tydskrifte, dan skink ek vir oom.”

Servaas kan dit nie oor sy hart kry om op sò ‘n welbedeelde jong dame se beeltenis te gaan sit met sy kerkbroek aan nie, maar staan iedergeval nader. Hy moet seker maak dat hierdie Sinodale Wyn reg is vir die gelowiges van Rolbos.

Die mannetjie, wat hom intussen voorgestel het as Vaatjie Bruwer, kry ‘n blikbeker op een van die vate en tap die ryk, dik wyn uit die vat. Die soetwyn het die aroma van somer en blomme en Servaas weet sommer dit is ‘n goeie wyn.

“Dis goed, hierdie een.” Servaas knik en beduie na die beker.

“Wag, oom, probeer die ander ook. Jy moet seker maak jy kies reg.”

Dis nogal warm in die beknopte spasie en Servaas maak sy das los. Dan hou hy sy beker vir ‘n sampeltjie van die volgende vat.

“Gee maar so ‘n titseltjie meer, Broer Vaatjie. Ek dink my tong is ‘n bietjie dood van die vorige wyn. Ek wil net seker maak, jy sien?”

Vaatjie tap die beker half vol en Servaas vat ‘n groot mondvol om die smaak deeglik te beoordeel.

“Maak hom klaar, Oom, dan probeer jy die ander vat ook.”

Iets is besig om in Servaas se kop te gebeur. Iemand het ‘n byenes bo sy linker oor omgestamp en die gezoem van woedende bye maak beurte om in hoër en laer note te weerklink. Hy kyk om, maar dis net die twee deure van die houer wat agter hom is. Twee deure? Dis snaaks! Hy giggel saggies en gaan sit swaar op die volronding van ‘n onnatuurlik welgeboude jong dame.

Die derde beker het sekerlik Sinodale goedkeuring, besluit Oom Servaas na die eerste sluk. Hierdie wyn is voortreflik. Hy maak sy oë toe en sien vir Josua uit Kanaan aangestap kom met massiewe trosse druiwe. Die Raad sal hom darem baie geluk wens met sy fonds. Wyn so reg uit die Beloofde Land!

“Hierrrie wyn is rrreg. Boetie. Jy kan hom maar laai. Hoevilskildekjou?” Servaas se tong trek diè kant toe en wil nie reg werk nie. Voortreflike wyn. Reg vir Nagmaal. So wragtag!

“Die vaatjie kos net vyfhonderd Rand, Oom. Dis ‘n jaar se voorraad vir die meeste groot gemeentes.”

Die Raad het hom vyftig Rand gegee vir die aankope, maar dit sit Servaas gladnie af nie. Hy het mos juis soveel gespaar met die skokbrekers…

“Vatjytjeksh?”

Servaas strompel bakkie toe en verwonder hom hoe maklik die sterk jong man die vaatjie op sy skouer dra. Die jeug darem! Hy trap net twee keer mis met die inklimslag maar met die hulp van die vriendelike Vaatjie sit hy uiteindelik (ietwat windskeef) agter die stuur.

“Dankie. Groete in Kanaan!”

Die bakkie se enjin wil nie vat nie en Servaas trap ongeduldig op die petrolpedaal. Dan onthou hy om die enjin aan te skakel. Vaatjie waai nog vriendelik toe Servaas by die eerste tweedehandse trekker verbyskraap. Alhoewel trekkers gebou is om heelwat meer stampe en stote te verdra as die gemiddelde plaasbakkie, kry Servaas dit tog reg om met ‘n ongemaklike blerts van die groen verf op sy bakkie weg te trek.

Die pad terug na Rolbos is baie verder as wat Servaas onthou, veral nadat hy die afdraai op Grootdrink skoon misgery het. (Dis nie eintlik waar nie; hy het die bordjie net nie raakgesien nadat hy dit omgery het nie.)

Dis kort voor sonop as hy voor die kerk stilhou. Hy kan onthou dat hy naby Vanzylsrus besef het hy is in die verkeerde rigting op pad en dat hy gestop het om die omvang van die dag se gebeure te oordink. Dit was baie koud en die melkweg het aan die verkeerde kant van die pad gesit – of was dit melkweë? Wat dit ook al was, hulle was verkeerd. Terwyl hy so diep gedink het, het hy besef die melkweë trek sy aandag af en hy het sy oë vir ‘n oomblik gesluit sodat hy beter kan konsentreer.

Toe die groot vragmotor van Kalahari Vervoer amper sy bakkie se hele linkerkant afry – daar kon sekerlik nie meer as ‘n millimeter tussen die twee voertuie gewees het nie – het hy vervaard wakker geskrik en besef hoe laat dit is. Hy was nie heeletmal homself nie, maar darem minder lighoofdig as voor die bietjie insluimering. Na die derde probeerslag kon hy die voertuig terug op die pad na Grootdrink kry. As hy die wyn betyds vir Nagmaal wil aflewer, sal hy moet spring!

Die vaatjie wyn agter op die bakkie moet konsistorie toe, sodat die wyn in die glasies kan kom. Servaas onthou hoe swaar die vaatjie weeg en oorweeg vir ‘n oomblik om Oudoom se hulp in te roep; maar as hy min of meer lyk soos hy voel, weet hy dat sy ouderlingskap iets van die verlede sal wees.  Hy gaan kniel langs die vaatjie en haal diep asem: miskien kan hy dit self indra?

Die vaatjie kom veerlig van die bak af. Servaas besef dat hy òf skielik weer die krag van Simson ontdek het, òf die vat is leeg.  Hy dra die vaatjie onder sy een arm tot in die konsistorie en trek die kurk uit die gat, skud die vaatjie ‘n slag, en weier om te glo dat hy al hierdie moeite vir ‘n leë vat gedoen het. Vaatjie Bruwer het juis so maklik aan die vaatjie gedra. Die besef van die omvang van die bedrog tref hom soos ‘n donderslag: vyfhonderd Rand vir ‘n leë vaatjie. Berge val op my, dink hy, en sink op die grond neer. Erger nog: as die gemeente moet aansit vir ‘n wynlose nagmaal….

Daar is net een antwoord: maak die vaatjie vol water.

Oudoom kan sien Servaas is nie gemaklik nie. Van waar hy vanaf die preekstoel loer, lyk Servaas eintlik siekerig: miskien kry die oukêrel griep? Sy kerkpak is verkreukel en die wit das sit skoon windskeef. Hy sal tog vir Oudok na die diens vra om na hom te kyk.

Die nagmaal word bedien.

Na die slotgesang loop Oudoom vir Oudok by die voordeur raak.

“Jy moet bietjie met Broer Servaas gesels, hy lyk nie vir my gesond nie.”

Oudok knik. “Ja, ek sal. En e….”

“Ja, Broer?”

“Nee, ek wou net sê, Dominee. Dit was uitstekende wyn wat julle vandag met nagmaal bedien het. Regtig voortreflik.”

“Dankie, Broer. Dit was nou regte goeie nagmaalwyn. Soos dit hoort.”

In die hoek van die plafon in die konsistorie, broei die spinnekop se eiers een vir een uit. Dis ‘n gesonde werpsel en die ma-spinnekop betrag haar kroos met aragnoiede trots. Selfs die kleinste wurmpie voed Hy, sorg vir wyn met nagma-a-a-al. As Oudoom die nuwe woorde geken het, sou Servaas se ervaring ‘n wonderlike bron vir sy volgende preek kon wees.

Tog jammer dat die mooiste getuienis dit nooit tot op die kansel maak nie. Soos Servaas, is baie mense net te skaam om hul klein wonderwerkies te deel.

©

 

Klik skakel om te koop

 

 

 

18 thoughts on “Nagmaalwyn

  1. Sonel

    So bly iemand anders weet ook wat in ‘n Volkekunde klas gebeur. LOL! Kriminologie is baie, baie interessanter. hehehe
    Whahahahaha! Die arme Servaas! Dat hy hom so laat inloop het! Ek hoop hy het sy les geleer! hehehehe
    Weereens knap geskryf Amos!🙂
    Heerlike dag vir jou hoor!
    *hugs*

    Reply
  2. Zyna van der Merwe

    kom ek probeer weer!
    DANKIE AMOS! DIT WAS SOOS GEWOONLIK N MEESTERSTUK!!!! HET REGTIG DIT GENIET!!!! ai, ek wens ek kan die mense ontmoet! sal my slap lag!!! hou sy aan! jy verkwik ons siele!!! (:

    Reply
  3. Julia Mukuddem

    baie goed en entertaining!! ek het bietjie die afgelope paar dae agter geraak met die stories, maar ek is bly dat ek dit alles ingehaal het so op ‘n maandagaand – dis lekker!! dankie vir die lekker lag.

    Reply
      1. Nikita

        Daar was jare terug op die radio – dink dit was Riaan Cruywagen – nie seker nie – wat ‘n program gehad het oor hierdie klein plekkies en hul name. Ek kan onthou van ‘Groot See’ en ‘Klein See’ – altyd gewonder WAAR dit is. Eendag op die internet dit opgesoek. En ander plekkies ook. Ek het die program altyd geniet – die kere wat ek daarvan onthou het!

  4. Amos van der Merwe Post author

    Ja, Kleinzee lê suid van Port Nolloth – hulle het diamante daar gekry. Dis Noord-Kaapse wêreld – verlate, stil, en kosbaar. En dan is daar die geskiedenis van Pella, Kenhardt, Kakamas, Springbok – wonderlike stories van swaarkry en oorwinning. As daardie veld net kon praat…

    Reply
    1. Nikita

      Ek dink ons het juis jou nodig om al daardie kosbaarhede in boekvorm vir ons te laat kry – ek sal die eerste wees om ‘n kopie te wil he!

      Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s