Boggel se Borgtog

Tien Boggels

“Vandat ons begin het met die republiek-idee, is daar heelwat mense wat hier wil kom bly. Ons sal ‘n Departement van Immigrasie moet hê.” Kleinpiet laat sy oog oor Boggel se tafeltjies gaan. “En Boggel sal nog sitplekke moet kry.”

“Jy moet onthou, dis ‘n Virtual Republic – denkbeeldig, as jy dit vertaal. Dit beteken die ouens in Kanada en Ierland kan hier bly, al is hulle nie hier nie.” Gertruida is nie bekommerd nie. “Die plek is so groot as wat jy jou verbeelding kan rek. En as jy jou oë toemaak, kan jy al die nuwe gesigte rondom die toonbank sien. Selfs Vrede sal miskien ‘n ou gelukkie raakloop – hy lyk juis so eensaam deesdae.”

Kleinpiet skryf Paspoort op die toonbank met sy skuim. “Sersant Dreyer sal ‘n stempel moet laat maak. Dan weet ons wie hier kuier. En ons sal ‘n grenspos moet maat tussen ons en Grootdrink”

“Ja-nee. Om ‘n Republiek te wees, is ‘n klomp moeite. Ons sal ook ‘n geldeenheid moet hê.”

Gertruida glimlag breed. “Ek het ook daaraan gedink. Ons moet dit eenvoudig hou – nie sente en pennies en sulke goed nie. Ons geldeenheid is…” sy bly vir ‘n dramatiese oomblik stil om seker te maak hulle luister almal, “… die eenheid is ‘n Boggel. Dis gekoppel aan die prys van bier, soos die Japanese met ‘n Big Mac doen.” Sy besef opeens sy het te ver gegaan – nie een weet wat ‘n Big Mac is nie.. “Dis ‘n eenvoudige begrip, mense. ‘n Bier behoort dieselfde te kos in Japan en Amerika. So, ons geldeenheid verteenwoordig ‘n bier se prys, dis al. Een Boggel koop een bier. Maklik. ‘n Cactus Jack, kos twee Boggels.”

“Maar dan moet ons geld druk, Gertruida, en ek verstaan dis ‘n duur proses.” Servaas is glad nie so seker van diè spulletjie nie.

“Ons kan geld maak, Servaas. Precilla kan mos mooi teken.  Sy teken ‘n noot met ‘n 10 op, skets vir Bopkkop in die agtergrond en ‘n vlakte en dis dit! As sy ‘n paar note teken, fotostateer ons dit en siedaar! ‘n Eie geldeenheid. En solank ons bier het, kan die wêreld se ekonomiese krisisse niks verskil maak aan ons geldjies nie.” Sy is so opgewonde dat sy sommer nog ‘n bier bestel.

“Maar ek moet bier gaan koop op Upington, Gertruida. Gaan hulle Boggels aanvaar?’ Die klein mannetjie is steeds nie oortuig nie.

“Nee man, hulle is dan in die buiteland, verstaan? Hulle moet Boggels koop by ons, en hulle betaal in Rand. Dit werk so: Jy loop by die groothandelaar in, en bestel jou bier soos gewoonlik. Hy vra geld. Jy gee Boggels. Hy vra wat is dit. Jy sê dis regte geld – hy kan hier kom koop daarmee. Hy sê hy wil dit nie hê nie, hy soek Rand. Jy sê dan, maar hy het byvoorbeeld ‘n honderd Boggels in sy hand. As hy dit vir jou omruil vir Rand, dan sal jy hom betaal. Hy sit die honderd boggels in sy kasregister, haal honderd Rand uit, en gee dit vir jou. Nou vertel jy hom hy’s ‘n goeie besigheidsman. Jy gee hom sy honderd Rand. Nou het hy ‘n honderd Rand en ‘n honderd Boggels gemaak – sommer dubbel sy oorspronklike prys.  Dan kom jy terug met jou bier, en almal is gelukkig.”

Die probleem met Rolbos is dat almal altyd vir Gertruida glo. Sy is net sò oortuigend.

NOTA: (OP Boggel se Plek se deur)

Daar is vanaand ‘n noodvergadering en fondsinsameling wat stip om 7 uur begin. Bring asseblief ‘n ekstra geldjie – ons het nog net R 200 nodig om Boggel se borgtog te betaal…

En onthou: ‘n Gedeelte van Imagine:Africa se wins, gaan ook vir die Red Boggel Fonds geskenk word…

13 thoughts on “Boggel se Borgtog

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s