Die Tuindwergie

Image

A Free Read - click the leopard..

As mens mooi kyk, is daardie gesiggie glad nie so onskuldig nie. Met verloop van jare het die frons tussen die wenkbroue meer en meer opvallend geword en die eens helderkleurige gesig word progressief valer en minder vrolik. Servaas sê dit het te doen met die sementmengsel wat gebruik was toe die tuindwerg gegiet was en dat die verwering bloot tekens van swak vakmanskap is; maar Platnees dink anders. Hy het van die begin af gesê daar is iets baie meer onheilspellend opgesluit in daardie beeldjie.

“Daardie deng, hy ês die tikiloshe.” Hy het destyds nie uitgebrei nie. Die mense sou net vir hom gelag het. Vandag sal hulle miskien verstaan…

Dit was amper toevallig dat die beeldjie voor in Ta’ Siena se tuin staanplek gekry het. Amper – maar hoe sal ons ooit weet?

 

Siena was natuurlik baie lief vir Pietjan Malherbe, ‘n klein-neef aan haar broer se kant. Pietjan was maar vyf toe hy gesterf het en almal op Rolbos het deurgery Upington toe vir die begrafnis. Die kerk was sò vol dat dominee gewens het hulle kon ‘n deurkollekte hou, maar dit sou darem heilgskennis wees.  Ta’ Siena het die bossie krismisrose op die kis gaan sit en agter in die kerk plek gekry. ‘n Begrafnis, sè sy altyd, moet krismisrose hê – dit dui op die Wederkoms, sê sy.

“Broers en susters, Pietjan Malherbe was vir ons almal ‘n voorbeeld. Van die dag van sy geboorte het ons geweet sy hartjie sal nie hou nie. Wie sal vergeet hoe ons gebid het vir herstel? Wie van ons het nie af en toe by die Malherbe’s gaan inloer om te hoor of daar nie tog beterskap is nie?

“En tog, my liewe gemeente, was dit nie beskore nie. Pietjan  het die goeie stryd gestry en hy kan nou rus in Jesus se arms. Laat die kindertjies na My toe kom, het Hy gesê, en Pietjan het gegaan.

“Nou moet ons die mooi van sy lewe onthou en daarop bou. Die Malherbe’s gaan ondersteuning nodig hê en dis die gemeente se plig om hulle nou nader te trek en in liefde te versorg.”

Almal het geweet waarvan Dominee praat. Pietjan was gebore met ‘n hartprobleem – hy het maar van die begin af swaar gekry. Sy hart, het Oudok gesè, se bedrading was verkeerd ingesit. Sommer by geboorte was dit duidelik dat daar groot fout was. Gertruida vertel graag dat sulke blou baba’s moeilik grootmaak. Sy weet van sulke goed.

O, hulle was by al die dokters – selfs die beroemde besoekende hartspesialis op Beaufort Wes. Ta’ Siena was sommer van die begin af skepties oor hom. ‘n Man wat so vol van homself is, het gewoonlik voete (en ander liggaamsdele) van klei, het sy gesê. As die dokter naweke by sy ouers gaan kuier het, het hy soms – teen betaling van ten minste ‘n verwerkte skaap – pasiënte gesien.  Hy het lank na die seuntjie se borsie geluister (dit was darem ‘n lekker vet skaap) en toe gesê daar is niks wat hulle kan doen nie. Ta’ Siena onthou nog die mooi, aanvallige vrou wat by die dokter was en hoe sy gewonder het wat doen so ‘n ou bok met so ‘n groen blaartjie. Sal nie hou nie, het sy gedink. Sy was reg.

In die vyf jaar van Pietjan se lewe, het die Malherbe’s feitlik bankrot gespeel. Geen onkoste was te veel om iets te probeer doen vir die enigste erfgenaam en naamgenoot van sy bekommerde vader nie. ‘n Masjien wat suurstof uit die lug suiwer is aangekoop en ‘n spesiale kamer is gebou. Hulle het hartmonitors aangekoop en ‘n fisioterapeut is weekliks van Kaapstad ingevlieg om te kom help. ‘n Voltydse verpleegster is aangestel en ‘n rondawel is vir haar gebou. Nou, na vyf jaar se wroeging, is alles verby.

 Ta’ Siena is ‘n week na die begrafnis na Donkerhoek, die Malherbe’s se plaas, met ‘n mandjie vol beskuit en biltong. Sy weet die mense kry swaar en wil darem haar meelewing toon.

In die eenvoudige sitkamer luister sy met ontsteltenis hoe vertel word dat alle – alles – op ‘n vendusie verkoop gaan word.

“Die plaas het ons laat swaarkry, Siena. As dit nie die droog is nie, is dit die koud. Die skaap lam nie en selfs die hoenders sukkel met die lê. Klein Pietjan se onkoste sal ons nog jare ry en ek sal in my lewe nooit genoeg geld hier uitboer om almal te betaal nie. Nee, dis al uitweg: ek moet verkoop en in die stad gaan werk soek. Die afslaer sê dis nie ‘n goeie tyd vir ‘n vendusie nie, maar wat kan ek maak?” Piet Malherbe, kleinneef aan haar broer se kant, sprei sy groot hande smekend voor hom uit as of sy iets moet sê of doen wat dinge makliker gaan maak. “So, as jy iets hier sien wat jy wil hê, kan jy maar net sê. Alles moet gaan.”

Ta’ Siena is nie een vir oppervlakkige simpatie nie – as sy voel, dan vòèl sy. En vandag, terwyl sy die karige meubeltjies en die verslete mat op die vloer sit en bekyk, krimp haar hart ineen. Wat ook al die mense uit die vendusie gaan kry, gaan sekerlik nie genoeg wees om hul skulde te delg nie.

“Daardie tuindwerg voor by die stoep…” Ta’ Siena wil nie regtig die tuindwerg hê nie, naar dis omtrent al wat sy gesien het wat iets werd mag wees. En op ‘n vendusie gaan niemand hom iedergeval koop nie. Dis haar manier om by te dra, dink sy.

“Ja, hy moet ook gaan. Snaaks, ek het hom ook op ‘n vendusie gekoop –  dit was Gert Cronje s’n, na sy selfmoord. Nooit gedink hy sou so-iets doen nie, weet jy? Dit was net voor Maria swanger geword het, as ek reg onthou. Sy het nogal gesê hy het goeie geluk gebring want na al die jare se sukkel het sy sommer gou swanger geword na hy hier voor die stoep kom staan het. Min het ons geweet…”

Ta’ Siena het die dwerg in die kattebak gelaai en gewonder hoekom mense so bygelowig kan wees. Die beeldjie kan mos in hemel’s naam nie iets met Pietjan te doen gehad het nie? Net buite Rolbos het haar kar snaakse geluide gemaak en sy stop om te inspekteer. ‘n Pap wiel en sy het juis nie ‘n spaar nie! Dit was laatmiddag toe Sersant Dreyer daar verbyry en kom help.

By haar huis wou Platnees eers nie die beeldjie uit die kar laai nie.

“Daardie deng ês nie mooi nie, Mevrou. Ek laaik hom nêks.” Maar Siena dring aan en met ‘n swaar gemoed sit Platnees die figuurtjie langs die tuinkraan neer.

Platnees se misnoë met die kabouter word net oorskadu deur sy vrees. Meer bakstene word onder sy bed se pote ingedruk en as hy by die beeldjie verbyloop, slaan hy sy hande saggies saam en prewel Nkosi sodat net die dwerg hom hoor.

“Jy’s verniet so bang vir daardie sementmannetjie, “ het Ta’ Siena eendag gespot, “hy kan jou mos niks maak nie?”

Platnees probeer verduidelik sonder om sy vrees te verklaar. “Kyk nou, Mevrou, die mannetjie se oë. Soos ek staan hier, hy kyk vir my. Soos ek staan daar, hy kyk vir my. Orals waar jy staan, kyk hy vir jou. Hy ês nie die goeie deng nie, ek sê jou.” Platnees demonstreer terwyl hy praat sodat Siena kan sien hoe die kabouter se oë mens dophou, maak nie saak waar jy is nie.

 Platnees vat ‘n naweek af om by sy mense anderkant Grootdrink te gaan kuier. In sy familie is hy ‘n gesiene man – iemand met ‘n vaste werk op ‘n dorp en ‘n inkomste. Soos altyd, bedel hy twee hoenders by Kleinpiet voor sy vertrek en is die familie baie bly om hom weer te sien. Die sak meel sal ook help om die honger vir ‘n ruk weg te hou.

Sy besoek aan die stat is nie regtig om sy welwillendheid te toon nie – hy wil met !N’kawsi gesels, die blinde ou vrou wat altyd voor die rokerige vuurtjie in haar struis sit. As iemand iets kan vertel oor die beeld, is dit sy. In die familie het sy ‘n reputasie om sulke dinge te verklaar.

!N’kwasi sit lank en dink nadat Platnees die doel van sy besoek verduidelik het. Die wit katarakte staar nikssiende na die kooltjies  terwyl haar vingers patrone op die kleivloer trek.

“Ek sien die luiperd, Platnees. ‘n Groot luiperd. En ek sien jou praat met oupa Frans, die een wat ons stories ken. Jy moet met hom praat. Dis al wat ek sien.”

 Oupa Frans is eers ‘n bietjie uit die veld geslaan. Platnees verduidelik weer.

“Luiperd? !N”Kwasie sê luiperd? Hau. Ek moet dink oor diè ding. Miskien jy kan vanaand weer vir my vra.”

 

Om die vuur tussen die eenvoudige hutte en struis word die hoender en pap regverdig  tussen almal verdeel. Die storie van Platnees se vraag oor die luiperd word ‘n uitgerekte besprekingspunt met stukkies van die stamgeskiedenis wat opgehaal en ontleed word. Dis laataand as oupa Frans sy hand omhoog hou en almal stil word.

“Ek onthou vir !Kung. Hy het lank gelede geleef. Miskien het ek hom amper gevergeet. Maar hy was die een wat gekeer het dat ‘n groot luiperd ons kinders opeet. My oupa het vir my gevertel dat !Kung al oud was toe daar ‘n luiperd by Bokkop geloop het. Die luiperd, hy was ook oud en sy tande het al stomp geword en hy kon nie meer so mooi jag nie. Toe begin hy kinders eet. Drie kinders het hy opgeëet. Elke week hy vang ‘n kind. Toe het !Kung gesê die luiperd moet dood. Hy vat sy spies en loop by Bokkop om die luiperd te soek.

“My oupa sê hulle het !Kung gekry die volgende dag. Sy spies was vol van die bloed, maar die luiperd het hom sleg gebyt, by die nek. Hy het baie bloed geverloor. Hulle het geprobeer om te help, maar !Kung het te seergekry. Toe hy wil dood, toe sê !Kung daardie luiperd is die slegte dier. Hy het duiwel in hom. Soos die luiperd nie gevang word nie, hy sal altyd hier by Bokkop moeilikheid maak. !Kung het daar gedood, met almal die mense om hom maar daardie luiperd is nie weer gesien nie. Dis al wat ek van die storie ken.”

!N’kwasi sit lank en wieg op haar verdorde voete voor sy praat. “Dis waar, daardie storie. Ek het hom ook gehoor. Maar ek het ook gehoor daardie luiperd het nie gedood nie. !Kung se gees het hom gesoek, maar ‘n gees kan nie spies optel nie. Wat kan hy maak? Die luiperd loop rond en !Kung kan niks doen nie. Toe dink !Kung ‘n plan en hy maak die luiperd ‘n klip. Net so! Hy wys met sy vinger na die luiperd en praat met die diep stem. En die luiperd word ‘n klip. Daarom hulle het nooit die luiperd gekry nie.”

“Eish! Nou waar is die klip?” Platnees mòèt weet.

1N’kwasi trek weer patrone op die grond en mymer saggies.

“Ek sien ‘n gat, langs Bokkop.”

 

Op pad terug na Rolbos stop Platnees om Bokkop te inspekteer. Hy maak sy fiets staan langs die heiningdraad en gaan sit onder ‘n kareeboom  terwyl hy dink. Bokkop is maar Bokkop. Daar gaan niks aan nie. Klomp klippe wat opmekaar gestapel is en die enkel boompie aan die een kant.  Dit, en die ghwarrie-gat langsaan.

 

“Nee, Platnees, ek weet nie wie daardie gat gegrawe het nie. Jare gelede was daar ‘n maatskappy wat kom klip uithaal het hier. ‘n Sementmaatskappy, as ek reg onthou. Hulle het planne gehad vir ‘n sementfabriek op Rolbos, maar ons is te ver van alles af om dit lewensvatbaar te maak.  Toe die vervoerkoste te hoog word, het hulle alles net so gelos en al wat oorbly is daardie gat.” Servaas stop sy pyp terwyl hy dink. “Maar vir ‘n rukkie was almal opgewonde. Reken net – ‘n sementfabriek op ons voorstoep! O, en daar was ‘n ongeluk, nou dat ek daaraan dink, met die dinamiet wat geplaas was om die rotse los te skiet. ‘n Voorman en sy helper aan flarde geruk. Dit was ‘n vreeslike affêre”

 

Platnees sal vir jou sê dat witmense nie hierdie dinge verstaan nie. Hulle dink anders oor sulke goeters. Maar, soos die tyd verbygaan en die wind en die weer op die tuindwerg inwerk, word die frons tussen die oë al hoe duideliker. Die afskilferende verf veroorsaak groter en groter sementkolle wat op die wange en lyf uitslaan; soos ‘n brandsiek hond wat hare verloor, word die beeld meer en meer afskuwelik. Platnees kan nie verstaan dat die witmense, wat elke dag verby die beeldjie loop, dit nie raaksien nie. Vir hulle is hy nes die res van Rolbos: verslete en einlik lelik, maar dis as of hulle hierdie agteruitgang gelate aanvaar. Hy wat Platnees is, sal ook nie ‘n woord hieroor rep nie: as die klomp witmense dit in hul koppe kry dat hy moet begin verf op Rolbos, gaan hy nooit weer rus kry nie.

Maar…iets moet oor die kabouter gedoen word. As daardie dwerg sy sin kry, gaan almal op Rolbos dit ontgeld. Het Ta’ Siena dan nie al hoe meer probleme met haar hart nie? En kyk hoe lyk Servaas deesdae: hy word al hoe bleker en maerder. Selfs Oudok en Lola lyk afgemat en moeg – en Boggel kla toenemend oor sy gewrigspyne.

Om met hulle te praat, gaan nie help nie. Hy sal self iets moet doen.

 

Die lorrie van Kalahari Vervoer stop elke Donderdagaand net voor sluitingstyd by Sammie se winkel. Voorraad word afgelaai, die pos word opgelaai en die lorriedrywer koop gewoonlik ‘n koeldrank voor hy weer die tog aanpak Upington toe.

Platnees wag tot die bestuurder instap om met Sammie te gesels voor hy die beeldjie agter ‘n klomp bokse in die vragruim instoot. Hy gee nie om dat Ta’ Siena ontsteld gaan wees oor die verlies van haar beeldjie nie – die ding moet weg voor die moeilikheid kom.

 

“Dis darem vreeslik van daardie vragmotor,” Boggel praat oor sy skouer terwyl hy nog ‘n bier onder die toonbank uithaal en vir Kleinpiet aangee, “reken, sommer so reg deur die veiligheidsheining van Grootdrink se brug. Vrag en al in die rivier en die polisie duik nou nog om die drywer te kry.”

“Seker het ‘n band gebars?” Kleinpiet ken daardie brug goed. Dis ‘n smal, eenvoertuigbrug met stewige reelings weerskante. Daar moes iets vreeslik verkeerd gegaan het om daar af te ry, “Of die man kon aan die slaap geraak het.”

“Ons sal seker hoor as hulle hom eers gekry het, maar nee, daar was niks verkeerd met die bande nie. Sersant Dreyer sê hulle het gekyk. Hy sê die garage op Upington het net laasweek die vragmotor gediens. Meganies was hy so goed soos nuut.”

“Wys jou net: as dit jou tyd is…” Kleinpiet sluk diep aan sy bier en beduie vir nog een.

 

In sy kamertjie is Platnees besig om die sktra bakstene onder sy bedpote uit te haal. Snaaks: Ta’ Siena het niks gesê oor die kabouter se leë staanplek nie. Aan die ander kant – sy is so siek deesdae dat sy dit seker nie eens opgemerk het nie.

Môre – net môre – gaan hy krismisrose op daardie plek plant.

Ou Ta’ Siena vrek mos oor krismisrose.

11 thoughts on “Die Tuindwergie

  1. thehappyhugger

    I loved this story. Its always fascinated me how people put superstitious values to objects, as your characters did in your story. For me, my conclusion would be that you give the power to the object according to the strength of your own belief. Dont know if I’m making sense.
    The characters in your story seem so real, I really lost myself in this one, thank you Amos🙂
    *hugs*

    Reply
  2. 68ghia

    Genade Amos!!
    Nou moet ek hierdie storie lees 3:30 in die more, nadat ek 3 skote hoor klap het en ek en die kind se buddy het gepraat oor spoke en goed…
    Nou gaan ek nooit geslaap kry nie!!

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s