Die Heiningdraad

Tussen Rolbos en Grootdrink kan mens nog daardie heining sien…

Mense praat nie meer daaroor nie. Party het vergeet, ander is bloot net te bang om ou koeie uit die sloot te grawe. Miskien is daar al van die destydse praters dood en ‘n klompie het seker hul heil in die stad gaan soek waar ander en groter skandale hul aandag verg.

Maar daar was ‘n tyd toe mense spesiaal gery het om na die heiningdraad te kyk. Hulle het sommer daar op die grondpad gestop en met hande en vingers die plek van afrekening uitgewys. Dan is die vles met koffie uitgehaal, toebroodjies oopgemaak en in meewaardige stilte gewonder hoekom mense is soos hulle is. Dis nou een ding van Rolbos se mense: hier is nie ‘n tekort aan sondaars wat bereid is om die eerste klip te gooi nie. As jou broer of jou suster ‘n openbare misstap gemaak het, maak dit hoegenaamd nie saak hoeveel geraamtes in jou eie kas wegkruip nie – klipgooi moet jy klipgooi, anders dink die mense jy is deel van die toesmeer.

Gert Beetge – ook bekend as Armgert – was ‘n bywoner op Meestersklip, een van Bernard Rupert se plase. Sy ouers is dood in daardie tragiese ongeluk by die treinspoor, toe die donkie van skrik gaan stilstaan het en Oukêrel Beetge met desperate pogings probeer het om die paar kruidenierswaretjies by sy vrou aan te vat voor die trein die waentjie tref. Al wat heel was na die ongeluk, was die pakkie kerse wat Sersant Dreyer tussen die droë bossies langs die pad opgetel het.

Bernard was al gemeentelid wat vermoënd genoeg was om die kind onder sy sorg te neem, want alleen kon die kind nou mos nie by hul gehuggie bly sit nie, verstaan? Van skool was daar natuurlik geen sprake nie en dit was algemeen aanvaar dat Bernard se barmhartigheid beloon moet word deur die arbeid wat die tengerige jong seun kon aanbied.

Armgert se blyplek was al die jare die ou bouval by die windpomp, net daar waar jy van die grondpad afdraai. Met tyd het hy die murasie stuk-stuk herstel tot ‘n heel leefbare huisie. Dit was nie ongewoon om hom langs die pad te kry met ‘n stukkende vensterraam of ‘n stuk sinkplaat wat hy erens gaan bedel het nie. Mense het soms gestop om te vra of hulle hom nie kan oplaai nie; maar met sy kenmerkende groot glimlag het hy altyd gesê dis nie so ver nie, baie dankie, hy sal sommer maklik regkom. As jy oor ‘n week of wat weer verby die huisie sou ry, sou mens dan die netjiese vordering aan die bouwerk kon waarneem.

Dit was die ander ding van Armgert: sy gelukkighied. Mense het dit nie verstaan nie, want hoekom sou ‘n kind wat albei sy ouers verloor het en nou in ‘n vervalle huisie bly, rede vind om altyd so vol vreugde te wees? Ta’ Swiegelaar, wat ‘n besondere lang neus het en dit orals indruk, het destyds gereken dat Oukêrel Beetge se kort humeur en mampoerstokery sekerlik bygedra het tot die kind se nuwe vryheid en lewensvreugde. Ander het sommer reguit gesê Armgert is ‘n bietjie leeg in die solder.

Die buurplaas het behoort aan Karel Kotze. Sy middelnaam was Abraham en mense het sommer sy voorletters gebruik as hulle na hom verwys omdat dit so goed by sy persoonlikheid gepas het. Dis sy vrou wat met die handelsreisiger weggeloop het en vir hom en die jong Mariatjie net so op die plaas gelos het. Sy het nie eens haar kappie saamgevat nie – niks – en Karel het eers agtergekom dat sy weg is toe hy die oggend sy eie koffie moes gaan maak. Dis ook in daardie dae dat Mariatjie se gereelde besoeke aan Oudok begin het. Harsingskudding, gebreekte arms, blou oë, los tande – noem dit, en sy was al behandel daarvoor. Karel het haar altyd self gebring en na die behandeling altyd by Sammie se winkel gestop om ‘n nuwe rokkie of teddiebeer te koop. Mariatjie se lompheid en neiging tot ongelukke was legendaries.

Tyd het verbygegaan en die ongeluk by die treinspoor was nie meer bespreek nie. Armgert se omstandighede het net so min aandag getrek as Mariatjie se gereelde ongelukke. Mense is mos so: as hulle gewoond raak aan ‘n situasie, word dit deel van elke dag se bestaan en nie meer iets wat opmerklik is nie.

Maar met die tyd, het ‘n belangrike verandering ingetree: die kinders het groot geword. Mariatjie het Maria geword en Armgert se brons lyf was nie meer ‘n tengerige kind s’n nie. Elke keer as Maria huistoe geneem word (met ‘n nuwe teddiebeer om te troos) het hy die stofstreep van Karel se kar agternagekyk en gewonder oor die mooi jong dame in die passasiersitplek.

Karel het later in die ondersoek getuig dat Armgert een Saterdag by hul huis opgedaag het met ‘n bossie veldblomme en daardie glimlag. Karel het gesê hy was uit die veld geslaan maar dat hy hom tog vriendelik ingenooi het. Mense wonder hieroor want Bernard onthou een Sondag toe Armgert kom salf bedel het vir die kneusplekke aan sy voorkop– hy het teen ‘n koesyn vasgeloop, het hy gesê. Dit was donker, sien…

Die heiningdraad tussen die twee plase loop oor die koppie agter Armgert se bouval-huisie en meer as een distriksmens het al die twee daar gesien. Sy aan diè kant, hy aan dàài kant. Karel het verduidelik dat hy die jong man uiteindelik van sy werf belet het, want hy het Mariatjie se werk gesteur. As hy daar was, het sy altyd die kos aangebrand of sommer net in die veld verdwyn saam met die jong man. Dit kon nie deug nie, het Karel gesê, en hy het vir Armgert vriendelik dog duidelik laat verstaan dat hy nie weer sy voete op die werf mag sit nie. Sammie van die winkel onthou die groot teddiebeer wat Karel kom koop het in daardie tyd.

Mense sê Mariatjie het hierna gesorg dat Karel se dop ‘n ekstra skop inhet. Die ekstra brandewyn wat sy in sy oggendkoffie gegooi het, het gesorg vir ‘n uur of twee se vrede waartydens sy by die heiningdraad kon wag dat Armgert met sy veldblommetjies opdaag. Hieraan het mense ook gewoond geraak en met tyd is die koppie herdoop tot Maria-se-draai.

Niemand het egter verwag dat hierdie geselsery so skeef sou loop nie. Karel het op ‘n oggend sy dogter gaan soek. Hy was nog newelrig van die koffie, maar het strompel-strompel koers gekry heiningdraad toe. Klaas Olyn, die ou man wat al jare en jare vir Bernard werk, sê oubaas Karel het sommer van ver af begin skree op die twee by die draad. Mariatjie wou weghardloop, maar hy het gesien hoe Armgert haar arm vashou en sy kop skud. Hy was te ver om te hoor wat die twee mans vir mekaar gesê het, maar hy is baie seker dat dit Karel was wat eerste geslaan het. Armgert het teruggesteier, opgestaan, en vir Karel reg oor die draad na sy kant toe gesleep. Toe hy wat Klaas is daar aankom om te help, was Karel reeds bewusteloos op die grond. Armgert se glimlag was weg en die vuur in sy oë het vir Klaas laat skrik. Klaas sê Armgert het toe ‘n draadtang gaan haal, van die heiningdraad afgeknip en vir Karel teen die hoekpaal vasgemaak. Armgert het vir Klaas beveel om vir Bernard te gaan haal  om die oortreder op sy grond te laat opsluit.

Bernard Rupert is nie iemand wat sommer opgewonde word nie. Hy sê toe hy daar aankom, was die toneel iets reg uit ‘n radiodrama. Die bose Karel was buite homself van woede en sy polse bebloed van die draad wat so in sy vleis ingesny het. Bernard sê hy was bang om die man los te maak want daar was geen sin en rede in daardie oë daardie oggend nie. In sy verklaring sê hy dat hy toe naby Karel gaan sit het en mooi met hom gepraat het. Hy het vir die vasgemaakte man vertel dat mens nie alles met harde woorde en harde hande kan regvoeter nie. Dat mens veel meer regkry met ‘n sagte woord as met grimmigheid en dat dit tyd is dat hy wat Karel is, besef dat liefde meer regkry as haat.

Dis toe, sê Bernard in sy verklaring, dat die vreemdste ding gebeur. Karel het onbedaarlik begin huil. Rou snikke, is die woorde in die dokument. Terwyl Bernard die drade losgesny het met die draadtang wat steeds daar gelê het, het Karel oor en oor geprewel hoe jammer hy is.

 Karel het later self die heiningdraad gaan regmaak. Klaas wou help, maar Karel se kort humeur was nog vars in almal se gemoed en Klaas het toe maar besig geraak met die oppak van Armgert se paar goedjies wat nog in die huisie agtergebly het.

Sersant sê dis onwaar dat Karel ‘n saak teen Armgert gemaak het. Daar was ook nooit eens ‘n klag oor Karel se kar wat daardie dag verdwyn het nie.

 

Vandag, as jy verby die bouval ry, kan mens nog sien waar Armgert die geboutjie opgeknap het. Vir Armgert sal mens nie te sien kry nie. Hy en Maria het spoorloos verdwyn. Bernard sê darem hy het ‘n poskaart met ‘n Kaapse stempel ontvang, waarin Armgert hom bedank vir die verblyf en werk; en dat hy nie weer sal terugkom nie.

Mense stop ook nie meer so dikwels by die heining nie. Hulle vergeet so maklik. Sammie hou ook nie meer teddiebere aan nie – daar is net nie meer ‘n mark daarvoor op die dorp nie.

 

Miskien sou die storie nooit op skrif gewees het as dit nie was vir Bernard wat ‘n pap wiel in Franschoek laat regmaak het nie. Terwyl hy wag dat die herstelwerk gedoen word, het hy ingedagte deur die dorp gedrentel en sommer die atmosfeer van die plek ingedrink. Dis toe hy verby ‘n klein restaurantjie loop dat die naam hom opgeval het.

Maria-se-Draai. Eienaars: G en M Beetge

Die naam was al genoeg, sê Bernard, maar dit was die man wat besig was om die dag se spyskaart op die venster te plak, wat hom laat stilstaan het: daardie glimlag is nie een wat mens maklik vergeet nie.

Bernard sê hy het nie ingegaan nie. Soms moet mens by ‘n heiningdraad omdraai. Besitreg en privaatheid is duur goeters, sê hy, daarom respekteer hy grensdrade…en soms is die grootste guns wat jy iemand kan bewys, jou verbystap. 

©

14 thoughts on “Die Heiningdraad

  1. dievetvrou

    Uitstekend, ‘n harde lewensles vir almal – die onregtighede wat onder ons oe gebeur is TE maklik om gewoond aan te raak and mis te kyk. ‘n Euwe van die moderne wereld.

    Reply
  2. 68ghia

    Ek is bly hulle het uitgekom.
    So baie mense se lewens word in puin gelewe, en daar gaan hulle dood.
    Maar partykeer, net partykeer, kan jy losbreek.
    Goeie storie Amos. Dankie.

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s