Projek Skraper

Image“Ons behoort ‘n padskraper te kry.”

Dis sulke stellings wat van Boggel se Plek ‘n legende gemaak het. Kleinpiet het sopas ‘n padskraper – groot wiele en al – op die kroegtoonbank geskets met die skuim van sy bier. Telkens, as hy die voorpunt klaar het, het die agterkant verdamp en moet hy van voor af begin.

“Ons het mos een gehad. As ek reg onthou, het die Griesels van Bitterwater hom laas geleen. Dis nou voor die vendusie, sodat die afslaer darem by hul plaas kon uitkom.” Vetfaan onthou dit goed: hy het sy trekker daar gekoop.

Gertruida (wat alles weet) vertel toe dat dit die einste skraper was wat toe deur Grootdrink se munisipaliteit gekoop is. “Niemand anders het gebie op die masjien nie, toe het hulle hom gekry. Daar was ‘n groot bohaai daaroor, maar omdat Rolbos nie papiere gehad het vir die ding nie, kon die dorp nie sy eiendom terugeis nie. Ek is seker hy staan nog op Grootdrink. Na die pad Upington to geteer is, het hulle hom seker nie meer nodig nie.”

En daar, tussen die bier en Cactus Jack, word die plan gebore om hul skraper terug te kry. Die slaggat in Voortrekker Weg is immers nou al so groot, dat Vrede daarin kan gaan wegkruip as hy Boggel se blitong gesteel het.

Vrede is nie ‘n oneerlike hond nie, verstaan? Hy is té trots op sy goeie rekord as polisiehond om hom aan misdaad skuldig te maak. In die hondewêreld egter, geld ander reëls vir biltong as enigiets anders. Selfs wors se eienaarskap word verstaan – as jy wors steel, is jy ‘n dief, en sal jy gestraf word. Probeer om ‘n vars stuk wors vir ‘n hond te gee – jy sal sien hy is ietwat onseker voor hy weghardloop met sy buit. Met biltong is die reaksie heel anders: hier is geen huiwering nie: die gryp-en-storm is ‘n enkele beweging. Sou jy nie mooi kyk nie, sal dit lyk as of jou biltong sommer net verdwyn het. Dis slegs mense met goeie konsentrasie en visie wat die blitsvinnige gedierte se aksie sal kan opmerk.

Biltong, só glo honde, is allemansbesit. Daar is geen berou of skaamte in ‘n hond wat nounet die stukkie koedoe, sommer so halfgekou, ingesluk het nie. Dis hoekom Vrede die slaggat uitsoek – hier kan hy met rustigheid sy biltong opeet, sonder die vrees dat iemand hom gaan steur.

Soos alle militêre planne, word Operasie Skraper versigtig beplan. Kleinpiet sal die verkenningswerk doen as hy weer gaan diesel haal op Grootdrink. Daar is nie baie plek op Grootdrink om so ‘n massiewe masjien weg te steek nie. Gertruida sal die inligting verwerk (niemand weet wat dit beteken nie, maar dit klink belangrik) waarna ‘n plan van strategiese aksie opgestel sal word. Die doel: kry ‘n skraper vir Rolbos.

Kleinpiet ry Grootdrink plat. Van skrapers is daar geen teken nie, maar daar staan wel ‘n trekker (agterwiele weg), die lorrie van Kalahari Vervoer wat in die rivier beland het, en die uitgebrande wrak van die pedofiel (sien gister se dwerg-storie).

“Soos ek dit sien, het die lorrie wel vier wiele, die trekker se enjin kan gemaak werk word, en die wrak is waardeloos. Grootdrink se implemente sal nie Voortrekker Weg kan skraap met wat hulle daar het nie.” Kleinpiet trek ‘n X oor die skraper wat hy sopas geteken het.

“Nee, man, as ons daardie trekker in die hande kry, die lorrie se wiele gebruik om hom weer te laat loop, en ‘n ou spoorstaaf agter hom aan sleep – dan het ons mos ‘n heel bruikbare skraper. Die ouens op Grootdrink sal maar te bly wees om van die skroot ontslae te wees en ons gaan weer ‘n ordentlike straat hê.”

Dit vat twee volle weke. Vetfaan het juis so ‘n stuk yster op sy plaas, een wat as ankerpaal vir sy een heiningdraad gebruik word. Dié word met groot moeite uitgegrawe en dorp toe gebring. Kleinpiet en Servaas het gaan praat met die mense op Grootdrink – wel, dis nou eintlik net die vriendelike tannie van Ouma se Gastehuis, maar dit tel – en dadelik twee van die lorrie se agterwiele afgehaal. Natuurlik wou dit nie mooi op die trekker se agteras pas nie, maar met een van die nuwe elektriese bore en ‘n paar boute, kan mens baie regkry. Die trekker het wel gelyk soos ‘n kameelperd wat op sy hurke sit – so met die neus na bowe en die stert op die grond – maar dit was duidelik dat hy (op Rolbos-standaard) heel padwaardig sou wees.

Die enjin het hulle twee dae besig gehou voor dit kontrepsie met ‘n geweldige knal en massas rook, aangekondig het dat daar weer lewe onder die geroeste enjinkap is. Die geheim is om ‘n kortsluiting oor die knormoer te maak, wat die enjin aanskakel. Om hom dan te stop, was weer amper onmoontlik. Servaas moes die uitlaatpyp verwyder om ‘n kabel te maak pas – een wat weer die pole van die battery afruk wanneer ’n man voel hy het nou genoeg gedoen. As die bestuurder sy voet van die petrolpedaal afhaal, ruk die enjin tot stillstand.

“’n Uitstekende stukkie ingineursvernuf,” was Kleinpiet se kommentaar.

Servaas, as die oudste, het die eerste beurt gekry om te bestuur.

“Hy loop, ja, maar mens kan g’n sien waarheen nie. Met die agterstel wat so naby die grond loop, is die enjin sò hoog dat dit mens se uitsig versper.”

Kleinpiet het ‘n groot sleepwa op sy plaas waarmee hy gewoonlik bale wol aanry Upington toe. Die Bottom’s-up, soos dIe trekker gedoop is, word hiermee vervoer en voor Boggel se Plek afgelaai te midde van groot belangstelling.  Precilla het Mannetjies Roux gesing met soveel gevoel, dat toe sy by …My oom se trekker het ‘n ou masjien/hy maak hom vol met die-e-e-eselien… kom, daar geen droë oog meer te bespeur was by die omstanders nie. Oudoom het ‘n toespraak gemaak oor paaie wat gelyk gemaak word, waarna Boggel die eer gehad het om ‘n dop Cactus Jack oor die sitplek uit te gooi. Dit was Gertruida se idee: as mense by die see dit met skepe kan doen…

Servaas het vir Platnees verduidelik hoe die hantering van die trekker moontlik is.

“As jy heel skuins oorlê na links, kan jy verby die enjin en oor die voorwiel kyk. Dis al manier hoe jy vorentoe kan sien. En onthou van die kabel en om jou voet van die petrol af te haal as jy wil stop.”

Platnees is nie vreemd vir trekkers nie – hy ry al jare Vetfaan se ou Massey Fergusson as hy gaan diesel leen by Kleinpiet. Onder dawerende applous, bestyg hy Bottoms-up, neem sy plek in en wys vir Servaas hy kan maar die kortsluiting veroorsaak om die enjin aan die gang te kry.

Daar is iets wat hier genoem word. Cactus Jack – dis nou die ware jakob en nie die gegeurde mengeldrankie wat mans met soveel duistere verwagtings aan niksvermoedende dametjies aanbied nie – is besonder hoog in alkoholinhoud. Dis amper soos terpentyn. Servaas sê jy kan jou verfkwas daarmee skoonmaak, as jy nou die dag nie dors is nie. Tot op datum het niemand dit probeer nie.

Maar nog minder het niemand al in ‘n plas Jack gaan sit nie – ten minste, nie voor Platnees nou sy posisie as bestuurder van Bottom’s Up ingeneem het nie. Gertruida sê mens sou waarskynlik sy gil gehoor het as Servaas-hulle die uitlaatpyp weer teruggesit het na hul gewerskaf, maar dis bloot spekulasie.

Toe die klammigheid op die sitplek (Gertruida sê dis soos osmose) na die droog van Platnees se nuwe oorpak migreer, vind dit – soos vog maar doen – die pad na gedeeltes wat gewoonlik nie in die openbaar verskyn nie. Wat toe begin as ‘n ongemaklikheid, word in ‘n oogwenk ‘n vagevuur waarvan slegs Oudoom ‘n vae idee van die intensiteit het.

Bottom’s Up het toe al begin spoed optel, ten spyte van die spoorstaaf wat met kettings agter die brullende masjien vasgemaak is. Platnees het krampagtig vasgeklou aan die stuurwiel, teryl hy self later so staan-staan bestuur het. Van oorleun na een of ander kant was daar nie sprake nie – dit het bloot die brand vererger. Al hoop was dat die voggies maar sou gou as moontlik sou verdamp in die droë Kalahari lug. En, soos almal weet, is ‘n staande man met vuur in sy agterstewe nie regtig bekommerd oor waar sy voete rus nie. Die pedaal onder Platnees se regter voet, maak geen indruk op hom as hy omkyk om te sien of daar nie vlamme by sy agterstewe rond is nie. Na ’n wye draai Bitterwater se kant toe, kom die gevaarte weer in Voortrekker Weg af. Die omstanders kan sien hoe hy die stukkende stop-kabel, met ’n mooi mikslag, reg voor Servaas se voete neergooi. Hulle kan ook uitmaak wat Platnees se kommentaar is, maar met Oudoom in die gehoor, maak almal asof hulle dit nie hoor nie.

Kleinpiet is nogal ‘n man wat strategies kan dink. Hy’t besef die enjin gaan net staan as die diesel op is, en dat Platnees tans die potensiaal besit om die hele Rolbos te verpletter. Met Vetfaan agter die stuur van sy bakkie, klouter hy op die enjinkap.

“Jaag, Faan. Jaag…!”

Bottom’s Up is nou nie eintlik ‘n ding wat die landspoed rekord sal bedreig nie. Die proses werk toe sò:

Bottom’s Up, met die staande, gepynigde, en nie-siende Platnees as bestuurder, trek teen ‘n gemaklike drafstap deur Rolbos. Agterna kom Vetfaan as siende en bekwame bestuurder van die bakkie. Op die enjinkap van die bakkie, sit Kleinpiet en skree bevele uit om vir Platnees te help om padlangs te bly. En so, te midde van ‘n uiters ongewone stilte van die toeskouers, die sterk gedoef-doef van die enjin (en net vinnger-as-stoet tempo), trens die klein paradetjie met Voortrekker Weg uit die dorp uit; min-of-meer  in Grootdrink se rigting in; terwyl bevele van Links!! en Regs, meer Regs!!!  teen Bokkop uitgalm..

 Oudoom sê die voorsienigheid sorg altyd, en Gertruida beweer weer dat goeie dinge soms toevallig oor jou pad kom. Watter een reg is, maak nie saak nie. Bottom’s Up se brandstof het opgeraak kort duskant Grootdrink. Die enjin het geruk, gesluk, gehik, ‘n paar geluide gemaak wat met ‘n verskeidenheid liggaamsfunksies verbind mag word …. en gevrek. Die momentum van Bottoms Up was net genoeg om die trekker en sy passasier-bestuurder (afhangend van hoe mens die situasie sou ontleed) tot stilstand te bring, vlak by die wrak en die stukkende lorrie. Platnees het dadelik koers gekry rivier se kant toe en verligting gaan soek in die stille waters van die groot rivier. Hierna kon hy sonder die oorpak (Die duiwel skuil in daardie overall, Mnr Kleinpiet!) teruggeneem word na die klompie bekommerde mense in Boggel se Plek, wat intussen hul skok en ontnugtering redelik suksesvol behandel het met aansienlike dosisse Cactus Jack.

Mens kan nou maar verskil in jou opsomming van die inwoners van Rolbos. Party kan redeneer hulle is ‘n klomp sosiale askete, wat nooit in die normale samelewing sal aanpas nie. Ander sal beweer hulle is ambisie-gestremd omdat hulle verkies om so afgesonderd te lewe. Nog ander kan dink hulle het bloot van hul varkies verloor, êrens langs die pad.

Maar:

Dis die enigste dorp in die land wat ‘n stuk provinsiale grondpad op eie koste geskraap het – en dit in rekord tyd! Dit moet darem vir iets tel.

O, ja. Die slaggat. Dis natuurlik toegeskraap met die tweede slag wat Bottom’s Up deur die dorp gestorm het – net voor Kleinpiet die situasie begin bestuur het. Vrede eet nou maar sy skelmbiltong agter die toonbank van Precilla se aptekie. Dis eintlik vir hom lekkerder om dit só te doen – dis heeldag in die koelte, dis definitief minder stowwerig en Precilla sal hom nooit uitjaag nie.

Platnees verdien die laaste woord wanneer diè episode in Boggel se Plek oorvertel word – dit gebeur nogal dikwels.

“Nou, soos die vuur hy brand hier agter,” hy beduie waar, “en die enjin hy loop daarvoor, toe staan ek wat Platnees is, by daardie Bottom’s Up. Al die pad Grootdrink toe, ek hoor net Meneer Kleinpiet skree vir my waar die pad is. Nou, die skraper maak soveel stof, hy kan ook nie mooi sien waar ek moet ry nie. Hy skree Links! as hy by sy afdraai kom. Toe skree hy Regs! by Meneer Vetfaan se pad. So ek skraap sommer hulle paaie ook. Dan weer terug, grootpad toe, Grootdrink toe. Ek was baie bly toe die diesel opraak, anders moes ek die teerpad Upington toe ook skraap.”

Tydens hierdie gedeelte van die vertelling van Projek Skraper, rangskik Boggel gewoonlik die klein glasies op die toonbank. As Platnees dan die applous geniet, vat elkeen sy glasie en drink ’n heildronk met Bottoms Up!, terwyl Boggel die volgende rondte inskink.

Askete? Gestremdes? Nee, nie in Rolbos nie. Hulle glo bloot in afsonderlike ontwikkeling – ‘n term wat presies beskryf wat hulle poog om hier te doen. Miskien is dit hoekom hulle so ver voor die res van die wêreld is wat lewenskwaliteit betref.

 

Moenie vergeet om Imagine: Africa! af te laai nie. Kliek op die omslag:

Image

Click to buy...

 

10 thoughts on “Projek Skraper

      1. Amos van der Merwe Post author

        Ah…die opstal by Bitterwater! Net die regte plek vir stilte, natuur en geen mens om jou om te krap nie. Ek sal laat weet as ek nie daar is nie, dan kan jy die plek vir jouself hê.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s