Kalahari Spa

Die energie wat vrygestel word as twee vroue saamspan, is iets wat selfs Einstein sou verbaas. En selfs die bes-uitgewerkte chemiese formule gee nie altyd ‘n voorspelbare resultaat nie. Vat nou maar die dag toe Kleinpiet by die kerkbasaar gaan snuffel het vir iets om Precilla mee te verras. Dis nou in die tyd toe hy ernstig vir haar ogies gemaak het en voor hulle aanvaar het dat vriendskap baie meer vir hulle twee gaan beteken as ‘n vurige en kortstondige romanse. Soos so baie paartjies in die verlede, was hulle gelukkig genoeg om met genoeg, tevrede te wees…maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag…

Hy het deur al die ou Brandwag-tydskrifte geblaai vir ‘n lekker resep, Gertruida se hekel doilies inspekteer en selfs by die pannekoekstalletjie gaan snuffel. Die ses pannekoeke wat hy wou aandra na die Apteek toe, het egter nie die ander kant van Voortrekkerweg gesien nie – hy was net te honger.

Koekie, as Mevrou Dominee, het ‘n wakende ogie oor die basaarbedrywighede gehou. Haar man se inkomste was natuurlik afhanklik van die sukses van die verrigtinge en sy wou haar deeltjie doen om seker te maak dat gemeentelede nie leë hande wegstap nie.

 “En wat staan jy nou so besluiteloos rond, Kleinpiet? So as of jy iets soek en nie sien waarvan jy hou nie?”

Kleinpiet glimlag skamerig. “Dis nie eintlik vir my nie, Mevrou,” Vandat sy met Kleindoom getroud is, dring mense daarop aan om haar as Mevrou aan te spreek – iets wat haar nogal heelwat plesier verskaf. Van ‘n vet niks tot ‘n vietse Mevrou in net een enkele woordjie: Ja.  Snaaks wat ‘n kansel kan doen!

Sy glimlag bemoedigend, soos ‘n Mevrou Dominee betaam. “So dis vir die liewe, liewe Precilla?” Haar stem kom so reg uit The Sound of Music. “Miskien moet jy by die breiwerk kyk, of selfs Gertruida se seeptafel – sy maak mos self boerseep?”

Kleinpiet sien hoe sy onthoofde lyf in Voortrekkerweg afgesleep word as hy vir die liefde in sy lewe ‘n blok tuisgemaakte boerseep vat as aansporing tot die verhouding. “Nee, nie boerseep nie, Mevrou. Is hier nie iets, er, iets, wel, vroulik hier rond nie?”

Al is sy nou Mevrou en al hang haar man se inkomste van die dag se verkope af, kan Koekie dit nie oor haar hart kry om vir Kleinpiet na die kleretafel te stuur nie. Die tehuis het Ta’ Hybie se bloemers as bydrae gestuur, maar sy wonder tog hoe die mooie Precilla daarin sou lyk. Miskien as sy die goed middeldeur sny en dan gebruik as onderhempies? Sy skud haar kop. Dit is selfs vir haar ‘n bietjie vergesog.

“Nee, Kleinpiet, ek weet darem nie so mooi nie.” Dan kry sy ‘n idee: “As jy wil, kan jy van die rose voor die pastorie kom sny en vir haar ‘n ruiker vat. Blomme is altyd ‘n goeie manier om ‘n vrou se hart te wen.” As sy sien hoe Kleinpiet se gesig ophelder, voeg sy vinnig by: “Dis ‘n Rand ‘n blom. Vir die basaar.”

 Dis twee dae later en Koekie stap by die Apteek in om skeermeslemmetjies te koop. Kleindoom gedra homself nou wel mooi deesdae, maar sy raak darem nou erg bosserig hier by die nes rond. Vandat sy soveel gewig verloor het, het sy soveel meer keuses oor kleredrag en op Saterdae, as sy in die tuin werk en Kleindoom preeknotas maak, trek sy ‘n bietjie skrapser as gewoonlik aan  – as daar een ding is wat sy begeer, is dit ‘n son-bruin vel wat spreek van goeie gesondheid en lewenslus.

“Minora? Minora? Hemel, Mevrou, ek kan nie eens onthou wanneer laas ek so iets gesien het nie. Genugtig. Is dit vir jou?” As Koekie skamerig knik, skud Precilla haar kop. “Nee, Mevrou. Ek hou dit nie aan nie. Ek kan probeer uitvind, of jy kan natuurlik van hierdie room gebruik: dan hoef jy nie eens te skeer nie.”

Precilla skuif die ruiker op die toonbank eenkant toe en plaas die potjie room voor Koekie, wat dit versigtig bestudeer.

“Dit sal nie..wel, dit gaan nie aan my…dele…iets doen nie?”

Precilla lag lekker. “Nee, man, dis vrouegoed hierdie, nie draincleaner nie. Hierdie room kom van Hawaii, waar meisies heeldag met mooi bene rondloop. Kyk, hier staan dit op die etiket.”

Mevrou kyk. Dit staan op die etiket. Mooi meisies met diep sonbruinvelle en klein-klein bikini’s. “Ek sal dit natuurlik vir Dominee moet wegsteek. Anders preek hy oor dit, jy weet?”

Die twee lag saam soos net vroue wat ‘n geheim deel kan, en Precilla skryf dit op die boek. Mavrou sal die einde van die maand betaal, nes almal; ‘n besonderse rang in die samelewing maak nie dat jy sommer ook geld het nie.

“Ek sien jy’t blomme gekry?” Koekie praat terwyl die apteekstertjie opskryf. Precilla loer so onderlanges met ‘n skewe glimlag.

“Ja. Pastorie-rose. Dit was dierbaar van hom – ek was bang vir Hybie se bloemers.”

“Daar is regtig min op Rolbos vir ons vrouens. Hemel, Dominee het nou-die-dag vir my ‘n hoender gegee! Hy’t gedink ek sal heelwat kan spaar op eiers. Maar, vra ek jou, is dit nou iets om ‘n vrou se hart gelukkig te hou? Dis maar ‘n simpel lewe vir ‘n vrou as jy eers op Rolbos gestrand is.”

Precilla knik, huiwer, dink en vra dan: “Hoe lyk dit met ‘n koppie tee, Koekie? Ek wil graag ‘n voorstel vir jou maak.”

 Natuurlik het alles nie oornag gebeur nie. ‘n Onderneming van hierdie aard moet deeglik beplan word en sonder Kleinpiet se samewerking sou die idee ‘n stil afsterwe beleef. Koekie moes haar kaarte sò speel dat Kleindoom nie kan kapsie maak nie, en Precilla moes op ‘n manier die gebruik van die rondawel op Kleinpiet se plaas verkry. Soos afgespreek, sit hulle die wiele aan die rol een Donderdagaand, in hul onderskeie huise: Koekie in die spens van die pastorie en Precilla in haar woonstelletjie agter die apteek. Stip om agt-uur, toe die nuus begin, word vir die twee manne koffie aangebied, wat (voorspelbaar genoeg) met graagte aanvaar is. Een blou pilletjie word in elke beker koffie opgelos nadat dit effens afgekoel is en om 20h06 proe-proe die manne aan die brousel. Soos die gebruiksaanwysings sê, neem dit ongeveer agt minute vir die medikasie om te begin werk en albei dames het gereken dit sou ten minste een minuut neem om van klere onstlae te raak.

Teen 20h20 is dit alles verby. Die rondawel is hulle s’n om te gebruik vir watter doel op aarde hulle ook al dit wil aanwend, en Kleindoom staan fluitend onder die stort en wonder wat hy gaan maak met die duisende Rande wat gaan inrol as Koekie nou haar besigheid gaan begin.

Soos genoem: die Relatiwiteitsteorie is laerskoolsomme as mens dit vergelyk met die kompleksiteit – en eenvoud – van ‘n vrouesameswering..

 

Die Upington Post het nogal ‘n artikel oor die Kalahari Spa op bladsy 18, net onder die doodsberigte:

 

Nuwe Spa open Woensdag

Die Upington Post het kennis geneem van ‘n gesondheidsoord wat op Kleinpiet se plaas, Verlorenfontein, ontwikkel is. Die eienaars van die oord bevestig dat dit die eerste fase is wat nou operasioneel gaan word, met ‘n sonbed, ‘n stort en ‘n masseringslokaal. Volgens ‘n woordvoerder, word meer moderne geriewe eersdaags verwag. Belangstellendes kan vir Precilla by die Apteek kontak.

  Koekie is nie seker van die sonbed nie, maar Kleinpiet sê hy broei al jare lank eiers op hierdie manier uit. Al wat jy nodig het, is ‘n langwerpige koepel met ultraviolet ligte in. Hy self het die ou roeiboot – wat so lank al langs die leë dam lê – sò bewerk en geverf dat niemand sal weet dit was eens op ‘n tyd ‘n trotse vaartuig wat op die klein golfies van Verlorenforntein se dam rondgedobber het nie. Die laag veselsglas oor die romp laat dit uiters modern lyk en die chroom wat van die ou Chev afkom, maak mooi lyne langs die kant.

Die masseertafel was makliker. Al wat nodig was om die ou kombuistafel te omskep, was die vyf komberse wat oor die oppervlakte gespan was en netjies met duimspykers onder die blad vasgesteek is

Die uithangbord is onder Kleinpiet se plaasnaam vasgemaak met biltonghakkies en verklaar bloot die essensie van die besigheid.

 

Kalahari Spa

Booking by appointment only

Bespreking slegs per afspraak

 

 Hulle het gewonder of dit nou genoeg sê, maar Koekie het gevoel minder is mèèr en dit was iedergeval goedkoper om ‘n kleiner bord te laat verf. Platnees, die beste verwer op die dorp, het dit sommer agter op die APTEK bord geverf. Kom mens nou van die verkeerde kant af, wys ‘n onderstebo APTEK na die ander kant van die pad, maar die vroue het besluit om dit eers so te laat. Sodra die kontantvloei dit toelaat, kan hulle die saak regstel. Solank die mense van Upington se kant af net weet waar om af te draai.

Twee weke gaan verby sonder ‘n enkele afspraak. Kleindoom en Kleinpiet vermy die onderwerp en die vroue begin wonder of hulle nie dalk erens gesondig het dat dit nou so stil is nie.

 Dan kom die oproep…

“Goeie môre, is dit Kalahari Spa?”

Precilla gaap-gaap in die spreekbuis voor sy tot haar sinne kom: ‘n oproep! “Dis korrek. Waarmee kan ons help?” Sy was nog altyd ‘n meisie wat op haar voete kon dink.

“Ek is Kobus Verster, en ek verteenwoordig ‘n maatskappy met die naam Sophisticated Travels, Inc. Hulle is in New York gebasseer. Verstaan?” Die ou moenie met my praat as of ek in graad een is nie, dink Precilla. “Iedergeval, ons is op soek na ‘n gesondheidsoord wat totaal geïsoleerd is van die buitewêreld. Ons het ‘n gas wat eersdaags arriveer en hy benodig streng privaatheid tydens sy herstelfase.” Vir die eerste keer verloor die stem die hoogdrawende spreekwyse. “Hy het ‘n…verslawing gehad maar is sopas gerehabiliteer. Nou moet hy rus en vrede kry waar die koerantmanne hom nooit sal kan opspoor nie. Ek het jul artikel in die Upington Post gesien en gedink…” Die stem draal weg in onsekerheid.

Precilla se kop werk in snelrat. As hulle vir die mans op hul neuse wil laat kyk, is dit die ideale geleentheid. Maar as die mens nou op Verlorenfontein wil kom bly, sal Kleinpiet uit die huis moet gee pad. In hul beplanning het hulle nie oorweeg om oornagfasiliteite te skep nie – die mense sal mos op Kanoneiland of Upington bly en net deurkom vir ‘n massering of ‘n sonbrand?  Aan die ander kant – as dit nou een of ander beroemde mens is, kan dit mos wondere vir bemarking beteken?

“Natuurlik, meneer Verster. Ek kan jou absoluut waarborg dat niemand – niemand – jou kliënt sal opspoor by hierdie spa nie. Glo my, hier is hy veilig!”

Kobus Verster vra oor fooie en Precilla maak as of sy ‘n besprekingsboek moet naslaan. “Watter datums het u in gedagte?” Verster gee ‘n twee-week periode in die volgende maand.

“O, jinne, Meneer, dis moeilik. Ons is vol bespreek vir daardie tyd…maar ek is seker ons kan ‘n plan maak. Teen ‘n prys, natuurlik.”

 En so gebeur dit dat die twee vroue daardie aand ‘n bottel vonkelwyn oopmaak en saam hul sukses vier. Toe Precilla die laaste druppels uit die bottel uit terg, is die heildronk: Mevrou Dominee is dood. Lank lewe Koekie!

 Kleinpiet is glad nie so seker hy wil uit sy huis uittrek nie, maar toe hy hoor wat die gas betaal, pak hy gou al sy besittings in die ou weermagtrommel wat ook diens doen as sy koffietafel. ‘n Vlugtige inspeksie van die bed (skoon oorgetrek met erflinne) die kombuisie (genoeg antrasiet langs die Dover-stofie, fyn houtjies en selfs ‘n nuwe dosie vuurhoutjies) en die vol emmer langs die wasbak verseker hom dat hierdie gas geen tekorte gaan ervaar tydens sy verblyf nie. Koekie en Precilla sal reëlings tref vir ontbyt en aandetes en Kleinpiet sal sorg vir die skottegoed. Alles is reg – die gas moet nog net kom.

Verster het laat weet dat hy die oggend teen so tien-uur by Verlorenfontein sal wees, gas en al, en dat hy hom onder hulle sorg sal laat. Hyself moet terug Kaap toe vir ‘n belangrike vergadering. Daar is nog gaste wat van oorsee af kom en miskien kan Kalahari Spa nog mense verwag…

 As die lang voertuig, getinte vensters en baie chroom, by die hek indraai, staan die twee entrepreneurs reg om egte Noord-Kaapse gasvryheid te vertoon. Albei het hul Sondagrokke aan en, nadat hulle mekaar se grimering geïnspekteer het, staan hulle nou netjies langs mekaar onder die afdakkie voor Kleinpiet se voordeur. Op Kleinpiet se aandrang het Precilla haar radio saamgebring en die krakerige ontvangs van RSG verseker dat die gas Suid-Afrika se verjaarsdagwense aan ieder en elk sal hoor. “Net om ‘n plaaslike geur te gee,” het Kleinpiet gesê. Die vroue het gevoel hulle sal maar op die een moet toegee – hulle het tog al die ander skermutselinge gewen.

Die chauffeur spring uit as die motor stilhou en waai met sy wit handskoene van die stofwolke weg voor hy die agterdeure oopmaak.

Die lang, lenige man met die diep, sonbruin gelaat, kom met ‘n uitgestrekte hand nader.

“Kobus. Kobus Verster. En julle is Precilla en Mevrou Dominee? Gaaf, wel ons gas is hier. Laat ek julle voorstel.” Hy sê dit alles in een vinnige asem en lei hulle na die oopagterdeur.

Koekie kyk vir Precilla. Precilla kyk vir Koekie. Albei word bleek, dan rooi, dan duiselig.

Die man (wel, dit lyk soos een, want hy het ‘n snor) op die agterste sitplek is ten minste driemaal so groot soos Kleinpiet, wat self nie ‘n tengerige skepseltjie is nie. Die veelvuldige kenne sypel soos lawa oor die wit T-hemp wat styf span oor ‘n borsmaat wat in die ou Suid-Afrika met sterretjies besaaid sou gewees het. Sulke borste kan mos nie bestaan nie? Maar dit doen en dit pryk onder die hempie met tergende wellus. Die eienskap wat die meeste beïndruk (al is die hoe negatief), is die bultende buik wat ‘n voorskoot vorm wat tot by die knieë kom terwyl die man sit.

Sy ronde, sokkerbalgesig gee net die vaagste suspisie waar die oë moet wees – daar is twee grefies sigbaar waar die spasie tussen die voorkop en die wange moet wees. Sy neus lyk onnatuurlik klein op hierdie landskap, maar is ten minste herkenbaar. Die mond is omring deur dun ippe waarop Oumevrou Oudok trots sou wees.

“En dis Yakasumo Innamoto, jul gas vir die volgende twee weke. Mister Innamoto, this is your hosts. Please to get out now, I must be off.”

Dis duidelik dat Mister Innamoto nie Engels verstaan nie, maar hy kruip, klouter en kom krom-krom uit die motor gewikkel. Behalwe dat hy uitermate vet is, is hy uitsonderlik lank en selfs die luukse motor moes ‘n martelkamer vir die kolos gewees het.

Innamoto kom staan voor die twee voue en buig effens terwyl hy sy hande in ‘n gebedsgebaar teen mekaar hou. Hy sê iets en staan afwagtend terug.

“Wat het hy gesê?” Precilla draai vraend na Koekie, wat haar skouers ophaal. Die luukse motor is reeds op pad hek toe met Verster.

“Ek weet nie. Dit klink soos Donkietaal vir my – ene hie-hô en ander goed soos iemand met warm afval in sy mond.”

Innamoto probeer weer, meer desperaat en beduie na sy mond.

“Hy’s Japanees,” besluit Precilla, “en hy’s honger, lyk dit vir my.”

“Oh. Please to come here, mister. We have food inside.”

Of hy verstaan het, weet nugter, maar hy volg ewe gedwee agterna as die vroue na binne stap. Hy vou omtrent dubbeld om by die voordeur in te kom voor hy by die tafel gaan staan. Hy hie-hô met aansienlik  groter agitasie terwyl hy na die ses skons op die tafel beduie. 

“Hy is honger?” Precilla kyk vraend na Koekie, wat weer net haar skouers ophaal en met ‘n gasvrye gebaar na die skons beduie.

Innamoto staan nader en vat die ses skons in sy twee hande, prop dit in sy mond en kou aandagtig soos ‘n kameelperd wat lanklaas akasiablare geproe het. Die uitdrukking van saligheid verklap sy tevredenheid.

“Hie, hô, môh,” klink dit vir die vroue.

Koekie snap:”You like?”

Die ronde kop wip op en af soos hy knik. “Môh!” bevestig hy.

“Koekie, hierdie ou is verslaaf aan kos, nie dwelms nie. Wat het daardie Verster gesê?”

“Nee, niks. Net iets van verslawing. Hy het darem ‘n koevert gelos.”

Die twee skeur die koevert oop en lees die inligting.

Hiermee die Japanese Sumo swaargewigkampioen. Hy het ‘n besondere eetlus en raak aggressief as hy honger is. Hy was verslaaf aan dobbel, maar het volledig gerehabiliteer. Hy het nodig om twee weke in ‘n gesonde omgewing te bly en is paranoies oor koerante en publisiteit. Indien u enige probleme ondervind, kan u my tydens kantoorure skakel by 0125639863

 

  “Soemoe? Wat is dit?” Koekie se frons spreek boekdele.

“Dis iets wat Japanese doen, man. Gertruida sal weet. Ek dink dis stoei?”

Die twee vroue staar na die logge liggaam en altwee dink dieselfde gedagte: Stoeier? My voet! “Maar dobbel verstaan ek. Die ou hou van gamble.”

Innamoto se gesig helder op. “Hie, hô, haai mancha hoo! Gamble? Gamble is good! You have?”

“Jy kan Engels praat?” Precilla vra op haar beste Engels en hy knik.

“Little bit. Gamble good. Môh cookies?”

“Die enigste koekies wat oorbly is ons s’n, my pêl, en daarvan kry jy niks. Koekie, is daar nie nog van daardie droë perskes wat Kleinpiet laasjaar gedroog het nie? Kom ons kyk gou in die spens – ek het die paraffienblik gesien laaskeer toe ek hier was.”

Die blik staan netjies agter die deur en die dop word afgehaal.

“Look. Natural cookies. Good.” Precilla beduie en die groot Japanees dril nader. Hy vat ‘n droë vrug, ruik suspisieus daaraan en vou dit tussen sy vingers. Dan vat hy ‘n tentatiewe happie.

“Ha! Good. Karimastag.” Hy sleep die blik na die ou riempiestoel en gaan sit om te eet. Die stoel besluit dat te veel darem ook nie ‘n goeie ding is nie en gee mee onder die bultende agterstewe. Met ‘n gimnastiese vermoë wat die vrouens verbaas, spring hy regop.

“Hai. Bloken chail. I’ll pay.” Daarmee vis hy ‘n rol note uit sy sak en skil ‘n paar af. “Enough, maybe?”

Precilla het al dollarnote gesien en aanvaar dit gretig. “Hy betaal ons omtrent R1500 vir hierdie ou stoel! Jitte, Koekie, ons kan geld maak uit hierdie ou.” Sy bedank die man wat intussen ‘n duik in die weermagtrommel gaan sit het terwyl hy die perskes inryg. “Hierdie mense drink mos tee,” sê sy vir Koekie, “ kom ons gaan maak vir hom ‘n drom vol tee en dan gaan soek ons proviand op Rolbos. Hy vreet soos ‘n bees, maar as hy sò betaal, kan ons hom voer.”

“Hie, hai, Hô, tank you.” Die man sukkel om te praat tussen die perskes deur.

 Drie ure later stop hulle weer voor Kleinpiet se huis en stap na binne met die sakke vol kruideniersware wat hulle by Sammie gekry het. Regte ou Jood wat hy is, het hy die Dollars ook sommer omgeruil teen sy eie wisselkoers.

“Mister Innamoto?” Koekie stoot die agterdeur oop, maar hoor geen antwoord nie. “Helloo?”

“Sê nou ons het hom verloor?” Precilla wonder wat sy met al die kruideniersware gaan doen. “En wat sê ons vir Verster?”

Hulle draf deur die klein huisie. Net Innamoto se tas is nog in die voorhuis – van hom is daar geen teken nie. Die leë parafienblik klink hol as Precilla teen dit stamp. Die twee snap onmiddellik wat aangaan.

Buite, by die klein sinkgeboutjie langs die huis, klink ‘n onaardige kreun op. “Ha-a-a-ai! H-ô-ô-ô.” Daardie deel herken die vroue, maar die res van die woorde is suiwer Japanees en volg in lang ritse mekaar op, geaksentueerd deur ‘n duidelike “sj-ô-ô-ôr, plop!” tussenin.

“Oh, Mister Innamoto, we’re so sorry! Are you oukei?”

Die luide  “sj-ô-ô-ôr, plop!” is al antwoord wat hulle kry, gevolg deur etlike Hai’s en Hô’s.

“Dit help nou nie ons luister na hierdie man se fekale simfonie nie, kom ons gaan wag in die kombuis. Hy maak my naar met daardie Japanees.”

Koekie weet nie wat ‘n fekale simfonie is nie maar verstaan die  “sj-ô-ô-ôr, plop!” goed genoeg om te wil padgee. Oor ‘n koppie tee word die gebeure bespreek, asook die ietwat glanslose toekoms van die Kalahari Spa. Hulle skrik as Innamoto in die deur verskyn met ‘n karton rolletjie in sy hand.

“Papel finished, Innamoto finished. So happy. Tank you.”

“Maar is jy nie kwaad nie?” Koekie is so verbouereerd dat sy Afrikaans praat. Innamoto hoor die sin eindig op ‘n vraagteken, dink ‘n bietjie en loer tersluiks na die leë parafienblik.

“Ah, Innamoto long suffeled with stomach. Keep awake at night. Only way to go, with gambling long houls, waiting fol pooh to come. Look, you fix chop-chop, no tlouble.” Hy vryf met genoegdoening oor die hangvleis waar mens se maag moet wees en wys met sy duime boontoe. “Innamoto stay two weeks. Eat only natulal cookies. Tank you.”

 

Die twee het die distrik deurkruis en elke droë perske opgekoop in ‘n poging om Innamoto se koloniese kaskade op ‘n klimaks te laat eindig. Innamoto word ‘n heerlike gas: soggens perskes, dan ‘n lui stap om die huis, daarna tyd vir sy massering.

Omdat hy so massief is, het hulle die hulp van Platnees en ‘n stepleertjie ingeroep, sodat die lae vet versigtig deurgeblaai kan word en weer in die regte volgorde gerangskik word na die massering. Platnees, met ‘n wysheid wat uit die verskiet van geslagte kom, het met versigtige hande en liters roulynolie die vetrolle gevryf, geknie en gedruk tot die ou groot liggaam kreun van plesier. “Hai. Karimastag. Mô jêh,” beduie die ou van tyd tot tyd,

Smiddae, as hy van die ‘Happy House’ af kom (sy naam vir die sinkgeboutjie), slaap hy tot aandete, wat uit gestoofde perskes en vla bestaan – elke aand. Diè smullekkerte word verorber met die ootmoed van ‘n heilige dis, en die maal word afgesluit met ‘n groot kan tee. Dan is dit weer Happy House toe tot slaaptyd.

 

Drie maande later is daar ‘n brief van Verster wat vra of hulle die Japanese Sumospan kan akkomodeer vir ‘n gesondheidsvakansie. Innamoto dring daarop aan, sê hy.

 Vandag, as jy verby Verlorenfontein ry, sien mens die ry netjiese rondawels, elk met sy eie Happy House en die wit vlag met die rooi kol by die voorhek. Elke jaar, as die perskes goed droog is, stop die bussie met die groot mans aan boord voor die hek. Mense het al navraag gedoen om te hoor of daar nie vir hulle akkomodasie by die Kalahari Spa is nie, maar elke navraag word met dieselfde antwoord gelaat.

“Ons is jammer, maar weens ons jaarlikse restourasie kan ons eers weer mense ontvang na die volgende internasionale groep hier was.” Dis maar net Precilla se manier om te sê die Happy Houses word leeg gepomp en kry nuwe sitplekke.

Op ‘n plek soos Rolbos, vat dit ‘n goeie vyftig weke van die jaar om reg te maak vir die tweeweek lange Happy Storm (soos hulle dit noem).

Kleinpiet kla nie. Sy lusern is die groenste in die omgewing.

Mits dit reën, natuurlik.

 Kleindoom ry met ‘n nuwe Toyota rond en soms, as die vroue so saam-saam besluit oor ‘n volgende projek, kry hul mans koffie – stip om 20h06, soos afgespreek, natuurlik..

3 thoughts on “Kalahari Spa

  1. 68ghia

    Baie van hierdie storie gehou Amos.
    Maar regtig – agitasie? Nou nie dat ek so vooraanstaande skrywer soos jy iets kan leer nie…
    Dis maar net een van die dingetjies wat my onderrok laat kriewel..
    Vergewe my.

    Reply
    1. Amos van der Merwe Post author

      Niks te vergewe nie. Dis hierdie kommentaar wat so nodig is as mens beter wil skryf. Dankie hiervoor – ek sal probeer om die onderrok stil te hou in die vervolg…😉

      Reply
      1. 68ghia

        Ek waardeer dit opreg😉
        Soos die Engelse dit stel – dis my pet peeve!!
        Was al in menigte gevegte hieroor.
        Dankie dat jy verstaan…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s