Die Dooprok

Image“Disse vrou merre verlede.” Tant Hybie se tong sleep sedert die beroerte, maar daars niks fout met die oë nie. “Kykoe loop sy.”

Die drie vroue sit op Hybie se voorstoep – die breë rooi sementraam om die huis wat oom Egbert nog gebou het. Mense sê dis ook wat hom gelaat doodgaan het, want Hybie het so gekerm dat hy die laaste dakspyker ingeslaan het op die heilige Sabbat, net om haar stil te kry. Hybie, soos almal weet, was ‘n ongeduldige mens wat kan torring totdat sy haar sin gekry het – wat verduidelik hoekom Egbert so op die dak bontgestaan het daardie Sondag. As dit nie vir die geneul was nie, sou hy nie op die dak gewees het nie. Nie gegly het nie. Nie afgeval het nie. Sou hy miskien sellfs vandag saam met die drie vriendinne op die stoep gesit het.

Maar dis wensdenkery. Hybie was daar toe hy sy nek morsaf geval het. Dis hoekom sy beroerte gekry het.

Oudoom was baie diplomaties met Egbert se begrafnis: hy het nie ‘n enkele keer verwys na die sewende dag waartydens jy moet rus nie.

Die ander twee kyk hoe die dame die straat afstap. Sy het sopas uit die plat motortjie geklim met die CA nommerplaat, reg voor die nuwe apteek-uithangbord wat reg gespel is. Sy kyk links en regs voor sy instap.

“Jenni Button,” sê Gertruida. Sy het familie in die Kaap en weet altyd alles. Hoeveel meel moet gekry word vir diè jaar se kerkbasaar, hoe ryk Kleinpiet nou eintlik is, of botter beter is as margerine. Alles. Gertruida kom van ‘n gesofistikeerde familie af wat al hogere poste in die regering beklee het – haar een oom was dan ‘n majoor! En haar seun – die een wat so snaaks aantrek met die kaftans – is ‘n kok in Orania. Daar dra hy blykbaar khaki sarongs. Gertruida moes eers vir almal verduidelik verduidelik het wat ‘n sarong is want mense verwar dit so maklik met ‘n rok: dis eintlik ‘n eretoga wat uitgesoekte kokke dra, het sy gesê. Dit het baie indrukwekkend geklink en van die vroue op die dorp het gevra vir ‘n patroon sodat hulle ook sulke klere vir hul seuns kan maak, maar Gertruida het beduie dat hierdie jong mans nie die nodige vaardighede het vir so ‘n groot eer nie.

“Wie? Jimmel, Gertruida, jy ken ook almal!” Hilda Vermaak se man is ‘n paar jaar gelede oorlede en sy sit graag saam met die ander twee op die stoep. Die lewenspolis sorg daarvoor. Snottie Vermaak was altyd versigtig met sy geldjies, veral nadat hy die familieplaas aan Kleinpiet moes verkoop na die besoek aan Rustenburg. Daar het hy in ‘n enkele aand die erwe van sy vaad’re verloor toe ‘n slegte man hom beroof het. Mense het lank gewonder wie die skelm eintlik is, maar Snottie, wat maar sleg aan sinus gelei het, het geweier om te sê. Dis ‘n regte skelm, julle. Ek wil nie eens sy naam sê nie. (snuif) Kom ons noem hom maar Black Jack – dis genoeg. Julle wil (snuif) hom nie ontmoet nie. Los dit nou. Hybie het destyds gesê dit wys jou: dit sou nooit in die Ou Suid-Afrika gebeur het nie. Toe was die Jacks wit…

 “Die rok, mens. Nie die vrou nie.”

Hilda dink ‘n bietjie hieroor. Sy moes nog altyd.

“Het die rok dan ‘n naam?” Dis waarlik vreemd. Vat mense in Kaapstad hul klere na die dominee toe en dan doop hulle die klere? En wie noem jou rok nou Jenni Button as daar nie eens ‘n knoop in sig is nie? Kyk daardie lae hals en die lang bene – Small Wonder sou ‘n beter naam gewees het. “Hoe weet jy, Gertruida, wat die rok se naam is?”

Gertruida ken haar vriendin goed en glimlag. “Dis ‘n snit, Hilda. Dis duur rokke wat oorsee gemaak word.”

Hilda sien die rang rye kleremakers wat met hul maaksels voor die Pous staan waar hy heilige water oor dit strooi – en besluit dis net te veel. Sy wil niks meer weet van sulke heidense gebruike nie. Bid jou aan: dag na dag moet die Pous rokke doop sodat dit met ‘n naam verkoop kan word.

“O,” sê sy, om die onderwerp af te sluit.

“Issie die rokkie.” Hybie vee haar mond met haar goeie hand af. “Dissie loop. Daarie vrou loop verkeerd. Kykoe sit sy haar voere neer.”

Hybie en Gertruida kyk hoe sy haar ‘voere’ neersit maar verstaan nie wat Hybie eintlik sê nie. Gertruida wil nie haar onkunde te kenne gee nie en bly ook stil. Die vrou verdwyn in die apteek in en laat die straat weer eensaam en verlate soos altyd. Hilda help vir Hybie om haar tee te drink terwyl sy wonder oor Jenni Button – wat ‘n dom naam!

 

Precilla kyk op van haar rekenaarskerm as die vrou instap, en vir ‘n oomblik herken sy haar nie. Net vir ‘n oomblik. Sy voel hoe haar hart dawerend in haar keel klop en sy probeer iets sê, maar die skielike droogheid in haar mond laat haar tong verlam teen haar verhemelte lê, soos ‘n haas wat tè lank na die aanstormende ligte van ‘n voertuig gekyk het. Daar kom ‘n punt wanneer dit te laat is om iets te doen. Haar tong, met die insig wat mens nie verwag nie, weier om gehoor te gee aan die opdrag om te skree, te protesteer, te pleit.

“Ek’t jou opgespoor,” sê die vrou, “ dit het lank gevat.” As of dit die natuurlikste gesprek op aarde is. Miskien is dit, as mens mooi daaroor dink; maar dan moet jy seker eers die hele storie ken – iets wat Precilla nie doen nie. Nog nie.

Precilla se mond reageer nog op geen bevele nie, maar haar linkerhand beduie lammerig na die ander stoel langs haar lessenaartjie. Die vrou vou haar romp ewe kuis onder haar mooi bene in as sy gaan sit.

Vir een of ander rede trek die lang, mooi bene Precilla se oog. Glad. Geen spatare nie. Sonbruin. Blink – seker vanoggend room aangesmeer? Dis moeilik om na die gesig te kyk, maar sy dwing haar oë opwaarts, verby die snyerspakkie en die lae hals wat die borste net-net bedek, verby die string pêrels, die ferm ken, die vol lippe en die preutse neus wat afkeurend snuif as sy gaan sit, tot by die bruin oë wat (verbeel sy haarself?)  afwagtend op haar rus. Sy sluk-sluk om die droogheid weg te kry.

“Dit het lank gevat.” Die vrou herhaal die sin. “Maar nou is ek hier en kan ek met jou kom regmaak.” Is dit ‘n oorlogs- of vredesverklaring? Precilla wil ontspan maar haar verstand pleit vir ontsnapping. Sy moet hier wegkom!

“Ag, ontspan nou, Precilla. Dis in die verlede.” Ongeduldig.

Daardie dag. Richard Smuts in sy onderklere. Die deur wat oopbars. Die woede. Die skote. Dit sal nooit in die verlede wees nie. Kan nie. Dis so deel van haar lewe dat sy dit nooit op die rommelhoop van sinnelose ervarings kan weggooi nie. Onwillekeurig gaan haar hand na haar lae buik, waar die litteken skielik begin warm voel, soos die dag toe die bloed deur haar stukkende vel gesypel het.

“Me- me- mevrou Smuts…” haar tong kry lewe, soos iemand wat uit ‘n koma ontsnap: stukkie vir stukkie, terwyl die knoppies op haar brein skakelbord weer na die ‘aan’ posisie geskuif word en die groen liggies weer begin aanflits.

“Ja, Precilla, dis ek. En hou tog in vadersnaam op met bewe. Het jy nie tee of iets nie? Suikerwater?”

Haar regterhand kry lewe en beduie flap-flap na die kombuisie toe. Mevrou Smuts staan op en verdwyn daarheen, kom terug met ‘n glas wat sy met ‘n plastieklepeltjie roer.

“Drink. Dis nie gif nie.”

Altwee hande werk nou en Precilla bewe die glas na haar lippe. Sluk. Sit die glas neer. Kyk afwagtend op. As die genadeskoot nou moet kom, laat dit so wees. Kry dit agter die rug. Verlos my, in hemelsnaam!

“My man het nogal gedink jy’s oulik. My gewese man, dit is. Al daardie vakansies en naweke. Kan nou nie eintlik sien wat hy nogal in jou gesien het nie, maar nou ja.” Mevrou Smuts staan weer op as die ketel in die kombuis begin raas en Precilla kry geleentheid om diep asem te skep. Dit help nie sy druk die paniekknoppie nie – die batterye is lankal pap. Die telefoon staan langs haar, maar wat gaan sy nou sê as sy vir Sersant Dreyer bel? Mevrou Smuts, die een wat my destyds geskiet het toe ek by haar man geslaap het – wel, sy is besig om vir ons tee te maak?

Die stilte druk teen Precilla se bors as hulle twee weer vir mekaar sit en kyk. Meganies, as of hulle die bewegings geoefen het, word die teesakkies uit die koppies gehaal, die brousels geroer en neem hulle saam-saam die eerste sluk – terwyl hulle mekaar stip in die oë kyk.  Mevrou Smuts glimlag. Sy’s eintlik mooi,dink Precilla. Die tee is soet en sterk en haar mond voel beter.

“Wat het gebeur?” Wat ‘n dom vraag, dink Precilla. Van alles wat ek wil weet, is dit nou die eerste vraag wat ek vra. Natuurlik weet sy wat gebeur het. Die maande wat sy self in die hospitaal deurgebring het met sakkies en pypies. Die verklarings. Die regter wat self haar getuienis kom afneem het in die saal. Die koerantmanne en die foto’s.

En Mevrou Smuts wat lewenslank tronktoe gestuur is vir die doelbewuste moord op haar man – ‘n moord wat sy koudbloedig beplan het oor ‘n periode van ses weke, die pistool wat sy by ‘n dwelmhandelaar gekoop het, die kamersleutel wat sy by die skoonmaker gekry en gedupliseer het en die vlug na Botswana waar sy gehoop het om weg te kruip tot al die bohaai bedaar het. Haar planne het pragtig uitgewerk, behalwe vir die Japanese geheue-spesialis wat sy beursie in die kamer langsaan vergeet het.

Dit was hy wat haar in die gang sien afhardloop het na die skote; en dit was hy wat ‘n haarfyn beskrywing van die vlugtende vrou aan die polisie verskaf het. Dit – en die feit dat Precilla nie dood was, soos sy gedink het nie – het die saak vir die Staat waterdig gemaak en gesorg dat Mevrou Smuts verander het van ‘n sosiale vlinder na ‘n tronkvoël.

“Ek mòèt regmaak, jy sien,” die netjiese vrou sit haar koppie doelbewus neer, “en jy ook. Ek is tronk toe want jy het verkeerd gedoen. As dit nie vir jou was nie, sou dinge anders uitgewerk het.” Mevrou Smuts sug. “Maar dit was lank gelede.”

“Ek dog –  ek’t gedink –“

“Dat ek nog in die tronk sit?” Die lag is amper-skor, soos wat jy doen as jy ‘n belastingaanslag kry. “Nee, Precilla, dis die nuwe Suid-Afrika. Menseregte, vroueregte, oorvol tronke. My advokaat is ‘n baie slim man. Dit was eintlik maklik: ek maak ogies vir ‘n bewaarder, lok hom uit, kla oor seksuele teistering. Klein bandmasjientjie onder my kussing. Konstitusionele hof. Staat skik vir drie miljoen Rand en ek stap ‘n vry mens uit. Vonnis lewenslank opgeskort, maar ek sal mos nie weer iemand skiet nie?” Die vraag hang onnodig in die lug, koggel en terg vir ‘n oomblik.

“In die tronk het ek baie gedink. My advokaat het in jou verlede gaan soek, uitgevind dat jy ‘n gesellin geword het om jou studies te betaal. Dat jy ‘n weeskind was wat op jou eie vermoëns moes staatmaak en hoe hard jy gewerk het om beurse te kry.

“Hy het vir my ‘n ander prentjie van jou laat sien. Ek kon nie meer kwaad wees nie. En toe hoor ek van die gevolge van my skietery – en die operasies wat jy gehad het. Toe het ek besluit: die eerste geleentheid wat ek kry, sal ek kom sê ek verstaan. Dis nie vergifnis nie – dit moet jyself onderhandel met wie ook al jy in glo. Maar ek verstaan.”

Die dakplate kraak met die laatoggend hitte en ‘n verdwaalde stofduiweltjie soek-soek pad in Voortrekkerweg af.

“Ek is…ek is jammer,  Mebrou Smuts. Regtig.” Die woorde kom sukkel-sukkel uit. “Richard, wel Meneer Smuts, was goed vir my. Ek het geweet dis verkeerd, maar hoe moes ek dit stop? Dit was ‘n draaikolk wat my net dieper en dieper ingesuig het. Ek was jonk en dom en het gedink alles sal regkom as ek eers my graad gekry het, dan sou ek verdwyn. Of hy sal iemand anders kry. Hy was gek na naiewe meisietjies wat vir sy sjarme geval het. Ek het geweet ons verhouding sal nie vir altyd hou nie.” Haar woord-trein tel spoed op noudat die bult verby is. Die woorde rammel nou uit in gelid, wil nie meer gestop word nie. “Maar ek het geweet van jou. Jammer gevoel. Maar toe was dit te laat en ek wou so graag glo dat dit diè verhouding is – die een waaroor jong meisietjies droom.

“Ek was so kwaad vir jou! Toe daardie regter my getuienis in die saal kom afneem, was dit net nadat ek my – my vroulikheid verloor het. Ek het geweet ek sal nooit kinders van my eie kan hê nie. Daar is niks erger as ‘n kinderlose wesie nie. Jy’s soos ‘n vuil kol op ‘n skoon stuk papier. Jy hoort net nie daar nie. En wat ek ook al gedroom het, is saam met my organe uitgehaal.

“En toe het ek gedink dis my eie skuld, my eie straf, wat ek oor my gebring het. Verdiende loon, as jy wil. Toe kom begrawe ek myself op Rolbos om hier niemand te wees en waar niemand omgee nie. Dit het goed gewerk, tot Kleinpiet toe.” Die treinwiele skop skielik vas, bring die woordtrokke tot stilstand. Hierdie vrou kan soveel skade doen!

“Ek weet van Kleinpiet, Precilla.” Die stem is kielik sagter, vriendeliker. “Die advokaat – jy weet? Deeglike, wonderlike man. Hy’t oneindig moeite gedoen om van jou uit te vind. Alles.  En dis wat ek eintlik kom doen het. Ek wou net kom sê…” Skielik is die selfversekering weg en dis Mevrou Smuts se beurt om te huiwer. “ Wel, as ek beter na Richard gekyk het, was hy miskien vandag die rykste man in Suid-Afrika. Ek moes maar net na sy stories geluister het en gesê het hy’s wonderlik. Ek moes net ‘n vrou vir hom gewees het. Ek was nie. Ek wil net hê jy moet dit weet.”

Precilla kyk met nuwe oë na die vrou wat voor haar sit. Sy sit haar hand op die gladde, bruingebrande knie neer.

“En u, Mevrou Smuts, wat gaan van u word?”

“Ag, jinne, mens! Ons tronkvoëls kan nie ge-u word nie. My naam is Renè. En as ek hier wegry, gaan jy my nie weer sien nie. Ek wou net hierdie ding vir altyd kom begrawe. Ons het altwee so baie verloor. Ons skuld dit vir mekaar om te verstaan…”

“Ek verstaan, Mevrou Smuts.”

“Regtig?”

“Ja, Renè.”

Precilla loop saam met Mevrou Smuts deur toe, gee haar ‘n drukkie en sè dankie.

“Renè?”

“Ja?”

“Dis die advokaat, is dit nie?”

Die blos sprei stadig oor Mevrou Smuts se wange as sy knik, oë blink in die helder son van Rolbos.

“En hy’s is getroud, nè?” Sag, want sy verstaan.

Die blink oë knip-knip die trane weg. Dan draai sy vinnig om en stap na haar voertuig toe.

 

“Siejulle? Dis haar voere. Kykoe loop sy.”

Gertruida kyk. Hilda hou haar hand bo haar oë om die son af te skerm.

“Wonner wa’sy kom koop het.” Hybie leun vorentoe dat Hilda die spoegies van haar ken moet afvee.

“Miskien het sy iets kom afgee. Ek het nie gesien dat sy ‘n pakkie dra met die uitkomslag nie.” Gertruida kyk meerweterig na die twee vriendinne.

“Ek weet darem nie. Sy het moeg gelyk toe sy in haar kar klim.” Hybie en Gertruida kyk verbaas na Hilda. Van wanneer af is sy sò oplettend? “Dis seker daai rok se skuld. Grootmense soos sy moenie met ‘n dooprok rondloop nie. Dis nie gesond nie.” Ouma Griesel het altyd gesê mens moet mooi dink oor name – kinders word die naam wat hulle kry. Hilda Vermaak het dit nooit verstaan nie.

“Hoe weet jy?” Getruida vra want sy verstaan nie.

Hilda bly stil.

“Dis haar voere.” Hybie is beslis. “Jy kan sien haar verlere ga’ nog haar toekoms inhaal.”

Die plat motortjie maak ‘n u-draai in Voortrekkerweg en ry terug na waar Mevrou Smuts vandaan gekom het, daar waar haar toekoms wag. In die deur van die Apteek draai Precilla om en gaan sit by haar rekenaar. Naarstigtelik soek sy die lêer in haar dokumente.

As sy ‘Richard Smuts’ kry, druk sy die delete knoppie, staan op en gaan was die koppies. Kleinpiet sal nou-nou hier wees.

2 thoughts on “Die Dooprok

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s