Die Boerpot

Noudat Sammie sy Lotto masjien vir sy neef op Upington gestuur het – dis nou die man met die kafee langs die drankwinkel – en Servaas met ‘n simpel glimlag rondloop van oggend tot aand; kan Rolbos die konflik van flussies eenkant toe skuif en weer ‘n rustiger pas handhaaf.

“”Ons het lanklaas partytjie gehou. Ek bedoel ‘n rêrige een, met krismishoede en kersies musiek. Onthou julle hoe ons altyd na die ou bande geluister het in die verlede? Dit was regte opskop-dae.” Kleinpiet teken ‘n glimlag-gesiggie op die toonbank en sit sommer ‘n spitshoed by. “Ek meen, noudat Oudoom weer uit die Nuwe Testament preek, kan ons seker maar ‘n bietjie ontspan?”

“Iemand moet verjaar om hierdie tyd van die jaar partytjie te hou. Kersfees en Nuwejaar is nog ver.” Vetfaan is altyd prakties met hierdie goed. “Vra vir Gertruida, sy sal weet wie tel nog ‘n jaar by in hierdie tyd.”

As Gertruida instap, is dit vir haar snaaks dat die manne haar met soveel entoesiasme verwelkom. Dis nou nie dat hulle gewoonlik afsydig is teenoor haar nie, maar vandag word haar stoel vir haar uit getrek, ‘n bier in haar hand gestop en gevra hoe dit met haar gaan.

“Wat wil julle hê?” Sy weet mos…

Sy hoef nie lank te dink nie. “Onthou julle vir Linda…ek vergeet nou haar van  Hurter of Hunter of so iets? Woon mos op Grootdrink deesdae – ons het haar by die kerkbasaar gesien…oulike vrou.  Sy’s die meisie wat so lekker kon gesels oor haar grootwordjare in Rhodesië. Ek is seker sy verjaar in hierdie tyd. As Kleinpiet weer gaan diesel haal, kan hy gaan uitvind.”

Soos altyd, is Gertruida in die kol. Die Grootdrink vrou word dou-voor-dag opgelaai en toe die son opkom, sluit Boggel sy Plek oop as die bakkie in Voortrekker Weg afry. Servaas en Hybie het hoedjies gemaak; die eerstes was besonder mooi, maar soos die tyd aangegaan het, het hulle haastig geraak om meer met mekaar doenig te wees as met die tooisels. Sommige hoede is meer vierkantig as rond. Maar Gertruida sê niemand sal dit agterkom na die tweede Cactus Jack nie. Vetfaan en Precilla help vir Boggel om die glasies mooi in ‘n ry te sit en Boggel skink vir die vale om almal vol te kry voor Kleinpiet, met Linda aan sy sy, die deur oopstoot.

Sammie, in sy diep bas stem, sit in, en daar word Hêppie Birfdei lustig gesing as die verbaasde vrou, skamerig vir die spul aan die begin, die ereplek langs die bandspeler inneem. Heel gou word die glasies aangegee en word daar kopstukke gesels.

“Nou wat van musiek? Ons moet musiek hê.”

“Laat sy kies – daars ‘n hele hoop bande.”

Die vrou van Grootdrink sorteer die bande versigtig volgens die kunstenaars. Dan, skielik, huiwer haar hand by ‘n spesifieke band. “Hierdie een, asseblief Boggel. Dis een van my gunstelinge.”

http://www.youtube.com/watch?v=v4CWgQQGyr4

“Maar dis so hartseer,” sê Kleinpiet, “dis nie eintlik ‘n partytjie-liedjie nie, is dit?”

Maar Gertruida – wat alles weet – skud haar kop. “Dis perfek vir vandag. Daar is ‘n bietjie hartseer in elke verjaarsdag, nes daar ‘n tikkie vreugde is om na ‘n nuwe jaar uit te sien. Elkeen van ons, as ons terugkyk, sal wonder wat van al ons jare geword het – die lekker en die minder smaaklik en die lag en die trane. Dit is, as mens mooi daaraan dink, die bousteentjies wat ons gemaak het wat elkeen van ons is.”

Vrede loop sy slentergang tussen die mense deur en kom sit sy groot kop op die vrou se skoot neer. Hy kèn van swaarkry en bederf, mens kan dit in sy oê sien. As Kleinpiet die Beatles se All you need is Love, opsit, swaai hy sy sterk ritmoes op die maat van die musiek.

Die dag word die partytjie waarop Kleinpiet gehoop het. Vòòr twaalf word daar geskoffel dat die stof so staan. Oudoom wou kom kla, maar ook sy gemoed is gesus deur die Cactus Jack wat sommer so in sy hand beland het.Vir middagete is wors gebraai in die konka agter die kroeg, en teen aand-se-kant ry die hele klomp Grootdrink toe om haar af te laai. Op pad terug, stop Vetfaan by die kafeetjie vir koeldrank en droë wors. As hy meer opgelet het, sou hy die laaste eksemplaar van Die Burger opgemerk het, daar waar dit langs die Huisgenoot lê. Maar al sou hy die koerant gesien het, is dit te betwyfel of die hoofopskrif sy aandag sou getrek het.

Wie gee nou om as ‘n kafee-eienaar van Upington die boerpot met die Lotto gewen het, as jy sò lekker kon kuier? Geld kan nie sulke goed koop nie

2 thoughts on “Die Boerpot

  1. 68ghia

    Baie mense sê hulle verjaarsdag is net nog ‘n dag.
    Ek weer, vier elke jaar my verjaarsdag. Dis die een dag in die jaar wat net aan my behoort, en ek SAl myself vier, selfs al wil niemand anders dit saam met my doen nie😉
    En daai song – was net lieflik😉

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s