Precilla en Kleinpiet: Die Voorgeskiedenis

(Die verhaal van hoe Kleinpiet uit sy dop gekruip het) 

Precilla Pretorius is ‘n mooi mens. Vra maar vir enige man wat by haar klein aptekie ingestap het vandat die werkers die ou Kafee op die uithangbord doodgeverf het en toe Aptek daaroor gespel het. Die tweede ‘e’ wou nie inpas in die spasie nie en om die letters kleiner te maak, sou die impak verminder het. Niemand het gekla oor die spelfout nie want almal was bly dat daar uiteindelik ‘n plek was om pille te koop. En die feit dat Precilla so ‘n fyn mensie was, het gehelp om die besigheidjie aan die gang te hou. Sy was, het oom Servaas gesê, nie ‘n oil painting nie, maar darem ook nie tè onaansienlik nie. Haar drag het mense laat praat: hoekom sou ‘n vrou, so in die fleur van haar lewe, sulke vormlose jeans en los truie dra, veral as dit so hoogsomer is? Dis al as of sy haar lyf wil wegsteek onder die lae klere – en dis miskien hoekom die apteek die enigste gebou met lugreëling op die dorp is. Selfs Oudok se spreekkamer volstaan met die vensters wat die warm lug binne die kamers ruil vir die warm lug buitekant. En sy dra nooit juweliersware of grimering nie – wat ook mos ‘n onderwerp vir gesprekke is.

Kyk, Rolbos se mense word nie jonger nie. Daar is suikersiekte, jig en bloeddruk net waar jy kyk. Oudok het met sy gemoedelike geaardheid – stil soos hy was – oor almal se ‘kondisies’ geheers en probeer om die bevolkingkie so gesond moontlik te hou. Die feit dat mense soos Servaas weer spekvet en gesond op straat gesien word, word wel toegeskryf aan Kleindoom se vurige gebed, maar Oudok het hom darem lewendig gehou tot die Doodsengel finaal besweer kon word. Was dit nie vir Oudok se kundigheid nie (het die mense gesê), sou Kleindoom se gebed te laat gewees het.

Precilla sit gewoonlik voor haar rekenaar as mens by die apteek instap. Hierdie nuwerwetse masjien het Rolbos se mense laat besef sy is nie sommer ‘n gewone apteker nie. Iemand wat ‘n rekenaar kan werk, moet hooggeleerd wees. Dit was egter nie lank nie, of mense het begin wonder wat, presies, sy op die ding te doen het nie. Is rekenaars nie deel van Daniël se twee horinkies nie? En as dit is, dan is Precilla mos deel van die Verdoemenis wat oor die dorp uitgespreek sal word met die Wederkoms.

En dit, het die mense gesê, is nie ‘n goeie ding nie.

Tog, almal het die keuse gehad om tussen hierdie uiteenlopende gevoelens te besluit of die apteek regtig ‘n seëning van Bo is, of die Verdoemenis van die Bose verteenwoordig. En vandat die grondpad Grootdrink so verspoel het drie jaar gelede, is dit darem ‘n geweldige tog om daar te gaan medisyne koop. Dit, en die feit dat Precilla jou toegelaat het om op die boek te koop – iets wat in die grote stad van Upington onmoontlik is – het die gewetensbesware laat verdwyn as die koppe seer word of die knieë alweer opgeswel het.

Kleinpiet – wat nie waffers klein is nie, maar sy naam daaraan te wyte het dat Grootpiet jare gelede hier gebly het voor hy deur die perd geskop is – bly alleen op sy plaas buite die dorp. Die perd-storie was ‘n affêre waaroor die dorp vir ‘n lang tyd gepraat het, en Groorpiet het maar uiteindelik getrek omdat hy nie die gepratery kon verdra nie. Om juis daar geskop te word en dit tydens die skou! Ten aanskoue van die hele dorp, nogal. En Grootpiet wat dubbeld vou en Oudok wat daar, voor almal, steke moet insit sodat die goed nie droog word van die ontbloting nie. Maar dis ‘n ander storie vir ‘n ander dag.

Kleinpiet is een van die meer vermoënde boere in die omgewing, met twee plase en ‘n skaaptroppie wat gesorg het dat sy woltjek elke jaar mense na hul asems laat snak. Enige boer – en daar is nie baie van hulle nie – wat met ‘n wins kan boer in die distrik, word as vermoënd beskou, en Kleinpiet is in ‘n liga van sy eie.

Die klompie vroue wat nie getroud is nie (en ‘n hele paar wat is) het al ogies vir die ronde mannetjie gemaak, maar vir een of ander rede het hy verkies om alleen op sy grond te bly en net aan te hou boer. Nou al by die veertig-jaar-merk verby, met grysblou oë en ‘n klompie laglyne oor sy bolwange, bly hy steeds ‘n manlike kersvlam wat die vroumotte van die omgewing trek, ten spyte van sy afsydigheid.

Behalwe Precilla, wat oënskynlik net so gelukkig is om haar eie ding te doen en nie daarop uit is om ‘n man te vang nie. In haar apteek doen sy besigheid en saens verdwyn sy in die klein woonstelletjie agter die winkel. Sy kom soms kerk toe, en dis ook al. Mens sou nie vir Precilla as ‘n sosiale vlinder beskryf nie.

Sy kyk half-geïrriteerd op as Kleinpiet instap, voorskrif in die hand. Hemel weet, sy het die besigheid nodig, maar sy was nounet op ‘n punt in haar internet-soektog en sy wil nie graag die skerm los op die webwerf waar sy tans is nie. Die mense sal begin wonder… Met ‘n flink beweging van haar slanke vingers sluit sy die program. Sy sal maar net weer later moet aangaan.

“Het jy diè goed?” Kleinpiet is maar sò: dinge moet gedoen word. Hy het nie tyd vir nonsens nie en simpel gesprekkies oor die weer en Servaas se herstel is net ‘n mors van tyd. Hy moet terug plaas toe om die skape te dip.

Precilla vat die voorskrif sonder ‘n woord en kan nie ‘n glimlag keer nie. “Het jy dan nou vrou gevat, Kleinpiet?”

Kleinpiet is skoon uit die veld geslaan.

“Nee.” Vir wat sal die vroumens nou vir hom staan en kwaad maak. Hy het haar niks gedoen nie. Nuuskierigheid, daardie prikkel wat al so baie moeilikheid veroorsaak het, kry nogtans die oorhand: “Hoekom?”

Dis Precilla se beurt om ongemaklik te wees. “Wel, dis net gewoonlik Oudok wat diè pille gebruik. So met Lola en so. Jy weet mos?”

Kleinpiet is steeds vies en hy kan g’n sin uit die gesprek maak nie. Wat het Oudok en die jonge, mooie, slanke, fraaie Lola hiermee te doen?

“Wat probeer jy sê?”

“Wel. Um. Er. Aah. Dis daai klein blou pilletjies, jy weet mos, man?”

Iewers  klik ‘n gedagte in plek. Blou pilletjies. Ou man, jong vrou…

Daai blou piletjies? Gee hier, la’k sien.” Hy steek sy bruingebrande hand uit en neem die voorskrif terug. Oudok se handskrif is maar soos ‘n dokter s’n, maar daar staan duidelik, in drukskrif, ‘Viagra’.

“Magtag. Wag. Ek sal later terugkom.”

Daarmee storm Kleinpiet by die deur uit. Precilla kyk die wikkelboude agterna en wonder of sy nie nou die verkeerde ding gesê het nie. Dan steek sy ‘n sigaret op, waai die rook weg met ‘n ongeduldige hand en gaan sit weer voor die rekenaar.

Weer, in die middel van haar soektog, kom Kleinpiet uitasem terug met ‘n voorskrif in die hand.

“Oudok sê askies. Wat die hart van vol is, en so aan, jy weet? Hy het ‘n laat aand gehad gisteraand. Gesê hy’t net verkeerd geskryf. Hy’t bedoel Valium. Ek slaap sleg.” Dis ‘n onnatuurlike lang gesels vir Kleinpiet. Hy’s haastig en wil nie nog ginnegaap nie, maar wil ook darem nie hê die dorp moet dink sy stoetdae is verby nie.

“Die oukei, Kleinpiet. Ek verstaan. Oudok maak partykeer so as hy moeg is – skryf verkeerde goed voor, bedoel ek. Ek wou nie in jou privaatsake inmeng nie.” Sy kyk verskonend na die breë skouers en glimlag skeef. “Ons maak seker maar almal foute.”

Kleinpiet dink aan die keer toe hy vergeet het om die hek toe te maak en die poslorrie twee van sy skape doodgery het. Toe het die Poskantoor hom nog hof toe gevat vir saakbeskadiging en nalatigheid en sy hele woltjek vir daardie jaar was daarmee heen.

“Is so. Ek het ook al.”

“Ek kan dit nie glo nie, Piet.” Sy spot ‘n bietjie en hy merk op sy het die ‘klein’ deel van sy naam weggelaat. “Jy’s dan so suksesvol?”

“Geleer uit my foute.” Hy staan ongeduldig rond en wag dat sy die pille aftel.

“En dis hoekom jy nie vrou vat nie?” Precilla is ‘n bietjie aspris en sy weet dit.

“Groot fout, lank gelede. Nooit weer nie.”

Aangemoedig deur sy ontboeseming, probeer sy verder uitvis: “Toe jy nog jonk en onervare was?”

“Ja.”

“En die meisie het jou hoog en droog gelaat en verdwyn met iemand anders?”

“Ja. Gee die pille.”

“Ag komaan, Kleinpiet. Ek terg net ‘n bietjie. Ons het almal ‘n lang lys teleurstellings.”

“Jy ook?”

En so begin ‘n gesels wat later die storm veroorsaak het. Miskien was Precilla die eerste mens wat ooit braaf genoeg was om in Kleinpiet se verlede te delf of miskien was dit die nuwe parfuum-monstertjie wat sy vanoggend met delikate beweginkies langs haar nek aangestryk het, maar tot haar verbasing sleep Kleinpiet ‘n stoel nader en vra/beveel: “Vertel. Ek wil weet.”

Precilla begin by die begin. Van haar liefde vir haar standard 8 juffrou en die skandaal wat daarna gevolg het. In die nuwe skool was dit die onderhoof. Daarna, op universiteit, was dit die seun van Professor Kriek, ‘n fantastiese atleet en ‘n briljante jong seun – in standard 6. Toe, die finale spyker in haar liefdesdoodskis, die verhouding met Richard Smuts, die mynmagnaat van Rustenburg. Dit was naweke by Sun City, ‘n bootreis na Bazarutu en ‘n idilliese vakansie in die Bahamas; tot mevrou Smuts eendag by die hotelkamer ingestap het met ‘n pistool en ‘n slegte bui.

Sy kyk op: “Is dit genoeg foute vir een mens?” Hoekom het ek nou al my geheime gaan staan en uitlap? Ek wou hom ongemaklik maak, nou sit en vertel ek al my stories. Kleinpiet merk die traan op wat oor die blosende wang rol en iets binne hom gee mee.

“Jammer.” Hy strek en vee met ‘n dik vinger die traan af. “Myne is erger.”

“Dan moet jy vertel, Piet, ek het jou nou soveel skindergoed gegee, die dorp sal my kan kruisig. As jy nie my jou storie vertel nie, kan ek jou nie vertrou nie. Dan sal ek…sal ek…jou moet doodmaak. Verkeerde pille gee, of iets.” Sy lag verbouereerd. “Nie regtig nie, hoor?”

Kleinpiet lag saam. Dit voel goed. Hy het lanklaas gelag.

“Nie baie om te vertel nie. Meisie op die paal gesit. Sy wou nie trou nie. Loop toe weg. Nooit weer gehoor nie.” Hy sit terug, gedaan van die inspanning van die onthou.

Dis haar beurt om ‘jammer’ te sê.

Sy oog val op die skerm van die rekenaar: die tuisblad van Tygerberg se Infertiliteits Afdeling met kontaknommers en ‘n advertensie vir kondome. Dis stil vir ‘n rukkie terwyl altwee na die skerm staar.

“Infertiel?” Kleinpiet vra as of dit die natuurlikste ding is.

“Mmm. Die een skoot het my hier getref.” Sy lig haar bloes op en beduie na die  litteken onder haar naeltjie. “Net daar. Hulle moes alles verwyder.” Ek kan hom maar netsowel alles vertel, wat de hel. Ek moet een of ander tyd die storie deel. “Richard was nie so gelukkig nie.”

Daardie aand ry Kleinpiet al die pad terug dorp toe en gaan klop aan die deur van die klein woonsteletjie agter die apteek.

“Ek is hier,” sê hy as of dit nodig is.

Sy het gesit en lees, merk hy op. ‘n Dik boek met ‘n leeromslag. ‘n Halwe glas wyn staan op die tafeltjie en sy beduie daarna; hy knik en gaan sit.

“Ek kan nie. Na die meisie weg is, kan ek nie meer nie.” Hy vat die glas wat sy aanbied en sug. “Jy ook nie.”

Precilla gaan sit en vou haar voete onder haar in. “Daar is ‘n verskil Piet. Jy kan nog kinders hê as jy wil. Ek kan nie. Dit help nie eens dat ek hoop op iets nie.”

“Ek kan nie. Die ding werk nie meer nie.” Dit klink as of hy van ‘n stukkende ratkas praat. Hy drink die wyn met een teug en sit sy glas neer. “Ek wou net kom sê het. Ek verstaan.”

Precilla druk hom saggies terug in sy stoel as hy wil-wil opstaan. “Ek het ‘n lamsboud in die oond. Eet eers, dan kan jy ry.” Kleinpiet protesteer halfhartig. Hy het nog nie geëet vandag nie….

Met horte en storte begin die geselskap terwyl hulle wag vir die boud. Die wynbottel sak vinnig en Kleinpiet se sinne word langer. Teen die tyd dat sy die volgende bottel oopmaak, staan Kleinpiet half-gebukkend by die oond en gooi nog water by die boud.

“Die ding gaan droog wees. Water sal help. Los hom nog ‘n bietjie.”

Wyn, sò sê party, word in verskillende soorte bottels gesit. Soms lê baklei in die laaste bietjie, soms wag liefde geduldig dat jy die kurk uittrek. Mens moet altyd versigtig wees dat jy die regte bottel oopmaak op die regte tyd. Precilla, wetend of nie, het reg gekies.

“Piet,” sê/vra sy halpad deur die volgende een, “dink jy nie jy sal kan regkom as jy weer probeer nie?”

“Te bang. Swangerskap maak nie mooi nie.”

“Maar as jy nou sou probeer,” hou sy aan omdat sy sien hy’s ontspanne en gemaklik, “sê nou met iemand wat nie kan swanger word nie?”

Die impak van haar vraag tref hom terwyl hy sluk en hy verstik. Hoes-hoes sit hy sy glas skeef neer en sy gaan haal ‘n skoon vatdoek. “Hiert. Jy’t my laat skrik.” Hy voel haar warmte langs hom as sy die tafeltjie skoonmaak.

Vir ‘n ruk sit Kleinpiet na sy skoenpunte en kyk voor hy iets sê.

“Te lank gelede. Sal nie moed kan bymekaarskraap nie.”

Sonder ‘n woord staan sy op en stap by die deur uit. Kleinpiet hou ‘n hand op om haar te keer, maar sy’s al ingesluk deur die donker teen die tyd dat hy die voordeur bereik. Ja, Kleinpiet, jou stupid drommel. Dit het jy daarvan om so eerlik te staan en wees. Nou’t jy die hele aand bederf. Plaas loop jy lankal, maar sit wil jy mos sit! En vir wat praat jy diè goed met die meisiekind? Vir wat?

Dan kom sy terug, hou haar hand uit en hy sien die blou pilletjie in die holte van haar hand lê.

“Poeding,” kondig sy trots aan.

Die verwers wat Aptek verander in Apteek op ‘n nuwe uithangbord is vroeg-vroeg die volgende Maandag daar. Hulle doen netjiese werk en teen die middag is die hele straatfront van die geboutjie netjies oorgeverf. Precilla vertel vir haar kliënte dat dit tyd was om die plekkie beter te laat lyk en sommiges het haar selfs geglo ook; maar almal het opgemerk dat sy, vir die eerste keer, lipstiffie dra. 

Oom Servaas sit ook deesdae gereeld op sy stoep as sy straat-af stap om by ou Sammie se winkel kruideniersware te koop. Sammie sê sy moet ‘n geweldige eetlus hê, want soveel groente en vleis het hy nog nooit aan ‘n enkel mens verkoop nie. Servaas voel natuurlik vere vir Sammie se winsgrens: hy wil het daardie netjiese lyfie in die noupassende, ligte rokkies sien.

Hy is miskien die enigste mens in die hele wêreld wat bid dat die wind bietjie waai – en dis nie om die dorp af te koel nie, maar om die ou kole wat nog vir oulaas in sy binneste smeul, aan te blaas.

Kleinpiet, weer, het ‘n heilige respek en waardering vir die mediese wetenskap ontwikkel. Dat sò ‘n klein pilletjie soveel kan vermag, is niks anders as fenomenaal nie. Alhoewel hy ‘n bietjie geskrik het vir die effek van die medikasie, was dit gou duidelik dat hy (ronde lyf en al) nogal heel atleties kan wees as hy wil. Precilla het net saggies tussen haar tande deurgefluit soos ‘n werktuigkundige wat sopas ‘n stukkende ratkas herstel het, en besef dat mens ‘n versigtige voet op die koppelaar moet hou sodat die enjin nie te swaar trek nie.

“Ek weet nie hopekom noem hulle jou Kleinpiet nie, skat, dis totaal onvanpas,” het sy met ‘n ietwat histeriese giggel gefluister voor sy seker gemaak het die gordyne is styf toegetrek.

Soos wynbottels, kom ratkaste in twee soorte: die een tipe het ‘n manier om gou-gou die gees te gee terwyl die ander soort jare en jare se goeie diens gee. Precilla het, wetend of nie, ‘n goeie keuse gemaak.

One thought on “Precilla en Kleinpiet: Die Voorgeskiedenis

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s