Boggel se Koffie

Party mense gee hulle kinders snaakse name. Mens is nie atyd seker hoekom nie en in later jare sukkel ouers om vir hul kinders te verduidelik hoekom ‘Ossewania’ of “Longtom” gedoop so oulik was, maar op die oomblik van naamgee het dit sekerlik maar mooi geklink. Dis seker verstaanbaar dat pa’s en ma’s weggevoer word tydens een of ander wêreldgebeurtenis en dat hulle dan voel hul kind sal graag daardie stukkie geskiedenis in die toekoms wil indra. Partykeer is dit darem ‘n ongelukkige keuse en vertoon die ouers hul gebrek aan insig. Ouers met vanne soos Pannevis, Hoogenboesem en Kraamwinkel dra sekerlik by tot hierdie fenomeen, maar name soos Langkloof Labuschagne en Disselboom de Bruyn het waarskynlik ‘n klein kans om in  die geslagte aangegee te word.

Ander ouers is net plein lui. Vat nou maar vir arme Sersant Dreyer. Dewet Vanschoor Dewaal  Vanniekerk Dreyer. Vier boeties in daai gesin en almal dieselfde gedoop. Dieselfde doopbybeltjie is vir hul almal gegee, net met die verskillende datums versigtig ingepen. En so het Dewet, Vanschoor, Dewaal en Vanniekerk maar gedink alle gesinne werk so: alhoewel jy dieselfde gedoop is as die ander spruite in die huis, sal Pa duidelik ‘n onderskeid tref tussen Dewet (soet seun) en Vanniekerk (onhebbelike klein kwaaddoener).

Toe Dreyer begin hare groei op areas wat voorheen kaal was, het hy hewig in opstand gekom teen die feit dat hy ‘n badkamer en ‘n identiteit deel met drie ander. Een kan nog gaan, maar altwee…! Op sy een-en-twintigste verjaarsdag het hy Pretoria toe geryloop en self by Binnelandse Sake sy voorname gaan skrap. Alhoewel die klerk agter die toonbank dit vreemd gedink het, het hy twee maande later sy identiteitsboekie ontvang: Dreyer Dreyer. Hy het dit dan ook goed gedink om hierdie stukkie inligting sommer daar en dan met die familie te deel , waarop sy bejaarde vader sy klere geskeur het en met as op sy kop rondgeloop het.

“Hoe kon jy? Jy het met een onbesonne daad vir Oupa Van Niekerk skoon uit die familie gedryf. Ek weier om jou Dreyer te noem – jy sal Vanniekerk bly.”

Dreyer het hard probeer om gemoedere te kalmeer. Daar was darem nog drie Vanniekerks, het hy uitgewys, en ‘n mens se oupa bly jou oupa, al sê die staat wat. Die boeties het gedink hy is ongevoelig, maar sy ma het hom daardie aand eenkant toe geroep en ‘n drukkie gegee. “Jy kan dit mos maar altyd weer terug verander as jy so voel, my kind. Oupa was iedergeval Dreyer Van Niekerk, so hy sal seker verstaan. Dreyer Vanschalkwyk Petronella Van Niekerk, staan voor in die Familiebybel. Ek dink hy was bly hy was nie die derde seun nie…”

Kort daarna het hy die kursus by die Polisiekollege voltooi en toe gesorg dat hy sover as moontlik van sy tuisdorp gestasioneer word. Sy moeder het snikkend geroet en hier sit hy steeds: twintig jaar lank die polisieman op Rolbos. Almal ken hom as ‘Dreyer’ en niemand vra oor sy doopseël nie. Kleinpiet – na ‘n lang sessie met Boggel – na hom verwys as Dopdreyer, maar na ‘n nag in die sel het hy wyslik besluit die Sersant is nie een vir byname nie; en Dreyer het Dreyer gebly.

Dreyer is gewoonlik ‘n pynlik netjiese man wanneer dit by tuinwerk en glasmerke op ‘n kroegtoonbank kom. Die blommetjies is altyd versorg en Boggel gee sommer al ‘n lap aan as hy instap. Daar is niks verkeerd met sy kreatiewe brein nie, sê Gertruida, dis die anderkant wat raas. In die polisiekantoor blink die toonbank en al die stoele is netjies gerangskik vir die ouens wat op Oujaarsdagaand kom kla oor die geraas in Die Township. (In die ou dae was dit Die Lokasie, maar Servaas het besluit om saam met die tye te verander.) Gedurende die res van die jaar gebeur maar min, met die gevolg dat die administrasie ietwat agterweë gelaat word. Dreyer se lessenaar staan kophoog vol pos: meestal van Hoofkantoor af. Daar is verslae van misdaadsyfers, prosedures wat voorgeskryf word, handleidings oor die regte van gavangenes, voorskrifte vir die ordelike instandhouding van polisiestasies, kennisgewings oor kriminele wat gesoek word en ‘n magdom papierwerk waaroor Stasiebevelvoerders moet kennis neem. Dis nou gewone bevelvoerders waar polisieëring ‘n noodsaaklike diens is – nie soos op ‘n plek soos Rolbos nie. Hier is steel en moord iets waaroor Oudoom preek en wat in Sodom en Gemorra gebeur. Noag slaap nie hier saam met sy dogters nie en Batseba laat nie Koning Dawid se tong (en ander organe –  soos die president doen) uithang nie. Behalwe vir Oujaarsdagaande, is Dreyer nie die besigste man op Rolbos nie.

Tot die bruin koevert in die posbus beland het, dit is:

Die Geagte Minister en die Areakomissaris beoog ‘n besoek aan u bevelspos op 13 Oktober. Hulle is besig met ‘n inspeksietoer van afgeleë stasies en sal aan die Parlementêre Beleidskomitee verslag doen oor die noodsaaklikheid (al dan nie) van die voortgesette bestaan van genoemde stasies.

Daar word van u verwag om alle tersaaklike dokumente en statistieke beskikbaar te hê vir ondersoek deur die inspektoraat.

Dreyer vloek nie gewoonlik nie. As hy kwaad word, sal hy hoogstens ‘n stoel breek of ‘n kar skop – maar vuil taal hoor mens nie van hom nie.

“Dis vandag die elfde! Magtag! Wat dink die minister van homself? Of dink hulle ek is hier om te hiet en gebiet?” Hy stap uit en skop na die polisiewaentjie – en dis net toe dat hy onthou van die bruinpaiersak onder in die liaseerkabinet.  ‘n Hele rits swetsworde jaag vir Vrede in Voortrekker Weg af.

Die papiersak het ‘n geskiedenis; een wat hom ‘n klip agter die verdwynende Vrede laat gooi. Dis mos dieselfde minister wat destyds daardie saak laat ‘verdwyn’ het.  Die enigste arrestasie in jare en hy moet die man laat loop, sonder dat die reg sy volle gang gegaan het. Hy, Dreyer Dreyer, die bewaker van die gereg, moes toekyk hoe ‘n wetsverbreker glimlaggend uit sy aanhoudingsel loop en in ‘n lang, swart Duitse motor klim om vir altyd uit Rolbos te verdwyn. A sy navrae aan hoofkantoor (en een aan die Minister self), het dieselfde antwoord ontvang: Ons kan in hierdie stadium geen kommentaar lewer nie. Die dokumente van hierdie geval is tans in die Minister se sorg en hy sal weldra optrede (al dan nie) aanbeveel.

Dis nou al drie jaar…

Maar die papiersak is ‘n probleem. Dis nog steeds in die laai, waar hy dit gebêre het, met al sy notas oor die insident. Eintlik is die saak eenvoudig: Die polisie van Oranjemund het laat weet dat hulle amper ‘n vermeende diamantsmokkelaar op heterdaad betrap het. Diè man, ‘n bekende in hoë sosiale kringe, het na bewering die gepantserde vragwa wat elke week De Beers se diamante Kaap toe vat, probeer beroof. Sy modus operandi was eenvoudig: ‘n lading plofstof is in die pad geplaas en hy het bloot op die regte oomblik gewag om die voertuig die lug in te blaas. Op ‘n skerp draai, waar die bestuurder noodwendig stadiger moet ry, het hy ‘n streep dinamietstokke oor die pad geplaas met die elektroniese ontsteker. Hy het tweehonderd treë verder met ‘n verkyker gewag.

Die man het natuurlik geen idee van die slinksheid van die plaaslike bevolking nie. ‘n Arbeider, op pad huistoe van Upington se kant af met sy fiets, het die bedrading opgemerk en ook kennis geneem van die man met die verkyker. Die arbeider (Willem Olyn, volgens die rekords) het doodluiters verbygetrap, vriendelik gegroet en ‘n ent verder van sy fiets afgespring. Getrou aan sy aard (volgens Upington se manne, by wie hy al etlike kere vertoef het vir klein oortredings) het hy al agter die Karoobossies langs gehardloop, die meeste van die draad gesteel en huistoe laat spaander. Die man in die voertuig het hom nooit eens gesien nie.

Toe die diamantlorrie om die draai kom, druk die vermeende skelm die knoppie maar die lorrie verdwyn nie in ‘n wolk van rook en stof nie. Die bestuurder van die lorrie het onraad gemerk toe hy die man met die skakelaar in sy hand sien ronddans langs die pad terwyl hy beduie die lorrie moet stop. Nou moet mens weet De Beers is nie van gister af in die besigheid nie. Daai lorrie stop vir niks. Oudoom het eendag vir Servaas uitgevreet omdat diè sou gesê het selfs die Wederkoms sal nie die De Beers lorrie stop nie, maar dis eintlik waar. Kort van ‘n atoombom sal mens nie daardie voertuig sien stilstaan op ‘n openbare pad nie.

Die bestuurder is natuurlik die heeltyd in radioverbinding met die onderskeie polisiestasies langs die pad en hy het toe hierdie eienaardige gedrag van die man bekend gemaak aan die naaste stasie – Upington. Dis hulle wat toe die dinamiet daar kry, die afgesnyde draad en al; en toe twee en twee bymekaar gesit het.

Dreyer het die boodskap, met die beskrywing van die voertuig en die man, ontvang en besluit dat hy, gelukkig, weereens niks met die saak te doen sal kry nie. Toe hy egter by Sammie instap om sigarette te gaan koop, staan die voertuig voor die deur en die man is besig om koeldrank by Sammie te koop.

Die res is geskiedenis, behalwe dat Dreyer nog dinamiet in die kattebak van die voertuig gekry het. Hy het wel die man gearresteer en opgesluit – totdat die Minister die volgende dag skakel om hom aan te sê om die man te laat gaan. Constitutional rights – het die minister gesê.

Dis nou daardie nota’s en dinamiet wat nog in die liaseerkabinet lê, nie soos Direktief 645 b:1 – a (ii) van 1998 nie. Dreyer ken daardie direktief: alle plofstowwe moet in ‘n spesiale gebou met spesiale sekuriteit en spesiale veiligheidsmaatreels en lugversorging gestoor word. Die stasiebevelvoerder sal daagliks persoonlik inspeksie doen om te verseker dat die plofstof nog veilig en teenwoordig is. Daar sal maandeliks ‘n verslag op vorm Pol 396/a/1998/Hoofkant/a(ii) ingetuur word.

Dreyer het nie. Nie ‘n gebou of lugreëling of inspeksie on verslag nie. DieKommissaris was uiteindelik baie duidelik: hy wat Dreyer is, het niks met die saak te doen nie – in teendeel: hy het nooit daardie man gesien nie. Die saak bestaan nie.

Dis laataand as Dreyer oorstap na Boggel se Plek om die stof uit sy keel te spoel. Kleinpiet en Vetfaan weet daar’s ‘n inspeksie op pad en handhaaf ‘n respekvolle stilte terwyl Dreyer die eerste twee biere sink.

“Moeilike dag, Dreyer?”

“Aag magtag man. Jy weet mos. Inspeksie en als. Gee nog een.” Boggel skuif die bier oor die toonbank en Dreyer vee die oppervlak met sy sakdoek af. Boggel maak verskoning en gee ‘n skoon vatdoek aan.

“Maar jy’s nou reg vir hulle?” Kleinpiet wil moed inpraat en stuur die gesprek na ‘n positiewe punt.

“Nee. Ek sit met daai bliksemse dinamiet in my liaseerkas. Ek kan dit nie huistoe vat nie, want dan vat ek evidence uit die staat se sorg. Ek kan dit nie daar laat nie, dan gaan hulle my slaan met ‘n pak 5838(1998):subseksie 3(ii)a’s. Ek is in my moer.”

“Steel dit. Beveg misdaad met misdaad.” Boggel se stem klink vrolik onder die toonbank. Hy’t seker ‘n halfjêk daar onder.

Later sal Kleinpiet sê dit was Boggel se skuld. Boggel sal dit ontken. Maar almal weet dit was sy idee.

Dreyer het ‘n saaknommer vir die diefstal van die dinamiet uitgemaak aan homself, en die dossier versigtig onder die mat onder sy stoel weggesteek. Hy is reg vir die inspeksie: laat hulle nou kom moeilikeheid soek met Vanniekerk Dreyer  – die gedagte laat hom proes van verbasing.

Kleinpiet het ander idees. Hy sukkel nog met die gate van die Happy Houses, en met die ses stuks dinamiet in sy sorg, kan daar mos iets goeds uit misdaad spruit. Geslagte Japanners kan mos voordeel trek uit die burokratiese hardlywigheid wat so op Dreyer se gemoed gerus het oor die afgelope jare. As hy nou maar daardie dinamiet gebruik vir hierdie heilige doel, dan heilig die dinamiet mos die doel, of hoe?

Platnees is nie so seker nie. Die meneer help om die gate so te grawe dat ‘n dinamietstokkie presies daarin pas en so twee voet onder die grondvlak rus. Nou, soos die meneer verduidelik, gaan daardie stokkies die gate grawe waaraan hy seker ‘n maand sou gegrawe het. Hy is wel bly dis so maklik, maar dis ook nou sy eie arbeidsveld wat gekelder word. ‘n Maand se inkomste is ‘n maand se inkomste. Maar, aan die ander kant, mens stry nie met meneer Kleinpiet nie – sy neus is alreeds plat…

Kleinpiet weet iets van dinamiet af. Hy was destyds in die geniekorps en ken die basiese moets en moenies van dinamiet. Al wat nodig is, is die slagdoppie en die lont. Steek aan, gee pad, kruip weg, boem! Dis mos maklik. Na die ladings gestel is, doen hy ‘n finale inspeksie. Hy is nie seker hoeveel dinamiet gaan wat doen nie, maar alles lyk in orde. Hy korrel oor die netjiese ry lonte wat by die gate uitsteek en besluit selfs Precilla sal tevrede wees met sy beplanning. Dan steek hy die eerste lont aan die brand.

Dis nie altyd so maklik om ‘n lont te laat vlamvat nie. Dis nie soos krismisklappers nie. Die lont wil weet dat jy regtig, regtig hom wil aansteek voor dit begin sploeter. Hy hardloop na lont nommer twee toe, trek ‘n nuwe vuurhoutjie en loer skrikkerig oor sy skouer. Daar is nog tyd.

Nommer drie lont vat vinniger en toe hy by nommer vier is, sien hy nie meer vir lont nommer een nie. Hoe vêr het dit al gebrand? Het hy tyd vir vyf en ses? En as hy hulle nie brand kry nie, sal hulle nog kan werk as hy dit later wil laat ontplof.  Lont vier is ‘n tipiese Nuwe Suid-Afrika lont: dit staak. Daardie lont weier om te brand, maak nie saak hoe lank die vuurhoutjie onder sy punt gebou word nie. Kleinpiet vloek, vee die sweet af en trek nog ‘n vuurhoutjie. Hoe ver is nommer een? Hy is skielik jammer dat hy nie vir Platnees van die ander kant af laat begin het nie. Die twee van hulle sou lankal klaar gewees het.

Nommer vier besluit om sy nonsens te stop en vat skielik vlam. Vyf brand gou en ses begin net vonkies maak voor Kleinpiet laat waai. ‘n Man moet ook nie die Voorsienigheid so toets nie. Dis heiligskennis.

Hy het net langs die trekker platgeval toe die eerste lading ontplof.

“En dit, Minister, is die stilste stasietjie in die Noorde.” Die Areakommissaris is altyd baie versigtig vir die Minister – ‘n man met wie niemand moeilikheid soek nie. Hulle het sopas in Voortrekker Weg ingedraai en die Kommissaris soek naarstigtelik na die landsvlag, wat sal aandui waar die polisiestasie is. Almal het egter gehoor dat die dorp ‘n ministreieële besoek gaan kry en voor elke gebou hang ‘n vlag.

“Very patriotic town.” Merk die minister op. “Cosatu must be very active here.”

Die Kommissaris knik. Hy sal nooit met die Minister stry nie. Maar waar is die polisiestasie? Hy soek na die blou lig wat dit sal aandui, min wetend dat die lorrie van Kalahari Transport dit al twee jaar gelede afgery het toe die bestuurder vir die slaggat uitgeswaai het. “Where is the station, Commissioner?”

“E, wel, in hierdie straat, Minister.” Dan, tot sy verligting, sien hy hoe Dreyer by Sammie uitstap en by ‘n ander gebou ingaan. “Daar, Minister, dis waarheen ons gaan.” Hy probeer sy bes om sy verligting te verbloem.

“Gee gou ‘n bier aan, Boggel, die blêrrie minister is nounou hier.  Magtag, het hy nie iets beters om te doen nie?”

Boggel se hand kom bo die toonbank uit met die vars oopgemaakte bottel. “Wat gaan jy maak as hulle die stasie wil sluit, Dreyer? Jy’t gesê die ouens kom inspeksie doen om te besluit waar hulle kan geld spaar.”

“Ek dink my kanse is nul.” Dreyer sluk diep. “Hier gaan maar min aan en selfs op Grootdrink is daar meer huismoles en dronkenskap as hier. Rolbos is ‘n vervelige, saai plekkie en ek dink hulle gaan my vlag stryk.”

Boggel weet dis tyd om stil te bly.

As die Minister en die areakommissaris by die deur instap, is Boggel en Dreyer  net so verbaas as hulle. Die kommissaris se uniform is netjies gestryk en sy rangtekens blink in die lig.

“This is not the police station.” Die Minister was nog altyd bekend vir sy skerp waarnemingsvermoë. “This is a bar. And I see an officer in full uniform drinking while he should be behind his desk. Make a note, Commissioner!”

Dis die einde, besef Dreyer. Hy weet mos: van daardie dinamiet-storie se tyd wag die Minister om van hom ontslae te raak. Die inspeksie is deel van daardie komplot, maar nou het hy onwetend – en met ‘n besondere gebrek aan insig – presies die gereedskap vir sy ontslag uit die Mag in die Minister se hande geplaas. Hy moes nooit hier by Boggel ingestap het nie.

Dreyer se Oupagrootjie, Delange Debeer Dreyer Van Niekerk, was een van die rebelle wat in 1914 nie teen Duitsland wou veg nie. Toe die manne kom om hom te arresteer, het hy doodluiters op sy stoep gesit en wag. Hy het hulle vriendelik gegroet en gevra of hulle wou koffie hê. Onseker oor wat om te antwoord, het daar ‘n kort stilte oor die geselskap neergedaal, voor Delange die ou Colt uitgetrek het en wild onder hulle begin skiet het. Daarna het hy in die berge verdwyn tot na die oorlog.

Wat goed genoeg was vir Delange, is goed genoeg vir my, besluit die sersant.

“A beer, your excellency?”

Op daardie oomblik tref die skokgolf van die ontploffings op Verlorenfontein die dorp. Die kroeg se vensters ratel en ruk en die deur swaai met ‘n slag oop. Daarna kom die klank van ‘n geweldige ontploffing. Die Minister se oë rek wyd en sy mond val oop. Stof sif van die plafon oor die Kommissaris se netjiese uniform.

“What the hell was that?”

“Aai dink dat was a ontplofthing.” Boggel haal sy beste Engels uit om die Minister te beïndruk.

Almal storm buite toe om te sien wat gebeur het. Vêr buite die dorp rys ‘n eienaardige stofwolk hemelwaarts.

“Aai dink das ‘n mushroom.” Mens sou sweer Boggel weet waarvan hy praat.

Dreyer kry ‘n swaar gevoel hier in die diepte van sy bekken. Daardie stofwolk hang nêrens anders as reg bo Verlorenfontein nie – en Kleinpiet het mos juis die gewraakte dinamiet gevat.

“Ek moet gaan ondersoek instel. Verskoon my, Minister.” Die sweet begin in sulke fyn druppeltjies op sy bolip vorm.

“We will join you.”Die Minister se vasberabe stem maak seker dat daar nie teepratery is nie.

“Oh, nee, Minister,” Boggel staan so regop as hy kan en loer oor die toonbank. “Those manne is just making a dam. For as the rains comes, understand? Let the sersant go and make sure while I serve you some food. You look hungry…” Onkundig oor wat om te doen, draal sy stem weg in onsekerheid.

Die Minister is nie verniet ‘n Minister nie. Sulke ouens weet van bedel en aalmoese. Of dit nou ‘n aandeel in ‘n nuwe myn is, of ‘n versnaperingtjie as die maag begin grom, sulke mense betaal tog nie vir hul voorregte nie – allermins. Hulle gaan so van plek tot plek op die vrees, entoesiasme of hoop van die mense wat hulle regeer. Een ding is seker –  sy parlementêre kredietkaart word nie gebruik om kos te koop nie.

Die Minister, wat nog half wonder of hy nie moes saam nie, staan nog met sy een hand in die lug om Dreyer te keer, maar die sersant skarrel gou uit, spring in die polisiewaentjie en jaag in Voortrekkerweg af.

“Ons het scrambled eggs en worsies,” Boggel is nie ‘n ou wat jy maklik (by wyse van spreke) onder kry nie.

Vanniekerk Dreyer, sê hy vir homself, vandag gaan jy lyke uitken.  Hy ry deur die digte stofwolk wat oor die pad sweef en is amper verby Verlorenfontein se hek voor hy dit raaksien. Ook gelukkig maar so – want reg in die middel van die afdraai lê ‘n tamaai groot rots. Daai klip kom net van een plek af…

Deur die stof maak hy net-net uit waar die skuur gestaan het. Dit lyk soos die Twin Towers nadat hulle inmekaar gesak het. Geskeurde sinkplate rys hemelwaarts en die gebuigde ysterraamwerk steek stukkende vingers die lug in, soos iemand wat onder in ‘n losskrum vasgekeer is. Die ses rondawels is skoonveld.

“Kleinpiet?” Hy roep sommer so in die afklimslag maar iets in hom wèèt: die spul is almal versprei oor die vlaktes van die plaas. Wie was almal hier? Precilla was mos in die apteek toe hy gery het? Dan is dit seker net Kleinpiet en Platnees…of het hulle hulp gehad?

Kleinpiet?!” Harder; dringender.

Precilla is teen hierdie tyd ook in die kroeg, waar die Minister inlê in die eiers en wordsies, met ‘n stomende beker koffie voor hom. Boggel het ‘n manier: as hy senuweeagtig is, klim hy bo-op die toonbank – soos ‘n nuuskierige meerkat, dink sy. Die hoogere mense in die kroeg demp haar vrae – sy weet wat Kleinpiet beplan het en as sy nou hier iets verkeerd sê, is sy ook aandadig aan die vernietiging van bewysstukke.

“Daai dambouers het seker nou ‘n groot rots geskuif?” Boggel probeer om Precilla se onuitgespreekte vraag te antwoord voor sy iets verkeerd sê.

“Dam? Janee, ek hoop net hulle het net rotse geskuif. Dit was darem ‘n groot slag.”

“More coffee, Minister?” Boggel vat sommer die beker en verdwyn agtertoe. Die Minister breek ‘n massiewe wind en sit vol genoegdoening terug.

“Commisioner, shouldn’t we be getting on with the inspection?” Die blink horlosie op sy arm word versigtig inspekteer. Die Areakommissaris sluk aan sy koffie: “Ons moet wag vir die Sersant. Dis volgens die voorgeskrewe prosedure.”

“Well. OK. Where’s the coffee.”

Boggel stoot die spesiale beker oor die toonbank voor hy self opklim.

As die stof effens sak, merk Dreyer die trekker op. Daar is iets verskrikliks verkeerd met daardie trekker, dink hy.

In sy skok en ontnugtering vat dit ‘n volle minuut voor hy besef dat hy die ereeD nhoJ  waarna hy kyk, eintlik ‘n trekker is. ‘n Onderstebo trekker, weliswaar, en nie meer in toonvenstertoestand nie; maar nogtans ‘n trekker.

Dan hoor hy die kreun.

Net voor die groot agterwiel steek ‘n paar bene uit. Wie-ook-al daardie bene gehad het, se lyf verdwyn onder die wrak in. Het die linkervoet beweeg? Hy draf om om die res van die mens aan die ander kant te gaan soek.

Dreyer se brein werk in donkierat. Dis as of hy alles, stukkie vir stukkie, aanmekaar moet sit om sin van die omgewing te maak. Aan die ander kant van die trekker speel sy kop weer legkaart-legkaart. Dis duidelik dat hier ‘n liggaam is – of was. Dit lyk soos die hopie grond wat mens op ‘n vars graf kry, dink hy, behalwe daat daar nie arms weerskante uitsteek by die gemiddelde graf wat ek al gesien het nie. Terwyl hy versigtig aan ‘n hand trek, kom die anderkantse hand in ‘n boog deur die lug en klap hom so hard agter die kop dat sy een tand se enamel afsplit.

Die graf-hopie rys uit die rommel – en nou eers sien Dreyer dat die omgelsane trekker se sitplek netjies oor die gesig geval het om ‘n klein, rommelvrye spasie vir die kop te skep na die ontploffing.

Die kop hoes en ‘n klompie klein stukkies gruis spat in verskillende rigtings. Wie is dit? Kleinpiet het immers ‘n dos swart hare gehad en hier is nie sprake van hare nie.  En Platnees het nie baie hare gehad nie, maar sy lippe was nie sò dik nie.

“Wie’s jy?” Dis miskien ‘n dom vraag vir daardie oomblik, maar die sersant moet mos erens begin, nie waar nie?

Sy antwoord is nog ‘n hewige, hees hoesbui, terwyl een stowwerige hand teen die area begin slaan waar mens die borskas sou verwag.

Dreyer merk vir die eerste keer op dat daar nie bloed is nie.

Die stofman probeer iets ê maar dis net ‘n onaardse kwaak wat uitkom. Water! Die man het water nodig! Dreyer draf na die polisiewa en bring sy waterbottel. Die hand vat dit en druk dit so diep in die stofmond in dat Dreyer vir ‘n mal oomblik dink die kop se bodem is weggeskiet.

“G-o-e-i-e J-i-m-i-l!” Die kop praat stadig in ‘n onherkenbare stem. As die hand die bottel los, sprinkel Dreyer van die water oor die gesig. Modderstrepe loop oor die rooi voorkop en wange.

“Kan jy beweeg?”

“Natuurlik!” Die kop het wonderbaarlik herstel. “Dink jy ek is lam?” Met dit wikkel die lyf onder die trekker uit.

Nou eers herken Dreyer iets van Kleinpiet: dit lyk soos sy skoene.

“Kleinpiet?”

Die stofman kyk verbaas op. “Nou wie’t jy gedink is dit. Hê?”

Die Minister is op sy derde beker koffie en Boggel staan reg met nog een.

“In fact,” die Minister is besig om aan almal in die kroeg te verduidelik dat hy besig is met ‘n belangrike inspeksie, “in fact, this station is not so good.” Hy waggel op sy voete. “Shomewhat incompetent. Shomewhat. Even before the inshpection, I can catagorically state ish not sho good.”

Die Areakommissaris stem saam: “Your holiness, I can only agree with such wishdom. Rolbos isha washte.”

Precilla het lankal agtergekom wat Boggel besig is om te doen en sy knikoog vir die gestremde mannetjie. Die twee is so besig om die Minister en sy kommissaris bedwelmd te maak met die gelaaide koffie dat hulle albei skrik as die kroegdeur oopswaai.

“Kleinpiet?” Precilla se oë rek as sy na die eienaardige kreatuur aan Dreyer se sy sien. “Kleinpietie?”

Die uit die borskas van die groot man kom ‘n krakerige geluid wat ‘n antwoord kon wees. Die rooi gesig, dik lippe en die afwesigheid van alle hare laat Precilla nog twyfel. Sy draai na Dreyer: “En Platnees?”

“Geen teken nie, ek is bevrees. As die stof gaan lê het, sal ons begin om liggaamsdele te soek. Daar kan nie baie van hom oor wees nie.”

“Whasish aal about?” Die Minister loer oor die rant van sy beker.

“Dis die dambouers, Minister. They blew up something.”

“Oh. My. Ishit okay?”

“O, ja, Minister. Geen probleem.”

Boggel gooi nog van die droë, groenerige blaartjies in die koffiekan voor hy skink. Die Minister kyk vir die Areakommissaris met een oog en begin onbeheersd giggel. Hy trek ‘n stadige, dik vinger deur die olierige oorblyfsels van die eiers op sy bord en lek sy vinger behaaglik af.

“Gooood.”

Teen hierdie tyd het Precilla vir Kleinpiet in die apteek en sy was die rooi gesig versigtig met ‘n ontsmettingsmiddel af. Behalwe vir die dik lippe en die verlies van sy hare, het Kleinpiet redelik lig afgekom van die ontploffing.

“Ek sê jou, Precillatjie, as daai John Deere nie presies daar gestaan het, en presies omgedop het soos hy gedoen het nie, was ek bokveld toe.” Hy kreun hoorbaar: “Maar die skade… ek wil nie eens dink aan alles wat nou tot niet is nie.”

“Now we musht look at the dam. Ha! The damn dam! Ish funny. Dam dam dam, dam dam da dam” (Boggel herken iets van Babara-ann uit die sestigs). Hoe meer Boggel en Dreyer vir die Minister probeer oortuig dat so ‘n inspeksie ongewensd sou wees, hoe meer vasberade raak die man om te gaan kyk na die nuwe Rolbosdam. Die Kommissaris het homself lankal verskoon en lê dwars oor die agterste sitplek in die ampsmotor.

Dreyer besluit later dis sinneloos om met die bedwelmde minister te stry en laai hom in die polisiewaentjie. “Letsh go!” bulder die Minister.

Die Minister ontdek weer die vreugde van sang. Hy was in sy jeug deel van ‘n kerk koor en sing nou Jesus loves me op Shosholoza se wysie. Dis nogal aansteeklik en Dreyer val ewe gedweë in as die liedjie oor en oor herhaal word. Die Minister se pogings om koorleier te speel raak al hoe meer entoesiasties en sy plomp hande dirigeer met soveel ywer dat Dreyer later sy hand op die rathefboom moet hou om te keer dat die polisiewaentjie nie skielik in trurat beland nie.

Dreyer ry behendig om die nuwe rots by die hek van Verlorenfontein en merk op dat die stof nou heeltemal gaan lê het. Die skade is nou duidelik: die stoor, die rondawels, die windpomp – alles staan in sulke skewe hoeke en draaie: dis duidelik dat Kleinpiet aansienlike bouwerk op hande het. Sy oë soek-soek na enigiets wat dalk aan Platnees se lyf kon vasgewees het.

Die krater is indrukwekkend. Waar die Happy houses moes staan, is nou ‘n langwerpige sloot wat uitgeruk is tydens die ontploffing. Dreyer het laas so iets gesien toe hy op die grens diens gedoen het. ‘n Mig het teen ‘n bult vasgevlieg met ‘n vol lading bomme…

“Ish a gooood dam.” Die Minister is so beïndruk dat hy sommer ophou sing. “And even now, in fact, filling up nicely.” Die dirigent-hand beduie gat se kant toe, en vir die eerste keer sien Dreyer die water wat onder in die gat versamel. Hy probeer sy verbasing wegsteek maar as hy klein borreltjies sien opstyg na die oppervlak, is sy eerste gedagte dat Platnees dalk onder daardie oppervlak lê.

“My magtag! Ek moet gaan help!” Die Minister verstaan nie en staan oopmond vir Dreyer en kyk as diè met ‘n dolle vaart in die gat inklouter.

Die eerste ding wat Dreyer besef as hy by die water uitkom, is dat Platnees waarskynlik teen hierdie tyd goed gaar moet wees. Die water is kokend warm. G’n mens kan oorleef in sulke warm water nie…

“It’s hot,” skree hy.

“Jaa,” sê die Minister, “I think it’s alwaysh hot here.” Hy trek weg met It’s a Rainy Day in Georgia.

“Nee, man. The water! It’s too hot. Look: it’s boiling!”

“No, you stupid, you must be joking?”

“The name, Mister Minister, is Sersant Vanniekerk Dreyer. I am a loyal member of the SAPS. If anybody around here is stupid, its that blerrie Minister who hides agter constitutional rights. If I says this water is boiling, you beter dit glo!”

Die Minister gaan sit op sy hurke soos hy lag. Dis die snaakste ding wat enigiemand nog vir hom gesê het.

“Jôôô…” Platnees staan op die rant van die krater en beduie na die water. Dreyer vlieg om, storm teen die walle van die gat uit en omhels die stofbedekte karikatuur van ‘n mens wat daar staan. Platnees, soos Kleinpiet, lyk nie meer baie soos hy gelyk het vroeër vanoggend nie, maar dis onmiskenbaar Platnees.  Sy klere is in flarde en sy oë staan onnatuurlik wit uit teen die vuil gelaat wat met stof, bossies en stukkies rommel versier is.

“Good, good, good relations..” sing die Minsiter op die Beach Boys se deuntjie.

“Waar was jy, Platnees? Wat het gebeur? Is jy oukei?” Dreyer val oor sy woorde.

“Eish! Platnees hy skrek so groot, meneer! Toe ek sien Kleinpiet hy sokkel met die fuses, toe denk ek Platnees – jy moet hier wegkom. Hier kom die groot trouble. Ek hardloop venneg, banja venneg, maar daardie dynamyte hy es venneger as ek. Ek hoor hier by my kop: moenie omkyk nie – moenie omkyk nie!  Maar soos ek omkyk, daardie dynamite hy explode en hy gôi my by die lug. Hy smêsh my so hard, ek voel die asem hy loop by my lyf uit.  Toe ek wakker word, ek sien meneer Dreyer en die ander klong hier staan. Nou ek report vir duty.”

“Kookwater? Op Verlorenfontein? Magtag!” Kleinpiet – sy kop in doeke toegedraai soos ‘n Arabier van ouds – sit by die toonbank met ‘n koue bier. Precilla staan agter hom: sy’s bang hy val van sy stoel af. Teen hierdie tyd is die hele dorp in rep en roer en almal wil die storie hoor.

Die Minister, wat intussen weer begin nugter word het, ondervind ‘n dors wat laas naby Karmel ervaar is. Boggel bly die perfekte gasheer en dra koffie aan – koffie wat volgens sy spesifikasies, net die regte hoeveelheid groen blaartjies inhet. Hy laat dit so drie minute trek en vis die blaartjies versigtig uit voor hy dit bedien. Dit vat nie lank vir Jesus loves me om te herleef nie. Die kommissaris is ‘n man wat verder dink en hy het by Precilla aangeklop vir hoofpynpille. Gelukkig het Ta’ Hybie se mediese fonds nog nie agtergekom hulle moet Ta’ Hybie se voorskrif kanselleer nie, en kon Precilla ‘n hele handvol antidepressante aan die polisie-offisier verkoop – teen ‘n spesiale prys. Steeds in sy uniform, lê die hoogere man nou op die enigste plat oppervlak wat hy kon vind – die toonbank in die polisiestasie.

En na die oopskiet van water op Verlorenfontein was dit aand en dit was môre, en die oggend was aaklig in die oë van die mense, want die son het met verblindende krag die kortsigtigheid van die vorige aand sigbaar gemaak. En die mense van Rolbos het hul hoofde vasgehou en in groot erns aan mekaar bekend gemaak dat hulle almal, elkeen van hulle, nooit, ooit, nooit weer aan enige brousel gaan raak wat deur Boggel voorberei is nie.

Die nimlike Boggel het vroegdag klaargemaak met die tel van die geld in die trommeltjie onder die toonbank. Alhoewel dit ‘n besondere aand se gekuier was, moes hy saggies fluit hy het nooit kon dink daar is soveel geld op Rolbos nie.

Ten spyte van die dorp se edele voorneme, sit die hele spul teen elf-uur by Boggel, wat ewe onskuldig lemoensap aan almal bedien. Dis nou almal, behalwe die Kommissaris wat nog diens doen op die toonbank in die stasie. Die Minister is ‘n skamele skadu van homself waar hy met bloedbelope oë na sy lemoensap sit en staar.

“It must be that explosion. I have never felt so bad in my life. I think some of the gasses that boil through the water must be toxic.” Met sy woordeskat het hy lankal die mense rondom hom verloor – maar hulle verstaan wel dat hy nie so goed voel nie.

Kleinpiet lyk vandag baie beter en na sy uitbundige ontmoeting met Platnees, sit die twee rondom ‘n hoektafeltjie en gesels. Dis duidelik dat hulle besog is om groot planne te beraam.

“Minister,” Kleinpiet het oorgestap na die politikus wat met ‘n besondere gebrek aan entoesiasme opkyk, “I wants you te make a vennootskap. If Verlorenfontein becomes Fonteingefonden, we can make more money than I can from my skape, you know? If I have a black vennoot, we can hold sommer groot partytjies there and charge people to swim in the hot waters.”

Boggel is nie links nie: “Talking about charging: this here Minister owes the kroeg ses-honderd-en-dertig Rand en ‘n paar sente. Minister sal seker reg maak as hy ry?”

Die Minister kreun en haal sy beursie uit wat hy met doelbewuste bewegings omdraai en bokant die toonbank skud. Die enigste ding wat uitval, is die parlementêre kredietkaart. Boggel, met ‘n ratsheid wat almal later oor sou praat, gryp die kaart en hou dit triomfanklik in die lug.

“My goodness, Your Excellency, this is a Diner’s Club. Ek het nog net hiervan gehoor maar nog nooit een gesien nie. Check, mense, die minister het ‘n onbeperkte kaart!” Die Minister gee so ‘n skewe glimlag en vertel dat mens met so ‘n kaart ‘n helikopter kan koop, daar is geen beperking op, mits hy net verklaar wat hy daarmee gedoen het nie.

Dit is ‘n fout.

Twee verskriklike dinge gebeur hierna:

  1. Die dorpsmense vergeet heeltemal van hul vroeëre besluit om nooit-ooit weer van Boggel se ware te gebruik nie, prys die minister en begin op sy rekening partytjie hou
  2. Na die derde dop is die Minister en Kleinpiet vennote in die Kalahari Spa en Warmwaterbron.

Rolbos kan beskryf word as ‘n vervelige plek as mens met Voortrekkerweg deur die dorpie ry. Dit lyk regtig as of daar niks gebeur nie. Miskien is jy gelukkig genoeg om op te merk dat daar ‘n polisiestasie is en as jy mooi kyk, sien jy dalk die kroegie. Die groot aantrekkingskrag op Rolbos is sekerlik die nuwe Kalahari Spa met sy mineraalbaddens.

Die polisiestasie is netjies, soos altyd, met Vanniekerk Dreyer tot u diens. Na die ontploffing het hy besluit dat Dreyer Dreyer regtig nie iets sê van sy persoonlikheid nie. ‘n Man moet vashou aan jou geskiedenis, sê hy altyd. Onder die oppervlakte van ‘n barre landskap skuil ‘n verborge fontein – dis so met mense ook. Dit vat net soms ‘n hengse ontploffing om dit te ontdek.

Sou jy stop en vra, sal almal jou verseker dat hulle maar ‘n saai en eentonige bestaan voer daar tussen Bokkop en die vlaktes.

En as jy regtig dom is, sal jy hulle nog glo, ook.

——————————————————————————————-

Nou beskikbaar is slapband

Koop nou…

3 thoughts on “Boggel se Koffie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s