Die Barbier van Rolbos

ImageKnippertjies Kriel kom elke derde maand by Boggel oorslaap as hy die dorp se hare kom sny. Man, vrou en kind (as daar is) loop dan onder sy sker deur sodat almal respektabel kan lyk. Almal, behalwe Oudoom, natuurlik. Sy kop is al vergelyk met Ararat: jy sal die Ark (soos sy hare) daar soek en net die oorblyfsel van Noag se wingerd opdiep, daar waar die herinnering van vroëre vergrype verborge lê onder die blink skynsel van  geloof.

Mense praat mos nie oor Dominee-sondes nie. Servaas sê dis heiligskennis. Gewone mense kan afdwaal van die nou en reguit pad, maar predikante het nie daardie voorreg nie. Dus, soos in Oudoom se geval, is daar twee opsies: vergeet daarvan, of bly stil. Gemeentelede wil iedergeval nie na die kansel sit en kyk en herinner word aan hul eie tekorte nie; nee, die kansel is die plek van Hoop en Liefde, en as jy baie gelukkig is, ook van Geloof.

Miskien was dit Knippertjies se skuld. Hy kom immers al jare en jare Rolbos toe en dis hy wat daardie Saterdag vir Oudoom laat wag het, daar in Boggel se plek. Oudoom was daar vir sy laaste haarsny.

“Wag net ‘n oomblik, Dominee. Ek moet tersluiks ‘n versterkinkie inneem voor ek die eerwaarde hare van u hoof verwyder. Dis mos ‘n belangrike taak, want môre sit die gemeentelede vir u sò en kyk en as ek verkeerd gesny het, sal almal daaroor skinder tydens kollekte. U weet mos hoe dit is?” Daarmee is Knippertjies agtertoe, waar Boggel se bottel Cactus Jack in die yskas vir hom gewag het.

Oudoom het sy hande oor sy ylwordende hare gevryf terwyl hy wag. ‘n Man se blesword is mos ‘n eie, persoonlike ding; iets wat diep sny in ‘n selfbeeld maar waaroor nie gepraat word nie. Dis die vaarwel aan jeug en wellus; die touleier wat die verlies aan manlikheid vooruitloop; oplaas die wegwyser wat die afdraend wat graf toe lei aanwys. Hierdie swaar gedagtes het Oudoom se gemoed grond toe gedwing. Miskien, het hy gedink, sal Knippertjies ‘n antwoord hê. Hare is immers deel van sy nering.

Hier moet mens ook darem ter versagting noem dat Knippertjies toe al van vroegdag af besig was en dat ‘n man darem nie sonder sy nodige versterkinkies kan werk nie. Cactus Jack het toe al self na leegkant toe gestaan en Knippertjies was nie van plan om daardie afwaartse tendens te stop nie. Dis soos haarsny (het hy gereken) – mens kan mos nou nie links gaan staan en sny en nie iets doen aan regs nie? Mens maak klaar met wat jy beginne. Soos met koppe, dan so ook met Cactus.

Knippertjies Kriel het met geoefende vernuf die swenk in sy stappie verdoesel toe hy, al handvrywend, naderstaan om die eerwaarde hare van die Herder te skeer. Oudoom was so diep ingedagte terwyl hy die verlies van sy kragte oordink, dat hy ook nie eens agtergekom dat Knippertjies se swenk nie beperk was tot sy bene nie – sy hande het teen die tyd ‘n eie manier ontwikkel om self rigting te soek oor die haartjies wat nog skoorvoetend aan Oudoom se skedel vasgeklou het.

Gertruida het later gesê Knippertjies had ‘n sker des soekendes des woestyns, maar hieroor mag nie gelag word nie. Mens kan darem nie so blatant met Oudoom se lot die spot dryf nie. Tog, lag of te not: die manier hoe die knip-knip van die sker al hoe skuinser oor die heilige gewelf beweeg het, het later veroorsaak dat Vetfaan sy bier skoon vergeet het terwyl hy die haarslagting dophou.

“Van Dan tot net duskant Berseba, sê ek jou,” het hy later vertel, “was daar nie ‘n enkele haar oor nie. Weerskante die vreeslike breë middelpaadjie wat Knippertjies gemaak het, was twee klossies hare oor die ore, wat my vreeslik laat dink het aan daai hoender van Kleinpiet wat altyd met sulke bakvlerke rondloop en probeer vlieg. Maar in die middel? Daar was die hare so weg dat dit lyk soos Upington se teerpad in grastyd. Platnees kon maar netsowel met sy stootgrassnyer oor Oudoom se kop geloop het – dit sou presies dieselfde gedoen het. Delilla sou trots gewees het.”

Knippertjies, ten spyte van sy pogings om Cactus Jack se bodem te ontbloot, was darem nie sò beskonke dat hy salig onbewus was van sy wandade nie. Erens het ‘n oranje liggie begin flits tussen die alkohol walms wat sy brein oorgeneem het.

“Boggel,” het hy geroep, “lyk my die domenis se haargoed word darem nou baie skraps. Kom kyk hier?” Duidelik ‘n poging om meer troepe op die frontlinie te kry – mens moet kan verdedig as die aanval kom.

Boggel het nadergeskuifel en moes hard konsentreer om die afgryse van sy aangesig weg te hou. Dis amper so swaar as om sonde te vermy, maar Boggel, wat lyding gewoond is, het dit gedeeltelik reggekry.

“Wat sal mens maak as die rotsplaat van ouderdom se gemoed die groeiseltjie stadig maar seker doodmaak? Dit gebeur maar. Kyk, selfs Gertruida se haartjies word maar dun. Dis nog net Precilla en Platnees wat spog met ‘n ordentlike bos hare. Of kom ek stel dit sò: Precilla is nog jonk en Platnees se hare is mos nie geplant nie, hulle is ingeskroef. Maar, dis darem jammer ons mansmense moet sò ontbloot word met die jare saam.”

Boggel het simpatieke geluide gemaak, maar nie sy stem vertrou om iets te sê nie.

“Nou, onse haarkappers weet mos van sulke goed, Boggel. Die Boek sê ons moet soos die gras van die veld word, en dis reg. Ons brand ou gras af sodat die veld weer groen kan word. Lyk dit vir jou as of die veld kaal raak van ou gras wat uitval? Nee, man! Nadat die ou gras gebrand is, lyk die veld sommer weer spiekeries. Dit moet net reën, sien.”

Knippertjies het sò teruggestaan, die saak van al die kante af bekyk, en toe – sonder om vir Opudoom te vra – sy knipper ingespan en elke liewer oorblywende haar op die teologiese kop afgeskeer nog voor jy ‘Simson’ kon sê.

“Dis nou soos Jerigo se storie, Domenis,” gesels hy ewe doodluiters terwyl die hare waai en hy hard konsentreer om die ‘s’-klank reg te hou, “sewe maal. Mens moet sulke hare sewe keer so kort afsny as wat dit kan, dan kan mens daarna die hare hoor groei. Maar daar is een voorwaarde: ‘n man se geloof moet sterk wees. Dit help nie jy’s ‘n gewone verspieder nie – nee wat! Jy moet ‘n Josua wees wat glo! Regtig glo! As die geloof nie in die groei is nie, sal g’n haar weer opkom nie. Gelukkig is u mos ‘n eerwaarde Domenis, so ons sal geen probleem in die geloofsafdeling hê nie. Kyk maar, oor ‘n jaar hang die kuif weer van Samaria af tot in Judea en selfs nog verder.”

Mens kan baie dinge van Knippertjies sê, maar jy kan hom nie beskuldig van ‘n gebrekkige Bybelkennis nie. Ook nie dat hy nie mense verstaan – òf goed kan lieg nie.  Oudoom het daardie dag lank na sy hare op Boggel se vloer gestaan en kyk voor hy huistoe is. Sy verstand het gesê iets verskriklik verkeerd het gebeur, maar hy kon net nie ‘n klou by ‘n oor kry nie.

Die maande het verbygegaan, en sewe keer het Knipprtjies die akraps groei op Oudoom se kop afgeskeer. Die geloofsgesprek is elke keer herhaal. Vir miskien die eerste keer in sy lewe is Oudoom gekonfronteer met die moontlikheid dat sy geloof waarlik deur die eenvoudige man met sy haarknipper getoets word. Sy gebede vir nuwe hare het toegeneem as hy die studeerkamer se deur toegetrek het.

Na die sewende keer – amper twee jaar later – was dit duidelik dat sy bles gekom het om te bly. Hier oor die ore was die laaste haartjies nog hier en daar sigbaar as mens op ‘n winderige dag sou kyk en die lig reg val, maar die res het soos Egipte se landerye verdwyn toe die sprinkane ingetrek het.

Gertruida het natuurlik die situasie reg opgesom: groei daar niks, sal die hele distrik weet dat hul Herder se geloof te klein was en sy Jerigo te groot. Daar was ook die moontlikheid dat Knippertjies – tereg – uitgewys sou word as die man wat Oudoom laat struikel het en dit kon beteken dat Rolbos nie meer ‘n barbier sou hê nie. Soos gewoonlik, het sy dit op haarself geneem om die saak te beredder.

“Dominee,” sê sy ewe onskuldig na Knippertjie se Bantam in die rigting van Grootdrink verdwyn het met die gewone swenk in die agterlyf, “dit sal darem jammer wees as daardie hare nou weer groei.” Sy kyk rond om seker te maak almal in Boggel se Plek luister. “Kyk nou hoe mooi blink die son se skynsel op daardie kopvel. Ek het nou al so gewoond geraak aan die bles dat dit vir my baie vreemd sal wees om na ‘n dominee onder ‘n kuif te luister. Ek glo dit moet bly soos dit is.”

Boggel stem dadelik saam. “Dit is so. As ‘n predikant se hare so in al die rigtings staan, herinner dit my weer aan die duiwel in die Kinderbybel.”

So het dit gebeur dat Oudoom begin bid het dat sy hare nie weer moet groei nie – iets wat hy toe van die kansel af bekend maak. “Mens moet in jouself sterf om sterk te word. Paulus het dit gesê en hy’s reg. Om mooi hare te hê is ‘n seën, maar dit maak mens net trots om mooi te probeer lyk. Nee, gemeente, julle Predikant het besluit dat selfbewondering en eiewaan nie op die kansel hoort nie. Hier is nou ‘n vaste voorbeeld van die krag van geloof en die saligheid van eenvoudige vertroue.”

Natuurlik het die hele gemeente geweet dat Oudoom se blesgeit niks te doen gehad het met ‘n hogere ingryping nie – daarvoor was Knippertjie se verhouding met Cactus Jack darem te alombekend. Die gemeente was wel beïndruk deur Oudoom se vasberadnheid om natuurlike verskynsels te koppel aan hemelse gebeure en om sy bles te blameer op sy vaste geloof. Dit, het hulle gedink, is die aksie van ‘n getroue herder wat sy skape na regte weë wil lei.

Mens kan miskien ook die hand van Knippertjies in hierdie verhaal sien. Nie die hand wat onwillekeurig die laaste groeisels van Oudoom se kop afgesnoei het nie, maar die hand wat deur ‘n Hoër Een  gelei word om sommer gewone situasies te gebruik om mense te toets.

Net Gertruida is ‘n bietjie sinies oor die hele aangeleentheid. In ‘n onbewaakte oomblik het sy vir Boggel gefluister: “Dat mens nou so kan aangaan oor blesword. Kyk nou vir Vetfaan en Kleinpiet – vir hulle is die afname in haardigtheid maar iets wat saam met jare saamloop. Dis net ‘n predikant wat ‘n geloofsaak daarvan kan maak.”

Boggel wou sê dat die geloofsaak se begin eintlik by die einde van Cactus Jack gelê het, maar hy was nie lus vir ‘n argument nie. Knippertjies, met al sy foute, was immers die een mens wat die meeste invloed op Rolbossers se koppe gehad het. In teenstelling met Oudoom, kon mens ook die resultaat van sy arbeid beoordeel.

“Ja, jy’s reg, Gertruida.” Boggel stoot haar volgende bier oor die toonbank, “Maar as Oudoom nie preek oor sy geloof nie, preek hy oor ons sonde. Ek dink Knippertjies was gestuur om vir ons ‘n bietjie verligting the gee.”

Ver-lig-ting. Of Ver-ligting. Gertruida speel met die woord in haar kop en verwonder haar oor die verskillende maniere om die woord te gebruik om verskillende dinge te beteken. En dan is daar ‘woord’ en ‘Woord’, natuurlik. Boggel, besluit sy, het eintlik ‘n wonderlike wysheid in pag. Sy wonder of hy dit besef…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s