Die Begrafnis wat nie was nie

Terwyl Oudoom oor Gert Beetge praat, sukkel Servaas om nie vir die klein houtkissie te kyk nie. Die Kersgeskenk wat Gertruida vir hom gegee het (was dit al vier jaar gelede?), was verpak in net so ‘n sigaarboksie.  Dit was nou wel van karton en glad nie so mooi  versier nie, maar dit was amper net so groot. Hy onthou dit nog goed: die asbakkie wat daarin was, saan nou nog voor sy bed.

Wat hom die meeste pla, is dat Gert nou in die boksie is. Die hele Gert.

Dis nie dat hy soos Vetfaan of Kleinpiet gebou was nie, maar hy was darem heelwat groter as Boggel. En dan was daar sy sin van humor, sy maklike lag, die breë glimlag en die wit tande. Hoe warm moet daardie vlamme wees om sulke tande te verbrand? Watter hitte is nodig om daardie glimlag weg te skroei tot ‘n souterige assie?

Servaas se gedagtes gaan terug na die keer toe Bokkop gebrand het.  Op die ou end kon mens die rook van die brand vir myle ver sien, en dis toe dat Gert aangejaag gekom het met ‘n klomp nat sakke agter op sy bakkie. Saam met die res van Rolbos het hy gestaan en vuur doodslaan tot lank na sononder. Eers toe die laaste vlamme geblus was het hy sy verbrande sakke agter op die bak gegooi en weer afgesit na Tonteldoos, sy plaas, toe. “Die veld sal herstel,” het hy nog gesê. “Van hierdie plante se sade het vuur nodig om later te ontkiem. Dit lyk nou sleg, maar wag maar…”

“Gert Beetge was ‘n eensame man.” Oudoom gebruik sy begrafnis stem, die een wat met afgemete waardigheid  die afgestorwenes vir oulaas groet. “Ons het in die laaste jaar hom mos maar selde op die dorp gesien, maar hy was deel van ons murg en ons bene. Ons sal hom onthou vir sy vriendelikheid en sy bydrae tot die kerkbasaar elke jaar.”

Servaas wonder wie in die vervolg die skape vir die vleistafel gaan voorsien en loer onderlangs vir Vetfaan. Oudoom sal seker kom opskeploer  met basaartyd. Sonder die vleistafel is die basaar gedoem tot Gertruida se hekelwerk en Boggel se pannekoektafel, en dit sal seker net genoeg geld inbring om die advertensies in die Upington Post te betaal.

“Wie van ons kan vandag met eerlikheid sê dat ons vir Gert Beetge ondersteun het in die laaste jaar of wat? Ek onthou hoe hy vroeër gereeld by die pastorie aangedoen het vir ‘n koffie en die hartlike geselsies wat ons altyd gehad het.” Servaas grinnik – en die skaapboud wat hy altyd saamgebring het, Oudoom – sê dit! Maar Oudoom sê niks hiervan nie en Servaas sug. Hoekom sê mense nie die belangrike dinge nie? En wat van daardie meisie?

Almal weet tog wat gebeur het – omtrent presies ‘n jaar gelede – voor Gert hom so op sy plaas afgesonder het.  As dit nie vir daardie Oostenryker was wat op Tonteldoos kom jag het nie, sou dinge seker anders gewees het. Servaas onthou hoe die hele Rolbos oopmond gestaar het na die man wat in die nuwe Land Rover by Boggel se Plek gestop het om aanwysings te vra. Leer kamaste, kakieklere en die luiperdvel om die stetson. Ag en as mens eerlik is, sal mens erken dat dit nie die voertuig òf die kleredrag òf die lang, rysige figuur van die adelman was wat almal beïndruk het nie, maar die kort rokkie van sy vroulike en uiters aanvallige passasier wat almal (Precilla inkluis)  se oog gevang het. Sy het nie uit die Land Rover geklim soos gewone mense nie – sy het uit die passasiersitplek gevloei in ‘n asemrowende oomblik van totale verwondering. Sy het die langste bene gehad wat Boggel nog ooit gesien het, en hier moet mens erken dat sy fokus gewoonlik meer op kuite as op skouers is. Kleinpiet het gesê sy had ‘n hoogere nes; iets wat hy met groot omsigtigheid aan Precilla moes verduidelik.

Kleinpiet maak sy oë vir ‘n oomblik toe en roep daardie oomblik van uitklim weer in sy verbeelding op. Sulke bene sien mens nie op Rolbos nie. Gertruida s’n is al ‘n bietjie verweer en Precilla maak ‘n punt daarvan om jeans te dra. Boggel dra soms ‘n rugbybroekie as hy sy kroeg skoonmaak, maar hy tel nie. En dis nou nie as of haar gawes by bene gebly het nie: haar slanke lyf, die parmantige deinings onder die bloesie en die vleklose vel van haar lenige nek het die oë opwaarts gelok tot by die blonde hare wat die hoë wangbene omsoom en die blou-blou oë aksentueer het. Sy het, onthou hy skielik, maklik gelag en die skitterwit tande dan laat flits in die son.

Ja, dink Kleinpiet, mens kan verstaan hoekom Gert sommer so stewels-en-al verlief geraak het op haar. Om so iemand te ervaar as jy nou gewoond is aan Mevrou Doom, Gertruida  en die res van die Vroueklub se postmenopausale lede, was sekerlik genoeg om ‘n soliede ou soos Gert van die spoor af te gooi.

Dis nie dat hy iets verkeerd gedoen het nie. Allermins. Die fraaie dame was die suster van die Oostenryker en nadat Fraulein Von Bergen-Schimdt aan hom voorgestel is, was dit gou duidelik dat hulle erg aangetrokke was tot mekaar. Gunter, die jagter en haar broer, het ook nooit kapsie gemaak as hulle saens so styf teen mekaar sit by die kampvuur nie.

Boggel sal later onthou hoe die twee in sy kroeg afskeid geneem het van mekaar. Daar was lang oomblikke van stilte terwyl hulle diep in mekaar se oë gekyk het en hulle oënskynlik  ‘per ongeluk’ voetjie-voetjie gespeel het. Adresse is uitgeruil en toe was Gunter haastig: die lughawe was nog ‘n heeldag se ry ver en dit was tyd…

Nou is al daardie mooi woorde en beloftes ook opgesluit in die klein houtkissie om êrens op Tonteldoos gestrooi te word.

“Ons is gras van die veld,” Oudoom se boodskap weergalm skielik in Kleinpiet se ore, “en tot stof sal ons terugkeer. Dis alles tydelik, Broeders en Susters, tydelik, tot ons eendag met die Wederkoms mekaar weer sal ontmoet.”

Kleinpiet wonder of die Fraulein so lank sal wag en of een of ander spiertier van Monaco nie dalk die resies sal wen nie.

Op daardie stadium kyk Oudoom op en verstar. Soos ‘n trop skape wat onraad gewaar, draai die een paar oë na die ander om na die kerkdeur te kyk, waar die silhoët van ‘n lang, slanke lyf in ‘n kort rokkie staan. Sy is, soos hulle onthou, beeldskoon. Dis doodstil in die kerk as sy met daardie mooi bene in die gangetjie afstap om by die kissie te gaan staan.

“I haf come for heem. I go now.” Sy tel die kissie op en streel liefderik daaroor.

Net dit. En daarmee draai sy om en stap by die kerk uit.

Oudoom is so verward dat hy eers ‘n diep sluk uit sy waterkraffie vat voor hy sy keel kan skoonmaak en ‘n gesang kan opgee. Miskien het die gemeente maar gedink dis reg dat die mooi vrou vir Gert en sy drome daar by die kerk uitdra want niemand het opgestaan om te probeer keer nie. Of miskien het nie een van hulle die moed gehad om die heiligheid van die herontmoeting te versteur nie. Dis as of almal met ‘n lamheid geslaan was tot na die gesang. Oudoom sê haastig ‘Amen’ en was die eerste by die deur.

Die meisie, en Gert-in-die-boksie was reeds weg. Daar was bespiegel en gesoek, maar later bloot aanvaar. Fraulein het gekom, gegaan; en wie sou haar verkwalik?

 

Drie dae later sit die gewone klompie in Boggel se Plek en hou nabetragting. Dit was, stem hulle almal saam, ‘n mooi diens en Gert het sowaar toe die meisie gekry. Of sy vir hom, as mens tegnies korrek wil wees.

“Maar hoekom sou Gert dan selfmoord pleeg? Dis so, kru, so anders as wat ons hom geken het. Hy was mos nie ‘n morbiede mens nie?” Vir die eerste keer in haar lewe, het Gertruida nie al die antwoorde nie.

Dis toe dat Servaas instap met Die Brief.

“Hier is iets wat vir Gert gestuur is van Oostenryk af, julle. Kyk die mooi seëls hierop. Aan Herr G Beetge, staan hier. Tonteldoos, Rolbos. Dis vir Gert.” Servaas se omslagtigheid spreek van sy onsekerheid. “Wat sal ons maak? Hy kan dit mos nie meer lees nie?”

“Dis seker van daardie Gunter af, man.” Gertruida probeer verlore aansien herwin. “Ons moet dit maar oopmaak en sy adres kry. Dan kan ons hom laat weet van die, er, skietongeluk.”

Die brief is skaars ‘n bladsy lank – en inderdaad van Gunter af. Dit begin as ‘n bedanking vir die heerlike tyd op die plaas en wat dit vir sy suster beteken het om so ‘n ware heer en sielsgenoot te ontmoet. Dan kom die belangrike deel:

“I regret to inform you that my sister had an accident last week while climbing te North Face of the Eiger Mountain. Apparently she slipped and the rope holding her, broke. She was killed instantly.”

In die kroeg is alles skielik stil.

“Dis hoekom,” verbreek Gertruida die stilte. “Dis hoekom hy dit gedoen het.”

“En die meisie in die kerk?” Kleinpiet is nie bygelowig nie, maar die koue rilling langs sy ruggraat laat hom sidder.

“Sy het hom kom haal, natuurlik.” Gertruida se glimlag kleur selfs die sinnetjie in. “Hy’t geweet en sy’t kom haal. O dis so romanties!”

“Dit gaan hom bokkerôl help as hy in ‘n kissie sit en sy’s ‘n spook.” Boggel is altyd die praktiese een wanneer dit by moeilike sake kom.

Gertruida leun sommer oor en help haarself aan nog ‘n bier.

“Partykeer, Boggel, verstaan jy ook niks. G’n wonder jy sit hier op Rolbos nie.”

 

Daar is soms insidente en gebeure wat nooit bespreek word nie. Mense kom dinge oor of hoor van iets wat so buite die normaal is, dat dit beter is om nie die onderwerp aan te roer nie. Sulke omstandighede is regtig skaars op Roplbos.  Maar sê iets van Gert Beetge en die Oostenrykse meisie, en luister na die stilte wat neerdaal  in Boggel se Plek.

Kleinpiet is oor èèn ding baie dankbaar. Hy weet daardie opgeruimde man wat hy as Gert Beetge geken het, lê nie opgekluister in ‘n houtboksie nie. Ook nie sy glimlag nie.

En dat hy nie meer alleen is nie.

8 thoughts on “Die Begrafnis wat nie was nie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s