Die Apokriewe Doos

Dis ‘n windstil dag op Rolbos – een van daardie dae wanneer die hittegolwe alles laat snaaks lyk en Vrede (die dorpshond) vergeefs soek na die yl skaduweetjie langs Boggel se Plek. Vetfaan het die vorige week per ongeluk op sy stert getrap en dit het die arme gedierte oortuig dat buite beter as binne is.

Vrede is nogal ‘n slim hond – soos honde maar kan wees – en soos die meeste slim goeters, is daar ‘n sensitiwiteit in sy gemoed wat mens soms verbaas. Hy sal uiteindelik vir Vetfaan vergewe, maar dit gaan tyd en biltong vat.  Van waar hy, uithang-tong en al langs die geboutjie lê, hou hy Vetfaan se naderende voetstappe met groot suspisie dop. ‘n Hond het sy trots en die stert klop nog saens seer as hy wil slaap. Dis beter om nie die naderende potensiaal van gevaar te ignoreer nie.

“Kyk, Vrede, oubaas se honne, hier is ‘n lekker been van gisteraand se afval.” Vetfaan probeer onskuldig lyk. Vrede inspekteer skielik die haartjies op sy linker voorpoot. Vetfaan trek sy skouers op en gooi die been in die drom wat langs die agterdeur staan. As die hond nou vol fiemies wil wees….

Boggel sit onder die toonbank by sy loergat, maar konsentreer so hard op die middelblad van die Playboy dat hy eers op Vetfaan se derde roep reageer.  Die bier word sommer oor die toonbank geskuif sonder ‘n groet, voor hy weer op sy kussing neersyg en die tydskrif optel.

“Mens kan beswaarlik glo dat al daardie apparaat aan een lyf vas is. Daar is ten minste genoeg vir drie vroue – en miskien vir ses mans. Ek sê jou: as ‘n ingineur so ‘n konstruksie vir goedkeuring voorlê, sal sy kollega’s hom uitlag. Dis fisies onmoontlik om regop te bly en balans te behou, man!”

Teen hierdie tyd is Vetfaan halflyf oor die toonbank in sy poging om die onderwerp van Boggel se bewondering van nader te probeer sien. Met die trap op Vrede se stert, het hy gestruikel en sy bril teen die koesyn gestamp. Oudok sê dit gaan twee weke vat om die nuwe bril van Upington af te kry. Spesiale lense.

Boggel hou half onwillig die tydskrif op vir Vetfaan se inspeksie. Hyself is nog lank nie klaar verwonder aan die foto’s nie, en hy wens Vetfaan wil sy bier vat en in die hoek gaan sit.

“Daai goed is groter as my Massey Ferguson se wiele, man! Die agterstes, nogal…” Hy gee ‘n lang fluit soos ‘n werktuigkundige doen as hy ‘n stukkende enjin sien. “Sy kan ‘n hele weeshuis voed.”

Boggel trek ‘n gesig. Vetfaan kan regtig onsensitief wees as hy wil. Verbeel jou…’n weeshuis!

Die vroulike stem agter Vetfaan laat hulle altwee ruk van die skrik.

“Vir wat lyk julle soos twee skoolseuns wat sigarette gesteel het?” Precilla staan hand-op-die-heup en wag vir ‘n antwoord. Sy het haar gewone jeans aan, wit toppie, gemaklike skoene en haar vars-gewasde hare blink nog van klammigheid.

“Nee, e, um, ons check net die advertensies in die Landbou Weekblad uit.” Vetfaan stamel ietwat, maar kry dit tog reg om oortuigend te probeer klink. “Nuwe tyres en so. Mansgoed. Jy sal nie verstaan nie.”

Precllla lag beleefd agter haar hand maar daar is ‘n tikkie spot in haar oë as sy na die tydskrif beduie. “Sammie het gesê hy het ‘n Playboy van Upington af gebring. So saam met die ander proviand, as ‘n grap, sien? Wie op Rolbos sou die moed h om dit te koop, en hoe gaan die mense skinder daaroor? Hy sê dis tyd dat ons iets anders kry om oor te giggel. Hy het ‘n weddenskap met Oudok aangegaan oor wie die Playboy gaan opraap. Oudok het geld op Servaas gesit.” Sy lag no so dat die trane teen haar wange afloop. Dan haal sy diep asem, kry beheer oor die lagbui en gaan voort: “Sammie sê hy het net sy goedjies afgelaai en vir Platnees gevra om die winkel op te pas terwyl hy in die pakkamer besig was. Toe hy na ‘n paar minute uitkom, was die tydskrif verkoop. Platnees het net gesê die persoon wat dit gekoop het, het hom tot stilte gesweer met tien Rand. Sammie kla nie: hy sê ‘n sale is ‘n sale. En hy’t nie van tente gepraat nie.” Die spotglimlag huiwer steeds om haar mondhoeke. “Maar ek het geweet een van julle sal die sondebok wees.” Sy begin opnuut lag. Boggel stoot haar bier oor die toonbank en wens hy kan onder die toonbank verdwyn.

“Dit wassie ekkie…” mompel by. “Maar so what? So dink maar wat jy wil. Die waarheid is dat ek dit in my asblik gekry het vanoggend. Wou die asbakkies skoonmaak toe kyk ek vas teen daardie twee groot goeters.”

“Trekkerbande…” Vetfaan probeer nog skerm.

“Aag Vetfaan, los dit. Sy weet daar is nie tyres in die Playboy nie.”  Boggel is sommer kortaf. Hy kyk vir Precilla vierkant in die oë as hy aangaan. “Dit is ‘n Playboy. Daar is meisies in. Meisies wat vreeslik gesond lyk. Besonders. En ek het gekyk, maar nog nie genoeg nie. Miskien dink jy dis snaaks, maar ‘n ou met ‘n boggel sien nie sulke goed in lewende lywe nie. Al wat ek sien, is die skoene wat mense aanhet, tensy ek by my loergat sit – dan sien ek mèèr as wat jy dink. Ek sien hoe Kleinpiet na jou staar en hoe jy maak as of jy dit nie sien nie. Ek weet Servaas loer vir Gertruida, en Gertruida loer weer vir Vetfaan. Oudoom loer vir Ta’ Hybie. Almal doen dit. Dis net Vetfaan en Servaas wat nie na mekaar loer nie. So as ek na ‘n foto loer, is dit nie so ‘n groot sonde nie. Dè: kyk as jy wil kyk. Ek sal die onderste helfte toehou vir jou.”

Boggel klouter (met moeite) op die toonbank, vou die tydskrif oop en hou sy hand beskermend oor die onderste bladsy, sodat net die meisie net bolyf en kniekoppe het.

“Mmm.” Precilla lag nie meer nie. “Dit is  nogal ‘n stewige stel skorsies daardie.” Sy draai haar kop skeef om die hoogte/gewig verhouding uit te werk en kom tot ‘n besluit. “Dis alles silikon. Kunsmatig. As daardie goed in hierdie hitte moet wees, sal dit smelt. Langs haar sye afloop en op die grond drup. Regtig! Kan julle nie sien nie – daar is die littekens waar hulle geopereer het.” Sy wys.

Boggel en Vetfaan (ene wetenskaplik toegewyde aandag) volg haar vinger tot die twee fyn lyntjies waar die operasiewonde moes gewees het. Boggel kry dit reg om vir twee sekondes na die littekens te kyk voor hy afdwaal, noordwaarts, waar Everest se twee pieke die horison versteur. Vetfaan se oë kom nie naby die littekens nie.

“Smelt?” Vetfaan is geskok. Hy al gesien hoe ‘n trekkerband afblaas toe Platnees oor ‘n skerp klip gery het. Dit was nie mooi nie. In sy geestesoog sien hy hoe die bergspitse die see insink, by wyse van spreke. Hy sidder, sluk sy bier weg en kry nog een.

“Ja, man. Julle mans is almal ketools. Plat karre en hooge vroue. Dit maak nie sin nie: nie een is prakties nie. Jy soek ‘n hooge kar, byvoorbeeld. Groot vroue word lelik oud, jy weet? Dis nou as hulle nie uitsmelt voor die tyd nie.”

Vetfaan is nie ‘n wêreldkenner van vroulike anatomie nie, maar die bietjie wat hy wel weet, laat hom kriewelrig voel oor Precilla se woorde.

“Wel, jy weet hoe dit is. Ons ouens wat by Rolbos boer, kyk mos maar na die hoogere mielies wat die ouens daar in die Vrystaat groei. Hier is ons tevrede as ons net ons saad terugkry. Dis maar met die Playboy ook so. Daardie Jersey-vrou lyk miskien goed op die middelblad, maar ons is so bly daar is nie sulkes hier nie. Oudoom sal hom hees noet preek en Boggel sal sy rug regop knak. Nee, Precilla, ons is bly jy’s hier. Ten minste is die smeltgevaar minder. Netjies en plat, jy weet?”

Nouja.

Enigiemand wat iets van die vroulike psige weet, weet dit was die verkeerde ding om te sê. Soos klappe gaan, was dit nou nie een van daardie wat bloed trek nie, maar die rooi hale was nog vier biere later steeds  die onderwerp van ondersoek en bespreking. Tot Boggel se eer moet mens ook melding maak dat hy nie hardop gelag het toe die hand Vetfaan se wang tref nie. Precilla het deur haar tande iets gesis van ek-is-nie-plat-nie voor sy uitgestorm het.

Die Playboy het nog twee dae op Boggel se toonbank gelê. Die bladsye was later ene hond-oor gevat van die nuuskieriges wat kom inspeksie doen het. Oudoom self het ‘n goeie twee uur met die foto’s gespandeer terwyl hy ‘n hele reeks preke uitgewerk het – of sò het hy gesê, iedergeval.

Rolbos hèt natuurlik gegis oor wie nou eintlik die tydskrif gekoop het – Boggel het by sy asblik-storie gehou en Platnees wou om die dood nie sê wie hom tot stilte gesweer het nie.

Dis jammer honde kan nie praat nie. Vrede sou vir Vetfaan kon sê hoe hy voel oor die stert-trappery en die twee sou gou tot vergifnis kon vorder. En, natuurlik, dardie yl skaduweetjie is reg langs die gebou; reg langs die drom by Boggel se Plek. Vrede was die enigste een op Rolbos wat gesien het wie die tydskrif daar kom indruk het. Hy sou, as hy nie name geken het nie, ‘n beskrywing van die man kon gee, swart manel en al, wat so skelmpies gemaak het as of hy bloot verbystap.

Miskien maak sulke goed nie saak vir honde nie. Hy was al immers in die gereedskapkamer, agter die pastorie, toe hy ‘n muis gejaag het uit pure verveligheid. Die klein diertjie het agter die groot doos waarop Apokriewe Boeke staan, gaan wegkruip en Vrede se gewoel het dit laat kantel en ‘n hele spul tydskrifte het uitgetuimel. Die lawaai van sy jagtog het die eienaar van die boeke  al swetsend laat naderstaan en hond en muis moes vinnig die aftog blaas.

Vrede sou al hierdie dinge kon vertel, as honde kon praat.

Maar, soos dit nou maar gaan, kan diere nie as getuies geroep word nie. Soos die res van Rolbos, gaan hy elke Sondag kerk toe, en hoor hy die boodskap van vergifnis en liefde al maak dit nie eintlik sin nie.

Rolbos is darem uiteindelik gesuiwer van al hierdie onheil. Gertruida het uiteindelik die tydskrif kom haal ‘om die blêrrie ding te gaan verbrand’. Die Apokriewe doos is’n paar weke later op die walle van die Oranjerivier gevind – halfpad Upington toe, waar dit uitgespoel het – en(on)gelukkig het die water toe al soveel skade gedoen dat die inhoud onleesbaar (onkykbaar) was. Oudoom kon vir ‘n hele maand preek oor Die Sondes van die Vlees terwyl Vrede, soos die res van Rolbos, gedut het. Getrou aan Oudoom se vorige boodskappe het die hond darem vir Vetfaan vergewe en ‘n stuk koedoebiltong as soenoffer aanvaar.

Die enigste een wat oënskynlik permanent beïnvloed was deur die tydskrif, is Precilla. Sy dra deesdae sulke los hempies saam met haar jeans. Sy sê ‘n vrou moet haar bates beskerm en nie adverteer nie. Vetfaan se opmerking dat jy nie jou talente onder ‘n maatemmer moet wegsteek nie, het  veroorsaak dat hy nòg ‘n klap gekry het.

Hierdie keer het Boggel hardop gelag.

Mense wat net hoor van Rolbos, sal dink die klomp is nie normaal nie. Waar sal mens nou sò ‘n spul kry met ‘n geweldige bewondering van trekkerbande, vergewensgesinde honde, Apokriewe boeke en vroue wat voel hulle het genoeg? Of mans wat sowaar skelm na littekens soek in tydskrifte? Of predikante wat preek oor onbelangrike dinge en honde wat die dorp se diepste geheime ken?

Die antwoord is eintlik eenvoudig. Rolbos is maar net ‘n splinter-stuk van ons almal se lewens. Nie ‘n groot splinter nie, maar darem. As jy mooi kyk, sal jy dit in die oog van die meeste mense rondom jou sien.

4 thoughts on “Die Apokriewe Doos

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s