Piet Bedonnerd

Piet Bedonnerd (eintlik Barnard, maar niemand gebruik sy van nie) is nie iemand wat maklik vergewe nie.; dis net nie in sy aard om ongesteurd van ‘n konflik af weg te draai en sy sielerus te verklaar nie. Mens kan hom eintlik met ‘n sieklike buffel vergelyk, maar dis onregverdig teenoor die diereryk in hierdie dae waarin ons almal so verantwoordelik voel teenoor die natuur. Buffels kan nie help as hulle sleg voel nie: Piet Bedonnerd kan. Hy pas sy misnoë op soos ‘n olifant ‘n kleintjie oppas  – en grootmaak. Die eens-klein en vreeslik oulike werpling verander mettertyd in ‘n reuse stormende bul op hitte. Piet se wrokvermoë is sò.

Hy sou seker die verskrikking van die samelewing op Rolbos gebly het as dit nie vir Sannetjie Cilliers was nie. Sannetjie was, in teenstelling met haar naam, nie eintlik klein en fyn nie. Mens sou haar eerder met Servaas se ou Chev kon vergelyk: ‘n massiewe enjin in die oorgroot bakwerk en modderskerms wat weerskante uitsteek, sodat jy op ‘n myl al sy aantog kan waarneem. Sy het weliswaar nie soveer duik- en roesmerke gehad nie, maar het daarvoor opgemaak deur skeel te wees. As Sannetjie met Oudoom praat, antwoord die hoofouderling gewoonlik; en sy het eindelose probleme as sy in Sammie se winkel probeer verduidelik watter  produk sy eintlik van die rak af wil hê. Haar kyk loop diè kant – en haar praat smeek anderkant; sò het die mense saamgestem.

Dit was ‘n kil herfsdag toe sy die straat-af kom met die modderskerms wat windmakerig waggel as teken van haar haas. Haar skoenpunte en oë mik, soos die politieke vergaderings op Upington, in verskillende rigtings; maar sy vorder teen ‘n verbasende spoed (vir sò ‘n ou Chev) in die rigting van Piet Bedonnerd se huis. Dis Sammie wat op die telefoon spring om mense in kennis te stel dat die oorlog nou sy Amajuba gaan hê. Piet Bedonnerd mag ingegrawe wees, maar as Sannetjie sò stap, kan mens verwag dat heelwat Rooibaadjies se lewe in gevaar is.

Straat-op en straat-af wikkel die sisgordyntjies van die slaap- en sitkamers soos mense stelling inneem. Rolbos…  By die meeste huise is daar vir sulke geleenthede ‘n pakkie Marie beskuitjies en ‘n bottel Jack, binne op die vensterbank. Mens wil mos nie opstaan as ‘n hoofvertoning aan die gang is nie: dis plein ongeskik. Sulke gebeure is skaars en mens wil nie iets mis omdat jy honger word, ‘n dors wakker word, of Vrede kom bedel vir ‘n koubederfie nie.

Sannetjie gaan staan, hande op die heupe, voor Piet Bedonnerd se tuinhekkie. Dit vat ‘n heel paar sekondes voor die modderskerms to rus kom en sy  genoeg asem het om op hom te skree.

“Piet Barnard!” Dit was die eerste teken dat sy baie, baie ernstig is. Om vir Piet op sy van te roep, is om in ‘n krokodil se bek te kyk. “Piet Barnard! Kom uit jou lafaard!’

As mens kon, sou jy opmerk dat die lugdruk in die dorp daal terwyl almal gelyk hul asems intrek. Ta’ Hybie het later erken dat sy  gou opgestaan het en ‘n laken oor haar spieël gaan hang het – mens weet nooit waar die donderweer kan skade aanrig nie.

‘n Doodse stilte daal oor die straat neer. Sannetjie het haar modderskerms weer laat bewe en wèèr geroep, maar sy was net verby Bar en voor nard toe die voordeur oopvlieg.

Nou, as Sannetjie ‘n ooreenkoms of twee met Servaas se ryding gehad het, kan mens sê Piet Bedonnerd is geskape in die gelykenis van die dorp se stootskraper. Sy neus was al so baie gebreek dat hy  sinkplaat daarmee kon gelyk skraap en sy woeste hare kon net sowel die rook bokant die uitlaatpyp gewees het. Sy welige wenkbroue herinner mens aan die wilgeboom by Grootdrink se brug, want dit kom so halfpad langs die oë af, neus se kant toe. Omdat geen tandarts in die Noord-Kaap kans gesien het om aan sy tande te werk nie (daar was ‘n storie dat hy ‘n tandarts te lyf gegaan het en gate in al die arme man se tande geboor het nadat hy hom vasgemaak het op sy stoel), het hy net twee tande oorgehad: bo, voor, links; en onder, agter, links. Dit het veroorsaak dat sy lippe, nes die padskraper se lem, skuins na eenkant toe gehang het as hy nie gepraat het nie.

Vir solank Piet Bedonnerd op Rolbos bly het ouers hul kinders in toom gehou met diè vreesaanjaende man. Met die geringste oortreding word gewoonlik gedreig om die oortreder na Piet Bedonnerd te stuur vir rehabilitasie – ‘n dreigement wat ‘n permanente en algehele herstellende invloed gehad het op ‘n hele geslag kinders. Ta’ Hybie – die een met die spieël – se Alsation het vir ‘n maand in die motorhuis weggekruip nadat hy Servaas se kat tot in Piet se erf gejaag het.

Piet Bedonnerd se deur het ook nie net oopgevlieg nie. Dit was meer soos ‘n ontploffing in ‘n hoenderhok. Die een oomblik was die deur nog heel en toe; die volgende lyk dit kompleet asof die deur ‘n lewe en vlerke van sy eie gekry het soos dit met soveel mag oopbars dat die onderste skarnier eers ‘n week later anderkant die straat gekry is.

“Wat staat en skrie jy soe?” Piet is van die Boland af. “Kan man dan nie eens ‘n middagslapie inkry op hierdie godverlate, eenvoudige, stofbelaaide verskoning van ‘n dorp nie?” Die sweetdruppels pêrel op sy voorkop uit soos hy skree. Hy is skoon blou in die gesig van inspanning.

“Dis jy, jou lafaard!” Sannetjie staan nie nader nie en gil van die straat se kant af. “En net om jou te herinner – jy bly ook hier. Dit maak jou net so eenvoudig en stofbelaaide soos die res van ons.” Die Chev se enjinkap dreig-dreig om oop te spring van die inspanning. “Vir wat staat en maak jy my naam sleg in die pastorie? Kom, kom! Vertel vir die dorp wat jy gesê het.”

Vir ‘n oomblik lyk dit as of die stootskraper teen ‘n wal vasgeloop het. Maak jy jou oë toe, kan jy in jou verbeelding sien hoe die blou dieseldampe bo die uitlaatpyp uitborrel  om teen die opdraend uit te kom voor hy die pedaal nog dieper intrap.

“Dis alles waar, jou feeks! Elke woord. Daardie aand het jy jou ware kleure gewys! Hoe kon jy?”

“En jy het maar net toegekyk, soos ons Boermense maar doen? Jy kon gevra het, as jy mans genoeg was.”

“Behalwe dat ek alles gesien het! Jy het daardie hele sak perskes alleen opgeëet.”

“Dit was my perskes, jou stommerik. Ek het dit vir die basaar geskenk!”

“…en toe rustig staan en opvreet? Jou sogenaamde skenking weer verorber omdat jou lus groter was as jou barmhartigheid? Dis ‘n skande om van die kerk te steel!” Hy trek ‘n diep asem terwyl hy sy oupa se gesegde probeer onthou. “Eens gegeven, dan genomen; erger als een dief gestolen.”” Die blink van oorwinning skitter in sy oë. “Natuurlik was dit my Christelike plig om die Dominee daarvan te vertel. Verbeel jou…om van die Kerk te steel!”

Mens kan sien hoe Sannetjie haarself opwen voor sy antwoord. “Vals! Vals! Jy’s ‘n adder in die boesem van die gemeente, Barnard. Jy kweek verdeeldheid in die Kerk wat jy nou so kammakastig hoog aanskryf. Kyk: hier is my blêrrie kwitansie, jou ou gek! Ek het self my perskes teruggekoop. Gertruida self het die inskrywing gedoen. As jy meer belang gestel het in die mense om jou, sou jy geweet het ek kan nie sonder my perskes nie!” Skielik, omdat sy voel sy moet verduidelik, lyk sy skaam. “Dis vir my…er…konstitusie, sien?”

Vir ‘n paar oomblikke word agter die gordyntjies gekou, gesluk en asem opgehou.

“Magtag!” Piet lyk skielik soos iemand wat van Bitterbrak se water ingekry het. “Regtig?”

“Ja, jou ou …” Sannetjie se slegsê-woorde is opeens veels te onvoldoende om haar wrewel oor te dra. “…verslonsde ou man! Kyk hoe lyk jy! Plaas dat jy jou hare kam en daardie boskaas afskeer! Jou huis is seker net so deurmekaar as jou simpel ou kop.”

Soms, as mens regtig iemand wil vertel hoe sleg hy is, kom jy baie verder met feite as met vloekwoorde. Piet Bedonnerd is gewoond aan vloek – feite ruk die vloer onder hom uit.

“Daar is niks verkeerd met my blerrie huis nie! Kom! Kom kyk self, jou ou onvergenoegde skepsel. Kom kyk nou!”

Dit word ‘n lang middag agter die sisgordyntjies. Hier en daar moet die wagters op die mure gou kombuis toe, vir nuwe proviand. Dit word skemer. Later nag. En uiteindelik, een lig na die ander, word Rolbos donker in die aanvaarding dat die straat-aksie iets van die verlede is.

*

Oudoom het ‘n mooi seremonie gehou; gepas vir twee bejaardes wat na ‘n leeftyd van swoeg, uiteindelik uitgevind het dat woede dikwels net die kluis is waarin passie skuil. Piet het sy stralende bruid belowe hulle sal nooit meer so in Rolbos se strate op mekaar skree nie. Sannetjie se skeel oog het soek-soek in sy rigting gestaar voor sy Ja gsê het.

Daarom bly hulle – so skree-skree en liefdevol – tans in Grootdrink. Wat mens ook al van Piet kan sê: hy bly ‘n man van sy woord.

7 thoughts on “Piet Bedonnerd

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s