Boggel se Nuwe Dak

Boggel het lankal gesê die dak moet reggemaak word, maar niemand neem hom mos ooit ernstig op as hy wil karring met die Plek nie.Kyk nou maar na die keer toe hy die kroegtoonbank se deure uitgehaal het: Kleinpiet het gesê dis al waar hy iedergeval kan bykom, maar nadat Boggel die tweede skroef se kop afgedraai het, het hy alles net so laat staan. Die een deur wat hy afgekry het, het genoeg spasie gelaat vir hom om in te klouter om by sy loergat uit te kom. Die enigste verskil was dat Rolbos se dorstiges nou glad nie geweet het of hy daar sit as hulle inkom nie – in die verlede was die oop deurtjie darem ‘n redelike indikasie dat die kroegman aan diens was.

Die ding met die dak het begin toe Vetfaan laasjaar se kersfeesversierings opgehang het. Boggel kan mos in sy lewe nooit daarbo bykom nie en het ‘n ruim dubbel aangebied vir die man of vrou wat hom daarmee sou help. Sò ‘n aanbod is natuurlik iets wat eers deeglik bespreek moes word voor die vrywilliger aangewys word. Tydens sulke besprekings (wat heimlik deur Boggel aangemoedig word deur ekstra grondbone op die toonbank uit te sit) verdubbel Boggel maklik sy omset.

Dit was dus heelwat later op daardie besondere aand dat Vetfaan eerste bes gee. Hy het skape om te skeer en moes die volgende oggend vroeg op sy plaas wees, en daarom het hy so skuins-na-een met waterige oë na Boggel gekyk en gesê ekshalditdoen.

Met die kreukelpapier en die drie herders in die een hand, die hamer in die ander en die spykers tussen sy tande, het Kleinpiet en Precilla hom op die middelste tafeltjie gehelp. Gertruida, wat alles weet, het gesê hier kom moeilikheid, maar niemand luister mos na haar nie.

Toe Vetfaan die tweede skaapwagter vaskap teen die balk wat die sinkplate op die dak vashou, het die tafel onder hom gewankel, gekantel en meegegee. Vetfaan het ten hemele gegryp, die balk beetgekry en tussen hemel en aarde sy lot luidkeels aan Rolbos bekend gemaak.

Boggel het nog grondbone gaan haal, want hy het geweet hierdie situasie sal ook eers deeglik bespreek moet word voor die vrywilliger aangewys word wat vir Vetfaan moet help.Kleinpiet het later gesê dis omdat Boggel so lank gedraai het, maar Gertruida sê dit sou geen verskil gemaak het nie. Die balk – volgens haar gerespekteerde opinie – is gemaak om sinkplate in die lug te hou, nie mense nie.

Met ‘n besonder luide kraak het die balk sy onvermoë bekend gemaak met ‘n paar desibels  bokant Vetfaan se beste pogings. Gertruida het geskree hier kom hy nou!, ‘n uitroep wat Kleinpiet se brandewyn in die verkeerde sluk afgestuur het. Precilla het gedink iets is baie snaaks en Boggel het met ‘n besonderse vaart onder sy toonbank in verdwyn.

Mens hoef nie te veel verbeelding te hê om hierdie toneel so vyf minute later te skets nie. Boggel het bedien, sy klante was aan’t drinke en die grondbone op hul plek. Sou jy verby Vetfaan se hygende asem kyk, was dit net die ingesonke dak wat jou aandag sou trek. Die gesprek, op daardie stadium, het natuurlik gegaan oor die vrywilliger wat na vore moes kom om ‘n paal onder die gebreekte balk in te stoot, sodat Boggel se Plek darem toeganklik sal bly as mens van die straat se kant af wou inkom. Gertruida het gesê dit sal nie werk nie, maar Kleinpiet (in ‘n oomblik van gewetenswroeging) het gesê hy sal, omdat Vetfaan alreeds ‘n moeilike aand gehad het. Dit was dan die nimlike Kleinpiet, vlytig soos altyd, wat die een pilaar by die ou gruisgat-kantoor gaan loswikkel – en daardie houtpaal kom inwig het onder Boggel se sakkende dak.

Die derde skaapwagter het toe maar agter die grondbone geskuil uit vrees dat Vetfaan sy pogings om ‘n Nytiwitie Sien (Gertruida se woorde) te skep, sal hernuwe.

Vir die liefde van die lewe kon Boggel se klante dus nie insien dat hy iets mèèr wou doen om sy dak daarbo te hou nie. Die kreukelpapier en die twee skaapwagters was netjies gerangskik sodat mens nie sou dink daar is iets fout met die balk nie, maar nadat Servaas twee keer (op een aand) teen die houtpaal vasgeloop het (die tweede keer moes Oudok watte in sy een neusgat druk om die bloed te stop), is daar na die derde bak grondbone besluit dat Boggel se Plek beter sou lyk met ‘n nuwe dak. Vetfaan het in die Noord-Kaap Agri se boekie gaan rondblaai en met ‘n prys vir nuwe balke en sinkplate vorendag gekom.  Grasbedekking is nòg duurder. Daar was ‘n gewyde stilte nadat hy die bedrae bekend gemaak het.

“Miskien moet ons maar net ‘n rooi liggie aan daardie houtpaal vasmaak,” is Precilla se bydrae, “dit kan mos nie so baie kos nie?”

“Dan kom Sersant Dreyer hier aan en arresteer vir Boggel. Dit kan pret wees: die koerante sal skryf oor Boggel se Rooilig Plek!” Vetfaan sou verder wou uitbrei oor die voordele van Boggel se Bordeel as dit nie was vir die deurdringende kyk in  Gertruida se oë nie. ‘n Man moet weet wanneer hy sy mond moet hou.

Kleinpiet klap sy vingers.

“Briljant! Fantasties!”

Almal kyk vir Kleinpiet wat nou met sy vinger in sy bier speel.

“Wat?” Die ander klink soos ‘n spreekkoor.

“O?” Kleinpiet wil nie sommer sy pêrel so goedsmoeds voor die swyne werp nie en bou die spanning ‘n bietjie verder op voor hy aangaan: “Ons moet ‘n fondsinsameling hou. Vir die dak. Dan kos dit niemand niks nie.”

Gertruida maak haar seekoei-geluid – sy pomp eers haar wange op voor sy die asem deur haar lippe forseer –en gryp na haar glas. Precilla hoor hoe sy idioot! prewel.

Ten spyte van Gertruida se afkeur (of miskien juis as gevolg daarvan) word die beginsel van ‘n fondsinsameling druk bespreek en met ‘n enkele teenstem aanvaar.

“Nou hoe wil ons maak, julle?” Vetfaan neem sommer waar in sy amptelike posisie van Minister van Omgewingsake.

“’n Stripties!” Dis Servaas wat inkom en sommer by die gesprek aansluit nadat hy versigtig om die houtpaal geskuifel het. “Mens kry een van daai ghoughou girls en dan betaal almal om haar te sien. Een show en die dak is betaal. Ek het dit al sien gebeur.”

Wat hy al gesien het, traak Gertruida min. Sy seekoei weer – net harder hierdie slag.

“En jy ken so iemand, Servaas?” Mens moet doof wees om nie die vernyn in Precilla se stem te hoor nie.

“Daar was ‘n advertensie in die koerant die anderdag. Net langs die doodsberigte. Die vrou het gesê sy kan reis en sy’s goedkoop.”

 

Twee weke later, ten spyte van Gertruida se openlike vyandigheid, is Boggel se Plek gepak met die distrik se boere. Manne van so ver as Grootdrink en Vanzylsrus sit al van vroegdag af en kuier in afwagting van Cheri, die kabaret-danseres van Pofadder se wêreld. Boggel het slim beplan en al Sammie se grondbone opgekoop – voor Sammie geweet het van die plan om die omgewing se manne te onthaal met Boggel se 3-D aand, soos hy dit genoem het. Gertruida het geweet dit staan vir Drank  en Dans, maar die derde D, soos die herder agter die grondbonebak, is nie prominent vertoon of bespreek nie.

Cheri het net na ses opgedaag in haar DKW met sy skril enjintjie. Die manne het een-een verby die houtpaal geskuif om by die venster te loer. Cheri het met verdrag uit die DKW – amper soos osmose, het Gertruida later smalend opgemerk – te voorskyn gekom. Selfs Vetfaan, wat van groot vroue hou, was verstom.

Gertruida sê mens praat nie oor daardie aand nie. Dis heiligskennis, sê sy. Die feit dat die hele distrik nie met blindheid geslaan is nie, is bloot genade, sê sy.

Cheri hèt gedans, en die manne hèt gedrink. Weens die oormaat van Cheri so omtrek, het die derde D verborge gebly. Niemand het gekla nie, behalwe toe Boggel se brandewyn al teen agt-uur op geraak het.

 

Die nuwe dak op Boggel se Plek lyk nogals mooi – veral as mens hom so sien blink as jy van ver af aangery kom. Boggel bêre deesdae die drie skaapwagters agter die Oude Meester bottels. Hy sê dis tyd dat Rolbos sy prioriteite regkry.

 

 

Onthou: Vadersdag…Laai nou af!

2 thoughts on “Boggel se Nuwe Dak

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s