Versluis se Fortuin

Hoofouderling Versluis staar na die ry syfers in totale ongeloof. Dit kan tog nie wees nie. Dit mag nie wees nie.

Maar dit is.

Duidelik, in vet, swart syfers, staan die ses getalle netjies langs mekaar op bladsy drie van die Rapport: 7,13, 16, 22, 34, 46. Hy is in 1946 gebore; Siena is sewe jaar jonger as hy, dertien was nog altyd ‘n nommer met betekenis vir hom, twee-en-twintig en sestien verteenwoordig hul verjaarsdae se datums en hul adres is 34 Nooitgedacht Straat. Wat was die kans…?

En hy, Versluis, Hoofouderling en bewaker van sedes, het nog altyd hom ten sterkste teen dobbelary uitgespreek. Dis wel so dat daar lootjies getrek is in die Bybel, en dat die lot op Jona geval het, maar deesdae is dinge anders en sulke onsinnighede hoort nie in die gemeente nie.

Dan draal sy oog na die wenbedrag. R 64,000,000,00. Vier-en-sestig miljoen!  In sy gewone lewe is Gerhardus Versluis ‘n boekhouer en die omvang van die getal laat hom hygend na die drank kabinet strompel. Geheelonthoudende ouderling of nie, hierdie Sondag sal maar ‘n uitsondering moet wees.

Die brandewyn sny in sy keel af. Wat sal die gemeente sê? En Dominee? En die eerwaarde Kerkraad? Nee, daar is geen manier hoe hy hierdie nuus met hulle kan deel nie. Of selfs met enigiemand nie. Hoe kan hy beken dat hy sporadies, een keer per maand as hy op die buurdorp die dokter se boeke gaan doen, by die kaffeetjie stop en ‘n kaartjie met hierdie nommers op, koop? Erger nog, dat hy nou steeds, na al die jare, nog skelm die Rapport op Sondae koop en vol verwagting die wennommers opsoek – selfs vòòr hy tersluiks na die agterblad loer?

Net om seker te maak, gaan haal hy die wenkaartjie uit die laai, waar dit onder sy sakrekenaar lê. Ja, daar is geen fout nie: die nommers is reg, die datum klop: hy is inderdaad die wenner van ‘n absoluut ongelooflike hoeveelheid geld. Die rykste man in die dorp, die distrik, selfs miskien die provinsie. Hy en Siena is miskien bejaard, maar steeds lok die gedagte aan ‘n wêreld toer, ‘n huis by die see, ‘n nuwe motor en selfs miskien daardie gastehuis waaroor Siena nie meer praat nie. Toe hulle jonger was, het sy soveel drome gehad, maar oor die jare het hulle maar feite in die oë gekyk en vrede gemaak : hy sou moes werk tot sy laaste lewensdag toe. ‘n Boekhouer in ‘n klein dorpie met ‘n arm gemeenskap se kans om gemaklik af te tree is iedergeval skraal. Siena se bydrae tot die huwelik was ses gesonde seuns, en hul universiteitsgelde het meeste van sy spaargeldjies opgevreet. Die kinders sit nou versprei oor die wêreld – Ierland, Kanada, Australië en Argentinië – elk met ‘n eie gesin en toekoms en min erg oor hoe swaar Gerhardus Versluis het om van dag tot dag sy sente om te draai om seker te maak dat hulle redelik gemaklik lewe.

Die warmte van die brandewyn laat hom ‘n bietjie ontspan. Miskien kan hy ‘n wynplaas koop en ‘n ordentlike nalatenskap vir sy seuns opbou? Maar nee – hy is te oud en hulle sal tog net baklei oor wie kry wat.

Die gelui van die kerkklok vir die tweede diens versteur sy gedagtes. Siena het by die kerk agtergebly om te help met die tee-bedienery en hy sal moet spring om betyds terug te wees.

Maar hy kan mos nie daar gaan sit met sy vroom gesig en maak as of hy nog net so heilig is as vòòr die eerste diens nie? Hy het immers vier-en-sestig miljoen redes om skuldig te voel. Hy, hoofouderling…dobbelaar! Erken hy dat hy, wat so woordwys was tydens die onlangse gesprek oor die morele standaarde in die land, ook deel is aan die dobbelary wat soveel gesinne verwoes; dan sal Dominee en die eerwaarde Kerkraad hom mos ten diepste veroordeel?

Daar is nog tyd vir ‘n vinnige brandewyntjie voor die diens en hy gooi ‘n ruim porsie in die drinkglas, wat hy met ‘n enkele teug ledig. Hygend na asem, sit hy vir ‘n oomblik voor hy opstaan. Sy besluit is geneem: niemand, niemand mag hiervan weet nie.

By die voordeur trek hy sy das reg, maak seker dat die wit sakdoek perfek vertoon in sy baadjie se boonste sak, en stap uit in die helder sonlig. En die duisternis het die lig nie oorwin nie – waar kom diè gedagte vandaan? Nee, hy kan nie lieg oor hierdie saak nie. Siena sal hom nooit vergewe nie – hulle deel dan alles, reg van die begin af. Hy sal moet praat, moet erken dat hy huigelend en welwetend die gemeente mislei het. Hy steek in sy spore vas: ‘n leeftyd van voorbeeldige en korrekte optrede mag darem wragtag nie deur ‘n stukkie papier verwoes te word nie!

In die voorportaal van die kerk staan nog ‘n paar mense rond en as hy in die gangetjie afstap na die ouderlingsbank toe, voel hy die oë op hom rus. Gert Viljoen, wat  die drankwinkel het. Magriet Beukes, die losbol wat met die prokureur gelol het. Skelmdanie Cilliers, die tweedehandse voertuighandelaar waaroor almal kla. Pieter van Staden wie se bedrogsaak in die Hoogeregshof voortsleur.

Sondaars! Sondaars, almal van hulle. En hy, Hoofouderling Gerhardus Versluis, die grootste van almal.

Hy draai om, sy besluit gemaak. In die verlate voorportaal neem hy ‘n tiende-koevertjie van die rakkie af en druk die sonde-kaartjie daarin. Dis ten minste annoniem en as die kerk dan voordeel uit sy sonde trek, is dit beter as Judas wat deur sy silwerstukke veroordeel is.

*

Klaas Kotze en Dominee tel, soos altyd, die kollekte na die diens. Dit gaan maar karig deesdae, en tiende-koevertjies is skaars.  Terwyl Dominee die silwer en koper munstukke sorteer, skeur Klaas die twee koevertjies oop wat tydens die diens ingegee is. Twintig Rand uit die een, ‘n Lotto-kaartjie in die ander.

“Dominee weet, soms wonder ek oor die gemeente. Vir wat sal ‘n man nou ‘n ou Lotto-kaartjie ingee en nie sy tiende nie? Dink hy die Voorsienigheid weet nie van sy sonde nie? Ek raak so boos vir sulke kortsigtigheid!”

Met al die verontwaardigheid wat ‘n diaken betaam, word die kaartjie in die snippermandjie gegooi. Die kerk kan nie sò met haar laat spot nie.

*

Drie maande later, vêr in die noorde van die ou Vendaland, sit Alpheus en kyk hoe die stootskrapers grond gelyk maak vir sy nuwe huis. Sy mense weet hy lieg: hoe anders word ‘n kerk se tuinwerker skielik so ryk? Hulle bejeën hom met ‘n mate van agterdog, ‘n titseltjie ongeloof en geweldige respek.

Nee, hulle het altyd vir Alpheus te vlak beoordeel, dis seker. Hy moes iets verskrikliks verkeerd gedoen het om soveel geld in die hande te kry, iets sò groot en onnoembaar dat selfs die polisie nog nie eens een keer kom vrae vra het nie.

“Jy’t ‘n ticket by die asdrom gakry, Alpheus?”

Die vraag is al ‘n duisend keer gevra, en elke keer as Alpheus instemmend knik, lag almal hartlik saam.

En Gerhardus Versluis, wat presies weet wat van sy kaartjie geword het, het iets van sonde uitgevind: dis nie die doen daarvan wat jou so straf nie, dis die gevolg. Elke keer as hy van die dokter op die buurdorp af terugkeer, kan hy nie anders as om verlangend na die kafeetjie te kyk nie. Dan sal hy telkens sy wit sakdoek uit sy bo-sak uithaal en sy oë droogmaak. Vir ‘n man wat sy lewe lank ‘n reguit paadjie geloop het, huil hy nogal baie deesdae.

Dokter sê dis normaal –  baie ouer mense word maar soms so emosioneel oor nietighede. Dis net Siena wat verstaan – sy het immers al die jare geweet van die kaartjies wat hy so in sy laai weggesteek het. Maar nou, soos destyds, sê sy niks daaroor nie. Sy reken Hoofouderling Versluis – haar eerlike, rigiede, eng en opregte man – se straf is swaar genoeg.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s