Die Wolletjiestrui

ImageIn die tyd toe Hybie en haar galblaas se paaie finaal uitmekaar gevurk het, het Oudoom sy pastorale plig gedoen en daagliks vir haar gaan kuier. Gertruida het gesê dis omdat die ander predikante hospitaalbesoeke gebruik om hul gemeentes te groei, en dat Oudoom dit nie kan bekostig om ‘n gemeentelid te verloor nie. Hoe ook al, Hybie – met haar besondere mates en skelm rokery – moes ‘n tydjie in die intensiewe eenheid spandeer. Dis waar Oudoom die vrou ontmoet het…

Upington se hospitaal is maar soos enige ander (in die Ou Suid-Afrika) – met wit mure, blink vloere en skoon linne. Verpleegsters praat met gedempte stemme en dokters het daardie selfversekerde houdings wat aan almal wys hoe belangrik hulle is.

Die vrou wat voor Intensiewe Sorg gesit het, het maar verslons gelyk en niemand het regtig aan haar aandag gegee nie. Sy het kop-onderstebo gesit en brei van vroegdag af tot laataand, haar stukkende skoene netjies onder die stoel weggesteek en die skeur in die rok onder haar bobeen ingevou sodat sy nie aan ander aanstoot gee nie. Oudoom het haar opgemerk omdat sy so stil was: in hospitale is daar altyd gedempte stemme en vinnige bewegings – hierdie onnatuurlike stilsit en brei het glad nie ingepas by die skyn-ordelike atmosfeer rondom haar nie.

Teen dag drie van haar waak, groet hy haar strammerig met sy verbystap. Die Intensiewesorg Suster vertel dat die vrou se kind in die Eenheid is met breinbeserings na ‘n motorongeluk. Dinge lyk nie goed nie, maar alles moontlik word gedoen. Ja, hulle het ‘n staatsmediese fonds, maar diè sal nog net vir twee dae betaal, dan moet die pasiënt uitgeplaas word. As hy onder die huidige omstandighede na ‘n saal toe oorgeplaas word, is dit so goed as ‘n doodsvonnis.

Met sy uitstapslag gee hy haar skouer ‘n bemoedigende drukkie en mompel iets lomps (soos: dink aan jou, of hoop dit gaan beter…) Sy kyk op en vir die eerste keer sien hy die jong gesiggie met die penetrerende oë, geskei deur ‘n diep frons. Sy glimlag, knik, en kyk weer af na haar waar haar hande besig is om te brei aan … ‘n trui, sien hy. ‘n Veelkleurige maaksel met oorskietwolletjies, netjies – maar wie sou nou so iets wil dra? Bruin en swart en geel en blou.

Die volgende oggend is sy steeds op haar pos as hy verbykom. Sy groet skugter en vra of Oudoom nie vir haar sal kom sê ‘wat daar binnekant aangaan’ nie.

Die Suster haal haar skouers op. “Jy weet mos hoe gaan dit met sulke hoofbeserings. Wie weet wat daar binne aangaan? Miskien is halfte van die belangrike sentra in sy midbrein dood, miskien is hulle net geswel. Maar tans is daar geen vordering nie. Die Neuroloog lyk ook maar bietjie moedeloos.”

Haar hande hou op met brei as hy uitstap. hy vertel wat die Suster kwyt geraak het en sê hy is jammer. Sy begin weer brei, net vinniger.

“Miskien kan ons bid,” sê sy aan die trui-in-wording.

Die breinaalde klik-klik onverstaanbaar en sy kyk noodgedwonge op.

Oudoom huiwer. Hy kan mos nie vir haar bid nie! Hy ken haar skaars. En daai seun sal mos nie regkom oornag nie? Wat is die groter sonde: om haar vals hoop te gee, of om iets te bid wat jy nie glo nie?

Die klik-klik word stil en die oë pleit. En in daardie stilte vra Oudoom dat God se wil aan hulle bekend gemaak word. Hy bid oor die fonds wat môre uitgeput sal wees en oor die jong lewe wat nog soveel vir ander kan beteken. Dis ‘n kort, eenvoudige gebed. As hy ‘amen’ sê, klik die naalde weer ritmies en sak die geronde skouers weer na hul gewone posisie.

Die volgende oggend is haar plek op die bank leeg. Oudoom wéét sommer. Die ys-hand van teleurstelling klem om sy hart as hy die eenheid se deur oopstoot.

Hybie groet vriendelik. Sy het jellie gehad vir ontbyt en het ‘n verpleegster omgekoop om vir haar ‘n vetkoek te bring.

“Haai, weet jy, Dominee? Daardie seun gaan staan toe sommer en word wakker,  twee uur vanoggend. Regop gesit en gevra vir poeding. Hulle het hom oorgeplaas na die gewone saal.”

Partykeer, op koue aande as hy alleen voel, dan grawe Oudoom die oorskietwolletjiestrui uit sy klerekas uit. As hy die rafeltjies aan die binnekant van sy mooi trui oor sy vingers gly, verwonder hy homself oor die geloof van ‘n eenvoudige moeder. Dit was haar oortuiging wat die verskil gemaak het – nie sy gebed nie.

Gelukkig gaan dit nou beter met die vrou. Dis Hybie – nou met haar nuwe eetlus en groter omtrek – wat gesorg het dat sy werk kry. Sy’s nou sekretaresse by Pastoor Posthumus, die een wat so die hande oplê.

Oudoom sê mens moenie probeer verstaan nie. Geloof en gebed is diep dinge. Sonder dit, sien jy nie wonderwerke raak nie. Hy sê hy gaan nog eendag hieroor preek, maar hy soek nog die woorde.

15 thoughts on “Die Wolletjiestrui

  1. cathome36

    dit was nou voorwaar pitkos vir my siel vanoggend. ek nog nuut met die bloggery en het nou net by my blog geskrywe oor brei in die publiek – wwkip, en hier lees ek presies waaroor dit gaan, better living through stitching together…

    Reply
  2. skoppensvrou

    Soos gewoonlik het ek humor verwag, jou vertel doen my altyd goed. Diep woorde nou gelees. ek het myself erken in daardie wag van ‘n seun met breinbeserings, geen hoop gewees, indien hy sou leef sou hy ‘n veg wees. Gebed verander sake, daarvan kan ek getuig. Dankie Amos vir hierdie sag op die hart vertel!

    Reply
  3. Laetitia

    Ek stuur dit aan vir ‘n vriendin wie se seun gisteraand in die hospitaal opgeneem is met klierkoors. Intussen klik my breinaalde baie vinnig – moet nou die oorskietwolletjies opgebruik. Handskoene, nie ‘n trui nie.

    Reply
  4. Elsie Olivier

    Hoe kan mens in woorde sê hoe jy voel ? Die verhaaltjie streel so al langs die kante van mens se hart

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s