Hybie se Geheim.

Ta’ Hybie haat hierdie skewe bek wat homself die heeltyd op haar gesig kom vasplak. En die hang-oog, en die hang-wang, en die hang-hand, en die sleepvoet.

Sy was altyd mooi gewees. Baie mooi. Op sestien was sy die hoofdirigent by die interhoër teen Upington; en toe sy agtien was, het ‘n koerantfotograaf haar afgeneem. Ek wil jou inskryf vir Mejuffrou Suid-Afrika, maar ek is nie seker of hulle dit gaan toelaat nie. Meisies mag nie so mooi wees om in te skryf nie, sien; want anders raak gewone girls skoon depressief as hulle die foto’s sien. Jy kan maar kyk – dis sulke common girls wat altyd wen.

Die fotograaf – nogal ‘n vryskut – het gesê hy reis deur die platteland om gewone meisies ‘n gelyke kans te gee om Miss South Africa te word. Hy het gereken dat die stadsmeisies net te veel van hulself dink; en dat hulle dink hulle is te goed om deur so ‘n ekspert soos hy afgeneem te word – wat weer bewys het dat hulle glad nie die intelligensie van die plattelandse dametjies het nie. Giovanni Santana (Gertruida sê daar is nog van sy foto’s erens in die Sondagkoerant se argiewe), was geseënd met Italiaanse gelaatstrekke, ‘n lang, donker kuif en tonne manlike sjarme – dit was maklik om in te stem op die foto-sessie in die kamertjie waar hy gebly het.

Hy was ‘n slim kêrel, diè Giovanni. Hy’t gesê kamera’s vang altyd die verlede vas. En weet jy, het hy gesê, dis ‘n manier om die verlede in die toekoms te laat lewe. Die oomblik dat jy die knoppie druk, is daardie foto in die verlede – maar die foto wat ontwikkel, vertel die storie van daardie oomblik tot in die verskiet toe.Sy’t gedink dis asemrowend.

Giovanni het baie foto’s van haar geneem. Op ten minste die eerste drie het sy nog haar gewone klere aangehad, maar daarna het hy met sy gemaklike manier vir haar meer en meer laat uittrek; sodat haar skoonheid die fokus van die foto’s geword het, nie haar klere nie – so het hy gesê. Hy het gesê sy is ‘n wenner; maar later het dit tog geblyk dat Giavanni reg was: sy was net tè mooi en tè slim om in te skryf. ‘n Common girl het toe maar weer daardie jaar gewen. Hybie reken dis regtig ‘n straf om tè mooi gebore te wees.

Dit het natuurlik verander na haar swangerskap en haar huwelik met ou Egbert – in daardie spesifieke volgorde – ‘n paar maande later. Die mense van die distrik was verbaas dat ‘n premature baba so mooi kan ontwikkel binne ‘n paar goeie maande. Miskien was dit omdat dit so lekker gereën het daardie tyd, maar Gertruida, wat alles weet, het gesê dis Egbert se groot-oom, Hercules, wat so op Tromp van Diggelen se program was al die jare, se skuld. Dis mos hy wat altyd geoefen het van oggend tot aand en daarom het die kind sy gene geërf. Destyds het niemand geweet wat gene is nie, maar as die kind darem iets uit ‘n boedel kon kry, was dit darem nie te versmaai nie.

Die bloedjie – klein Eggie –  was ‘n handvol van die begin af. Dit het begin met sy vinger in die muurprop op drie maande en aangehou tot hy die groot Harley Davidson gekoop het op een-en-twintig. Mense  het nooit iets gesê omdat hy nie veel na ou Egbert gelyk het nie; en omdat niemand geweet het hoe Hercules daar uitgesien  het nie, het almal maar Gertruida (wat alles weet, iedergeval) se woord aanvaar dat die aristokratiese neus ‘n seker teken van intelligensie is. Diè slim en mooi jong man met sy donker kuif en gemaklike manier het op ‘n dag bloot aangekondig dat hy in die stad werk gekry het. Hy het nog af en toe ‘n briefie geskryf, maar Ta’Hybie het heimlik geweet hy sal nie weer terug Rolbos toe kom nie – die plekkie was net te klein vir hom.

 

Ta’ Hybie se toestand het stadig agteruit gegaan, en haar gedagtes het dikwels ‘n eie koers begin vat. Sy wonder ‘n bietjie oor hierdie los gedagtes wat sommer so by haar kop inskiet – ongevraagd en eintlik ‘n bietjie lastig. Dit het alles na haar beroerte begin – daar langs ou Egbert-met-die-skewe-nek-teen-‘n-onnatuurlike-posisie[1]. Eers, in die hospitaal, het sy gedink dis deurmekaargeit, veral toe Matrone Viljee een oggend verby haar bed stap. Sy onthou daardie oggend goed. Tè goed.

Matrone Viljee was, as mens dit mag sê, altyd in ‘n slegte bui. Sy kon stof op ‘n bedkassie raaksien op vyftig treë. Al wat verpleegster was, het ‘n heilige ontsag vir die groot vrou gehad. Haar hare was altyd netjies in ‘n bolla opgerol en die swaar borste is met moeite in beheer gehou agter die witgestyselde uniform. Sy kon ‘n goedige ouma gewees het, maar sy was nie.  Die mondhoeke het altyd grond se kant toe getrek en die permanante frons tussen die oë het ‘n duidelike waarskuwing gegee: moenie met my sukkel nie…

Toe Matrone daardie oggend van bed tot bed beweeg, sien Ta’ Hybie hoe haar wit uniform in swart verander. Sommer net so. En die mondhoeke sper uit weerskante toe; maak die mond ‘n gapende wond wat uitroep van pyn. Dit alles het in ‘n oomblik geduur en toe sy haar oë vinnig knip-knip, was Matrone weer haar ou self, wit uniform, frons en al.

“Hoe voel mevrou vanoggend?” Matrone staan by haar voetenend, streng mond, koue oë en al. Wit, wit uniform.

“Goerankie.” Ta’ Hybie is nie ‘n kermkous nie. Sy wil vir Matrone vra of halusinasies normaal is na beroerte, maar daar is geen manier dat sy so ‘n lang woord kan uitspreek nie. Terwyl sy wonder of sy nie dalk die vraag kan neerskryf nie, beweeg Matrone aan na die volgende bed. Sy sal maar môre weer probeer.

Matrone kom nie die volgende oggend verby nie. Ook nie die volgende een nie.

“Warish Marone?” Sy kry, op die derde dag, die woorde met moeite uit terwyl die verpleegster haar bed regtrek.

“Haai Tannie, het jy nie gehoor nie? Haar seun – ‘n enigste kind – is doodgeskiet in Johannesburg. Motorkaping. Sy het die reëlings gaan tref. Dis regtig hartseer…”

Toe verstaan Hybie die swart klere en die gapende wond en weet sy hoef nie weer te vra oor halusinasies nie.

 

Ta’Hybie sien hoe die straat voor haar verander. Die dor bome weerskante die pad bot skielik en kry die groenste, groen blare. Daar is selfs bloeisels tussenin, iets wat sy nog nooit op Rolbos gesien het nie. Dan, daar in die middel van die pad, sien sy skielik hoe sy flink en fier, tussen die mense deurstap; en hoe meer en meer mense uit die huise kom om na haar nuwe voorkoms te staar. Sy het skielik weer ‘n jong lyf en die snyerspakkie pas netjies om haar slanke figuur.

En dan sien sy hom! Giovanni staan met ‘n outydse kamera by die stopstraat, sy hare blink ge-olie en die skitterwit glimlag wat haar aanlok en roep.

Dit duur net ‘n oomblik en sy word weer van haar omgewing bewus as Hilda saggies teen haar wang klap met ‘n bekommerde hand.

“Ta’Hybie…?”

“Net ingerut, Hilla.” Sy glimlag skeef vir haar ou vriendin.

Terwyl almal na haar staar – die beeld vir ‘n oomblik vergete – besluit Ta’Hybie dis tyd.

“Wil me’ julle praat. Dis nou tyd. Julle moeruister.”

Dit vat die beste deel van die oggend om die verhaal oor te dra. Hilda moet kort-kort ken skoonmaak en Gertruida gaan maak nog tee. Maar sy kry dit uiteindelik reg om van Giovanni te vertel, die fotosessie en van klein Eggie: die kind met die Romeinse neus. Gertruida – wat alles weet – se mond hang oop, maar dis moeilik om te sê of dit van verbasing on konsentrasie is. Precilla weet nie eintlik wat om te maak van die alles nie.

“Nou, disamper die here storie. Nehalwe vir Boggel…” En, met haar moeilike taal en dom tong, vertel Ta’ Hybie van Giovanni, die plattelandse fotograaf wat so van dorp tot dorp die meisies afgeneem het. Die wonderlike, artistiese Italianer met die sagte hande en die mooi stem. En dat sy, nadat sy en ou Egbert reeds getroud was, steeds skelmpies met hom kontak gehou het. Hoe hy vir haar alles vertel het – alles – en hoe hy, ten spyte van die tientalle meisies op sy filmrolle, steeds altyd gesê het hy is lief vir haar. Toe klein Eggie gebore is, het Giovanni hom een keer gesien – in die hospitaal – nadat hy homself as ‘n skoonmaker vermom het.

Hy hèt nog meisies gehad, sy weet. Ook ‘n kind. ‘n Seuntjie. Daardie vrou het nie kans gesien om die fraaie dingetjie alleen groot te maak nie, en die baba het in ‘n weeshuis beland. Giovanni het kort daarna sy motor gerol anderkant Aranos. Hulle het hom eers twee weke later gekry.

Ta’Hybie se gesig vertrek in ‘n poging tot ‘n glimlag. Sy sien vir Giovanni aangestap kom, sy hande uitgestrek na haar.

“En daarom, Geruida, moermens nie alles weet nie. Elke vrou kamma ‘n ou geheimpie hê.”

Sy lig haar arms op – altwee van hulle – as Giovanni by haar kom staan en hy buk af om haar op haar blosende wang te soen. Sy voel hoe hy haar slanke lyfie optel – nes hy destyds gedoen het – besef dan daar is iets wat sy nog moet sê:

“Sê vir Boggel,” haar stem is opeens duidelik en jeugdig , “as Eggie kom, sê vir hom ek wil langs sy pa begrawe word. En dat hy ‘n boetie het.”

En dan, dan gee sy haarself oor in Giovanni se omhelsing, voel sy lippe op hare en sy lyf styf teen haar vasgedruk; nes daardie dag toe hy die foto’s geneem het.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s