Die Vuur van Liefde

Nog stories: klik hier

Dis die stiltes wat hom vang. Daardie ure tussen wakker word en opstaan. Wanneer laas het hy iedergeval ‘n goeie nagrus gehad? Vóór die…insident? Miskien. Hy wil nie so ver terug onthou nie.

Karel Bitterbek verdien sy bynaam – hy weet dit. Gedoop Welman, is sy van nie meer gepas nie. ‘n Welman is ‘n optimis, ‘n vreugde, ‘n plesier. Bitterbek beskryf sy gemoed baie beter.

Dis natuurlik die skone Maria se skuld; want is dit nie so dat die liefde ‘n uitsonderlike vermoë het om van soet na bitter te verander nie? Die eerste hoofstuk van enige liefdesverhaal word gewoonlik gekenmerk deur sagte woorde, gesteelde oomblikke en die toevallige (en o, so eksotiese!) vingeraanrakings wat sag op die gemoed kom lê. In die paragrawe van daardie hoofstuk vind mens verwondering, betowering, die belofte van passie.

Maria was só. En sy was mooi, ook. Sagte oë wat onder die lang wimpers uitloer, het hoofstuk na hoofstuk van vreugde belowe. Die mooi mond met die opkrul kante, het geglimlag – selfs gelag – vir sy eenvoudige storietjies. En later, as die kers laag begin brand het, was die blos op haar sagte wange sigbaar, ten spyte van die amper-donker in die voorkamer.

As hy in die stilte sy oë toemaak, is haar beeld daar om hom te koggel en te terg. ‘n Perfekte lyf. ‘n Beeldskone figuur. En bene wat, saam met die naat in die sykouse, hom gedwing het om te wonder waar dit alles eindig.

Miskien was dit die droogte; of miskien die skaap wat hy so moes keel-af sny om hul lyding te spaar; maar toe die reën wegbly, het dinge begin verander. Hoofstuk twee was nie meer so aanloklik nie. In stille desperaatheid het hy oorgery na die buurplaas toe, na Maria toe, om te hoor waarom sy so stil is deesdae. Haar daaglikse besoeke het, nes watervlak in die boorgat, opgedroog.

Maria het die deur oopgemaak, geskrik, en hom binne genooi.

“Ontmoet vir Bertus Kotze. Hy … kuier … ‘n bietjie hier by ons.”

Karel het stram hand geskud, styfbeen gaan sit en gewag. Hy weet van Bertus. Prokureur op Upington. Grootwildjagter. Pierewaaier. Grootbek. Dis genoeg, wat meer wil hy ieder geval van die man weet? Binne hom het die hoop nog gelewe: miskien is die man hier om ‘n testament op te trek? Of dalk om een-of-ander regsding of ‘n kontrak te hanteer.

Maar nee. Maria het gaan koffie maak terwyl die mans in stilte gesit het. Waaroor sou hulle ieder geval sit en gesels? Die eenvoudige, sukkelende boer kan tog nie ‘n sinvolle gesprek voer met ‘n regsgeleerde nie? En toe sy terugkom was dit Bertus wat opspring, die skinkbord by haar neem en haar bedien. Dit was erg genoeg, maar toe hy langs haar gaan sit, kon Karel sien hoe hulle in Hoofstuk 1 rond dwaal. Ogies. Glimlaggies. Vingertjies.

Karel se Hoofstuk 2 was kort. Die volgende een, langer. Dis waar die stiltes begin het. O, hy was gewoond aan die Kalahari-stilte. Nog altyd. Van kleins af was stilte sy vriend, ‘n deel van sy siel. As hy oor die uitgestrekte veld van die familieplaas geloop het, was hy soms vies vir ‘n sonbesie of ‘n kriek wat die stilte gebreek het. Hy’t altyd gehou van daardie stilte.

Hierdie stilte is anders. Daar is ‘n leemte in hierdie stilte wat dit pynlik ondraaglik maak. Nog lank voor sonop maak dit hom wakker, woel dit met hom en maal in sy kop rond. Die flikker van die kers langs die bed hou net te veel herinnerings vas. En as hy dit doodblaas – pure frustrasie – grawe die donker aan die wond van sy verlies.

Dis hoekom hy Bitterbek is. Nou al vyf jaar ken die mense hom so. Sy dorpsbesoeke is kort, die aankope eenvoudig en selfs Gertruida – met haar wonderlike geheue – kan nie onthou wanneer laas sy hom sien glimlag het nie. Sy enigste toegif aan normaliteit, is nog altyd die enkele bier wat hy by Boggel se Plek drink voor hy weer in die pad val, huis toe. Hulle weet wat hy wil vra, en sal gewoonlik, ewe ongeërg, onder mekaar gesels oor hoe eensaam Maria is. Precilla sal miskien iets sê oor die prokureur wat steeds in die tronk is na die trustgelde so weggeraak het. Servaas sal hardop wonder of daar nie iemand, iewers in die distrik, is wat miskien sou wou gaan vlerksleep by Maria nie – sy word ook mos nie jonger nie, jy weet?  Dan, as Karel Bitterbek die deure agter hom laat toeklap, sal die Rolbossers hulpeloos hul skouers ophaal en wonder of hy ooit weer mens kan word.

Die oggend toe die wind die kers wil doodwaai, is anders. Daar is reën in die lug – hy kan dit ruik. En die flikker van die kers word flou as die vêraf weerlig groter patrone op sy kamermuur gooi. Dan kom die rammel van donderweer; eers sag, maar aanstons oordonderend; wat maak dat Karel Bitterbek sy stewels aantrek om die paar skape onder die skuur se dak in te jaag. Ag Hemel, hy kan nie nou bekostig om ‘n enkele skaap aan die weerlig af te staan nie…!

Van stilte is daar nie meer sprake nie. Dit donder en blits terwyl die voor-reën wind vir oulaas stofwolke rondjaag. Tussen die geloei van die storm, die geraas van die donderslae en die klap-klap van die los sinkplate op die skuur se dak, probeer Bitterbek om sy skape onder die dak in te skree. Die stomme goed ken nie weerlig nie…

Die gloed op die horison vertel van vuur. ‘n Groot vuur. Méér as ‘n veldbrand – die vlamme staan te hoog. Dan tref dit hom. Dis die buurplaas!

Karel probeer nog vir oulaas om sy skape onderdak te kry, sien hoe die gloed groter word, skreeu sy frustrasie uit. Hy sal moet gaan help. Dis al wat nou belangrik is.

Die rit na die buurplaas is die langste wat hy nog onderneem het. Tussen die blitse en stofwolke, met die enkele druppels wat aan die voorruit vasklou, is dit omtrent onmoontlik om die tweespoor pad te sien. Wanneer hy tot stilstand gly op die gruis voor die eens-netjiese huis, kan hy sien dis te laat. Hier gaan niks gered word nie. Hy het nog nooit so iets gesien nie – die vlamme word deur die stormwind horisontaal gewaai, sodat daar van die gebou omtrent niks oorgebly het nie.

Die drie mense – Maria en haar ouers – wat die verwoesting aanskou, staan eenkant, verwese en verslae. Selfs nie eens die aankoms van die bakkie laat hoop weer opflikker nie. Dis verby, hulle weet dit. Karel stap na hulle toe, sy hande wyd gesprei in ‘n moedelose gebaar.

“Ek’s jammer,” sê hy, bo die geraas van die vlamme en die storm.

“Ek ook,” sê sy, maar vir ‘n ander rede.

*

Karel se skape het die storm oorleef. Hy het vir die hele winter help bou aan die nuwe opstal, oorspronklik in stilte, maar later het Maria die transistor radio (die nuwe een wat sy by Sammie gekoop het) langs hom kom neersit.

“As jy wil musiek luister, Karel,” het sy gesê toe hulle vingers per ongeluk raak met die oorgee-slag.

En daar, met die rooigrond-sement aan sy hande en die gemaklike stilte om hulle, sê Karel uiteindelik die regte ding. Hy probeer vertel van die Ou Stilte se leegheid en die vrede van die vol, Nuwe Stilte.

Hy sukkel met die woorde. Hoe vertel ‘n man nou eintlik van die vroegoggend kers wat seermaak selfs as jy jou oë toemaak? As hy opkyk, sien hy haar oë lag vir hom. Met hom. En dis nie spot-oë nie, maar Hoofstuk 1 oë.

“Ek weet, Karel,” sê sy, en plaas ‘n delikate vinger op sy mond. “Dis soos hierdie opstal. Partykeer moet mens oor begin.”

“Ja, dit is so. En dan maak jy klaar. En dan begin die verf afskilfer en dit lyk nie meer mooi nie. Of ‘n storm kom. Miskien brand dit uit.”

“Miskien, Karel Welman, praat jy te veel. Jy doen beter as jy stilbly.” Hierdie keer is daar ‘n vonkel in haar stem èn in haar oë.

*

“Hulle het gebooie opgegee,” sê Gertruida, omdat sy alles weet.

“Dis hoe liefde werk.” Servaas het die meeste ondervinding, almal weet dit. “ Mens kan dit nie verduidelik nie, maar dit tel eers na ‘n storm. Voor dit, is dit net die aanloop na die storie.”

As Karel Welman daar sou gewees het, sou hy seker die enigste een wees wat verstaan wat ou Servaas probeer sê het.

Hy weet.

Liefde begin by hoofstuk 4.

2 thoughts on “Die Vuur van Liefde

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s