Ambulans Venter

Ambi Venter is nie ‘n vreemdeling in hospitale nie. Vra maar op Calvinia, of Kenhardt, selfs Prieska. Van sy geboorte af was daar maar altyd ‘n rede vir sy naam. Dis hoekom die Venters liewers in die woestyn bly.

Die Venters, wat nog van die laaste trekboere in die Kalahari is, glo nie eintlik in dokters nie – tensy daar iets is wat nie met die kruie en knolle van die woestyn genees kan word nie. Die gewone goed – mangels, bosluiskoors en gebreekte arms – is dinge wat sommer daar, in die veld, reggesien word. Dit help ook dat die Venters (na vele geslagte waarin slegs die sterkstes oorleef het) ‘n besondere ‘konstitusie’ het (soos Oupa Venter dit noem). Hoe oud hy ook al mag wees – en hieroor is selfs Gertruida ietwat vaag – is hy steeds die een wat die familie se trekroetes beplan. Daar word beweer dat hy een van die seuns was wat aan die rebellie van 1914 deelgeneem het, maar dit plaas hom in ‘n onmoontlike ouderdomsgroep. Punt is: hy is sekerlik een van die oudste mense in die Kalahari, indien nie die hele Gordonia distrik nie.

Maar klein Ambi was anders, reg van die begin af. Ma Venter was twee dae in kraam, daar anderkant Bitterwater, langs die opgedroogte fontein. Ambi; spitskop, blou en met die spreekwoordelike helm strategies geplaas; het stil-stil sy verskyning gemaak. Ouma Venter moes Karoo-kruie invryf voor hy sagte huilgeluidjies gemaak het. Hierna was Ambi se lewe een uitgerekte stryd. Borsvoeding was onmoontlik – Ma Venter was toe al vier-en-veertig en die vorige agt babas het seker ook daardie fontein laat opdroog. Skaapmelk, water en af-en-toe ’n byvoegseltjie van Oupa se boegoe-brandewyn moes maar instaan vir die gebrek aan natuurlike voeding.

So kan mens aangaan. Daar was die slag toe hy weggekruip het, byvoorbeeld. Nie wegkruip soos in die speletjie nie, maar weg kruip van die skerm wat Oupa Venter opgeslaan het by ’n watertjie. Soos altyd doekloos, het klein Ambi hom tuisgemaak in die fontein en homself amper verdrink in sy eerste bad. Later, toe hy al kon loop, was daar weer die ram wat hom trompop bygekom en amper sy borsie ingestamp het. En mens moenie vergeet van die aand toe hy te naby aan die vuur geslaap het nie…

Ten spyte van die familie se pogings tot ouerskap, het Ambi wel groter geword. Op tien het hy sy linker duim afgeskiet en op dertien het hy in een van sy pa se wildstrikke vasgesit vir twee dae. Sy jakkalsjag op sestien was die oorsaak dat hy uiteindelik ’n dokter moes sien. Selfs Oupa Venter het rondborstig erken dat dit ongewoon is dat jakkalse soveel skade kan aanrig in so ‘n kort tydjie.

Die dokter op Prieska het nogal gesukkel om Ouma Venter se knolpasta van die wonde af te kry, maar na die deeglike skoonmaak en ontsmetting, is Ambi opgeneem en ’n reeks operasietjies was nodig om hom weer in een stuk te kry. Ook hier was sy neiging tot die ongewone ’n probleem. Hy was allergies vir die antibiotika, het deurmekaargeraak van die pynstillers en die lakens in die hospitaal (ook nie iets waaraan hy gewoond was nie) het ‘n veluitslag veroorsaak.

Die besoek aan die hospitaal was ’n keerpunt in Ambi se lewe. Vir die eerste keer het hy besef daar is mense wat nie in die veld en van die veld lewe nie. Die baksteenhuise was ’n openbaring en blikkieskos iets wat hom stom gelaat het van verbasing. En…daar was meisies.

Ambi het altyd maar aanvaar dat Ma en Ouma die enigste vroue in die wêreld was; en mens moet erken dat albei hierdie dames al ’n snars verby hul beste was toe hy gebore is. Die verpleegsters in hul kraaknuut, spierwit uniforms was ’n bron van absolute, totale verwondering. Nie net was hulle besonder mooi vir die arme Ambi nie, maar hul kurwes – iets wat nie in sy vrou-verwysingsraamwerk bestaan het nie – het hom op meer as een geleentheid in die moeilikheid laat beland. Vatterigheid word gewoonlik nie in hospitale toegelaat nie, tensy mens die sensitiwiteit het om die linnekamer op te soek. Dit, byvoorbeeld, het Ambi nie geweet nie.

Ambi is nie terug na sy familie toe nadat hy ontslaan is nie. Die dokter het met die dominee gepraat. Dominee het met die kinderlose van Wyks gesels. Ambi het ’n nuwe familie gekry.

Om by die punt van die storie te kom, word Ambi se wedervarings in die van Wyk huis, bloot opgesom. Ambi begin rook: die skuur brand af. Ambi leer bestuur: twee maande in die hospitaal om sy been weer te laat aangroei. Ambi gaan kuier by Mietatjie: nog ’n gebreekte arm toe die katel ineenstort. Ensovoorts, ensovoorts.

Daarom, toe Ambi by Boggel se Plek instap op daardie mooi Donderdagoggend, maak Boggel seker dat sy bier in ‘n plastiekbeker bedien word. Vetfaan skuif so effens eenkant toe, want miskien sal die man sy ewewig verloor; en Kleinpiet gaan roep vir Gertruida om te kom help, net ingeval iets verkeerd loop.

“Nou wat bring jou na Rolbos toe, Ambi? Ek het gedog jy bly nou by die van Wyks van Prieska?”

“Nee. Hulle het Kaap toe getrek. Dit was ’n vinnige besluit. Gesê hulle soek rus en vrede. Kan nie verstaan nie.” Gertruida het later gesê die arme man het nooit reg leer praat nie. Seker maar sy kinderjare, het sy gereken.

“En nou, Ambi? Wat gaan jy doen?”

“Weet nie. Soek nou vir my familie. Net gestop op Rolbos. Dan veld-in. Of weet julle waar die Venters nou is?”

Nee, hulle weet nie. Maar die veld anderkant Bitterwater was hierdie jaar goed, miskien…?

“Sal gaan kyk. Dankie.”

Ambi is daar weg, veld-in, te voet. Gertruida het gesê Rolbos moet die eerste plek wees wat nie skade gehad het na ’n Ambi-besoek nie.

*

Nou kyk, wat ook al mens van die Venters kan sê – hulle kèn die veld. Elke bossie, elke blom, elke knol. Miskien nou nie die wetenskaplike name nie, maar Duiwelsklou en Sekelbos het vir baie jare gehelp dat die Venters gesond bly. En praat van koers hou! Dis waarskynlik ingeteel, het Gertruida gesê, soos die swaeltjies weet waarheen om te gaan as die seisoen verander.

Ambi het, soos mens verwag, per ongeluk op sy familie afgekom waar hulle by ‘n verlate fontein hulself tuisgemaak het. Oupa Venter was half bly om die nasaat te sien, maar vir die res van die familie het sy terugkoms bloot beteken daar is nog ‘n mond om te voer. Dis hoekom hulle hom, sommer die volgende dag, weer veld-ingestuur het om iets te soek om te eet.

Net anderkant die bultjie wat naby die fontein staan, trap Ambi in ’n molsgat en swik sy enkel. Loop, kon hy nie verder loop nie. Vies vir homself en bang om met leë hande terug te gaan, was dit ‘n moedelose Ambi wat skadu gaan soek het onder die Sekelbos daar naby. Wat nou gedaan?

Gedagtig aan Ouma Venter se manier om blare en knolle te gebruik om siektes te behandel, het Ambi sy oog oor die veld naby hom laat gaan. Miskien…? En dis hoe hy die Ambi-bos ontdek het. Klein, verwronge deur die droogte en met die kleinste, vet blaartjies, was dit al plant wat hy kon bykom. Sukkel-sukkel het hy van die blare bymekaargemaak, tussen sy growwe vingers pap gedruk en die sap op die seer enkel ingevryf.

Twee uur later was sy enkel gesond. Opgewonde oor sy vinnige herstel is hy terug na die familie toe, waar slegs Ouma Venter insig gehad het om bly te wees oor sy verhaal.

*

“Kyk, hier’s ’n hele artikel oor die Ambi-bos in die National Geographic.” Gertruida sprei die tydskrif op die toonbank oop, sodat almal die foto’s kan sien. “Sien, hier’s die bossie, die omgewing van Bitterbrak, en die familiefoto het nogal mooi uitgekom.”

“Ja, genugtig! Dat die armsalige klompie sò gelukkig was. Verbeel jou – die patentreg op daardie plantjie is miljoene werd? Wie sou dit kon dink?” Vetfaan dink heimlik dis onregverdig: hoeveel skape moet mens verkoop om soveel geld te kry? En hoe lank gaan dit vat vir ooie om soveel lammers te kry?

“Maar waar is Ambi? Hy behoort ook op die foto te wees?”

“Nee, hulle sê hier hy’s in die hospitaal. Niks ernstig nie – hy’t per ongeluk van die bakkie afgeval toe hulle die foto’s gaan neem het.”

Die Venters trek nog (ten spyte van die stewige bankbalans) met hul skapies in die Kalahari rond. Oupa Venter sê dis veiliger daar as in die stad. En, natuurlik, kan mens jou net voorstel watter onheil ontketen sou word as Ambi naby treine en vliegtuie kom. Oupa reken die land het genoeg probleme – die Venters weet hoe om vir Ambi te sorg. Vandat hulle hom in die kamp hou, het hy nog net een vinger afgesny.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s