Eierkop – die Kisentrepreneur

“Daai kiste wat julle by Koos Kadawer kry, vrot vreeslik vinnig. Mens kannie daarin begrawe word nie – dis heiligskennis.” Boggel loer oor sy toonbank na die ronde mannetjie wat met die brosjure voor hom sit. Gertruida het hom sommer Eierkop gedoop met die instapslag. “En as jy daai Streamline kiste op jou solder bêre, vreet die houtkewers hom binne ses maande op. Nee, lewendig of dood, ’n Streamline hou maar net nie.”

“En jy verkoop kwansuis ’n beter produk?” Vetfaan moes laas sy kis vir Siekgert (eintlik Siegbert, maar die arme man was só van die suikersiekte dat die miere in sy matras nes gemaak het) Verster se familie gee toe dit by begrafnis-tyd kom. Gertruida het gesê dis eintlik goed dat dié skrale lyfie in so ’n groot kis gebêre word: in sy jong dae was hy mos maar ’n bietjie van ’n rondloper.

“Juistemint. Ek verkoop net Luxrest kiste – hulle het ’n waarborg vir vyf jaar in die grond, lewenslank op die solder. En laat ek jou vertel: in die dertig jaar wat ek Luxrests verkoop, was daar nog net een eis teen die maatskappy. Dit was ’n solderkis wat saam met die huis afgebrand het. Luxrest het dit onmiddellik vervang.”

“Nou wat kos hierdie fênsie kis van jou?”

“Nee, meneer verstaan nie. Vir solderkiste het ons ’n spesiale plan, dis hoekom ons hulle so kan waarborg. Jy huur hom eintlik by die maatskappy, sien? Teen vyftig Rand ’n maand is dit spotgoedkoop. Twee dubbel brandewyne se prys. En hiervoor word die kis dan elke jaar gediens, sodat jy gewaarborg is van ’n ordentlike rusplek as dit jou tyd word.”

Boggel trek aan sy linker oor soos hy doen as hy iets nie verstaan nie. “Dan word jy in ’n huurkis begrawe? En vir die res van jou lewe…wel… sterwe betaal jy elke maand huur vir die voorreg om in ’n Luxrest te lê? Tot in der ewigheid toe?”

“Nee, meneer, nie so nie. Die oomblik wat jy sterf, word ‘n bedraggie van jou boedel oorbetaal aan die maatskappy en daarmee is die transaksie afgehandel. Dis hoekom ons ’n onderskeid tref tussen solderkiste en grondkiste. Met ’n grondkis is daar natuurlik nie onderhoud en diens ter sprake nie, daarom is dit goedkoper.”

Gertruida se frons raak dieper. “Nou hoe diens jy kamstig ‘n doodskis? Ek kan hom mos self olie gee as ek wil.”

“Mevrou, mebrou, mevrou…” ’n Teatrale sug. “Om olie op ‘n Luxrest te sit, is suiwer overdaad. Die vernis wat gebruik word, is ‘n gepatenteerde Luxrest geheim en dit is feitlik onvergaanbaar. ’n Griekse skeepsmaatskappy het al probeer om van die vernis te koop om op seiljagte te gebruik, maar Luxrest het geweier. Gesê die vernis het ‘n edel doel en dis nie om kaal lywe op die Middellandse See te vermaak nie.” Eierkop wag dat sy woorde insink. “Nee, ons kom maak seker dat die satyn bekleedsel nog reg is, gaan die handvatsels na sodat hulle nie raas as die kis gedra moet word nie en maak seker dat die skarniere en slot nog foutloos werk.”

“Slot? Wat bedoel jy, slot? Van wanneer af sluit mens ’n doodskis?” Gertruida (wat alles weet) het nog nooit van so iets gehoor nie.

“Alle Luxrests word gesluit met die begrafnis. Daar was al gevalle waar mense die kiste opgrawe om weer te gebruik, juis omdat hulle so lank hou. Deel van die kontrak met Luxrest is dan juis die klousule dat die koper onderneem om die kis net een maal te gebruik, sien. O, en ons voer die slotte in. As hy toe is, bly hy toe.”

Boggel kry ’n rilling langs sy krom ruggraat af. Iets omtrent ’n tweedehandse kis klink nie vir hom reg nie.

“Laat ek daai kontrak sien.” Gertruida balanseer haar brilletjie op haar neusbrug. “Dit klink vir my darem dik vir ’n daler.”

Eierkop maak sy tassie oop en haal ’n lywige dokument uit. Dit word stil in Boggel se Plek terwyl sy die een bladsy na die ander deurlees.

“Dit sê hier dat die eenmalige bedrag R10, 000 is. Dis nou as die kis onmiddellik gebruik word. As mens die solderkis-opsie vat, betaal jy R50 per maand en jou boedel moet dan R15, 000 oorbetaal voor jy die kis mag gebruik. Dis darem vrek duur?”

“Mevrou verstaan nie. Jy betaal honderdduisende rande vir ’n voertuig. Hierdie is ook mos maar ’n voertuig wat jou in gemaklike luuksheid op jou laaste reis vergesel – en kyk hoe goedkoop is dit! En vat nou maar beddens: tel op wat jou bed, jou matras en al die beddegoed jou in ’n leeftyd gekos het. Hierdie is jou heel laaste rusplek en jy gaan baie lank daar lê. Dis mos die moeite werd om jouself vir oulaas te bederf, of hoe?’

Boggel het genoeg gehoor. “Verskoon my. Ek dink hierdie is net ’n geldmakery. Ek het ’n Koos Kadawer model hier op die solder en dit lyk nog heel goed. Ek dink hierdie gedagte dat mens geld mors op ingevoerde satyn en ’n spesiale vernis is bog. Al wat ek vir my begrafnis wil hê, is ’n ordentlike opskop in hierdie einste kroeg. Dan kan julle my maar inspit. En moenie die deksel sluit nie, ek het al gehoor van ouens wat wil uitklim as die kis sak.”

Eierkop sug hoorbaar as Vetfaan en Gertruida saamstem. “Dis nou tipies. Leef vir vandag en vergeet van môre. En as die doodsengel hier op Rolbos ’n draai kom maak, staan julle weer tou om ’n Luxrest te kry. Moenie dink dit gebeur nie. Net laasweek was daar so n geval op Prieska; maar toe was ek besig om in Laingsburg kiste te diens en die arme man moes in ’n dennekis begrawe word. My hart het so uitgegaan na hom en sy familie, maar ek het geen voorraad by my gehad nie. Maar dis wat jy kry van hardkoppigheid. Wil nie vandag beplan nie, huil liewers later. Tye het verander, mense. Net dom mense gaan sonder ’n kis dood. Daar behoort ’n wet hieroor te wees.”

Die duidelik teleurgesteld mannetjie sit die kontrak en die brosjure terug in sy tassie, gly van die stoel af en stap deur toe. “Kortsigtig, dis wat julle is.” Daarmee is hy uit. Gertruida wag tot sy die motor hoor wegtrek voor sy die stilte breek.

“Die man het darem ’n passie vir sy werk, nè?”

“As jy my vra, het hy ‘n passie vir geld. Dat mens nou so vêr gaan as om geld uit dooies te wil maak?” Boggel droog ’n glas af, inspekteer dit teen die lig en plaas dit terug op die rak.

“Maar nou sit ek nog sonder ’n kis, mense. Miskien moet ek maar vir Koos Kadawer gaan sien?”

“Nee, man, spaar die moeite en die geld. Al wat dit beteken, is dat daar een kis te min op Rolbos is. Dit maak dit maklik. Soos elke ou doodgaan, kry hy iemand se kis. Soos daai speletjie wat ons gespeel het. As die musiek stop, gaan sit jy.”

“Maar dit beteken die ou wat laaste gaan, het dan nie ’n kis nie? Wat van hom?”

Boggel klim op sy kassie agter die toonbank en hou sy vinger triomfantlik in die lug. “Dis die punt, mense! Wie gaan die ou begrawe wat laaste doodgaan? As daar niemand oor is nie, maak dit mos nie saak nie? Die laaste ou het die voorlaaste ou begrawe in die laaste kis – en as hy die dag omval, dan lê hy waar hy lê. Met niemand om hom te begrawe nie, kan hy maar sy Luxrest vergeet. En wat is ’n kis sonder ’n begrafnis – of ’n begrafnis sonder ’n kis. Nee wat, ons het genoeg kiste op Rolbos.”

 

Gertruida sê daar is sommige dinge wat mens nie kan uitredeneer nie. Sy sê mens moet maar aanvaar dat daar mense is wat in ’n Luxrest die ewigheid wil ingaan, nes daar mense is wat hul droë perskes in die solderkis bêre. En, sê sy, die storie van die laaste ou wat begrafnisloos gaan bly, is ook so een. Wie, wil sy weet, gaan daardie oomblikke neerskryf, of selfs onthou – veral as dit nou die laaste een is wat die skerp lig in die tonnel sien.

Boggel sê toe hy’t ’n maat gehad wat dit gedoen het maar dat hy nie betyds van die spore afgespring het nie. “Daar was te min oor van hom om te begrawe, sien? Toe’t ons net ’n gedenkdiens gehou.”

“Dis wat ons moet doen! Ons laat vir Oudoom ‘’n gedenkdiens opneem. Precilla het mos so ‘’n ou bandmasjientjie wat met batterye werk. Die laaste een wat oorbly, hou die bandmasjientjie by hom. Dan, as hy die laaste asem uitblaas, druk hy net die knoppie, dan hou hy sy eie gedenkdiens. Dis so goed as ’n begrafnis.”

 

Dis nou maar een ding van Rolbos. Hierdie mense weet hoe om planne te maak. Eierkop het nog een keer probeer, gehoor hoe die klomp die saak uitgesorteer het en weer moedeloos teruggery.

Volgende jaar bring Luxrest ’n nuwe produk op die mark. Dis hul Luxrest Lite – dis ’n vooraf opgeneemde gedenkdiens vir die laaste mens wat oorbly. Dit sal in die elf amptelike tale beskikbaar wees. Die blou masjientjies is vir mans, die pienkes vir vroue en die tweekleur model (ietwat duurder) is vir die onsekeres. As jy die bandopname en die kis vat, kry jy R500 afslag van jou finale paaiement op jou solderkis.

Eierkop glo hy sal kan aftree voor die Maya-kalender ons inhaal.

8 thoughts on “Eierkop – die Kisentrepreneur

  1. cathome36

    uitstekend!!!!! het my lekker laat lag. het my ook goed laat nadink…
    die lewe kan gedefinieer word as die tydperk tussen konsepsie en dood. en dis wat ons moet geniet en vier. en ons mag maar die humor rondom dood ook geniet. wel, ek het verseker…. dit sal my bybly…

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s