Stillenag? (PG 16)

Boggel, soos almal weet, is nie ‘n moeilike mens nie. Gee vir hom ‘n yskas wat werk, ‘n krat om op te staan, en ‘n paar dorstige siele – en hy glimlag van oor tot oor. Vrede hou sy bed warm snags as die woestyn-koue te erg word en Sammie sorg dat sy voorrade altyd betyds is. Wat meer kan ‘n man nou eintlik vra? Met die enigste kroeg in die distrik is hy gewaarborg van ‘n gemaklike lewe, al is die ure soms maar uitputtend. Gertruida sê self sy’t hom nog nooit kwaad gesien nie.

Vandag is die lorrie van Kalahari Vervoer alweer laat. Dit gebeur nie dikwels nie, en is gewoonlik die gevolg van ‘n pap wiel, of ‘n pap bestuurder (wat eers iewers ‘n wyle gerus het). Wiele Willemse het soms die gewoonte om sy half jack (hy noem dit sy halfnaaitjie, omdat dit hom slaperig maak) sommer so in die ry te verorber, met voorspelbare gevolge (soos sy arme vrou kan getuig). Die gevolg is dan dat hy laat op Rolbos opdaag, nie kans sien om weer terug te ry nie, en dan slaapplek soek.

Oudoom weier natuurlik om daardie graad van drankwalms in die pastorie toe te laat; Precilla en Gertruida se protes sentreer om hul reputasies; en Servaas sê g’n mens kan met daardie dawerende gesnork ‘n oog toe kry nie. Boggel, met sy rondawel so reg langs die kroeg, is dan gewoonlik die aangewese persoon om vir Wiele ‘n bed aan te bied. Of liewers – was gewoonlik daardie persoon. Met ‘n vorige oorslapery het Wiele in die middel van die nag wakker geword en probeer om by ‘n kraan uit te kom. In sy naarstigtelike soektog na water, het hy oor Vrede gestrompel en in die stikdonker kan mens ook nou nie vir Vrede verkwalik vir die rampspoedige gevolge nie. Honde is maar soos mense – jy moenie gaan staan en sukkel as hy, dis nou Vrede,  so lekker droom oor ‘n prikkelpop soos Lassie nie. Met diere is dit net erger: hulle aanvaar  – sommer so met eerste instink – dat jy daar is om sy gebied te kom bedreig. En as daardie gebied nou ‘n skone woefdametjie insluit, dan sal net ‘n lafaard-hond ewe netjies terugstaan dat jy met sy erotiese droom wegloop. Vrede, sal ons onthou, was immers ‘n polisiehond; hy kèn van aanval.

Daar was dus ‘n wedersydse verstandhouding dat Wiele nie weer sy roes in die rondawel sal kom afslaap nie. En dit het gewerk, seker vir ses maande nou al. Maar vandag is Wiele laat en dit voorspel niks goeds vir die aand nie. Iemand sal moet pa staan vir ‘n bed vir die bestuurder. Vetfaan en Kleinpiet het bloot gesê die man is welkom in een van hulle se skure te slaap – maar dan moet hy self daar kom en weer sy ry kry voor die diere gehoorgestremd raak van sy snorkery. Net Oudok en Sersant Dreyer het nie ‘n min-of-meer aanvaarbare verskoning nie, en daarom het Gertruida bepaal dat hulle moet lootjies trek vir die voorreg om vir Wiele ‘n plek te gee om sy kop neer te lê.

Dit was amper of die twee manne het mekaar te lyf gegaan. Dreyer onthou skielik van ‘n patrollie wat hy moet gaan ry; daar anderkant Bitterwater, want Ben Bitterbrak het gekla oor sy skape wat wegraak. Almal weet hoe Ben kan lieg en dat sy vreeslike groot tropp skape alles eintlik ‘n versinsel is. Oudok het dadelik ‘n teenaanval geloots met ‘n swanger vrou wat hy op Grootdrink moet gaan sien – en almal weet mos dis ook onmoontlik. As mens die gemiddelde ouderdom op Grootdrink in ag neem, sal daar ten minste drie wyse manne moet opdaag of Sarai gaan weer Sara word. Gertruida het almal verseker diè dorpie verskyn nie in die Ou Testament nie, wat weer ‘n nuwe rondte argumente laat ontstaan het.

Stilletjies, een-vir-een, sluip Boggel se klante by die voordeur uit. Die een moet ‘n bees gaan soek, die ander het ‘n gat om te gaan grawe. Tipies Bybels, het elkeen ‘n geldige  (al is dit fiktief) verskoning on nou dadelik iets te gaan doen, nes met kerkraadsvergaderings. Teen vier-uur sit Boggel alleen op sy krat en vertel vir Vrede dat jy op prinse nie kan vertrou nie.

Oudoom sou  trots gewees het.

Die lorrie het uiteindelik, min-of-meer, reguit voor Boggel se Plek gestop. Dit was al skemer. Agter die sisgordyntjies het Rolbos se mense saggies gelag, elkeen met ‘n versterkinkie teen die koue in die hand, en hulself geluk gewens dat hulle nie met Boggel se gas opgeskeep sit nie.

‘n Paar van hulle het selfs gesien hoe Boggel sy voorrade self aflaai.

“Wiele is alweer gesuip,” het Servaas gebrom. “Vannag trap hy weer op Vrede.”

Precilla het vir ‘n oomblik skuldig gevoel, maar op so ‘n klein plekkie moet ‘n vrou maar versigtig wees vir vreemde mans. Sy sien tog nie kans vir nog ‘n sedepreek van Oudoom af nie.. Gertruida het skelmpies onder haar komberse ingekruip met die nuwerwetse affêre wat so baie boeke kan stoor. Sy’s diep in ‘n Deon Meyer spanningsverhaal, en wil nie nou dit onderbreek nie. Die voordeel van die elektroniese wonder is dat sy nie eens haar lig hoef aan te skakel nie – sy kan duidelik van die skerm af lees.

Net Oudoom, wat al so gestry het teen Boggel se diakenskap, het vir ‘n oomblik gedink dis tog nie heeltemal regverdig nie. Die klomp pak elke dag Boggel se plek vol; maar in sy uur van nood, kies elkeen hasepad en los Boggel met die benewelde Wiele.

*

Vroegdag word daar op Boggel se stoep bymekaar gekom. So half verskonend-bly dat die nag verby is, dat die probleem opgelos is, en dat Boggel alweer – soos so baie kere in die verlede – maar ingestaan het vir hul onbeholpenheid.

“Kyk, mense,” Gertruida maak seker dat hulle almal luister, “ons het regtig nie mooi gemaak met Boggel nie. Een van die mans kon mos maar losies aangebied het? Laas moes ons vir arme Wiele laat steke insit nadat hy op Vrede getrap het. En Vrede was vir dae lank nie homself nie; so as of hy te bang was om te gaan slaap. En dan praat ek nie van die skade in Boggel se rondawel toe Vrede so vir Wiele gejaag het nie.

“Waars Dreyer se patrollie? Of Oudok se swangerskap? Julle het gelieg, en dit net vir jul eie gemak. Nee, ek sê ons moet regmaak. Iemand moet vir Boggel om verskoning vra”

Precilla is sommer entoesiasties. “Ek het die heelnag rondgerol oor ons so lelik was. Ek kon by Gertruida gaan slaap het … maar ‘n man in my slaapkamer? Nee, ek het nie kans gesien nie. En toe ek nou so rondrol, dink ek: kom ons maak Boggel se Plek vir hom mooi skoon vanoggend. Nog voor hy inkom, sien? Dan sê ons nie net ons is jammer nie, ons wys hom ook. Of hoe?”

Politoer, lappe, skoonmaakseep en borsels word van Sammie af aangedra en die klomp spring in. Teen elf-uur lyk Boggel se Plek soos ‘n nuwe sikspens.

“Jimmel! Dit moes ‘n moeilike nag gewees het! Gewoonlik is Boggel al nege-uur oop, en kyk waar staan die tyd nou?” Vetfaan help homself aan ‘n koue bier, skryf dit op die strokie langs die geldlaai, en sluk behaaglik. “Ek het darem vir Vrede sien afslenter in Voortrekker Weg – so daar was seker nie sterftes deur die nag nie.”

Teen twee-uur is die strokie vol geskryf, maar van Boggel is daar geen teken nie. Die lorrie, skuins geparkeer voor Boggel se Plek, staan steeds daar.

Gertruida het net gesê hulle moet gaan kyk, toe Boggel so aantrek-aantrek by die agterdeur inkom. Hy lyk soos Lasarus voor sy opstanding.

“Maggies, Boggel, sò erg?” Vetfaan klink regtig bekommerd.

“Nee, ou Vetfaan. Baie erger. Baie…” Boggel koers reguit yskas toe en drink ‘n skoon Coke in een asem uit. Kleinpiet herken dit as ‘n teken van uiterste beproewing.

“Ons is jammer, Boggel. Regtig. Ons het skoongemaak…” Die klomp klink soos die Drakensebergse Seunskoor. (Hulle het geoefen)

Boggel gaan haal die wind diep in sy ingewande en laat ‘n Buluwayo vry. “Julle verdiende loon,” sê hy en kry ‘n bier. Kleinpiet sug verlig – nog ‘n Coke sou regtig ‘n slegte teken gewees het.

Die lorriedrywer loer skugter om die hoek. Boggel knik en wink nader.

“Dit, dames en here, is Lucinda Verdana, die nuwe lorriedrywer van Kalahari Vervoer. Sy’s Italiaans en praat min Engels, en het gister ‘n bietjie verdwaal op pad hierheen. Lucinda, please say hello to the good people of Rolbos.”

As mans kon kreun van lus, sou Kleinpiet, Vetfaan en Servaas ‘n trio gemaak het. Precilla is skoon jaloers op die fraaie mens wat Boggel voorstel, en Gertruida begin hulpeloos giggel. Oudok is darem al verby die smagfase, maar Sersant Dreyer voel as of iemand sy wind uitegslaan het.

Net Servaas, wat sy baie gelukkige jare met Siena onthou, herken iets in Boggel se oë. Mens sien dit soms – veral nadat die man deur die tuin gewandel het en nou na ‘n vyeblaar soek. Skaam-trots, is miskien die beste woord hiervoor. En as Servaas na die model-mooi vrou kyk, is hy ineens besonder dankbaar dat hy wat Servaas is, nie losies aangebied het nie. Party tuine is gemaak om bewandel te word – en hy sou nie eens halfpad kon kruip nie.

Mense wonder soms hoekom Boggel so ‘n gemoedelike geaardheid het. Miskien is dit omdat hy besef goeie bome dra hul vrugte op die regte tyd…en as jy wag, sal hulle in jou skoot val.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s