Die Liefde en Kleinpiet se Hoenderplan.

Die weg na ‘n vrou se hart sal vir altyd ‘n geheimenis bly waaroor mans sal wonder. Kleinpiet, byvoorbeeld, sal altyd wonder wat sou gebeur het as hy sy hoenderplan kon deurvoer. Maar mens moenie so ‘n storie agterstevoor vertel nie – dis beter om by die begin te begin…

*

“Boggel,” praat Kleinpiet hier onder die toonbank in, “wat doen mens om ‘n vroumens se liefde te wen?”

Dis seker die algemeenste vraag wat kroegmanne die wêreld oor hoor. Boggel is reg met sy antwoord.

“Sê vir haar jy’s lief vir haar.”

“Maar ek het. En dit het niks gehelp nie.”

Boggel dink ‘n bietjie na. “Toe jy dit gesê het, het jy vir haar iets gegee? ‘n Present of iets?”

“Ja, man. Ek het ‘n varsgeslagte hoender gevat, vir haar gegee en toe gesê ek is lief vir haar.”

“En toe vat sy die hoender?”

“Ja.”

Boggel giggel hier onder die toonbank: “Groot fout.”

Dit vat drie biere vir Kleinpiet om die antwoord te snap. As jy ‘n present gegee het, moet jy dit dikwels doen, nie net een keer nie. “Dis eenvoudig, Kleinpiet. Jy kan jouself net blameer. Jy het ‘n presedent geskep en nou verwag sy dat jy elke keer met ‘n hoender kom. Omdat jy dit nie doen nie, dink sy jy hou nie meer van haar nie. Dis jou eie skuld dat sy so is.”

Kleinpiet is erg ontsteld: “Maar ek het net vier hoenders. Vir eiers en so. Ek kan mos nie my eiers weggee nie – wat sal ek doen vir ontbyt?”

“Ja, ‘n man sonder eiers tydens brekfis is ‘n hartseer gesig. Maar ek het nie die reëls gemaak nie Kleinpiet,  jy’t hulle gebreek. Dis maar hoe dit is.”

Kleinpiet ry terug na Verlorenfontein, sy plaas-met-die-spa en die vier hoenders.

Soos hy dit uitreken het hy ‘n paar keuses en hy stop langs die pad om, met die stomp potlood wat hy altyd gebruik om die arbeiders se lone mee uit te werk, hulle onder mekaar  op ‘n stukkie karton te skryf:

  • Kry meer hoenders
  • Vat jou hoender terug

Sommer dadelik krap hy opsie twee uit: daardie hoender was sy ontbyt na die blou-pilletjie-aand. Hy dink verder:

  • Kry ‘n ander liefde

Ook dit word doodgekrap. Die enigste ander beskikbare vrou is Gertruida, en sy weet te veel. Iedergeval, hy is lief vir Precilla en hy wil nie iemand anders hê nie.

“Wel, Kleinpiet,” sê hy hardop as hy weer die pad vat, “lyk my jy gaan met hoenders boer.”  Die enigste ander hoenderversameling wat iets werd is, behoort aan Platnees en hy ry sommer daarheen. As die yster warm is ….

Platnees praat diè kant toe en redeneer dàài kant toe, maar Kleinpiet is vasberade.

“Maar ek hèt net die vyf henne wat daar onder die kardeure bly, en hulle eiers verkoop ek. Nou, as ek die hoenders verkoop, verloor ek daardie geld. Ek kan hom nie daardie deng doen nie.”

Die stomp potlood kry werk en daar word uitgewerk hoeveel eiers Platnees in ‘n jaar se tyd gaan verkoop. Saam met die hoenders se prys is dit ‘n aardige bedraggie, maar liefde ken nie somme nie en Kleinpiet is weg met die hokvol hoenders. Wie die verbaasde was om hom te sien afklim met die hoenders – dis nou sy eie viertjies of  Mieta wat die kombuis bewerk – is moeilik om te sê, maar nie een van diè twee partye is so dom om hom uit te vra nie.

“Des môi ‘oeners,” is al wat sy sê voor sy die koffie ingooi en haarself verdaag. Kleinpiet is snaaks deesdae, sy wil nie kanse waag nie.

Kleinpiet dink diep. As hy, sê, vyf eiers elke dag uit sy hoenders kan optower, kan hy na drie maande ‘n geweldige klomp hoenders hê. Al wat hy moet doen, is om die eiers elke dag te versamel en in ‘n broeikas te sit. Soos hulle uitbroei, kan Mieta hulle in die stoor hou tot hulle groot genoeg is om hoenderhok toe te gaan en self te begin eiers lê. Dit word erger as skape tel. Die somme is te groot en hy hak vas as hy verby ‘n duisend hoenders gaan. As Mieta geweet het wat hy lê en uitdink, sou sy waarskynlik daar en dan bedank het.

*

Die Voorsienigheid werk op eienaardige maniere. Terwyl Kleinpiet met sy hoenderstrategie besig is, werk die generaals van die  Suid-Afrikaanse weermag aan ‘n strategie om die groot persentasie oorgewig offisiere in die weermag te verminder. Die nuwe minister is vasberade dat haar weermag meer vaartbelyn behoort te wees en ‘n slim burokraat het mooi uitgewerk dat uniforms aansienlik goedkoper gaan wees as dit nie soveel sulke wye sitvlakke hoef te bedek nie.

“Kyk, Minister, as ons die sitvlak-tot-lengte verhouding vat, is ons weermag heel laaste op die wêreld ranglys vir verdedigingsmagte – dis nou met betrekking tot die grootte van ons uniforms. Die ouens wat die naaste kom, se materiaal-per-uniform kwota is slegs 75% van ons s’n. Dit beteken ons kan ten minste 25% bespaar as ons manne (en vroue) meer aandag gee aan hul fiksheid.”

Die minister wil nog teepraat, maar sy weet die somme is korrek. En sy mòèt erken: die weermag wat sy geërf het, lyk nie na ‘n mag wat sal kan staatmaak op eie vermoë om ‘n vyand af te weer nie. Al wat nodig is om die land in te neem, is om die brandstof toevoer na die weermagbasisse af te sny, dan is die weermag totaal hulpeloos. Enige vyand sal dan bloot by die basisse kan inloop en vereis dat die leer en lugmag hulself moet oorgee – of anders word die kosvoorraad ook afgesny. Teen sulke taktiek het die moderne weermag geen teevoeter nie.

Die minister het self daarna verskeie basisse besoek en by die fiksheidsinstrukteurs probeer uitvind wat die stand van sake is ten opsigte van liggaamlike paraatheid; en sy blaai nou deur die dossier van opmerkings wat sy laat neerpen het.

Basis A: Instrukteurspos vakant na vorige instrukteur sterf aan “natuurlike oorsake”.

Basis B: Instrukteurspos vakant sedert 1994 – geen geskikte kandidaat gevind nie.

Basis C: Instrukteur opgespoor by sjebeen. Onsamehangende gesprek volg, Geen afleiding moontlik nie.

Basis D: Instrukteur is Noordwes se Hamburger-eet-kampioen. (geborg deur KFC). Oefen tans vir nasionale titel en kan nie by sy normale werkskedule uitkom nie. Is genomineer vir die Orde van die Kremertart omdat hy die weermag se naam so hoog hou.

Basis E: Hierdie basis het sonder verklaring verdwyn. Onduidelik waarheen. Rekords onvolledig

Basis F: Instrukteur in pad gesteek weens veeleisende oefensessies elke 2e week.

Sy sug. Die ondersoek het twee maande geneem en die komitee daarvoor verantwoordelik het – met duidelike toegewydheid – drie weke by Sun City gespandeer om die bewoording reg te kry.

Sy luister aandagtig as haar sekretaris sy terugvoer gee oor haar navraag.

“Minister sien, dis nie ‘n maklike ding om al die senior offisiere sommer nou op ‘n oefenkamp te stuur nie. Ons het gesoek vir ‘n plek waar hule uit die publieke oog is, waar die pers en die media hulle nie kan opspoor nie, waar ons ‘n tydelike basis kan oprig en waar daar nie ‘n klomp kitskos winkels en ander vermaak is nie. Minister sal verbaas wees hoe min plekke in ons land voldoen aan al hierdie vereistes.

“Gelukkig het ek familiebande met die Makanja’s, wat met my ma se suster se neef se derde dogter getroud is. Hulle twee seuns bly op ‘n klein plekkie in die middel van nêrens. Daai munisipaliteit het ‘n groot stuk grond waar niks gebeur nie. Platnees sê…”

“Wie? Wat is sy naam?” Die minister kan skaars haar ore glo en onderdruk ‘n onvroulike laggie.

“Petros Platnees, Minister. Hy sê daar is ‘n kop waarteen die offisiere kan uithardloop, maar niks anders nie. Dit klink perfek.”

As die eerste lorries in Voortrekker Weg verskyn, reken Boggel dis die Nag van die Lang Messe en maak dadelik alarm. Kleinpiet word van deur tot deur gestuur om mense aan te raai om hule deure te sluit en die vensters toe te maak. As die oormag so groot is, help dit nie hulle probeer veg nie. Dis nou elke man en vrou vir hulself. As die huise toe is, kan hulle saam vergader in  Boggel se Plek.. Sammie se omset in sy winkeltjie maak ‘n skerp grafiek noordwaarts as mense vir oulaas bullybief en ingelegde bone koop (die blikkies ertjies en mielies word eers volgende maand verwag).

Van agter toegetrekte gordyne in die kroeg hou Rolbos se inwoners die lang konvooi dop. Daar is heelwat Hummers wat voorlangs ry, gevolg deur troepedraers, voorraad lorries, mobiele storte en toilette, waterlorries, drie ambulanse en ‘n mobiele hospitaal. Die vars teer van Voortrekker Weg, wat gister nog so in die son geblink het, verkrummel en verweer onder die groot wiele. Nie een van die voertuie stop by die enigste stopstraat nie, en die hele konvooi verdwyn op die pad na Bokkop toe.

Boggel loer oor die toonbank. Vetfaan staan met sy ou Mauser by die venster, die ou weermag laphoed skuins op sy kop sodat dit nie met sy korrel sal inmeng nie. Kleinpiet en Precilla staan langs die hoop verbande en pille wat sy gebring het, reg vir enige ongevalle. Oudok staar moedeloos na sy leë brandewynglas, stetoskoop om sy nek, reg vir aksie.

“Dit was seker die  kitsweergawe van die Lang Middag van die Kort Messe,” sê Vetfaan as die lorries deur die dorp is. Oudok gaan vra ‘n vars brandewyn en glimlag skeef. “Alles word mos kleiner deesdae.”

“Hulle dink seker die dorp is nog ‘n entjie verder.”

Natuurlik het die majoors en die brigadiers en die generaals gesorg vir troepe om die werk te doen. Hulle is immers offisiere, en van hulle kan tog nie verwag word om tente op te slaan nie, in hemel’s naam! In watter weermag het dit nogal ooit gebeur? Nou sit die senior offisiere van die SANDF onder Bokkop se enigste boompie en bulder bevele uit.

“Nee, Siswe, daardie tent moet dààr staan. Dis die majoor se tent. Die generaal s’n staan waar jy nou is.” Brigadier Ax Mnathi kyk onderlangs of Generaal One-shot Matshaba sy deurslaggewende besluitnemingsvermoë waargeneem het. Ax is ‘n ambisieuse soldaat en vas van plan om eendag die Hoof van die Weermag te word. Dis belangrik dat jou seniors bewus is van jou leierseienskappe, anders is bevordering buite die kwessie.

Die weermagvoertuie staan in ‘n rowwe sirkel, met vet manne wat onder die boompie sit terwyl ‘n klomp maerder manne rondskarrel om ‘n klomp tente op te rig. Hy onthou skielik die preek van die sendeling wat jare gelede kom vertel het hoe die klomp slawe van die vleispotte van Egipte ontsnap het. Hy verstaan nog nie heeltemal hoekom daardie mense so getrek het nie – hulle het blyplek en kos èn werk gehad, toe gaan loop hule om hulle eie Bokkop rond vir baie jare.

Miskien, dink One-shot, het daardie sendeling ook in die army gaan preek en iemand het hom ernstig opgeneem.

Net voor die son opkom, skarrel die troepe van tent tot tent met die skinkborde met koffie. Swart en bitter, sonder die gebruiklike versnapperinkie om die naghonger te stil. Een na die ander word die parafienlampie langs die slapende figuur neergesit en die koffie op die bliktrommel by die voetenend. En elke keer volg ‘n stroom woorde wat nie in die HAT opgeteken is nie. As mens naby sou wees, sou jy die troepe sien waar hulle agter die kombuislorrie dubbeld vou soos hulle lag. Vir hoeveel jaar lê die offisiere lekker en slaap terwyl hulle heen-en-weer gejaag word: hoe heerlik is dit nie om vir ‘n verandering die jaagwerk te doen nie. Die uitkrytery ten spyt – hierdie is die meeste pret wat hulle nog ooit in die weermag gehad het.

Nou moet dit darem nie gesê word dat ons weermagoffisiere geen dissipline het nie. Een na die ander verskyn hulle in ‘n verskeidenheid soorte nagklere om aan te stap na die stortlorrie toe. In goedertrou word die krane oopgemaak en opnuut kan die troepe nie ophou lag oor die lang lys nuwe woorde wat geleer word as die offisiere agterkom dat daar nie warm water beskikbaar is om die nagsweet af te spoel nie.

Richard Connely, die instrukteur wat van Skotland gesekondeer is na diplomatieke samesprekings, stap op en af tussen die twintig oorgewig manne wat op die platgeskraapte stukkie grond staan. Elke nou en dan fluister hy “pathetic” as hy by ‘n spesifieke offisier verbyloop en sy kop skud.

Richard – of Arsie (R-C), soos sy vriende hom ken – is ‘n veteraan van Kuweit en Afghanistan. Hy het dit alles algesien – of so het hy gedink. Soveel flappe hangende stukke vleis is vir hom’n onaangename openbaring.

Twintig minute later staan en kyk hy hoe die hompe menswees teen die bult uitsteier en hy is bly hy ken net een van die elf amptelike tale. Hy kan nie die woorde uitmaak nie; maar hy het ‘n baie, baie goeie idee van wat gesê word.

Die eerste ongeval is One-shot, wat vyftig tree voor die kruin van Bokkop inmekaar sak, sy hart vasgryp en begin opgooi.

“Mediek!” Ax is die eerste (soos atyd) wat reageer. Die ouens wat nog regop is, gaan staan almal hygend en tuur terug na die basiskamp om te sien waar die Geneeskundige Diens is.

Scalpel Mzimande het eerstehulp opleiding ontvang en daarna vinnig geklim tot Hoofverpleër is die nuwe Weermag. Hy kèn krisisse. As daar ‘n man is wat ‘n hartaanval kry terwyl hy in bevel van die mediese sorg is, gaan dit sleg lyk. Hy roep twee troepe en hulle dra die mediese kas en die opgevoude draagbaar teen Bokkop uit.

One-shot lê plat op sy rug soos iemand wat uit ‘n hoë gebou geval het. Arsie het al gevoel vir ‘n pols, maar die vet gewrig maak dit baie moeilik.

“Is he okay?” Arsie kyk hoopvol na Scapel, wat met ‘n ywerige vinger in One-shot se mond grawe om te keer dat hy sy tong insluk. As Scalpel opkyk om vir Arsie te antwoord, skraap One-shot genoeg krag bymekaar om instinktief te byt aan die vinger wat so aanloklik aangebied word. Of miskien is dit maar net ‘n gekondisioneerde refleks – as iets in die mondholte kom, moet dit gekou en gesluk word.

Dit word ‘n titaniese stryd: die half-bewustelose One-shot se onderbewussyn weier om enige kos nou verby te laat gaan – hy het darem gisteraand laas geëet – en aan die anderkant staan Arsie en Ax en rem om Scalpel uit die kake (by wyse van spreke) van die dood te bevry. Arsie, wat nie vreemd is vir gebeure op die slagveld nie, druk One-shot se neus toe, en as hy na sasem hyg, word die amper-vergruisde vinger darem suksesvol verlos.

Terwyl die twee troepe vir One-shot op sy sy omdraai, verbind Arsie die vinger wat tot op die been toe oopgebyt is.

‘n Noodberaad word in die kamp gehou nadat One-shot teen die bult afgedra is. Al negentien die oorblywende offisiere en die twee troepe het weerskante van die draagbaar ingeval om die groot liggaam terug kamp toe te dra. One-shot is nou terug in sy tent en nuttig sy middagete van slaaiblare en vrugtesap as hy nie besig is om sy misnoë uit te spreek nie.

“Dis duidelik dat hierdie tipe van kamp nie geskik is vir senior offisiere nie,” sê die Sekretaris in die Minister se Kantoor, Necklace Ngakane. Hy kan al sien hoe hy aan die Parlementêre Komitee staan en verduidelik hoe hy, man alleen, die weermag se senior offisiere uitgewis het. One-shot is ‘n persoonlike vriend, en sy ineenstorting het hom sleg geskud. “Ons was gelukkig met Comrade One-shot. As Scalpel nie sy tong uitgekry het nie, het ons ‘n militêre begrafnis gereel – en ons was almal in die sop. Ek sal graag van julle hoor wat julle dink ons nou moet doen.”

*

Oudok is nie meer gewoond aan sulke noodgevalle nie. Scalpel, as die enigste mediese offisier op die kamp, sit voor die geneesheer met sy vinger op die lessenaar.

“Nou sê weer wat gebeur het?”

Scalpel verduidelik van die hond wat in hulle spens vasgekeer is en hoe hy hul rantsoene uit die kake van die verwoede dier geruk het. Daar is ‘n ding soos militêre intelligensie, selfs in die nuwe Weermag.

“Jy kan gelukkig wees dis nie’n mensbyt nie, meneer. Dis die giftigste byt van almal. Jy sê die hond het weggehardloop? ‘n Gewone baster soos mens maar kry?”

Scalpel knik, sy oë groot en sweet op sy bolip.

“Wel, dan moet ons jou daardie kursus van een-en-twintig hondsdolheidsinspuitings gee. Ek sal probeer om die vinger maar te verbind, dan kyk ons hoe dit gaan.”

Scalpel knyp sy oë styf toe. Nie net moet hy ‘n hele reeks inspuitings kry nie, hy word ook behandel vir ‘n byt wat hy nie gekry het nie. En as die mensbyt nie behandel word nie…. O, die opofferings wat mens vir jou land bring!

Vir die res van die maand het Scalpel sy dae so staan-staan deurgebring. Hy en Oudok was naderhand redelik goeie vriende – soveel so dat Scalpel besluit het om dalk medies te gaan studeer. One-shot het ‘n maand se bedrus geniet. Arsie het belowe om niks te sê nadat die offisiere sy maandlange verblyf by die Oranjerivier Spa betaal het nie. Ax het ‘n gloeiende verslag geskryf oor die maand se kamp, met detail van elke dag se strawwe oefening. Die troepe se stilte is gekoop met bevordering tot onderkorporaals.

Die minister gee haar begrotingsrede vir die paar ministers wat opgedaag het. Aan die einde kom dit: “Agbare lede, die uniform-begroting vir die volgende jaar word met 50% opgeskuif. Na deeglike ondersoek en navorsing, het ons besef dat die Afrika-figuur nie in gewone Westerse vegsuniforms kan pas nie.” Die kworum knik entoesiasties – as diè vrou nou net wil klaarkry: daar is ‘n onthaal by die Sjinese Ambassade.

*

En dis hoekom Kleinpiet se hoenderboerdery ook ‘n kort bestaan gehad het. Die prys wat die offisiere per hoender betaal het, was darem tè aanloklik. Elke droom, sal hy rondborstig erken, het sy prys.

Kleinpiet sê Precilla is miskien lief vir hom; maar haar liefde is soos die weermag se uniforms – dis net nie groot genoeg nie.

_______________________________________________________________

 

(Naskrif: Alle persone, soldate en die weermag wat in hierdie verhaal voorkom, is fiktief en het geen ooreenkoms met werklike individue of gevegseenhede nie. Enige raakpunte met huidige of toekomstige gebeure en insidente is bloot toevallig)

(Dis ‘n storie oor liefde, en nie ‘n aanval op ons gewaardeerde leër nie. Die inwoners van Rolbos distansieër hulself van  enige geweld. Los ons uit…)

2 thoughts on “Die Liefde en Kleinpiet se Hoenderplan.

  1. Thomas

    Ek dink nie ek sal hierdie prentjie wat ek in my kop gevorm het, ooit van ontslae kan raak nie. Amos, hierdie is ‘n kunswerk van woorde.

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s