Die Rok

Die rok hang nog daar in die kas. Die enigste een tussen die leë hangers en die ou tas wat teen die kant staan. Die suitcase – die een wat Herman nog gekoop het vir hul wittebrood Stilbaai toe. Dit was … kan dit wees … sestig jaar gelede! Sy was skaars agtien; hy al vlak in die dertig.

***

Natuurlik het mense geskinder. Stories van die ou bok en die jong blaartjie het die distrik vol gelê en gesprekke het skielik stil geraak as sy by die Jood se winkel ingestap het. Sy onthou hoe ou tant Hybie altyd meewaardig oor haar brilletjie geloer het met daardie skalkse glimlag wat onheil voorspel het. As voorste skinderbek het sy dit haar taak gemaak om te gaan grawe in Herman se verlede, niks gekry nie, en toe sommer haar eie stories versprei. Later..later het dit tog nie meer saak gemaak nie, ieder geval.

Herman – háár Herman – het bloot aangehou boer op die erfgrondjie wat langs die rivier gelê het. Daar was nie baie nie – die ou opstal, die skuur en ‘n stal. Die hoenders het sommer so los rondgeloop en hul water gekry langs die windpomp, waar daar altyd ‘n poeletjie onder die lekkende kraan gevorm het.

Maar daar was iets baie besonders omtrent Herman: hy was ‘n dromer… Saterdagmiddae, as die fisante kom water soek en die tarentale teemend weeklaag oor hul lot, was piekniektyd langs die rivier. ‘n Bottel warm koffie in ‘n handdoek toegedraai, ‘n paar stukkies beskuit en twee blikbekers.  Dan het Herman so op die naat van sy rug gelê terwyl die yl-wit wolkies teen die blou van die hemel verdamp, en die een plan na die ander gemaak.

“Ons sal ‘n nuwe huis moet bou, daar op die koppie, waar ons die hele Bosveld aan ons voete het. Drie slaapkamers. Drie! Sodat die kinders ordentlik gehuisves is en ons nog plek het vir gaste ook. Ek sal hom só bou dat die sitkamer en die kombuis apart is – nie soos die opstal waar Dominee vir die stoof  moet sit en kyk as hy huisbesoek doen nie. En water … ek wil ‘n tenk op ‘n stellasie sit en pype aanlê na ordentlike krane sodat jy nie met emmers hoef te sukkel nie.” Hy sou stilbly na sulke dramatiese onthullings, en dan verder droom. “Dit beteken natuurlik ‘n badkamer ook. ‘n Regte een, met ‘n enamel bad wat op leeuvoete staan en koper krane. Jimmel! Kan jy dink hoe lekker dit gaan wees? Mmmm? En moenie vergeet van ‘n donkie vir warm water en ‘n koelkamer onder ‘n boom nie! Daar staan juis so ‘n lekker ou kremetart op daardie bult…”

Die verskil tussen Herman en ander dromers was dat hy aan sy drome gewerk het. Nog voor hul huwelik het hy aan hul nuwe woning begin bou. So met sy eie hande, sonder  hulp. Man-alleen sakke sement teen daardie bult uitgedra en pype aangelê. Daar was destyds geen sprake van elektrisiteit nie – dit was ook nie nodig nie. Die wind het die pomp gedraai en vir die res was daar kerse en die Dover-stoof (ou Meneer Lewinski het darem gesorg vir ekstra hande toe hy dit laat aflaai het).

Dit was vroeg in 1952 toe Herman die laaste spyker deur die sinkplaat op die dak gekap het. Hy was so trots!

“Dis 300 jaar na Van Riebeeck by die Kaap anker gegooi het. Drie-honderd-jaar…” Hy het die jaartal uitgerek om dit lank te laat klink. “En na al daardie tyd, het ons ‘n ordentlike huis.”Hulle het op die stoep (vars gepolitoer  en blink-rooi in die laatmiddag son) koffie gedrink, toe hy die aankondiging maak. “Ons trou môre. Dan kan jy intrek.”

Sommer só, want Herman het aan drome gewerk. O, hy’t lankal die vraag gevra en ook met haar ouers gepraat. Dit was ‘n slegte tyd in die distrik: jong mans was daar nie – daarvoor het die oorlog en die droogte gesorg. Haar pa was nog half teësinnig, maar haar ma het die lig in haar oë gesien en geweet hulle mag nie hul enigste dogter se vreugde demp nie.

As sy oor haar lewe terugdink, staan daardie dag uit as ‘n helder baken. Dit was net hulle vier: haar ouers, Herman en sy. En die Magistraat, natuurlik. Herman het alles vooraf gereël en haar ma het vroegdag opgedaag met háár ou trourok – die een van egte Italiaanse tafsy.

“Ek was net so maer soos jy, my kind. Dis nou jou beurt…”

Sy’t altyd gewonder wat haar ma bedoel het. Haar beurt om vet te word? Met ‘n man se gesanik opgeskeep te sit? Om vir oulaas ‘n dag te hê waarin sy die hoofrol speel?

En na die seremonie (dit het meer soos ‘n besoek aan die skoolhoof se kantoor gevoel), is hulle met die perdekar terug plaas toe; na die huis-op-die-heuwel, waar die blinkrooi stoep geskitter het in die son en die yl-wit wolkies verdamp het teen die helderblou van die hemel.

Herman het die suitcase – destyds nog nuut – help pak en daarna  is hulle per trein Stilbaai toe. As sy haar oë toemaak, kan sy nog die groen kussings van die tweedeklas kompartement (Herman het gesê dis ‘n koe-py) oproep. Dit, en die fyn roet-deeltjies wat teen die vensters neersif terwyl  die groot ysterwiele die myle afklak. En –  o, die ekstase! – die skommel van die smal bedjie onder die SAS+H se blou komberse…

Die rok was saam, apart gepak in ‘n kartondoos. Die mense op Stilbaai moet darem weet hulle is op wittebrood…

Stilbaai. Die plek waar Herman se droom geëindig het. Sommer op hul eerste, opgewonde dag by die see. Bosvelders ken nie seestrome nie – hoe kan hulle tog; daar tussen die stof en die bome en die bult waar die nuwe huis staan?

Herman is in Stilbaai begrawe. Sy het agter die kis aangeloop met haar tafsy rok. Nes die treinwiele het die materiaal die treë na die graf afgeritsel – elke tree ‘n paar voet nader aan die afgrond van finaliteit.

Die trein het haar weer teruggebring plaas toe, na waar die huis met die rooi stoep onder die yl-wit wolke wat onder die blou hemel gewag het.

 ***

“Wil Tannie tee hê vanoggend?” Die verpleegstertjie wag ietwat ongeduldig dat sy antwoord. “Dis ‘n groot dag vir Tannie, nè?”

Dit is, nogal. Sy’t gereël dat hulle haar strand toe neem. Spesiale vergunning. Matrone het ingestem; dit was duidelik dat die ou dame ‘n obsessie het om vir oulaas die see te sien, die water te voel klots om haar enkels. Hulle het lief geword vir die bejaarde tannietjie wat nou al vyftien jaar hier bly nadat sy die plaas verkoop het.

“Nee dankie, hartjie. Maar jy kan my help om die rok aan te trek.”

Die verpleegster gaap die leë kas aan. “Maar waar is al die ander klere dan, Tannie?”

Die ou dame glimlag skeef. “Ek het sommer deur die nag reggepak, my kind. Vandag wil ek tog net die rok gebruik, verstaan?”

Oumense! Vanaand is dit ‘n geskarrel om weer nagklere te kry! Maar…in ‘n ouetehuis raak mens gewoond aan die streke van seniele bejaardes; daarom sê die verpleegster niks, vra nie en haal haar skouers op.

“Maar dis dan ’n grênd rok, Tannie! Sjoe! Is Tannie seker jy wil dit strand toe dra?”

 ***

Sy los haar pantoffels in die ouetehuis se bussie.

“Ek wil bietjie alleen op die strand wees vandag, Hartjie. Gaan drink jy koffie daar by die kafeetjie, dan kom haal julle my weer oor ’n half-uur. Toe, ry nou. Jy kry so min kans om ‘’n bietjie te ontspan.”

En as die verpleegster wegry, skuifel die ou dame af na die water toe. Die ritsel van die tafsy meet die treë af, een vir een, as sy aanstryk see toe; dieselfde see wat vir Herman gevat het. Bo haar verdamp die yl-wit wolkies teen die blou van die hemel. Voor haar wink die rooi stoep wat skitter in die sonlig – die stoep waar Herman wag met die bottel warm koffie en die beskuit en die twee blikbekers.

Swiep-swiep ritsel die rok, tot die soom so nat is dat dit stil word, daar in die baai.

6 thoughts on “Die Rok

  1. Bileam se Donkie

    Hierdie verhaal ruk ‘n mens se hart, veral as ‘n mens so by ‘n Tehuis vir Bejaardes betrokke is… ek het ook al gewonder hoeveel van die dames daar droom soms om so te gaan soek na die een wat al lankal weg is..;.

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s