Die Perskebloeisel.

Peach Blossom, Spring Flowers | PikrepoRolbos isn’t just about the Kalahari and the delightful people we find there. Sometimes something else crops up. Something current and important. Like what happens in an Intensive Care Unit during the Covid Pandemic.

It is a South African story. In order to emphasise the local situation,  this one is in Afrikaans.

***

‘Dis my verjaarsdag.’ Haar stem is skaars hoorbaar bo die onreëlmatige biep-biep van die skerm langs haar bed. Ek sit my pen neer – ek sal die voorskrif later voltooi. Ek het hope werk wat wag nadat ek van die kongres af teruggekom het en sukkel om al die pasiënte in die saal te leer ken.

‘Veels geluk.’ Ek klink seker nie entoesiasties genoeg nie en wend ʼn poging aan om te glimlag. Wat kan ek haar toewens? Goeie gesondheid is iets van die verlede. ʼn Lang lewe is buite die kwessie. ʼn Mooi jaar? Met gevorderde Covid-geassosieerde nierversaking soos hare? Gmf! ‘Ek hoop dis ʼn beter dag as gister, um, mevrou … ‘

‘Turganev, Dokter. En dis Juffrou.’ ʼn Bleek handjie fladder verskonend onder die deken uit. ‘Mense sukkel maar met die van. Dis Russies.’

Die van herinner aan die tyd toe ons familie nog normaal kon gesels oor wat daagliks interessant was. ‘Was daar nie ʼn Russiese skrywer…?’

Daar is nuwe lig in die vrou se oë. ‘Ja, Ivan Turgenev. Die Dagboek van ʼn Oortollige Man – miskien weet jy dat hy tronk toe gestuur is oor sy skryfwerk.’

‘Ek ken nie sy werk nie, Juffrou.’ Die vraagtekens in haar oë dwing my om te verduidelik. ‘My dogter is ʼn dosent – sy’s die letterkundige in die familie. Sy is dol oor die ou Russiese skrywers – Chekhov, Nabokov, Pasternak…’  Ek is haastig – die intensiewe eenheid is vol en dokter Schutte soek ʼn bed vir een van sy pasiënte.

‘En my naam is ook histories – Valentina.’ Sy sukkel met die suurstoftekort en moet eers ‘n paar keer diep asemhaal voor sy kan aangaan. ‘Ek is gebore op die 13e Junie 1963 toe Valentina Tereshkova die eerste vrou in die ruimte geword het. My ouers het gevlug uit Rusland toe hulle die muur begin bou het, maar die ruimteresies van die vyftigs en sestigs het hule verbeelding aangegryp. Sputnik, Gagarin…’

Ek het werklik nie nou tyd om hieroor te gesels nie! Ek stryk die groot vloeikaart by die voetenent plat, klik die balpuntpen en gaan aan met haar voorskrif. Uit die hoek van my oog sien ek hoe die fladderhand weer onder die deken verdwyn – die onsuksesvolle antenna word teruggetrek. Die duif keer boodskaploos terug na die Ark.

Dankie tog…

Ek kon twee minder siekes oorplaas na die algemene saal en en is op pad deur toe, maar suster Willemse keer my voor.

‘Dokter moet probeer om ʼn bietjie meer tyd by tannie Turgenev te spandeer.’ Suster Willemse se stemtoon laat – soos altyd – geen argument toe nie. ‘Kyk, sy weet sy gaan sterf en sy aanvaar dit. Sy is eensaam en sy het geen familie nie. Niemand kan vir haar kom kuier nie. Medisyne gaan nie vir haar help nie, maar ʼn simpatieke oor sal darem troos.’ Dan, onverwags, is daar ʼn ongewone pleit in haar stem. ‘Probeer, toe?’

Met my aand rondte slaap juffrou Turganev en suster Willemse rapporteer dat sy ʼn onrustige dag gehad het. ‘Laat haar rus terwyl sy kan, maar probeer om môre vyf minute vroeër te kom. Luister na haar. Hou haar hand vas. Lyk asof jy belangstel.’

Op pad huis toe eggo daardie laaste sin in my gemoed. Lyk as of jy belangstel. Sjoe! Ek spandeer my lewe in die hospitaal. My familie word afgeskeep. My werk is my lewe…en my lewe is my werk. Hoe kan iemand insinueer dat ek nie belangstel nie!

Daar is nog lig in die sitkamervenster – Estelle, my vrou, kyk seker weer ʼn sepie. As ek die voordeur toe maak, hoor ek sy lag. Dan tref dit my: die universiteit het gesluit weens die pandemie. Natuurlik. My dogter is mos tuis. Afstandsonderrig.  Skoon vergeet…

Ons groet mekaar soos dit hoort – met spontane vals glimlaggies. Estelle se oë is koud en afsydig, soos altyd, maar ons het lankal besluit om die skyn van ʼn gelukkige huwelik te bewaar. Sonja, my dogter, was nog altyd aan haar ma se kant maar haar groet is miskien darem een graad warmer as Estelle sʼn.  Ek gaan eet in die kombuis (koue bobotie en rys) en na die tyd gaan sit ek op ʼn gepaste afstand by die twee vroue. My bydrae tot die gesprek is die af-en-toe ‘O’ of ‘Mmmm…’, bloot omdat ek hulle sal verveel met my stories van siekes en sterwendes.

Dan, tydens ʼn paar oomblikke van stilte, probeer ek om deel te wees van hul lewens.

‘Um, daardie Russiese skrywer – Turgenev? Jy’t mos al van hom gepraat, Sonja?’

Sy kyk verbaas na my, as of sy vir die eerste keer hierdie aand my raaksien.  ‘Sjoe! Het Pa nou begin om ordentlike literatuur te lees? Impressive…

‘Moenie sarkasties wees nie, Sonja, dit pas jou nie.’ Ek het glad nie bedoel om so kortaf te wees nie. Hemel, wat het van ons geword? Ek haal diep asem en dwing my stemtoon terug na normaal. ‘Ek het ʼn dame in die saal, haar van is Turgenev. Sy sê sy’s familie van die skrywer. En sy het iets gesê van ʼn oortollige man…’

Turgenev Dissed Russia but Is Still Lionized as Literary Star by ...‘Ivan Turgenev. Nou toe nou! Dnevnik Lishnego Cheloveka, The Diary of a Superfluous Man.’ Ek moet, ten spyte van die atmosfeer, glimlag oor haar poging om die Russiese woorde te vorm. ‘Daardie verhaal, asook sy eerste boek, Rudin, gaan oor ʼn belangrike onderwerp – die onmag van ‘n willose intelligentsia. Daar was ʼn hele generasie opgeleide, intelligente, slim Russe, manne van insig en integriteit, maar hulle was nie in staat om die outoritêre regeringstyl van Tsar Nikolaas l te beïnvloed nie. Die gevolg?’ Dit lyk as of sy ʼn antwoord verwag en ek word gedwing om my kop te skud. Wanneer het hierdie kind, hierdie klein dogtertjie, vrou geword? Wanneer het sy verander van ʼn hulpelose telg tot ʼn selfstandige wese, ʼn akademikus, iemand met vaste opinies? Sy antwoord self: ‘Die mans is hierdie verhale het die inherente vermoë om omstandighede te verander, maar hulle word passief. Toeskouers. Die gehoor van ʼn tragedie wat reg voor hul oë afspeel.’ Sy sug. ‘Dis die verhaal van baie gesinne, baie samelewings in hierdie dae. Selfs ons.’

Ons? Ons die land of ons die gesin?

Ek slaap sleg en is voor my gewone opstaantyd aangetrek vir werk. Estelle slaap nog vas as ek by haar kamer inloer.

Die verwese, grys kop op die skoon wit linne lyk nog méér broos as gister. Sy hou my dop vandat ek die intensiewesorg saal se deur oopstoot tot ek by haar bed kom staan. Het suster Willemse met haar gepraat? Vertel dat sy my aangespreek het oor my belangelose houding? Haar oë is moeg, gedaan.

‘Dis tyd,’ sê sy.

Ek weet nie wat om te sê nie en probeer die gesprek by gister se besoek aanhaak.

‘Die onmag van die intelligentsia, Juffrou, is ʼn siekte van die mensdom. Soms wil mens omstandighede aanspreek, maar daar is geen manier nie. Jou voorvader was reg, nie waar nie? Hy was bekommerd oor wat van Rusland gaan word, en vandag moet ons erken dat hy reg was.’

‘Ja, hy skryf êrens … dat ons baie herinneringe koester, maar … so min het om te onthou. Of so iets.’ Die inspanning om te praat is pynlik duidelik

‘Ek is jammer, Mevrou, as ek soms oorhaastig is. Die werk…’ Dit klink lam. ‘Die verantwoordelikhede…’

Die kreukels en plooie rangskik hulself in iets wat ʼn glimlag mag wees. ‘Genoeg hiervan.” Sy haal diep asem. ‘Mag ek … iets vra?’

Suster Willemse kom staan langs my. Sy moes gewag het vir hierdie oomblik.

‘Ek het al vir Suster gevra en … sy’t gesê dis reg met haar.’ Die handjie kom bewend onder die deken uit en vou om my voorarm. Suster Willemse sit haar hand bo-op neer. Ons drie is verbind deur die band van tas. Hoekom voel dit so vreemd? ‘Buite, in die vierkant … net anderkant die venster, staan ʼn … boom. ʼn Perskeboom. Dit sou wonderlik gewees het … as dit ʼn kersieboom kon wees…’ Haar stem raak weg. Die oë dwaal hemelwaarts. ‘Maar dit sal nou maar moet doen.’ Nou kom daar ʼn definitiewe smeking in haar stem. ‘Kan ek…mag ek…vir ʼn oomblik onder daardie boom gaan lê? Net ʼn oomblik. Suster het gesê … sy sal help.’

Hulle het my later geroep om haar afsterwe te bevestig, daar onder die ou perskeboom in die vierkant, tussen die baksteenmure van die hospitaal. Sy het mooi gelyk, ontspanne, selfs gelukkig.

The First Woman in Space: Valentina Tereshkova | AnOther‘Sy wou soos Valentina Tereshkova wees, Dokter. Sy’t my vertel. Daardie eerste vrou in die ruimte was ʼn eenvoudige Russiese fabriekswerker, iemand met ʼn droom. En haar ruimteloopbaan het begin toe sy kind was, toe sy in die kersieboom agter hul huis geklim het om aan die hemel te probeer raak. Wys jou net: as mens braaf genoeg is om te droom, is niks onmoontlik nie. Al vereiste, het sy gesê, is dat jy regtig moet glo in jou droom. Anders word jou droom oorbodig – superfluous, is die woord wat sy gebruik het. Dis hoekom sy hier onder die boom wou kom lê, vir oulaas, sodat sy kortpad hemel toe kon kies. Sy het só uitgesien daarna…’

Daardie aand het ek huis toe gegaan en met my vrou en dogter gaan praat. ʼn Lang gesprek oor Russiese skrywers, vroulike ruimtevaarders, ons klein familietjie, en drome waarin mens moet glo. Oor ‘n gesonde wêreld sonder virusse. Die volgende oggend het Estelle vir my koffie en beskuit in die bed bedien. En op die klein skinkbordjie, langs die beker, was ʼn perskebloeisel.

25 thoughts on “Die Perskebloeisel.

  1. scrapydo2.wordpress.com

    Ek kan ook soos Ewald Schmidt sê : aangrypend om te lees. So werklik. Ek is self ook nou op n stadium waar n mens moet berus en vrede maak. Die virus uitbraak het my laat besef hoe nietig ons as mense is. Ek wou eers nie lees nie maar toe ek die bloesel en Afrikaans sien moes ek net lees. Baie dankie vir jou pragtige werk. Ek hoop nie jy gee om dat ek die stuk op my blog deel nie want ek het heelwat vriende wat dit graag sal wil lees.

    Reply
      1. scrapydo2.wordpress.com

        Baie dankie. Ons is redelik afgesonder omdat die grense nog gesluit is. Net NZ ers kan inkom. Telkens is daar weer een wat met virus inkom wat in kwarantyn gaan. Dit bly steeds n swaard oor n mens se kop. Jul moet ook maar versigtig wees en veilig bly.

  2. Dr Christa van Staden

    Sjoe, wat ‘n pragtie storie. En dit raak my hart waar ek hier in Qazaqstan vasgekeer voel, weg van my gesin in Suid-Afrika. Oor ‘n virus. Laat ek dan saam droom, saam met die Russiese skrywers en Valentina. En in die hoop dat die Here sal help om die moontlik te maak.

    Reply

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s