Die Waarde van ‘n Goeie Kroegman

Hulle loop met merkwaardige doelgerigtheid by Boggel se Plek in en gaan sit en wag om bedien te word. As Boggel ewe skielik voor hulle verskyn nadat hy van sy kussing onder die toonbank opgestaan het, deins die twee half-verskrik terug.

“Ek sit maar gewoonlik hier onder,” verduidelik Boggel. “Dis my rug, sien?” Hy draai om, wys sy krom rug en kyk terug met ’n skaam glimlag. “Dors?”

Verligte gesigte en entoesiastiese knikke laat hom omdraai, twee koues uit die yskas haal om dit oor die toonbank gly.

Boggel is nie van gister af kroegman nie. Hy weet wanneer om stil te bly en wanneer om te vra. Dié twee is mense wat jy moet toelaat om die praatwerk te doen – hy kan dit sommer aanvoel. Daar is iets vreemds omtrent hulle: ’n amper onnatuurlike gevoel van tydloosheid en stilte, asof hulle so goed ken, dat woorde nie nodig is nie.

Vrede slenter by die oop deur in, steek vas en knor. Sy nekhare staan skoon orent en sy ore is gespits vorentoe: hierdie twee vreemdes pla hom. Boggel roep hom nader, maar Vrede draai skugter-bang om; soos net ‘n hond kan; en draf buitetoe met daardie draffie wat hy bêre vir die kere wat hy maak asof hy onsigbaar is. Kyk-kyk oor die linkerskouer gaan soek hy skuiling onder die houtstoep wat op die straat uitloop.

“Vrede is nie so nie,” probeer Boggel verduidelik. “Hy’s ’n  rustige hond wat met almal maats maak. Julle was seker êrens in die veld of iets. Moet ’n  reuk wees wat hy by julle optel.”

Die man ontspan en stoot sy leë bierbottel terug na Boggels se kant toe. Hy was duidelik erg dors. “Nog een,” sê hy. Na ’n rukkie onthou hy om die ‘asseblief’ by toe voeg.

Die ongemaklike stilte rek uit tot Vetfaan inkom en die stof van sy lyf afslaan met sy verslete hoed. “Magtag! Vandag skroei alles weer dood! Gee my ‘n bier.” Dis eers na sy vierde groot sluk dat hy omdraai na die twee vreemdelinge. Hy steek sy hand uit. “Vetfaan,” stel hy homself bekend.

“Hoogenwind.”  Die man se stem kom êrens uit sy groot borskas uit. “Die vrou,” sê hy en beduie na haar. Vetfaan wonder nou hoekom die man juis homself  sò sou wou bekendstel: sy het sekerlik ’n naam of iets. En met ’n van soos Hoogenwind sal mens seker liewers jou voornaam wil gebruik? Ander mense se sake….Vetfaan sug, stoot sy leë bottel terug en wink vir nog een.

“Nou wat bring julle na Rolbos? Ons kry maar min buitemense wat hier aankom.” Vetfaan het besluit: as hulle wil ongeskik wees, kan hy ook.

Die man kug en kyk onseker na die vrou. “Ons…um…doen navorsing.”

“Oor wat? Hier is net droë veld en ’n  paar skaap. En Boggel, natuurlik. Of is julle insekmense? Daarvan het ons ‘n hele klomp.  Vra vir Sammie by die winkel – hy het vismotte en krieke.”

Vetfaan het al besluit hy gaan geen respons kry nie, toe die man met sy diep stem iets sê.

“Verskoning?” Boggel het nie mooi gehoor nie.

“Ons doen navorsing oor paranormale gebeure.”

Vetfaan val amper van sy stoel af. “Hier? In Rolbos? Nee, genade, hier sal julle niks kry nie. Gertruida het lankal gloede gekry en Precilla het alle mans afgesweer, selfs vir Kleinpiet. Oudoom se vrou het weggeloop en met Oudok se vrou gaan julle niks regkry nie. Probeer liewer op Upington – daar is heelwat normale vroue daar. Ek weet: ek al daar by die casino gekyk. Maggies – daardie meisies is vreeslik normaal.”

Die man het geen idee waaroor Vetfaan praat nie, maar die vrou gee so ’n skewe glimlag. Gelukkig kom Kleinpiet juis op daardie oomblik sy bier soek.

“Kleinpiet, hierdie is die Hoogenwinde. Of Hoogenwinds. Nie seker wat noem mens twee van hulle nie. Hulle is ginekoloë.”

“Ons is nie.” Die man klink vererg. “Ons doen navorsing.”

“Ek verstaan dit. Maar dis wat ek sê: die vroue op hierdie dorp…”

“Ons doen paranormale navorsing.” Die man beklemtoon die woord.

“O, soos spoke en goed?” Kleinpiet weet meer van sulke goed af en draai geïnteresseerd na die twee vreemdes. “My oupa het altyd gesê hier is drie soorte in die Kalahari. Swart spoke moet jy met ‘n kombers om die hand groet, anders brand hulle jou. Wit spoke is anders: hulle spook vir die lekker. Vir hulle is dit genoeg as jy skrik. En dan is daar grys spoke: jy kry hulle by die rivier by Grootdrink. Mens moet versigtig wees as jy oor die brug ry want hulle wil jou verdrink.”

“Ja,” voeg Boggel by, “ek het ook so gehoor. Maar daar is glinsterspoke ook. In die tehuis waar ek grootgeword het, het die huisvader ons daarvan vertel. Hulle vang kinders wat wil wegloop. Blykbaar sien jy hulle nie sommer maklik nie; dis eers as hulle met sulke lang, koue vingers aan jou skouer vat, dat jy vir hulle sien. Hulle het glo so ’n glinsterende buitelyn – en verder niks. Ons het dit nooit geglo totdat klein Frikkie Veldsman weggeloop het nie. Hulle het sy lyk twee weke later in die Kaap gekry, op die strand. Die huisvader moes hom gaan uitken en hy het vertel hoe die vingermerke orals oor Frikkie se lyf was. Niemand het ooit weer weggeloop nie.”

Die man sug terwyl hy onderlangs vir sy vrou kyk.

“Spoke?” Daar is skielik begrip in Vetfaan se oë. “Hoekom sê julle nie so nie? Daar is jare en jare al sprake van ’n spook by Bokkop – daar waar hulle gemyn het. Destyds, toe hulle die steengroef daar gehad het, was daar ’n ontploffing. Een van die werkers het sy kop verloor, maar soos in heeltemal. Hulle moes hom uitken aan sy klere en die betaalstrokie in sy agtersak. Gertruida ken die hele storie, maar sy is weg Upington toe, om rokmateriaal te gaan soek.”

“En waar spook hy dan? Sonder ’n kop kan hy mos nie sien nie?” Kleinpiet is puur aspris. “Of dwaal hy maar so deur alles?”

“Nee, man! Hulle sê hy soek nog altyd sy kop. Dwaal met donkermaan daar by die steengroef en maak onaardse geluide met sy afkeel.” Vetfaan lig sy twee arms in die lug en roggel diep uit sy bors. “Só.”

“Ek sou nie met sulke fenomene spot nie, menere.” Die vreemdeling is meteens baie ernstig ten spyte van Kleinpiet se gegiggel. “In die paranormale dimensie bestaan daar mense…of siele…waarvan julle nie eens kan droom nie. Ek het ’n leeftyd hieraan spandeer en ek het geleer om respek te hê vir die onverklaarbare. Ek het wesens gesien – onsigbaar vir gewone mense – wat vreesaanjaend is.” Hy bly ’n oomblik stil. “Is daar ’n begraafplaas by Bokkop?”

“Langs die steengroef. Daar was ’n griepepidemie destyds en ’n heel paar mense is daar begrawe.” Vetfaan slurp die skuim van sy bottel af. “Maar julle gaan seker nie daar rondhang nie, gaan julle? Dit is donkermaan vanaand.”

“Dis presies hoekom ons hier is. Kan jy dalk verduidelik waar die begraafplaas is?”

Presies wie se idee dit was om ’n spookekspedisie aan die gang te sit, sal later ’n debat word. Dit was waarskynlik een van daardie gloeilamp-oomblikke wat spontaan, gesamentlik en onnodig gebeur het – soos studente wat besluit om middernag by die meisieskoshuis te gaan serenade. Sulke besluite is later moeilik om te regverdig al was dit so logies aan die begin. Miskien word baie van ons politiek ook so bedryf, wie weet?

Maar…watter groter pret kan daar nou wees as twee spookjagters tydens donkermaan by die begraafplaas gaan waghou, juis as mens nou sorg dat hulle nie voel hulle het hul tyd gemors nie? En gestel nou daar is iets snaaks aan die gang: dan wil ’n man mos weet daarvan, of hoe? Nog erger: miskien kan hulle ’n  paar spookgeluide maak om die Hoogenwinds gelukkig te hou?

*

 “Kyk,” sê die man, “dis waar die steengroef was. Mens kan sien waar die dinamiet die rotse verbrokkel het. En hier is die fondasies van die ou kantoortjie.”

Sy vrou loop reguit na ‘n groterige rots toe. “Dis hier. Dit het hier gebeur. Ek voel dit…”

Die twee gaan staan langs mekaar. Sy het ’n lantern in haar hand – een van die outydse soort – wat ’n flou ligkol om hulle gooi.

“Is jy seker?” Sy stem verraai sy twyfel.

“Ek is, maar jy sal tog nie weet nie. Dit het destyds sekerlik te vinnig gebeur.”

Sy gaan kniel op die grond en soek met haar hande tussen die los klippe rond.

*

 Vetfaan hou sy hand omhoog sonder om aan die intense donkerte te dink. Kleinpiet loop hard in hom vas en die ‘waddeffff…”en “sjjjjuuuut” wat volg, verraai iets van die twee se gemoedstoestand. Cactus Jack gee mens baie moed, maar gaan karring nou met donkermaan in ’n ou begraafplaas rond agter twee vreemde mense en ’n paar spoke aan – en jy het ’n redelike resep vir naakte vrees. Dan weer: neem twee groot Kalahari mans en kyk of een van hulle teenoor die ander sal erken dat hy bang is…?

“Daar’s hulle,” beduie Vetfaan. “Lyk asof hulle iets soek tussen die klippe.”

Die twee mans gaan staan doodstil terwyl hulle die lantern se ligkol met hulle oë volg. Dan hoor hulle die gedempte uitroep as die vrou iets optel en na die man toe uithou.

“Kyk!” Sy hou haar hand uit na die man. “Dis ’n oorbel. Dit moet…”

“Dit is,” sê hy en neem dit by haar. “Kyk, dit pas perfek.” Hy glip dit in sy linker oor in, waar dit glimmend in die lanternlig hang. “Dankie,. Baie dankie.” Hy staan naby haar en vat haar hand.

Vetfaan en Kleinpiet sien hoe die man die vrou se hand vat. ’n Oomblik later val die lantern op die grond. Die geluid van die brekende glas weergalm teen Bokkop se hange uit. Dit voel vir Vetfaan die eggo’s wil nie ophou nie.

In die duister is dit onmoontlik om te sien wat volgende gebeur.  Daar is wel ’n geluid: iets soos ’n sagte wind op ’n herfsaand as die dorre grashalms teen mekaar skuur. Kleinpiet is nie bygelowig nie maar hy voel ’n yskoue rilling teen sy rug af beweeg en hoe die hoendervleis op sy arms uitslaan.

“Kom,” fluister hy, “dis koud, man. Kom ons gaan terug.”

Vetfaan kyk na die vlammetjie van die stukkende lantern, sien hoe dit die gras om dit aan die brand steek en besef skielik dat die hele Bokkop gaan afbrand. Sonder om te dink hardloop hy nader en trap die vlamme dood. Van die bossies in die omgewing begin ook brand en hy skreeu op Kleinpiet om te kom help. Saam kry hulle die vlamme geblus voor die veldbrand lyf kan kry.

“Dêmit! Dis nou wragtag onverantwoordelik.” Sy vrees het plek gemaak vir woede: enige skaapboer weet immers hoe gevaarlik dit is om hier veld aan die brand te steek. “Waar is daardie twee?”

Dan eers besef die twee Rolbossers dat hulle alleen op Bokkop is.

Heeltemal alleen.

*

 Terug in sy Plek, wag Boggel geduldig dat sy twee vriende iets sê. ’n Kroegman weet sulke dinge: soms moet jy praat en soms moet jy luister. Hy weet dis nie nou tyd om vir hulle te vertel wat Gertruida gesê het na sy teruggekom het van Upington af nie. Veral nie die stukkie van die Hoogenwind wat so tragies sy lewe in die steengroef verloor het nie. Gertruida reken as mens jou kop só verloor, is dit baie sleg vir ’n siel. Spoke van sulke mense kan nie aanbeweeg nie.

Tensy jy iets – enigiets – van daai kop terugkry, is jy gedoem om ewig rond te dwaal. Sulke spoke – Gertruida noem hulle donker spoke omdat hulle nie so goed kan sien nie – moet ’n gids kry om hulle te help.

“En wat het julle toe by Bokkop gekry?” Boggel het darem nou genoeg tyd laat verbygaan om te wys hy’s nie té nuuskierig nie.

“Niks nie,” sê Vetfaan. Kleinpiet knik: dis wat hulle afgespreek het.

“So gedink,” sê Boggel, want ’n goeie kroegman sal saam lieg as die geleentheid reg is daarvoor.

Leave a comment